Jy blaai in die argief vir bultfontein.

OP TOKKIE SE SPORE

November 18, 2017 in Uncategorized

Hertzogstraat 5.

Amper so warm soos op 31 Desember 1966, ons troudag. So het Bultfontein Sondag 12 November vir ons gevoel. Ons het op Tokkie se spore gaan loop.

Eerste stop op die dorp was dan ook Hertzogstraat 5, jarelange tuiste oorkant die kerk van Tokkie, haar ouer broer, Fanie, en hul legendariese weduwee-ma vir wie almal lief was, “Tannie Marietjie”. In daardie huisie het Tokkie by lamplig of ‘n kers in ‘n emaljeblaker geleer vir matriek in 1963. Die voorhuisie is oorheers deur haar klavier: ‘n Zimmerman. Daarop was sy ‘n klein virtuoos.

By die draad-voorhekkie van die huisie wat intussen taamlik verslete geraak het, het ek Tokkie afgeneem. Dis die hekkie waardeur sy, ‘n brose 20 jaar oud, op haar troudag na die troukar, ‘n boer se Mercedes, gestap het – trourok versigtig opgelig dat die wit soom nie in die rooi Vrystaatse stof sleep nie. Die voordeur van die huis is intussen verskuif.

In die agterplaas, naby die agterdeur, staan ‘n sering wat ek goed onthou. Onder die boom, wat in die vyf dekades sedertdien mooi lyf gekry het, het ons op die voooraand van die bevestiging in die eg braaivleis en waatlemoen geëet. Fanie was die voorslag-braaier. Ná ete het ons vroeg gaan inkruip – ek in die spaarkamer van die buurtannie.

Kerktrappies.

Ons tweede besoekpunt was die kerk oorkant die straat waar die band 51 jaar gelede deur my neef, ds. Bertus du Plessis, gesmee is. Hy is later APK toe. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n stewige siersteengebou met ‘n hoë toring. As aflos-orrelis was Tokkie dikwels in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Ek het my vrou afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het.

Op die parkeerterrein was Sondag teen 12:00 net soveel, dalk selfs meer, motors as op daardie snikhete oujaarsdag by die troue van die Bloemfonteinse koerantman met een van Bultfontein se geliefde dogters. Die rede vir die baie motors het ons verneem by ‘n lidmaat wat in sy bakkie iets kom haal het. Dit was die gereelde gemeente-ete. Op die spyskaart was vis. Die Bultfonteiner – wat vir “Tannie Marietjie”onthou – het net geglimlag toe die Kapenaar met die CA-nommer hom vra hoekom dan nie liewer skaapvleis as vis nie.

Pa se graf.

Oorkant die kerk is die ou begraafplaas. Die plek is pas geskoffel maar lyk nogtans taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak. Sonder te veel moeite spoor Tokkie haar vroeg gestorwe pa, Kotie, se graf op. Dis hy wat haar die bynaam Tokkelossie gegee het, omdat sy so ‘n kortetjie was. Die granietsteen staan genadiglik nog stewig. Op die graf het ‘n jarelange vriendin, eintlik ‘n soort semi-sussie, Pepsi (Drienie) Maritz, ‘n mooi steentjie na die dood van “Tannie Marietjie” op die verre Melkbos op ‘n bed van wit klippies laat aanbring. Pepsi se ouers was boere, en sy het maar so saam met Tokkie in Hertzogstraat 5 grootgeword. Die steentjie is ‘n replika van die een op die nissie by die NG kerk Melkbos.

Ek neem Tokkie by die graf af sodat ‘n mens op albei stene die name kan lees. Daarna gaan soek ons na haar oupa en ouma Van Wyk se grafte. Van haar ouma Van Wyk het sy die naam Susara gekry: Gesina (wat van die Roux’s af kom) Susara. Ouma Roux is begrawe in die “nuwe” begraafplaas aan die Bloemfonteinpad. Om langs daardie besige pad te gaan rus, was ‘n gedagte wat skoonma niks aangestaan het nie!

