Jy blaai in die argief vir bure.

SOOS GRAS IS ONS DAE

Februarie 16, 2017 in Uncategorized

1-1-IMG1-1-IMG1-1450032_233702740135026_871429343_nJammie, Naas, Toy – drie bure in twee maande oorlede.

‘n Sonderlinge verhaal van drie bure:

Op 24 Desember 2016 is Toy Vermeulen op Melkbos (92) oorlede. Ons was in die jare 80 bure in Bloemfontein;

Op Sondag 12 Februarie is Jammie Olivier (57) op Melkbos oorlede. Sy was 20 jaar lank ons buurvrou in die huis langsaan in Penguin Place;

Op Maandag 13 Februarie is prof. Naas Viljoen (80) op Hermanus oorlede (foto). Hy was in die jare 70 ons buurman in Bloemfontein.

Van Toy het ons by ‘n gedenkdiens op 5 Januarie in die NGK Melkbos afskeid geneem. Hy is begrawe as politikus wat in die Vrystaat diep spore getrap het, ook as kultuurmens by uitstek.

Sy studeerkamer was sy koninkryk. In die kulturele skatkamer het ek hom besoek enkele ure voordat hy oorlede is. Hy was ‘n klassieke bibliofiel wie se boekrakke gekreun het onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana. Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis. Sy seëlversameling was op sy dag in filateliekringe hoog aangeskrewe

Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout was vir Toy onweerstaanbaar. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog onvolledig.

Onvergeetlik uit ‘n persoonlike hoek was sy buurmanskap in Dan Pienaar, Bloemfontein, in die jare ’80. Hy was ‘n buurman wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie.

Buurvrou Jammie, vrou van Kosie, se gedenkdiens was vandag om 12:00 uit ‘n stampvol NGK Melkbosstrand. Soveel motors op die parkeerterrein het ek bitter lanklaas, indien ooit, gesien. Haar dood op 57 was ‘n reuse-skok vir die gemeenskap. Ook vir haar bejaarde buurman.

As ‘n mens 76 is, word die gereelde begrafniskennisgewings, gedenkdienste, teraardebestellings van vriende en kennisse ‘n ongemaklike werkllikheid. Jy ontwikkel ‘n sekere gehardheid wat jou in staat stel om dit filosofies te aanvaar en te verwerk.

Maar dan sterf iemand soos Jammie heel onverwags: sprankelend, lewenslustig, energiek, aktief. Een wat gereeld heen en weer by jou verbygewip het in haar silwerskoon wit Mercedes. Of so dikwels voor jou verby strand toe gestap het op ‘n pas wat atlete sal bleek maak. Wat meermale saans met haar breistem gebel het om te waarsku: jy het al weer jou motorhuis se deur oop vergeet!

Jy sit skielik penorent. Jy was immers loshande die “ou man” in die buurt. Die een in die “vertreksaal”. Niks berei jou voor vir ‘n scenario dat jy nie die eerste is wat uit die klein bossie gekap gaan raak nie. Niks kan jou meer aan jou eie verganklikheid herinner as juis iets so totaal onverwags nie.

Naas was ‘n uroloog en, soos heelparty van sy mediese kollegas, lief vir skryf. Oor ‘n lang tyd het seker dosyne briewe uit sy pen in Die Burger verskyn. Onthou hom as ‘n uiters beskaafde, belese en fyn mens.

Baie hulpvaardig gewees die dag toe ek my voorkop oophardloop ten die half-oop motorhuisdeur en die bloed stroom.

Nogal ‘n vreemde sameloop van omstandighede, die drie sterfgevalle binne twee maande. Sommer ‘n driedubbele vermaning vir die uwe dat ons dae soos gras is …

WATERS WAT VERBY IS

April 17, 2014 in Uncategorized

IMG_0001Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla:  “All I have to live on now is macaroni and memoral services.”  Hopelik was dit ‘n oordrywing. Dit is gewis darem nie vir alle oumense waar nie.

Die “memoral services” is wel onvermydelik, maar word nes die “macaroni” op die spyskaart met ander bakendatums op die kalender afgewissel.

