Jy blaai in die argief vir bethel muller.

ODE AAN BUFFELSBAAI

Oktober 11, 2017 in Uncategorized

Die VanD’s op Buffelsbaai – ‘n herbesoek.

Buffelsbaai is ongetwyfeld die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken. Die Van Deventers het op die stukkie hemel op aarde naby Knysna van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer salige vakansies gehou.

Met welbehae dink ek terug aan die wonderlike plek: die yslike preekstoelrots vlak voor Kop-bo-Water wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van die voordeur, die skilderagtige Lilliput-straatjies, die talmende reuk van see en renosterbossie, en die strandkafee waarheen kindertjies alleen kon stap om vir hulle roomys of vir pa ‘n koerant te gaan koop.

Die foto hierby is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Müller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het.

Vanoggend lees ek in ‘n begrafniskennisgewing in Die Burger die baas van Kop-bo-Water is dood. Dit voer die gedagtes ver terug: tot ons eerste kennismaking. Dit was voor elektrisiteit daardie idilliese kusdorpie bereik het. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Marisa, ons jongste, was nog nie gebore nie. Johan was in doeke. Marisa is nou die ma van drie groot seuns, die oudste twee, Jacob en Thomas, 13 jaar oud en die jongste, Christopher 8. Ouboet Johan is veertig taamlik ver al verby. Hy is die pa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Migael.

Op letterlike honderde Buffelsbaaifoto’s van luilekker uurtjies op die strand, speel saam met die kinders in die poeletjies, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, aanrollende branders en stormsee kan jy die kinders sien uitrank tot jong mense… en die jong egpaar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Net regs van Kop-bo-Water is die donkergeel huis Kammarus, waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand. Ons het ook vir Kammarus lief geraak.

Daardie twee strandhuise het ons soos ons eie gekoester. Hulle lê steeds diep in ons harte.
In “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in ‘n hooftuk, “Hemel aarde” is ‘n ode aan Buffelsbaai – spesifiek aan ons twee hartsplekke teenaan die branders met die wydse uitsigte na die weste waar die son gereeld saans in in ‘n flambojante skouspel van kleur verdwyn. Hoe wens ek nie dat Bethel Müller daarin kon lees hoe lief ons vir sy huis was nie. Maar hy het darem geweet.

Ek groet Kop-bo-Water se baas, met die herinneringe van hoe hy sy das en boordjie as professor in die teologie op Stellenbosch vakansies verruil het vir ‘n pap hoedjie op die kop, kaalvoete en die aardse bestaan van ‘n man van die see.

Ek onthou hom as ‘n klouteraar in die rotse, ‘n gedurige timmerman by sy huis en ‘n visterman wat namiddag met sy stokke afsuiker strand toe om iets vir die braairooster te probeer uithaal.
Ek onthou hom ook Sondae op die kansel van Buffelsbaai se kerkie waar hy seker meer as enigiemand anders die Woord gebring het.

Op Stellenbosch word Vrydag vir hom ‘n dankdiens gehou voordat ‘n private verassing plaasvind. Ek wonder of sy as na sy geliefde Buffelsbaai toe sal gaan en dalk by die rotse voor Kop-bo-water ‘n tuiste gaan vind terwyl die seemeeu om die roubeklaers krys en duik.

As Buffelsbaai ‘n vlag het, behoort dit nou halfstok te hang oor die verlies van een van sy groot seuns.