Jy blaai in die argief vir bybel as geskenk.

ALMAT WAT HONGER HET …

Mei 31, 2013 in Uncategorized

Sy kaalvoetspore lê in wyd in die Kalaharisand. Sy diep spore in die politiek lê in die wandelgange van die Parlement en in die SA ambassade in Mmabatho.   Sy skrywerspore het hy verdien met ‘n  dosynstuks boeke oor veral sy hartland, die Kalahari. Dit sluit ook twee versebundels in – onder meer een met die sprekende titel “Goud, wierook en mirre – Verse van die geloof”. 

 Dié man van geloof is die wellewende Vrystater dr. Willem D. Kotzé. Hy trap nou – dalk op hierdie juiste oomblik – nuwe spore op die Seepuntse promenade; nie as Namibiese boerseun, LV, ambassadeur of skrywer nie, maar in die nuwe gedaante as die Mnr. Bybel van daardie kosmopolitiese buurt aan die Atlantiese Oseaan.  

 Dok Willie, soos ek hom uit die jare 60 in Bloemfontein noem, plaas 10 Bybels per keer in ‘n drasak en stap op ‘n mooiweersdag om 15:00 uit sy woonstel in Kusweg.  Sonder uitsondering is hy binne ‘n uur terug. Die drasak is leeg. Sy missie vir die dag is voltooi.

 Tien nuwe Bybeleienaars blaai verwonderd deur die kleinood wat hulle uit die hand van die vriendelike vreemdeling ontvang het.

 Die saadjie is gesaai by die laaste groot Mighty Men-Konferensie van Angus Buchan. Dok Willie, ‘n flinke 80-plusser, en sy twee seuns was onder die skare van 400 000 mense. Hy het geesvervuld na Kaapstad teruggekeer met ‘n missie:  Om Bybels vir mense met ‘n honger na die Woord  present te gee.

 Sy aanvanklike doel was om een Bybel per dag aan iemand te oorhandig. Hy vra geen donasies nie. “Ek dank die Here dat Hy hierdie taak aan my toevertrou het, en ek maak staat net op sy ondersteuning,” getuig hy.

Christian Media Publishing bestel vir hom die New International Version (NIV) direk uit Amerika en die verspreiders On the Dot lewer dit by sy woonstel af. Altesaam 360 Bybels op ‘n keer. So maklik soos dit, sê hy met ‘n knipoog en ‘n glimlag.

Voordat Seepunt se Mnr. Bybel met sy drasak uit die woonstel stap, vra hy dat die Heilige Gees hom  moet  lei na slegs mense wat ‘n Bybel móét kry om dit as ‘n dissipel van die Here te kan gebruik. “Weet jy watter verwagting skep dit by my?!”

 Wanneer hy uitstap, bid sy vrou, Alice, ook vir welslae.

Hy stap van hul woonstel nooit verder as die plus-minus 400 meter na die roomyskiosk by die swembad nie,  en keer sonder uitsondering binne ‘n uur terug. Die meeste kere deel hy al 10 Bybels op daardie korte afstand en binne daardie korte tydsduur uit.

Natuurlik wissel hy met elke ontvanger ‘n paar woorde voordat hy die Bybel oorhandig. Sy belewenis beskryf hy soos volg: “Hierdie uitstappie verskaf aan my ‘n geweldige gevoel van vervulling, en wanneer ek terugkeer, deel ek met Alice die hoogtepunte wat ek ervaar het.”

‘n Absolute honger vir Bybels bestaan daar buite, vertel hy.  Meesal by swart- en bruinmense. Gewoonlik het die blankes reeds Bybels. Hy het al aan minstens 20 mense wat gesê het hulle is Moslems, Bybels gegee, en ook aan drie Boeddhiste.

Sy naam en telefoonnommer is voor in die Bybel en hy ontvang oproepe van waardering en ondersteuning van so ver as Johannesburg, Port Elizabeth en Hermanus.  Mense doen moeite om met ‘n taxi Seepunt toe te kom om ‘n Bybel by hom te kom afhaal.

‘n Swartvrou het ‘n keer met ‘n kombi van Philadelphia tot op die stasie gekom. Van daar af is sy met ‘n ander kombi Seepunt toe. Agter ‘n Bybel aan!

Al was sy oorspronklike missie om een Bybel per dag af te gee, is die honger eenvoudig te groot. Ten einde die Bybels so gou as moontlik by die wagtende kinders van die Here te kry, gee hy sommer 10 Bybels per dag af;  ses dae per week, as die weer dit toelaat.

Die 360 Bybels wat vir 2013 bedoel was, het almal al nuwe waarderende eienaars. En dit is nou maar eers die einde van Mei. Aan die begin van Desember verwag hy die volgende besending van 360. Tot op datum het hy in die laaste vier jaar 1 450 Bybels uitgedeel.

“Weet jy hoe heerlik dit is om vir iemand op die promenade te kan vra: ‘May I offer you a Bible as a gift for Christmas?’, sê hy stralend ten slotte – hierdie man  wat op so prysenswaardige wyse waarlik God se Woord “soos kos wat hulle kan eet”  (Jeremia 15:16) aan mense present gee.