Die skool.

Tokkie word voorts afgeneem by die groot naambord van die Hoërskool Bultfontein, wat in 1881 gestig is. So lees ek op die bord. In haar tyd was die skool ‘n klipgebou. Van die klipmure steek net hier en daar ‘n stukkie uit tussen die siersteenstrukture wat later bygevoeg is. In die saal, waar Tokkie ‘n geesdriftige volkspeler was – veral versot op die “galop”- het destyds kosbare skilderye gehang, o.m. van Pierneef en Maggie Laubser. Die saal se deur het sommer dag en nag oopgestaan. Ander tye gewees!

Wat opval, is die netjiese skool- en sportterrein. Ek sien nie die plate duwweltjies wat, volgens oorlewering, daarvoor verantwoordelik was dat Fanie so vinnig kon hardloop nie. Hy was die SA onder-19-kampioen in die 440. Die dorp het dalk aan ander fronte agteruitgegaan – van die state is die ene liederlike slaggate – maar die skool bly ‘n sieraad waarop die gemeenskap trots is. Die boere steek hand uit die mou en hand in die beursie om dit so te hou.

Saam met Pepsi (Drienie).

Ons laaste besoek van die kort kuiertjie is by Pepsi se huis in Stofbergstraat teenaan die Ooskerk. Die dorp het minstens drie groot kerke: twee NG en een Gereformeerd. Pepsi het pas afskeid geneem van matriekmaats wat 50 jaar gelede saam met haar in matriek was. Dit was hul reünienaweek. ‘n Bonus van die reünie vir ons is die bordjie heerlike eetgoed wat saam met die koffie voorgesit word.

Die vrou is op haar stukke. Die kwinkslae rol oor haar lippe en haar gul lag weerklink kort-kort. Danksy haar stories – o.m. oor hoe haar tone in ‘n Duitse jacuzzi aan ‘n Duitser se broek gehaak het – groet ons Bultfontein op ‘n vrolike noot; dalk vir oulaas.

RAAISEL VAN ONS HUWELIK

Desember 31, 2016 in Uncategorized

1-1-1-vir31des1
31 Desember 1966

Presies 50 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp Bultfontein in die huwelik bevestig. In die NG kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s.

‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes – maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! – nooit vergeet nie.

‘n Oorheersende herinnering is die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, ondanks periodieke hobbels op die pad, die beste ding bly wat my in my 75 – amper 76 – jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme – ‘n trougeskenk van Frank Budd, die atleet Zola se vermoorde pa – en die arme bruidegom in sy gitswart wolpak behoorlik opgedreun het. Dan het die teenwoordige koshuismaats van Tukkies se Kollegetehuis die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat hy dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Op die foto kan ek elkeen van daardie skenders van my liggaamlike integriteit identifiseer: Manie Steyn, Pierre le Roux, Piet Theron, Jan-Jakob de Jager, wyle Piet Lategan en wyle Fanie van Huysteen. Maar toemaar, vrinne, ek gaan nie hof toe hardloop nie.

Bruidegom se boude brand.

Bruidegom se boude brand.

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes, die huweliksklokke oor die dorp sou laat jubel, was soos ‘n dolksteek in die hart.

Al die dokumente vir die huwelik – so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek – het spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind – ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan. Krisis afgeweer!

Net ná 15:30 het Gesina (my Tokkie) stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk binnegekom. Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. Bertus kon sy spreke plegtig spreek. Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….” Ons het mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid gesoen.

Van die “gelukwensing in die saal” onthou ek, benewens die onwaardige borselry, nie veel nie. Hoop my toespraak was nie te langdradig nie. Was toe al soms soos ‘n Boeing wat nie kan land nie as ek op dreef kom. Wel onthou ek dat wyle swaer Fanie aan die einde ‘n welkome bottel vonkelwyn opgediep het. In die kerksaal is net vrugtesap voorgesit. Maar danksy Fanie se kado’tjie kon ons toe darem ‘n private heildronkie drink voordat die egpaar Van Deventer in hul wit Toyota Corona vort is Winburg toe vir die eerste huweliksnag.

Terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was, het snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai. Die allerbelangrike dokumente wat onverklaarbaar voete gekry het, het in gehawende vorm asof uit die niet hul herverskyning gemaak.

Nou die dag vra ek Tokkie weer of sy ná al die jare kan raai wie die sondaar was. Sy skud die kop. In die distrik was egter boerseuns wat ook in Hertzogstraat flikkers gegooi het. Dalk wou ‘n jaloerse vryer ‘n stokkie voor die troue steek. In die gemeenskap was ook goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem dalk wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat anderster waardes kon hê.

Ná 50 jaar sê ek vir hulle almal (diegene wat nog in die lewe is, altans): pê!

DONKER VERLEDE

Maart 14, 2016 in Uncategorized

Tennis in 'n ou kerkrokkie en uitgevat vir tiekiedraai.

Tennis in ‘n ou kerkrokkie en uitgevat vi tiekiedraai.

Laat ek maar die sluier oor my vrou, Tokkie, more, 15 Maart, ‘n rype 70, se “donker verlede” lig. Tot September van haar matriekjaar, 1963, was my liewe vrou as ‘t ware ‘n skadufiguur – ‘n kol teen die muur in die flikkerende liggie van ‘n lamp of ‘n kers in ‘n enemmelblaker.

Toe eers het elektrisiteit Bultfontein bereik. “Hondebakkies” – so het die benieude Bultfonteiners die skermpies genoem – het oornag aan geboue se plafonne begin pryk. Die bakkies het op ‘n haar soos omgekeerde hondebakkies gelyk wat die gloeilampie met ‘n kappie oordek.

Bultfontein in die jare 60 was nie vir sissies nie. Dis nie net elektrisiteit wat Tokkie en haar generasie moes ontbeer nie. Ook spoeltoilette. Sy is ná matriek B.O.K. toe met die nagkar op Bulfontein steeds op sy rondes, en met hul eie “gemakkie” by Hertzogstraat 5 steeds ‘n buitehuisie met ‘n nagemmer onder ‘n seringboom.

Glo die nuwe generasie sal hieroor gril – maar hopelik ook perspektief kry in ‘n era van net alles “demand” en “demand”.

Die gebrek aan elektriteit is deur die Bultfonteiners, soos so baie ander “deep plattelanders” van daardie era, gelate aanvaar. Hulle was gewoond daaraan. Hul Dovertjies (koolstowe), primusstofies, lampe en kerse was voldoende vir hul behoeftes. Mense wat dit minder gelukkig getref het, was “inkommers” van elders waar elektrisiteit reeds net ‘n knoppie ver was.

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Een so ‘n gesin was die Groenewalds wie se dogter, Hannatjie, van standard drie (nou graad vyf) af ‘n beste maatjie van Tokkie was. Eerwaarde Groenewald het ‘n beroep na Bultfontein se sendingkerk aangeneem. Die gesin daag toe op met ketel, strykyster, broodrooster en wat nog. Ontnugtering! Die geriefies het alles mooitjies sewe jaar lank in die bokse moes bly.

Dit was natuurlik nie toevallig nie dat die eerste straatligte hul buiging gemaak het in die straat waar Ou One Light, gewoon het. Hy is so genoem weens sy glasoog, en was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur. Ouma Marietjie, Tokkie se gedugte weduweema, het op ‘n dag van Ou One Light korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur. Dis ‘n ander storie.

Ewenwel, feit is dat Tokkie tot laat in matriek haar tuiswerk by lamplig gedoen en ook vir eksamens so geleer nie. As sy ná donker voor haar klavier gaan sit om die skone klanke van Chopin of Liszt in die klein voorhuisie te laat opklink, moes die getroue lamp ook aangesteek word.

