Jy blaai in die argief vir bird island.

HOEKOM SO STIL OOR BIRD ISLAND?

Oktober 18, 2018 in Uncategorized

Twee maande het verstryk sedert die Bird Island-bohaai losgebars het. So eensklaps soos dit op die nasionale agenda verskyn het, het dit in die sand doodgeloop. Is ons wyser as wat ons was?

Klaarblyklik “nee”. Van die “nog onthullings” wat telkemale uit soveel monde belowe is (o.a. deur die uitgewer Tafelberg en die medeskrywer Chris Steyn) het dadels gekom.

Geen maar geen slagoffer van die beweerde wandade is opgespoor nie, ondanks vurige pleidooie en speurtogte (soos dié van wyle Mark Minnie en verslaggeefster Maygene de Wee kort voor sy dood).
Geen krieseltjie getuienis is opgediep wat die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n “pedofielnetwerk” koppel nie, buiten dat hy – met die wete van sy kantoor en gesin! – op ‘n militệre helikopter na Bird Island is vir die opening van ‘n ghwanokaai.
T.o.v. Magnus Malan is geen aks gevorder nie om bewyse te vind vir wat in ‘n kollektiewe reaksie van Weermag-generaals tereg as “kwaadwillige bespiegelings, omstandigheidsgetuienis en verregaande afleidings” afgemaak is.

Sleutelkarakters, die seun wat in die agterlyf geskiet sou gewees het, die dokter agter sy wonderbaarlike herstel en die matrone wat omgekoop sou gewees het om hom in die geheim te versorg, het soos skimme verdamp. Jy hoor van hulle maar jy sien hulle nie.

Sinspelings dat agter Minnie se dood iets meer kon skuil as die klaarblyklike – die wanhoopsdaad van ‘n verwarde siel – het by wilde raaiery gebly. Geen forensiese of ander ondersoek het iets verdags opgelewer nie.

‘n Mens moet dankbaar wees dat die onheuglike sage nou dood soos ‘n mossie is. Dit is egter verontrusend dat die onreg aan onskuldiges skynbaar dan ook maar net begrawe en vergeet word. ‘n Berouvolle apologie vir ‘n kavalieragtige swartsmeerdery is die minste wat van elke betrokene verwag kan word.

(Ek is dankbaar teenoor Volksblad en Netwerk24 vir die plasing van die briefie vanoggend. Hulle het Barend du Plessis en Maygene de Wee se name verwyder. Ek meen egtr dit is ter sake om dit, soos in die oorspronklike brief, hier te behou.)

MNR. Z SKRYF ‘N BRIEF

September 17, 2018 in Uncategorized

Die Bird Island-histerie het ‘n stille dood gesterf. Die land kan weer asemhaal, dankie tog. Maar wat gebeur t.o.v. al die valse bewerings en gerugte wat as’t ware op die markplein verkondig is? Word die skromelike onreg wat mense aangedoen is, eenvoudig maar begrawe en vergeet?

Enkele vrae verdien beslis antwoorde voordat afsluiting (“closure”) moontlik is, meen ek. Voorheen het ek al twee briewe oor die onderwerp vir koerante geskryf, en ‘n derde sal een te veel wees. As ek tog ‘n derde sou aanbied, sou ek graag ‘n klompie vrae aan die orde wou stel. Hier is net tien, wat tog ‘n goeie toets behoort te wees vir elkeen wat nog die Bird Islandstories glo of half glo:

Watter ander krieseltjie getuienis verbind die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n pedofielnetwerk buiten dat hy – met die medewete van sy kantoor en gesin, let wel – op ‘n militệre helikopter na Bird Island gevlieg is vir die opening van ‘n ghwanokaai?
Waarom dan te bang wees om die “derde minister” se naam te noem as jy so seker van jou saak is? Laat hom dan maar kom met ‘n lasteraksie!
Waar is die “nog onthullings” (ook oor Minnie se selfdood) wat telkemale uit soveel monde belowe is?
Waar is al die slagoffers van Bird Island heen dat geeneen in drie dekades na vore gekom het nie, selfs nou wanneer hulle so gesmeek en oral gesoek is?
Waarom is geen saak by die polisie aanhangig gemaak nie en is hierdie verskriklike dade nie by die WVK geopper nie? Is ‘n mens nie moreel en regtens verplig om sulke ernstige misdrywe teen kinders aan te meld nie? Is versuim om dit te doen nie ‘n ernstige misdryf wat strafbaar is nie – vrae wat sekerlik ook geld t.o.v. Minnie se beweerde aanranders (die tweelingbroers wat by name genoem word?
Watter bewyse/bronne het Chris Steyn vir haar jongste aanspraak dat Mark Minnie “gedwing” is om die weg van selfdood te kies? Wie het hom “gedwing” en hoe?
Hoekom het Chris Steyn nie in haar 2006-boek, Publish and be damned reeds na die betrokkenheid van Magnus Malan en Barend du Plessis verwys as sy self nou loop en vertel dat sy in die jare 80 al daaroor ingelig is?
Kan iemand die Babelse verwarring opklaar oor die seuntjie wat na bewering in sy agterlyf geskiet is? Tussen die medeskrywer van die boek, die skrywer van die voorwoord en ‘n kritiese resensent heers oor die nare incident en die identiteit van die slagoffer maar grote onklaarheid. In elk geval: hoe sou selfs Superman so ‘n skoot kon oorleef?
Hoekom loop ‘n geneesheer wat dan so ‘n ernstige misdryf teenoor ‘n kind sou toegesmeer het, skotvry tussen sy druiweboorde, en word ‘n matrone wat dan omkoopgeld sou ontvang het om haar mond te hou, nie geskraap nie?
Hoekom stel Chris Steyn haar nie eenvoudig net, soos genl. Johan van der Merwe, beskikbaar vir ‘n leunverklikkertoets ten einde haar geloofwaardigheid te beskerm nie, in plaas daarvan om uittartend te vra dat sy verkeerd bewys moet word?
As ek nie vir myself ‘n plafon gestel het, sou daar beslis ook ‘n vraag of wat aan die adres van die uitgewery Tafelberg en die media gewees het. As die nuwe etiek is om eers gerugte te publiseer en dan getuienis te loop soek, is elke mens mos weerloos.

Ten slotte: omdat in die onheuglike sage soveel naamloses gefigureer het, sou ek my brief onder die skuilnaam “Mnr. Z” wou skryf!

SKINDERSTORIES

Augustus 9, 2018 in Uncategorized

My brief in vanoggend se Volksblad:

Die opspraak oor die bewerings teen Magnus Malan in die boek “Die seuns van Bird Island” duur sedert Sondagoggend. Ek het nie die boek gelees nie. Ek gaan ook nie. Ek volg die beriggewing in die nuusmedia wel getrou. Tot dusver soek ek vergeefs na een greintjie getuienis teen die oud-minister van verdediging wat nie verbeeldingryk uit losse draadjies saamgeflans is nie.

Die teatrale onderhoud met medeskrywer Chris Steyn Maandagaand op Kyknet het werklik ook geen geloofwaardigheid bygedra tot haar en die oud-speurder Mark Minnie se aanslag op die karakter van ‘n gerespekteerde man met ‘n soliede rol in die geskiedenis van Suid-Afrika nie.

Me. Steyn is hier die geleentheid gebied om oortuigingswerk te doen by onoortuigdes soos ekself. Toe verval haar vertoning in emosie en melodrama. Waar is die antwoorde op die wie, wat, waar en wanneers wat by haar as gewese joernalis ingeprent behoort te wees as noodsaaklike vrae as jou doelwit is om die waarheid te dien. Trane alleen is helaas onvoldoende.

Ek skryf as tydgenootlike joernalis met groot agting vir Magnus Malan se onkreukbaarheid van karakter. Al het ek nie altyd saamgestem met wat hy doen of se nie, het sulke verskille nie afbreuk gedoen aan my respek vir sy integriteit nie.

Vir my en andere is dit diep betreurenswaardig dat iemand van sy kaliber na sy dood so beswadder kan word op grond van vergete skinderstories wat afgestof en met nuwe stertjies as evangelie aangebied word. Sulke roekelose sluipskietery is die vlak van die sosiale media. Van ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verwag ‘n mens dit nie.

Me. Steyn erken self dat haar eie koerant, die Cape Times – geen vriend van die NP-regering nie! – nie haar stories wou sluk nie. Selfs ‘n koerant soos Vrye Weekblad wat nie geaarsel het om die bul by die horings te pak nie, het in alle tale geswyg, hoewel sy oud-redakteur Max du Preez, volgens eie getuienis, van gerugte in daardie trant bewus was. Niks nuuts het in twee dekades aan die lig gekom nie. Skynbaar het die mark vir sulke sensasionele onthullings maar net ontvankliker geword.

Wat Mark Minnie betref, is min oor sy polisieloopbaan bekend. Hoe pas die mantel as “baaspeurder” hom wat al in 2007 die land verlaat het en nou iewers in China klein Chinesies basiese Engels leer? Ondernemende joernaliste kan gerus oorweeg om op sy spoor te gaan loop en vir senior offisiere in die polisie en speurdiens te vra of en hoe hulle hom onthou. So ‘n joernalistieke speurtog kan insiggewende antwoord lewer, vermoed ek.

(Oor John Wiley was die storie in politieke kringe destyds dat hy hom geskiet het omdat hy kanker gehad het. Ek het geen gronde om dit as feit aan te bied nie. Dalk kan iemand anders hom of haar gesaghebbender daaroor uitspreek. )

Hennie van Deventer
Melkbossstrand