Jy blaai in die argief vir buffelsbaai.

ODE AAN BUFFELSBAAI

Oktober 11, 2017 in Uncategorized

Die VanD’s op Buffelsbaai – ‘n herbesoek.

Buffelsbaai is ongetwyfeld die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken. Die Van Deventers het op die stukkie hemel op aarde naby Knysna van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer salige vakansies gehou.

Met welbehae dink ek terug aan die wonderlike plek: die yslike preekstoelrots vlak voor Kop-bo-Water wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van die voordeur, die skilderagtige Lilliput-straatjies, die talmende reuk van see en renosterbossie, en die strandkafee waarheen kindertjies alleen kon stap om vir hulle roomys of vir pa ‘n koerant te gaan koop.

Die foto hierby is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Müller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het.

Vanoggend lees ek in ‘n begrafniskennisgewing in Die Burger die baas van Kop-bo-Water is dood. Dit voer die gedagtes ver terug: tot ons eerste kennismaking. Dit was voor elektrisiteit daardie idilliese kusdorpie bereik het. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Marisa, ons jongste, was nog nie gebore nie. Johan was in doeke. Marisa is nou die ma van drie groot seuns, die oudste twee, Jacob en Thomas, 13 jaar oud en die jongste, Christopher 8. Ouboet Johan is veertig taamlik ver al verby. Hy is die pa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Migael.

Op letterlike honderde Buffelsbaaifoto’s van luilekker uurtjies op die strand, speel saam met die kinders in die poeletjies, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, aanrollende branders en stormsee kan jy die kinders sien uitrank tot jong mense… en die jong egpaar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Net regs van Kop-bo-Water is die donkergeel huis Kammarus, waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand. Ons het ook vir Kammarus lief geraak.

Daardie twee strandhuise het ons soos ons eie gekoester. Hulle lê steeds diep in ons harte.
In “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in ‘n hooftuk, “Hemel aarde” is ‘n ode aan Buffelsbaai – spesifiek aan ons twee hartsplekke teenaan die branders met die wydse uitsigte na die weste waar die son gereeld saans in in ‘n flambojante skouspel van kleur verdwyn. Hoe wens ek nie dat Bethel Müller daarin kon lees hoe lief ons vir sy huis was nie. Maar hy het darem geweet.

Ek groet Kop-bo-Water se baas, met die herinneringe van hoe hy sy das en boordjie as professor in die teologie op Stellenbosch vakansies verruil het vir ‘n pap hoedjie op die kop, kaalvoete en die aardse bestaan van ‘n man van die see.

Ek onthou hom as ‘n klouteraar in die rotse, ‘n gedurige timmerman by sy huis en ‘n visterman wat namiddag met sy stokke afsuiker strand toe om iets vir die braairooster te probeer uithaal.
Ek onthou hom ook Sondae op die kansel van Buffelsbaai se kerkie waar hy seker meer as enigiemand anders die Woord gebring het.

Op Stellenbosch word Vrydag vir hom ‘n dankdiens gehou voordat ‘n private verassing plaasvind. Ek wonder of sy as na sy geliefde Buffelsbaai toe sal gaan en dalk by die rotse voor Kop-bo-water ‘n tuiste gaan vind terwyl die seemeeu om die roubeklaers krys en duik.

As Buffelsbaai ‘n vlag het, behoort dit nou halfstok te hang oor die verlies van een van sy groot seuns.

BUFFELSBAAI, GELIEFDE GROND

Februarie 25, 2015 in Uncategorized

IMG_3430

Waar sy Johan vier dekades gelede geleer vissies skep het, leer ouma Tokkie vir Migael van Buffelsbaai se poeletjies.

Van Februarie 1971 toe die Van Deventers Buffelsbaai ontdek tot Februarie 2014 toe ons die soveelste keer die geliefde kusdorpie aan die Tuinroete binnery, het die tyd nie stilgestaan nie. Kastele het verrys … ‘n mens kan die voorspoed amper saam met die prikkelende seelug op jou lippe proe.

Buffelsbaai het verander maar ook NIE verander nie. Die manjifieke seevistas is onaangetas. Die bekende reuk van gekneusde renosterbossie stu steeds in die neusgate op. Dieselfde lui, spekvet seemeeue – so lyk dit altans – luier om die rotse en die braaiplekke rond. Dieselfde eeue-oue rotse weerstaan steeds die getye. Die seesand van die uitgestrekte strande – weliswaar gespikkel met kleurryke vlieërs – is nog dieselfde sagte kastaiingbruin.

IMG_3443

Kastaiingbruin strande gespikkel met kleurryke vliëers.

‘n Wandeling bultjie op en bultjie af verg meer inspanning as vier dekades gelede. Ook jy het helaas verander – die veerkrag in jou tred het met die jare maar sleg afgeslyt. Die asem brand, maar die wandeling neem jou steeds verby huise met name wat, soos nêrens elders nie, die humorsin, vindingrykheid en oorspronklikheid van die eienaars weerspieël.

Ons was vir die naweek vir ‘n heen-en-weertjie saam met die Van Deventerkinders van George in die wit hoekhuise, Heen-en-Weertjie met teen sy woonkamermuur ‘n nogal vernuftige aaneenwewery van allerlei oulike name in storievorm. Dit vertel van iemand wat Na die oes Moeggeploeg vir ‘n Luilekker kuiertjie in hierdie Hemel-op-aarde opdaag.