Laat my nou nie onbehoorlik spog nie, maar sy was ‘n formidabele pianissie, die klein meisietjie wat weens haar kort lyfie deur haar vroeg gestorwe pa, Kotie, Tokkelossie gedoop is. In daardie jare was oor en weer kuier nog die in-ding. Op een so ‘n kuier by ‘n buurvou, Tant Ellie van Wyk (nie familie), in standard een (graad drie) het sy ongenooid voor dié se ouderwetse klavier ingeskuif.

tvd7

Hertzogstraat 5- herbesoek in 2003.

Dadelik was die talent onmiskenbaar. Gou het sy lesse geneem en is ‘n splinternuwe klavier by R. Müller in Bloemfontein aangeskaf, wat in ‘n krat Bultfontein toe geskarwei is. Op daardie klavier het klein Tokkie haar pad oopgespeel Unisa-eksamens en Bloemfonteinse kunswedstryde toe, waar sy goue diplomas links en regs ingeoes het. In matriek het sy met eervolle vermelding Unisa se Finale Eksamen (Klavier, Graad V111) kafgedraf. Sy was ook Sondae agter die kerk se orrel wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Die klavier staan nou by ons dogter, Marisa, in Hilton, Natal.

Op die sportveld was tennis na aan Tokkie se hart. In haar wit rokkie (‘n ou kerkrok wat vir die doel korter gemaak is) en met tekkies wat – lank voor die Nike-era – van ‘n hoop af by die O.K. Bazaars gekoop is, was sy en Mrad Shahia (later prof. Mrad Shahia) veral in die dubbels ‘n gedugte kombinasie. Die tekkies, terloops, was net ‘n stuk wit seil en ‘n sool wat kwalik die kous werd was. Die seil is met Shushine skoongemaak. Haar raket was ‘n oue van haar Tant Siena, wat ‘n rooilissie was in die Tweede Wêreldoorlog – ook ‘n tronkbewaarder wat o.a. die gifmoordenares Daisy de Melcker in haar sorg gehad het.

Elke kind het die een of ander tyd ‘n fiets gehad? Verkeerd. Tokkie het nooit in haar lewe ‘n fiets besit nie. Die enigste wiele in hul huis was ouer broer, Fanie, se tweedehandse dikwiel. Sy kleinsus het altyd op die handvatsels, die dwarspyp voor die saal of op die drarak agter gesit na gelang van omstandighede. Kinderkrans toe, was daar vier kinders op Fanie se fiets. Dan was Tokkie voor op die handvatsels, gevoude voetjies op die modderskerm.

Soos Tokkie in musiek uitgeblink het, het Fanie sy naam as kranige atleet in Bultfontein se rekordboeke ingehardloop en gewerp. Hy was in matriek SA se onder 19-kampioen in die 440. Glo die duwweltjies op die atletiekbeen wat hom geleer het om sy knieë te dra. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat die gewigstoot aan die oorkant van die veld eers gestaak moes word.

My vrou was, by alles, ‘n entoesiastiese volkspeler. Sy was in die demonstrasiegroep wat ook kunswedstryd in Bloemfontein toe is om daar passies te gaan maak. ‘n Foto van Bultfontein se groep van 1961 het op Die Volksblad se voorblad verskyn. Daardie foto het ‘n buitengewone geskiedenis.

Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie – een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser, Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy was halsoorkop verlief. Hy wóú eenvoudig die meisie op die koerantfoto ontmoet.

Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (later ‘n mediese dokter of tandarts) aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: Wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”

Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!

Die skoolhoof se beskermende optrede word op prys gestel. Daardie De Neckertjie verdien nietemin volpunte vir ondernemingsgees.

