Jy blaai in die argief vir boeke.

KANNIEDOOD VOORWAAR

November 30, 2017 in Uncategorized

Smaak my die oud-koerantman Hennie van Deventer ervaar die verlede en hede soms in een teug. Afgetree is hy wel reeds twee dekades, maar sy skryfstem weet nie van swyg nie. So skryf die joernalis AJ Opperman in ‘n resensie van Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman op Litnet.

Opperman skryf: In Laatoes spring hy tussen hede en verlede, gebeure en ontmoetings wat hy ervaar het, wat waarskynlik ’n indruk op enigiemand sou gemaak het. Dit klink eintlik so lekker, want hy kyk terug met genoegdoening – natuurlik kom groet heimwee en nostalgie ook – maar terselfdertyd bly hy nuwe goed ervaar. En hy het steeds die lewenslus en belangstelling.

Van Deventer ken baie mense en onderneem nog gereeld reise – alles kry oplaas uiting in sy skryfwerk, hetsy op sy blog of enige ander skryfsel met sy naam op.Die woorde “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Met baie omsigtigheid op die koop toe. Onder die titel van elke hoofstuk verskyn ook dikwels ’n datum.

Hy en sy vrou, Tokkie, woon op Melkbosstrand, maar hulle klink nie soos kluisenaars nie.

Van Deventer sit die werk voort wat hy in sy vorige boek Kroniek van ’n koerantman begin het.

In Laatoes vertel hy van afsterwes, maar ook ontmoetings, nuusgebeure lank gelede en meer onlangs. Jy kom inligting teë wat jy nie verwag het nie, daar is net soveel interessante goed wat opduik.

Synde self ’n joernalis, het ek aanklank gevind by baie van sy media-stories en hoogtepunte uit sy loopbaan. Hy skryf onder meer oor die geskiedenis en ontstaan van die einste gebou waarin ek vandag werk, Media Park, in Auckland Park, Johannesburg. Hy was een van die rolspelers destyds met die Nasionale Pers se se soektog na ’n nuwe perseel in Johannesburg.

Selfs al werk jy glad nie in die mediabedryf werk nie, sal jy ook iets uit hierdie vertellings kry.

Jy sal vir seker begin dink aan ’n besoek of herbesoek aan die Krugerwildtuin – daar is nou vir jou inligting en staaltjies. Gepraat daarvan, soveel nuwe inligting oor dié nasionale park sal jy ook hier kry, maar in ’n baie lekker verteltrant. Trouens, jy bekom baie inligting oor gebeure of mense wat jy glad nie verwag het jy sou nie.

Hoe klink die bywoning van ’n geleentheid met Suid-Afrika se voormalige Eerste Minister dr HF Verwoerd of sy kuier by die bokser Gerrie Coetzee in 1978 en die moontlikheid van ’n boksgeveg tussen Kallie Knoetze en die Amerikaner Joe Frazier?

Sy dae by Die Volksblad (vandag Volksblad), sy kollegas, die bekendstelling van Johan van Wyk se bundel koerantrubrieke, Só is dit nou, die dood van sy goeie vriend Jan Scholtz. Dit is steeds ’n vol lewe.

Die kerkie in die Krugerwildtuin, ’n besoek aan die kamp Orpen in die Krugerwildtuin, begrafnisse en verjaardae. Van Deventer leef die afgetrede lewe wat enige afgetrede joernalis stellig wil ervaar – om steeds aan te (kan) hou skryf. En natuurlik legio avonture, hoe gering ook al, en dies meer te ervaar wat juis stof vir nuwe skrywes skep.

Jy hoef natuurlik nie afgetree te wees om hierdie soort goed te kan doen nie, maar dit is lekker om daaraan herinner te word dat inspirasie jou wragtig enige dag of uur kan beetpak.

KANNIEDOOD-KOERANTMAN

Augustus 31, 2017 in Uncategorized

Hierdie Hennie van Deventer-ou moes beslis ‘n koerantman gewees het” – kollega Sarel Venter se kommentaar ná ‘n vinnige koekeloer na die omslag van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”.