Bereik jy my jare, 73, is verjaardagvierings soos 70ste, 75ste en 80ste nogal volop. Goue bruilofte en selfs ‘n diamantbruilof hier en daar lewer ook gereeld ‘n uitnodigingskaartjie in die posbus op.

Van ‘n 63ste troudag-herdenking in my kenniskring het ek min ervaring.  Ou Bloemfonteinse bure, Toy en Joha Vermeulen,  is pas op ‘n drafstap  – nou wel nie meer in die geval van Toy nie maar in die geval van Joha bepaald – by daardie baken verby.

Die foto hierby van die egpaar Vermeulen, nou van Atlantic Beach, Melkbos, is op 7 April 1951 op hul bruilof geneem.  Toy, jong man van De Aar, is daardie dag 63 jaar gelede in die NGK Kroonstad-Noord met Joha Beckman van Koppies in die huwelik bevestig.

Die baken moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat die twee mede-Melkbossers is nie, maar ook omdat hulle in die jare 80 in Bloemfontein sulke uitnemende bure was. In droogtes het hulle selfs hul boorgat “uitgeleen” (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan).

Toy het boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie. Tokkie het my meermale in ‘n minder plesierige bui uit Toy se studeerkamer kom haal. Om die een of ander rede had sy gewoonlik ‘n tabak-snuf in die neus as sy my oor die straat sien sluip.

Die wellewende Joha moes dan telkens die atmosfeer suiwer met ‘n koppie tee en ‘n stukkie melktert of so.  Daardie gasvryheid het nie afgestomp nie. Jy stap nie uit hul huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie. Joha daag gereeld by die voordeur op met ‘n mandjie appelkose uit dieselfde geweste.

Dankie, vriende.

Toy, wat onlangs sy 90ste verjaardg gevier het, was op vele terreine ‘n man van stoffasie. In die dekades 70′s en 80′s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator. Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

Kenmerkend van Toy en Joha is dat hulle nie hier vat en daar los nie. As hulle hul lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hulle in Europa gaan tiekiedraai het, het hulle van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al draai hulle nie meer self tiekie nie (Joha sou wel kon!), klop hul harte steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

Geluk, Toy en Joha met die 63 kersies op die troukoek. Die viering van sulke gevorderde bakens op die lewenspad is spesiaal en heuglik, al stem dit tot ‘n bietjie hartseer omdat jy weet: Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

AFSPRAAK VIR 9/1/2015

Januarie 13, 2014 in Uncategorized

Desktop1In my denkbeeldige dagboek vir 2015 is 9 Januarie 2015 klaar uitgeblok.

 Het gister ‘n uitnodiging na ‘n belangrike okkasie gekry.  My Bloemfonteinse buurman van die dekade 80, Toy Vermeulen, word dan 91.

 Die uitnodiging kom van sy jongste dogter, Elmien. 

 Haar vader – kan hom nie juis ‘n gryse vader noem nie want hy is veel minder wit as die uwe – het Vrydagaand sy 90ste op Melkbos gevier. Die Van Deventers was tot hul yslike spyt afwesig. Ons was in die Suid-Kaap. Elmien het op my versoek foto’s gestuur.

 Ons gesels toe op Facebook soos volg:

  Hennie Van Deventer:  Vreugdevolle okkasie. Jammer ons het dit moes misloop weens ons Suid-Kaapse uitstappie.

 Elmien Vermeulen:  Ons glo daar sal volgende jaar weer een wees. Hennie en Tokkie Van Deventer is reeds genooi!

 Hennie Van Deventer:  Dankie,. Ons open solank ‘n dagboek vir 2015.

 Sal sorg dat ek dan nie weer weg is nie.

 Die ankerfoto in die samestelling hierby is van Toy en sy goeie vriend Kiepie Herholdt wat spesiaal van Bloemfontein gekom het.  Die twee ou vriende was glo behoorlik aangedaan om mekaar na jare weer te sien.

 OP die foto waar Toy aan die woord is – hy het die tafelgebed gedoen en die gaste verwelkom – sit sy vrou, Joha.  Op die derde foto is hy en Elmien.

 Naskrif: Ek gee maar vroegtydig aan almal  kennis. Moet my nie vir 9 Januarie 2015 nooi nie – het reeds ‘n afspraak vir daardie dag.