KAMPIOEN TOT DIE EINDE

Januarie 23, 2016 in Uncategorized

1-1-1-IMG-001

‘n Jaar of vyf voordat ons paaie in die jare 60 gekruis het het, het my swaer Fanie van Wyk, Tokkie se broer, vir allerlei steratlete van stedelike spogskole weggehardloop om die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. Peter Carlstein van St. Andrews in Bloemfontein, latere krieket-Springbok, was een van die gunstelinge wat teen die onbekende Bultfonteiner in die stof gebyt het.

Dat hy so vinnig kon hardloop is glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan se skuld. Die geniepsige meneertjies het hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra.

Sic gloria transit mundi. Pas by die huis gekom van die Panorama Medi-Clinic af waar Fanie (77) weens gevorderde longversaking, ondanks die sterkste moontlike suurstof-toediening, swaar en met inspanning asemhaal. Hy sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – trouens ook die wedloop van die lewe is sowat vir swaer Fanie verby. Maar met watter genoegdoening kan ek nie hier met alle oortuiging skryf nie: ook in daardie wedloop was hy ‘n kampioen.

(‘n Stuk of ses van Fanie se atletiekrekords staan nou al amper sestig jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Hy het een keer die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters aan die ander kant van die veld beland het. Die gewigstoot moes dringend gestaak word terwyl Fanie gooi! Op die foto is hy in sy Vrystaatbaadjie met sy atletiekbekers).

LEUEN OOR ‘N OUTEHUIS

Desember 3, 2013 in Uncategorized

Danksy ‘n vlytige brieweredakteur by Die Burger is daardie koerant se lesers die intellektuele uitdaging gespaar om die briefie hieronder te verteer.

Die resultaat is dat lesers van daardie gewaardeerde Kaapse Afrikaanse dagblad steeds onder die skromelike wanindruk verkeer dat Bulfontein se ouethuis ,Amper Daar sou heet – wat darem sielstergende ligsinnigheid sou weerspieël.

Ek meen nie rubriekskrywers durf straffeloos rondloop wat die waarheid so geweld aandoen ter wille van effek nie, en ook nie dat koerante hul rubriekskrywers so tot elke prys in watte moet toedraai dat hulle maar ongeopponeer mag kwytraak wat hulle wil, sonder bekommernis oor die waarheid aldan nie van hul skryfsels nie. .

Hiermee my verwerpte briefie:

 Dit is nie eens amper waar dat die ouetehuis op Bultfontein in die Vrystaat se naam Amper daar is nie.

 As aangetroude Bultfonteiner (31 Desember 1966 in die NG Moedergemeente neffens die kerkhof) neem ek des te meer eksepsie aan mnr. Dana Snyman se wanvoorstelling in die rubriek Van Alle Kante van 29 November.

 Die huweliksband van amper 50 jaar vereis immers lojaliteit aan die dorp, aan Huis Vergeet My Nie (korrek) en aan sy tydgenootlike inwoners, van wie aan my bekend is.

 Boonop kom ek uit ‘n skool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n?  Het mnr. Snyman iemand gevra?  Het hy net die kluts met die spul name kwytgeraak? Of het hy sommer met kwaadwillige asprisheid die naam uit sy duim gesuig?

 As ‘n mens oor die naam van ‘n ouetehuis lieg, kan jy oor enigiets lieg. Ek is amper daar dat ek mnr. Snyman se mededelings met ‘n knippie sout neem.

 
 
 

QUE SERA, SERA! (2)

Maart 10, 2013 in Uncategorized

Tokkie se ma, Marietjie, is vanoggend skuins oor ses minder as ‘n maand voor haar 99ste verjaardag in die Groeneweide-tehuis op Darling oorlede. Sy was 63 jaar ‘n weduwee (‘n rekord?) wat haar eie potjie moes krap.
 
Haar twee kinders, Fanie… en Tokkie, het in sware omstandighede uitgestyg: hy in atletiek, sy in musiek.
 
Ouma Marietjie was jare lank ‘n beminde inwoner van Bultfontein. Dis waar ek haar (via haar mooi dogter) leer ken het. Sy was die rede waarom ek  nooit van skoonma-grappies gehou nie!