Dit word ‘n ‘n heerlike tyd van Stokkiesdraai, Boordjie-Af, Skuinslê, Pyp en Pantoffels en Son en Saffier in ‘n huis wat Nooit-Te- Vol is nie. Die anonieme outeur bou ook ander bekende Buffelsbaainame in sy/haar storie in wat van welbehae getuig; name soos Woelwaters, Drie Swaers, Kop-bo-Water, Yt-rat-yt en dies meer. Net teleurgesteld dat “ons huis”, Kammarus, waar ons dosyne vakansies deurgebering het, nie die paal gehaal het nie. By dié, terloops, kom blykbaar ‘n groot brekery en bouery. Was daarom nie beskikbaar nie.

IMG_3482

Vir ‘n heen-en-weertjie in Heen-en-Weertjie

Van dié romantiese ou name name het voor die onstuitbare opmars van ontwikkeling en vooruitgang gesneuwel. Allerlei villas so-en-so en casas dit-en-dat het in die plek gekom. Maar ek voel steeds tuis as ek tussen die opgestapelde huise in daardie knus straatjies loop. Ek tel steeds die ure totdat die vuurtjie kan begin flikker, en ervaar steeds verlies as die tyd vir oppak aanbreek. Dis weemoed-tyd wanneer die motor verby die Goukamma sy koers kry op pad huis toe. Die serigheid is nie minder swaar as doerie jare nie.

Een nuwigheid het met pynlike impak getref. Dis egter nie net ‘n storie van Buffelsbaai nie; wel een van die donker temas van die Suid-Afrika waarin ons in die jaar 2015 leef. As die sekuriteitsfirma se bakkie (nommer 9) ‘n dosyn keer by ons huisie verby is in die naweek, is dit min. Op ‘n keer het ek selfs ‘n huisalarm dringend hoor loei …

KUMBAYA, KUMBAYA

Februarie 15, 2013 in Uncategorized

 

 

 

 

 

 

 

 

Tokkie by Ukuthula – 1997.

Nuwe vriende in Sabiepark wil hul  huis van Nonnetjiesbos  (baie uile in sy dakbalke) herdoop tot Peet-rus. Die naam van die nuwe eienaar en die vooruitsig op salig agteroor sit, word daarin gekombineer.

 Maar dat Peet tot dusver hoegenaamd rus gekry het, betwyfel ek sterk.  Hulle woel. Hulle woel, daardie twee Bloemfonteiners.  Noem die plek liewer Immer Timmer, het ek by hulle aanbeveel.  Dis ‘n naam wat ek dekades gelede op Buffelsbaai gesien het – ‘n plek met oulike, oorspronklike name. Het ook gehou van Moeg Geploeg.

 Om eerlik te wees, sal ek egter nie ‘n vakansiehuis Immer Timmer kan noem nie.  Ook nie Moeg Geploeg nie.  In die Van Deventerhuis doen Tokkie die timmerwerk. Sy timmer immer.  Al ploeg in my lewe was Volkskas se ou logo.

 Sal my plek wel Kelkiewyn kan noem  – soos vriende van Kleinmond. Genotvol om met ‘n kelkie wyn in die hand die kelkiewyne dop te hou wat met hul lang puntige sterte in die gras skarrel.

 Toe ek moes naam kies vir my vakansieplek in Sabiepark het ek Tarlehoet gekies  – ietwat raaiselagtig, toegegee, maar ‘n naam uit die Van Deventer-geskiedenis.  Dit kom eintlik via die naam van ons huis van langer as ‘n dekade op die hoek van Van Schoor – en Kmdt. Senekalstrate in Bloemfontein, wat dit weer gekry het van ‘n Boesmantjie in een van Elizabeth Vermeulen se verhale oor die Noordweste.

 Dis ‘n lang storie.  Vir ons beteken dit sommer kortweg: ‘n Plek waar ons lank en gelukkig gewoon het. Ons het die mooi Sjangaanse naam Ukuthula (Vrede van Binne)  afgehaal om Tarlehoet op te sit. As ek weer ‘n naam vir ‘n plek sou moes oorweeg, sou ek Ukuthula in die hoed sit.

 Baie bepaald in daardie hoed sal wees Kumbaya of Kumbayah, ‘n Kreoolse spirituele lied*  wat die Goeie Vader nooi: “Come by here, my Lord” – “Kom hierlangs”. Ons het dit op ‘n CD, soos uitgevoer deur Placido Domingo en Vriende. Hemelse musiek.   

 Sou graag as ek by my kampvuurtjie sit, wil sit en neurie: Kumbaya, my Lord, Kumbaya.  “Here, U is hier, ek voel dit. Kom asseblief, altyd weer.”

 Ek sou ook met die naam vir my vriende.wil nooi: Kom hierlangs. Kom in. Kom geniet ‘n kelkie wyn!

 Op Buffelsbaai is (was) ‘n huis met ‘n naam wat presies die teenpool is:  Hou Verby!  Kon dit nooit verstaan nie.  Is daardie mense dan  kluisenaars?  Nee, duisend maal nee vir sulke afsydigheid. Liewer Kumbaya vir my – op geestelike vlak bepaald, maar ook wat lekker geselskap betref.

 * Ek weet ek vat hier kortpad en dat oor die regte oorsprong nogal omstredenheid heers.  Dat die naam Kumbaya uit die een of ander Kreoolse dialek kom, staan egter, wat my betref, vas.