Jy blaai in die argief vir bokkerops.

KAMERA-KATASTROFES

April 21, 2018 in Uncategorized

Die rampspoedige vlug SA 228 wat op 20 April 1968, gister 50 jaar gelede, met opstyging onder meer weens foutiewe flap-verstellings by Windhoek in die grond geboor het, herinner aan een van die groot kamera-katastrofes in die Suid-Afrikaanse koerantgeskiedenis.

Die Boeing 707-344C, genaamd Pretoria, het 118 mense aan boord gehad van wie net vyf oorleef het. Die ramp het ‘n Saterdagnag net na midddernag gebeur. Dit was die land se grootste lugramp tot op datum – Die Helderberg-ramp was jare later – en die land se koerante het die Sondag omtrent almal vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler, dagblad van Perskor, was geen uitsondering nie.

Laat die middag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om die foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur angstig begin raak, sit hy af donkerkamer toe om te gaan kyk wat dan aangaan. Hy vind die arme fotograaf hande in die hare.

Geeneen van sy foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele bruikbare opname nie.

‘n Soortgelyke stel is deur ‘n fotograaf van Die Burger afgetrap toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom.

Die eerste Burgerfotograaf was verstommend gou op die toneel. Helaas, met ‘n kamera sonder film!

Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksbladfotograaf in Bloemfontein op eie versoek in ‘n Lugmagvliegtuig so vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om dramatiese foto’s van ‘n massa- valskermsprong van die Valskermbataljon te neem.

Na al die moeite is agterna dieselfde ontdekking gedoen – geen film nie.

Oor sulke katastrofes kan ‘n mens nie glimlag nie. Waaroor ‘n glimlag egter nie uit sy plek sal wees nie, is die bokkerop wat Jean du Plessis van Die Burger oorgekom het toe hy by Tuynhuys retireer-retireer ‘n foto van die nuwe president van doerie tyd, mnr. Nelson Mandela, wou neem. Toe Du Plessis nog so agteruit korrel vat, haak sy voet aan die rand van ‘n groot visdam. Hy val kaplaks tussen die verbaasde koivisse, kamera en al.

‘n Galante pres. Mandela het kom hand gee om die sopnat fotograaf op vaste bodem te kry. Die toneeltjie illustreer die uwe se boek Flaters & Kraters.

Nog ‘n ligte storietjie van ‘n kameraman is van wyle Jasper Kroese, ook van Die Burger, wat op ‘n Saterdagmiddag op Nuweland langs die kantlyn af nael om by te wees wanneer die vleuel in die hoek druk – toe gee die vleuel die bal na Kroese uit, wat dit netjies vasvat.

Teenwoordigheid van gees noem ‘n mens dit.

SKIET DIE ARGITEK!

Oktober 28, 2014 in Uncategorized

Sekere monumentale bokkerops begrawe jy dalk lank en diep in jou onderbewussyn maar op ‘n gegewe oomblik: Woerts, hier spring dit weer uit!

Ry verlede week saam met ‘n eiendomsagent deur Welgemoed om redes wat nie hier ter sake is nie – solank iemand dit net nie gaan staan en vertolk as ‘n wenk dat die Van Deventers op trek staan nie. Ons bly op Melkbos tot ons dood, dankie.

In elk geval, in Chavonnestraat hou sy voor ‘n groterige siersteenhuis stil wat onlangs van eienaars verwissel het. Sy verduidelik die uitsonderlikhede en voortreflikhede, soos eiendomsagente doen.

‘n Beeld van 22 jaar gelede doem skielik voor my geestesoog op.  Ons het pas van Bloemfontein na die Kaap verhuis en ek was op soek na ‘n huis, verkieslik in Welgemoed rond.

Het die huis ‘n glasvoordeur?

Ja, antwoord die agent.

Het die huis ‘n gastetoilet in die voorportaal?

Ja, antwoord die agent.

Kyk die voordeur direk op die gastetoilet se deur?

Ja, antwoord die agent.

Is in 1992 die huis gewys toe ek in Welgemoed aan’t huis soek was, deel ek die verbaasde agent mee.

En toe, wat het jy daarvan gedink?

Die herinnering aan die ongelukkige ligging van daardie twee deure is skielik helder voor my.  Ook ‘n ander beeld wat ek destyds opgetower het: Van iemand wat onverhoeds uit die gastetoilet stap en sy/haar klere nog ‘n laaste rukkie en plukkie gee.  Die volgende oomblik kyk hy/sy  ‘n besoeker by die voordeur stip in die oë.

Ek wou nie eens verder  kyk nie, antwoord ek.  Het net vir daardie agent gesê:  Hulle moet die argitek daar by die gastetoilet teen ‘n muur sit en summier fusilleer.

Joe, niks fout met jou geheue nie, sê die agent.

Dankie, antwoord ek, maar sekere dinge maak nogal ‘n indruk op ‘n mens. Jy vergeet dit nooit.

Dit geld ook, en dalk veral, vir sulke onverklaarbare, onvergeelike en monumentale  bokkerops. Soos met daardie ongelukkige huis in Chavonnestraat.