Jy blaai in die argief vir chris barnard.

GELUK, PROF. CHRIS!

November 8, 2017 in Uncategorized

Prof. Chris Barnard sou vandag 95 jaar oud gewees het. Oor minder as ‘n maand word sy eerste hartoorplanting gedenk – op 3 Desember 1967 in die Groote Schuurhospitaal in Kaapstad. So amper was dit ‘n 45ste verjaardaggeskenk aan homself. Oor die hartoorplanting skryf ek in “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Hier is ‘n uittreksel.

WEDEROM, PROF. CHRIS!

By ‘n besoek aan die Hartmuseum sowat 50 jaar ná die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967.
*
Suid-Afrika moet deesdae koes, sy ekonomie is “rommel”, en op die rugbyveld word die Groen en Goud opgefrommel. Amper oral gaan dit bra broekskeur. Dreigende donker wolke pak saam.

Ten minste op een belangrike gebied staan sake verfrissend anders, want geen Standard & Poor, Fitch of Moody’s kan die land se mediese “status” afgradeer nie; geen Nieu-Seelandse (of Japanse!) rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie.

‘n Verbluffende deurbraak vir die ganse mediese wetenskap – dit was prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting ter wêreld amper 50 jaar gelede op 3 Desember 1967. Prof. Barnard is wêreldwyd toegejuig en met vererings oorval. Sy roem leef voort; onder meer in die sierlike ou Groote Schuur-hospitaal se “Hart-van-Kaapstad”-museum.

‘n Besoek aan die museum in die indrukwekkende hospitaal met sy deftige koloniale ontwerp, swaar houtdeure en dik vensterrame, laat die hoogdrama van daardie mirakel in die nag van 2 tot 3 Desember 1967 in die naasliggende “Charles Saint”-teaters dinamies herleef.

Die boeiende toer van twee uur begin in die kamer waarheen die skenker, Denise Darvall (25) van Milnerton, op 2 Desember gebring is nadat sy op ‘n gesinsuitstappie saam met haar moeder, Myrtle, net ‘n entjie van die hospitaal in Hoofweg, Observatory, omgery is. ‘n Jaagduiwel het in die twee vroue ingeploeg toe hulle die straat oorsteek om by ‘n geliefkoosde bakkery ‘n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.

Myrtle, die moeder, is op slag gedood. Denise se lewe was aan ‘n draadjie. Sy is weens die slag 40 meter ver geslinger en haar kop het met ‘n geweldige slag die voorwiel van ‘n motor getref. Haar kop- en borsbeserings was ernstig. ‘n Ambulans met loeiende sirenes het met haar na Groote Schuur gejaag.

Enkele ure later, om 21:00 die aand van 2 Desember, het twee onafhanklike dokters haar breindood verklaar. Haar hartverskeurde vader het toestemming gegee dat haar organe vir oorplantings gebruik kon word.

Die laaste besoekpunt van die toer is twee buurteaters: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag haar hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het (ook ‘n nier vir ‘n 10-jarige bruin seun, Jonathan van Wyk); die tweede waar die beroemde hartdokter self met pionier-chirurgie die swak, siek hart van die ontvanger, dr. Louis Washkansky (54), uit sy borskas verwyder en met die sterk, gesonde hart van die jong vrou vervang het.

Die middernagtelike operasie – waarmee haas ondenkbare mediese grense oorgesteek is – het vier en ‘n driekwart uur geduur.

Die dosyn of wat besoekers op die toer, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, gaan sit op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B vir mediese studente ingeruim is. Om die outentieke operasietafels staan die lewensgetroue beelde van die teaterspanne in hul uniforms om die pasiënt, of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien.

Die masjien was ‘n afskeidsgeskenk van die Universiteit van Minnesota waar Chris Barnard in die jare 50 onder leiding van twee pioniers in die hartsnykunde, Richard Varco en C. Walton Lillehei, die amper onmoontlike vermag het. Hy het sy Ph.D in twee jaar verwerf pleks van die gewone ses.

Alles lyk spookagtig werklik. Jy verbeel jou jy is ‘n toeskouer by die grootse gebeurtenis en jy hoor daardie eerste hartklop.

Almal was momenteel stomgeslaan toe dit gebeur, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Toe verbreek Christiaan Neethling Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!” Met daardie woorde het die sendelingseun van Beaufort-Wes die verwondering van al die spanlede verwoord.

Die geleide toer sluit verskeie ander besoekpunte in. Daar word o.m. by “prof. Barnard se kantoor” aangedoen. Die beroemde man in ‘n snyerspak sit agter die lessenaar, telefoon in die hand; só lewensgetrou hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.

Die 54-jarige Washkansky het 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste oomblik sterk bly klop. In dieselfde hospitaalkamer waar die Kaapse kruidenier aangesterk het, kom ‘n beeld van die pasiënt half orent in die hospitaalbedjie. Sy regtervoet loer onder die laken uit. ‘n Slapbandkopie van Louis L’Amour lê oop op die beddeken in wat ‘n tipiese hospitaaltoneeltjie is.

Die museum se mure is nie net versier met honderde foto’s en geraamde koerantvoorblaaie wat die groot nuus onder banieropskrifte uitdawer (Die Burger, die Argus en die Cape Times) nie, maar ook met briewe van lof en kritiek; selfs van kinders. Een kind eggo sy pa se woorde dat hy “bokkerol” van prof. Barnard sou dink as hy na Amerika sou padgee.

Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte waaroor destyds vuurwarm gedebatteer was; oor die flambojante wêreldfiguur Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die onversadigbare genot van sy nuwe roem; oor sy liefde vir mooi vroue, oor sy drie egskeidings (Louwtjie, Barbara en Karin), asook sy eensame dood weens ‘n akute asma-aanval op 2 September 2001 in die ouderdom van 78 jaar, in Ciprus, Griekeland. Die geprese arts het heeltemal agtelosig sy asmapompie in sy hotelkamer gelos toe hy swembad toe gaan.

Aan die epiese stuk mediese geskiedenis het ek ‘n persoonlike herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad* in Bloemfontein toe stories oor die eerste hartoorplanting per teleks van ons Kaapse susterskoerant, Die Burger, bly instroom. In ‘n meesleurende kopie uit die tikmasjien van Die Burger se hoofverslaggewer, Harry Shaw, het die ongelooflike storie voor my op die hoofsublessenaar ontvou.

Daardie oggend se se voorblad van Die Burger was skitterend. Ek dink ons in die verre Bloemfontein het self ‘n treffende voorblad gehad. Trouens, ek sou dit sonder skroom vir die museum wou aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die vrypostige versie lui soos volg:

Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, dr. Chris!