Sarel is in die omgewing van die kol, maar nie presies daar nie. Vervang asseblief die “moes gewees het” met “moet wees”. Die boodskap van die boek is juis dit: ná 20 jaar van aftrede bly hierdie kanniedood steeds in hart en niere joernalis. Het nou nie meer ‘n koerant om sy “passievolle drif” (kollegas se formulering) uit te woed nie; woed hom dus maar uit in koerante en tydskrifte, op webblaaie en in blogs (en boeke!).

In die 55 hoofstukke en die 275 bladsye van “Laatoes” is ‘n seleksie uit gepleegde joernalistiek sedert einde 1997 –nogal ‘n aansienlike massa materiaal.

Hope kykies word in talle hoofstukke gebied in my loopbaan van 36 jaar by koerante – van my kennismaking met “Die Volksblad” as kleuter aan Oupa Visser se voete tot my eerste besoek, nou anderdag eers, aan die imposante Mediasentrum in Johannesburg, waarvoor ek dekades gelede die grond uitgesoek het.

Die boek is egter geen biografie nie. Verre daarvandaan. Dis eweseer ‘n boek oor mense as ‘n boek oor die perswese en koerante. In minstens 20 van die 55 hoofstukke word op mense gefokus: van die grootste van groot kokkedore tot kollegas met wie ek by koerante en later in die hoofkantoor van die Pers skouer aan skouer gewerk het.

Louis Esterhuizen stel dit in sy voorwoord (‘n voorwoord “om van te droom”) vir my mooi: “In Hennie van Deventer se loopbaan en lewe het dit hom geluk om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Hulle het hy oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken; iemand wat nou oor hulle en hul wedervaringe kan skryf as ’n ouer, waarderende skrywer wat sterk onder die indruk staan van die verbygaande aard van dinge.”

Uit Pers-geledere sluit dit persoonlikhede in soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Eric Wiese – pas so redeloos in sy eie huis in Kaapstad vermoor – Johannes Grosskopf, Alf Ries, Johan van Wyk, Jan Scholtz, Ben van Rensburg, Fred Schnetler, Pirow Bekker en heelparty andere. Allerlei geheimpies word verklap.

Op die lys van “buitemense” is onder andere Pik Botha (hier in die ongewone rol van kortverhaalskrywer, smeulend van passie); ds. Okkie Raubenheimer (Afrikaanse Paulus); Gustav Hoexter (gulste gasheer in Sabiepark); Wynand Mouton (ware aristokraat); Barnie Human (motormagnaat), John Murray (halsstarrige Suid-Afrikaner op wie die hertogdom van Atholl geval het) en W.D. Kotzé (aardse skrywer uit die Kalahari).

Dit het my nie net geluk om in my loopbaan met sulke indrukwekkende mense paaie te kruis nie, maar om by van die grootste koerantstories van die era ten nouste betrokke te wees. In “Laatoes” is ‘n hoofstuk oor die skokkende moord op dr. HF Verwoerd en die asemrowende eerste hartoorplanting deur prof. Chris Barnard. Besoek saam die boeiende Hartmuseum.

Sabiepark, my geliefde bostoevlug, en die Krugerwildtuin lewer ook heelwat stof. Ek skryf oor luiperds, ratels, gevegte met leeus, natuurboeke van groot waarde en betekenis …. En van bosmense van hoë stoffasie.

Die kerk en kerkmense , die geskiedenis en die politiek word aangeroer. Ek skryf oor ‘n kerkbasaar wat met ‘n “skiet-gebed” geopen word en van “boerematriek” by ds. Beyers Naudè in 1957.

My sportskrywervriende sal dalk skeef opkyk, maar ek takel sport: rugby en boks – Hennie Muller (my rugbyheld), Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze (die twee Boerseun-swaargewigte).

