Jy blaai in die argief vir bos.

AL DRA ‘N AAP ‘N GOUE BRIL

Februarie 9, 2019 in Uncategorized

My bydrae in BY, Saterdag-byvoegsel tot Die Burger, vanoggend:

Desembers ly kwik nie aan hoogtevrees in die Laeveld nie. As die son in die hartjie van die somer dooierus vat, is 40 grade plus maklik jou voorland. “Bloedig warm” soos die TV-weermense sê. Dié Saterdagmiddag was nie regtig “bloedig” nie. Net gewoon warm – so 33 tot 35 grade op die termometer teen ‘n dakstut op die stoep van ons boshuisie langs die Kruger-wildtuin.

Vir ‘n trop avontuurlike bobbejaan-indringers was dit egter warm genoeg om, sonder uitnodiging, in die wettige eienaars se bos-swembadjie te kom lafenis soek.

Vroegoggend, toe ons Skukuza toe ry, was die sekelsterte al onheilspellend bedrywignaby die huis. HHHhulle boggom uitdagend. Teen middagete keer ons terug. Die stoep in chaos. Oral lê plasse – swembadwater, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie – onuitkenbaar vermeng. (Die Bolandse wyn was op ys in ‘n groot Coleman). Minstens vyf stoelkussings is in ‘n haglike toestand. Die tropleier – ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier, ‘n mank been en afstootlike geel tande – het hom klaarblyklik soos wafferse veroweraar op my persoonlike swembad-gemakstoel neergevly – ‘n minagtende demonstrasie van baasskap as jy ooit een gesien het. Die kussing is deurweek, hopelik net met swembadwater …

Die troebel kleur van die swembad verklap: wildvreemde lywe het waarskynlik in daardie water baljaar. Die begeerte band in ons binneste om self in te spring. Maar in sulke besoedelde water? Nee, natuurlik sal ons eers moet opruim, en operasie skoonmaak is geen plesierige vooruitsig nie. Geen outomatiese filter of meganiese “kreepy krauley” is vir sulke noodgevalle beskikbaar nie. Eskom se netwerke loop nie daar nie. Ons draai dus maar die badjie se uitlaatkraan oop en tap die swembad dolleeg. Daarna pak ons met besems en borsels die taak voorhande. Die kosbare water vat pad in ‘n koerslose stroompie die veld in.

Amper 24 uur later eers was ons al plassende terug in ons badjie – steeds suur oor die moeite, ongerief en verlies aan koue wyn! Nou boonop met die nuwe kommer oor ‘n dreigende alternatiewe vorm van kees-fese wat moontlik deur die waterkaskenades ingelui is. As jy eers gesta, lệ, proe het, dan raak jy mos meer erg, se die goeie mense van Namakwaland mos (dankie, Johan van Wyk!).

Laat my maar my liefeloosheid jeens daardie spesie bely. Dit verg regtig ‘n buitengewone pakket van deugde om sulke tergende omstandighede lankmoedig te verduur, of selfs ‘n lughartigheidjie daaroor te pleeg as die booswigte jou breekgoed verwoes, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong skaai of ‘n gat deur jou grasdak dolwe, soos, helaas, van tyd tot tyd in ons kontrei gebeur.

Iemand geseën met sulke spesiale lankmoedigheid is Kapous Mouton, oud-onderwysman van Montana, Pretoria, ‘n bosvriend met ‘n huis in dieselfde straat. Sy lankmoedigheid word getoets toe sy peperduur nuwe bifokale eendag spoorloos voete kry. ‘n Deeglike soektog volg oral op elke moontlike en onmoontlike plek. Die bril is skoonveld. Kapous moet maar sy oë skrefies trek en hom in sy verlies berus. Ag nou ja, is sy lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy koerant beter te lees.

Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor sy vrou, Leonora, by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk flits word dadelik ingespan. Al wat die straal optel, is twee dowwe “ogies” – te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis nie glimwurms nie. Dis toe niks anders nie as Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Een van die brilglase het ‘n lelike krap en een neusie is mors-af. Maar Kapous kom daarna self ook weer lekkerder reg met die koerant!

Adoons moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul!

Selfs ‘n Sondagmiddagslapie word nie ontsien nie. Vir David en Christine Serfontein van Randburg het só ‘n skuinslê grimmige gevolge gehad. Vir middagete was ‘n wildspotjie op die kole. Saam met hul gaste, twee egpare van Randburg, is gesellig in die lapa gekuier. Daarna is eenparig gestem om voor enige verdere aktiwiteit eers ‘n uiltjie te gaan knip.

Later word David en Christine wakker. Uit die kombuis kom allerlei belowende klanke. Bedagsame gaste, dag hulle, en draai weer om vir ‘n laaste rukkie se ontspan – verlig oor die berg skottelgoed wat hulle in hul geestesoog sien kleiner en kleiner word. Maar die geluide hou aan en die volume bereik ongewone vlakke. David spring op. Op pad kombuis toe vir ‘n ondersoek ter plaatse loop hy hom in die gang trompop teen ‘n bobbejaanmannetjie vas. Die res van die invalsmag is toe nog in die kombuis – nie besig om skottelgoed te was nie, maar om die chaos ná ‘n heerlike middagete tienvoudig te vererger.