My liefde vir motors kom in meer as een hoofstuk na vore. Hoekom is my registrasienommer TY 24 WP, al is ek ‘n Bul?

Op persoonlike vlak, is hoofstukke oor spesiale mense na aan my, salige vakansies (Buffelsbaai en die Queen Mary2), Kollegetehuis op Tukkies en Harvard waar ek die voorreg gehad het om 40 jaar gelede Nieman Fellow te wees. Ek verplaas ons matriekklas van 1957 op Potch-Volkies in die moderne tyd en bespiegel, tong in die kies, oor hoe ons klomp by ‘n “Plett Rage” sou rinkink het. Wie sou dalk ‘n T-hempie laat waai het?

Van die hoofstuk-titels in die boek is: LIEWE BLIKSEMS (oor ratels), OTJIE MET ’N CV, DIE SOOL EN DIE KOUS (oor lekker koerantopskrifte), ELKE OGGEND GATOORKOP (Johan van Wyk), KAALBAS EN STRIKDAS, VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN, VERMOMDE ENGELTJIE (Piet Cillié) en PROFEET IN ROOI PAJAMAS Alf Ries).

Dit verklap hopelik dat hierdie “lewensverslag” (Louis E se woord) geen stroewe, formele boek is nie – nee, sterk informeel, hoor, met ‘n goeie skeut humor en selfs stoutigheidjies plek-plek.

Hoop maar die resep werk vir die leser. Laat weet gerus.

•“Laatoes” is binnekort by boekwinkels op die rakke. Kan nou reeds bestel word by Naledi: http://naledi.online/

LAATOES UIT MELKBOS

Junie 19, 2017 in Uncategorized

Scoops en skandes – my eerste boek. 24 jaar later kom nou die laaste, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman..

Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe. As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.

Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier. Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.

Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak. Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.

Sê nou weer? Ja, julle het reg gehoor. Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring. Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees: Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!

Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee. ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur. ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.

Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie. Kollegas het my inBloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”. Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.

Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie. Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.

Van begrafnisse tot feeste; van herdenkings tot bekendstellings; van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.

Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het; skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare – kerk en sport.

Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel. Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!

Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!

* Volgende blog kom uit Sabiepark.

SPEKE SING VIR BOEKE

September 13, 2016 in Uncategorized

hvd1

hvd2

My fiets het die pad van die huis na die biblioteek so goed geken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. So dink ek baie jare terug – na my standerd vyf-jaar (graad 7-jaar) in 1951 op Potchefstroom – in ‘n gesprek met die Oos-Vrystaatse digitale nuusportaal LENS na aanleiding van Nasionale Boekeweek.

LENS het my en paar ander mense uitgevra oor die waarde van lees. Op sy Fb-blad berig LENS soos volg oor ons gesprek:

DIT IS SUID-AFRIKA SE NASIONALE BOEKEWEEK

Die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in vennootskap met die departement van kuns en kultuur het in 2010 Nasionale Boekeweek gesamentlik geïnisieer. Hierdie veldtog om ’n bewustheid en liefde vir lees te kweek, het gekom nadat ’n studie gevind het dat slegs 14% van Suid-Afrikaners boeke lees en meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse huishoudings (51%) het nie ’n enkele boek in hul huis nie.

LENS het met ‘n paar mense gesels wat al diep spore in die Afrikaanse taal getrap het en hulle uitgevra oor die waarde van lees.

LENS skop af met Hennie van Deventer wat 35 jaar lank in die koerantwese spore gelaat het: 12 jaar as dagbladredakteur (van onder meer Vrystaters se geliefde Die Volksblad) en ses jaar as hoof van Naspers se koerante. In 1997 het sy werkgewer sy hoogste eerbewys aan hom toegeken – die Phil Webermedalje vir volgehoue prestasie. Van Deventer het talle publikasies die lig laat sien en is ‘n gewilde blogger en skrywer.

VRAE AAN HENNIE

Waar het jou liefde vir lees begin en wie of wat het dit geïnspireer?

Die Potchefstroom-biblioteek staan soos ‘n baken in die leesgeskiedenis van die jeugdige Hennie van Deventer. Moenie vra hoe nie, maar in standerd vyf (graad sewe) het ek op ‘n manier sy rakke vol boeke ontdek: Topsy Smith, Casper H. Marais, Edgar Rice Burroughs (vertaal) en daardie klas lekkerleesgoed. My fiets het die pad van die huis af biblioteek toe so goed leer ken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. In matriek was Paul Gallico se “The Snow Goose” ‘n voorgeskrewe werk. Dit was n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The snow goose in your own words.’ Nogal goeie punte gekry.

Waarom is dit belangrik vir mense en veral kinders om te lees?

Iemand wat nie lees nie, kom voor ‘n toe poort te staan sover dit van die belangrikste elemente van die beskawing betref. Boeke gee vleuels aan die verbeelding, stimuleer denke en verskaf allenoodsaaklike toerusting om ten volle as mens in die samelewing te funksioneer. Dit kweek ‘n liefde vir woorde en verfynde taalgebruik. Dit bevorder ordening van gedagtes en leer jou sinryke kommunikasie. Dit open nuwe horisonte en verryk die gees. (Dit bevorder ook begrip en help selfs met spelling!)

Wat ouers kan doen om kinders in n tyd waar rekenaars, televisie, selfone en ander tegnologie oorheers lief te maak vir lees?

Die e-gogga bied vir almal uitdagings. Vir ouers is die groot uitdaging om kinders die waarde van lees – en die vreugde daarvan – met kreatiewe stimulasie self te leer ontdek. ‘n Groot fout is om ‘n kind te dwing om te lees, of om lees as straf te beskou. “As jy nie nou die TV afsit nie, stuur ek jou kamer toe met ‘n boek!” Ek sou reken ‘n goeie begin is om self te lees en gesien te word dat jy lees. Kry gereeld die koerant, koop boeke en goeie tydskrifte. Praat in die huis oor interessate berigte en artikels. ‘n Pa en ma wat beurte maak met sekere seksies van die koerant het ‘n beter kans om ‘n lesertjie groot te maak as ‘n pa en ma wie se eie vingers op die sleutels van hul slimfone boer.


Is biblioteke nog relevant?

Is dit nog relevant om die beskawing in stand te hou, aan die mensekultuur te bou en die fyner dinge van die gees teen die aanslae van die materialisme te beskut? Hoe sinies moet ‘n mens nie wees nie as jy op hierdie vrae skouerophalend sou antwoord. Biblioteke is al een van die vername pilare van die beskawing genoem. Solank die beskawing relevant is, kan daardie vername stut nooit sy relevansie verloor nie.

Drie gunstelingskrywers?

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg, Johan van Wyk …. Met soveel voorste skrywers uit die Volksblad-stal sal dit ietwat dislojaal wees as ek gunstelingskrywers buite die kring noem. Ek hou van ouer digters en verlustig my aan DJ Opperman se Afrikaanse bloemlesings. Gedigte het my respek laat ontwikkel vir ’n raak woord wat tintel van sêkrag. As joernalis moet ek dit van die bors kry: Ek kan nie sien dat iemand wat nie poësie liefhet, treffende koerantopskrifte kan skryf nie.

Watter boeke lê tans op jou bedkassie?

Ongelukkig lees ek nie boeke in ‘n bondel nie. Op my bedkassie is die Bybel en nooit meer as een sekulere boek nie. Op die oomblik lees ek pligshalwe ‘n polemiese godsdienstige boek deur ‘n halfbroer, Christo Malan. wat al dekades uit Suid-Afrika weg is. Die titel is “Fact Based Faith: No speculation, emotion or tradition. Just fact.” Sodra oud-kollega Johan van Wyk se nuwe boek, “So is dit nou – nog stories van vandag en gister”, op die rak kom, sal dit die boek op my bedkassie word – nie pligshalwe nie maar vir persoonlike plesier