Dis die klas aapstreke wat ‘n mens aapstuipe kan gee! Die Serfonteins en hul gaste moes ure lank swoeg om orde naastenby te herstel. Die stroefheid in die lug is darem deur ‘n bietjie selfspot gebalanseer. Dit kom op die lappe al drie pare is deur die geraas in die kombuis gewek. Al drie kom toe tot dieselfde (foutiewe) gevolgtrekking en ag dit gerade om hulleself eers ‘n rukkie skaars te hou. Selfs uit bobbejaanstreke kan ‘n mens ‘n paar waardevolle lewenslesse leer. Een is om nie lui te wees vir skottelgoedwas nie – veral in die bos

GAT-NEUS-WURMS

Mei 22, 2018 in Uncategorized

Dit is weer daardie seisoen van die jaar in die bos wanneer die harige versamelwurms doen wat hulle naam aandui: hulle versamel in ‘n menigte. Kort voor die winter, slaan hulle toe – gewoonlik in Mei. Skielik is dit net wurms, wurms, wurms; wurms waar jy loop of kyk.

Rosyntjiebosse is blykbaar hul gunsteling. Wit of vaal rosyntjiebosse word oornag met wurms oortrek. Ná enkele dae lyk die boompies bra oes. Die takke is kaalgestroop. Die harige wurms koek ook graag in grillerige bondels teen huise se skurwe buitemure (foto).

Maar “’n ieder woelt hier om verandering”. Die hele koeksel wil dan, klaarblyklik gelyktydig, op ‘n ander plek kom as waar hulle is. Dan tou hulle in ellelange rye oor paaie en strate, waar duisende ‘n gewelddadige einde onder motorwiele tegemoet gaan.

Bosbeseoekers leer om stadig en met oop oë te ry. Vir enigiets van onwrikbare miskruiers met rekord-bolle, tot hottentotsgotte wat, soos slagysters, roerloos op hul agterpote vir ‘n prooi sit en wag, tot suutjiestrap verkleurmannetjies met hul lang tonge hou ‘n mens graag stil. Wie is dan ook so harteloos om twee skilpadjies kort te knip nadat hulle met ‘n slakkegang tot in die middel van die pad gekom het om te paar? Of om ‘n oorblufte kolhaas met sy swart-wit donsiestert in die straal van jou motorligte te verblind?

Maar teen die versamelwurm is jy ‘n magtelose gevangene agter die stuurwiel. Geen manier bestaan om die vermorseling onder jou wiele te vermy nie.

Versamelwurms is hul regte naam. Bosvelders noem hulle ook “treinwurms” – om klaarblyklike redes. Honderde wurms haak by mekaar aan soos treinwaens.

Haal ‘n mens een uit die ry, wurm die volgende homself lank uit om die “gat” toe te maak. Sit jy die een wat jy uitgehaal het weer terug, maak die span eenvoudig vir hom plek, en val hy as’t ware weer op sy plek in die ry in.

Neem jy die “leier” weg, verwar jy die arme drommels heeltemal. Die nuwe leier konsertina homself so lank as moontlik uit en soek in die lug langs wanhopig na die “pad”. Die hele treintjie kom daar en dan tot stilstand

Hul onstuitbare drang om doodsveragtend paaie oor te steek, is die oorsprong van ‘n ander, informele, naam: selfmoordwurms of ‘n hara-kiriwurms.

Baie Bosvelders praat eenvoudig van gat-neus-wurms. Dit is ’n raakvat-naam

BOS KOM TAFEL TOE

Januarie 22, 2015 in Uncategorized

IMG_0425

 

 

 

 

 

 

Die bos in al sy heerlike fasette danksy die kreatiwiteit van ‘n kleinseun saans in tafeltemas weerspieël.  Dit was ‘n nuwe dimensie van ons somervakansie in Sabiepark saam met die drie Claassens-kleinseuns, Jacob en Thomas (10) en Christopher (5).

Thomas het hom onderskei met sy oorspronklikheid en vindingrykheid terwyl sy tweelingbroer, Jacob, en die jonger Christopher hulle meer op die vuurmakery toegespits het. Maar vele hande maak ligte werk.   “Team work” – een van Christopher se handelsmerk-begrippe – was party aande aan die orde van die dag: veral toe die tema die aand “liggies” was, en al wat ‘n lantern, kers of fakkel was, moes brand (foto bo). .

Ouma Tokkie het op die agtergrond gebly, maar deurslaggewende  voorstelle het ook uit daardie oord gekom.  Net Oupa Hennie was aan die tafelfront ‘n nul op ‘n kontrak.

Temas het gewissel van diere tot voëls tot veld tot bos.  Die sebrabreekgoed het hulle goed geleen tot ‘n “sebra-aand”.

IMG_0388

 

 

 

 

 

 

Christopher, Thomas en Jacob by hul “bostafel””.

IMG_0385

 

 

 

 

 

 

 

 

Lantern en kerse, driepootpotjie, blaker en blikbekers sorg vir ‘n bosatmosfeer.   

IMG_0340

 

 

 

 

 

 

 Ons eet op die agterstoep en die tema is voëls.

IMG_0306

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Koedoe, ‘n sebra, ‘n seekoei en ‘n klein renostertjie sorg vir ‘n dieretema.  

IMG_0256

 

 

 

 

 

 

‘n Mens ruik sommer die veld.

IMG_0255

 

 

 

 

 

 

Die hele span by hul “veldtafel”.

IMG_0234

 

 

 

 

 

 

Thomas by sy “sebratafel”.

IMG_0183

 

 

 

 

 

 

Snuifkalbassies en ander goeters uit die veld.

IMG_0206

 

 

 

 

 

 

Op elke servet het Thomas geskryf: Lekker eet. Ek is lief vir jou. 

Ons is lief vir jou ook, Thomas.