Jy blaai in die argief vir Beeld.

“KOOS SE GEBOU”

Maart 24, 2017 in Uncategorized

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by "Koos se gebou" op "Hennie se grond".

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by “Koos se gebou” op “Hennie se grond”.

By my afskeid van Naspers amper 20 jaar gelede het Ton Vosloo, uitvoerende voorsitter, “opdrag gegee” dat ek na die inwyding van die Perssentrum / Mediasentrum in Aucklandpark genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie.

Die laaste twee dekades brand ek van nuuskierigheid oor daardie gebou waarvan ek in ‘n sekere sin die vergete vader is. Ek het die grond uitgekies; dit maak dit as’t ware “my plek”, al onthou niemand dit nie.

Die opdrag het in 1997 van Ton na my gekom: soek vir ons grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het Jan Malherbe, noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Ons het intensief gesoek.

Die middag toe Jan en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, ten einde laaste vir my die perseel gaan wys (‘n hoek van die ou Johannesburgse buiteklub) was ek in die wolke. My woorde was: “As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop.”

As Naspers se hoof van koerante was ek geruime tyd ten nouste betrokke by die projek. In ‘n stadium moes ek sterk walgooi. Die nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlike stuk grond verkoop.

Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos by Die Volksblad) – waarmee ek in beginsel dit van harte eens was. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.

Die gebou self het eweneens ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman Krige toegeken.

By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp teen die einde van 1997 het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en aan die verkeerde adres gerig.

Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. Darem nie oor hierdie besigheid nie!

Die ontwerp van die gebou is daarna teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou oprig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.

Oor hoe “Koos se gebou” op “my grond” lyk, het ek baie gewonder. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.

In Desember 2016 het ek begin voorbrand maak om tog wel te gaan kyk. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Buiten vir my nuuskierigheid oor die gebou was ek darem self ook ‘n Beeldman.

Van 1974 tot 1977 was ek die eerste nuusredakteur, en daarna assistent- en senior assistent-redakteur. In 1980 het ek redakteur van Die Volksblad geword. In 1982 is die redakteurkap van Beeld my aangebied. ‘n Terugverhuising na Johanesburg was uit ‘n logistieke hoek egter nie vir my haalbaar of wenslik nie. Maar albei die koerante is na aan my hart.

Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging kort na my boodskappie aan Barnard Beukman op pad was. Op Donderdag 9 Maart het ek toe die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en my Randse gasheer, kollega Herman le Roux, uitgerol.

Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete. Oral is foto’s geneem.

Die ou gebou in Millerstraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie modern nuweling is in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke hedendaagse gerief.

Indrukwekkend maar so stil.

Indrukwekkend maar so stil.

Dit tref net dat die gange en kantore so stil en leeg is. Jy mis die geroesemoes van die koerant soos jy dit geken het. Die gebrek aan mense, stemme, geluide en aktiwiteit is nogal neerdrukkend. Die boodskap is maar net nog ‘n teken: in die medialandskap van vandag raak die gedrukte koerant ‘n al hoe kleiner spikkeltjie.

Die geheelindruk van “Koos se gebou” is, ondanks al die natuurlike lig, byna somber.

Hierdie gryse veteraan is nietemin in sy noppies dat hy uiteindelik die knoop deurgehak het om weer ‘n voet op daardie boomryke stuk aarde te sit wat in 1998 op sy aanbeveling van die Johannesburgse buiteklub aangeskaf is.

“Hennie se grond” was ‘n goeie koop.

VOOR TRONKDEURE

Mei 30, 2016 in Uncategorized

“Iewers is ‘n skroef los as tronkdeure oopgaan vir moordenaars, terroriste, rowers en verkragters, terwyl ‘n joernalis gevonnis word tot ‘n jaar agter die tralies net oor sy gebondenheid aan die eer van sy beroep”.

Hierdie is dalk die “gevleuelde woorde” uit my lang koerantloopbaan wat ek met die grootste behae onthou. Al langer as 20 jaar lank.

Met Andries Cornelissen nou so in die nuus oor die roeringe by E-nuus, dink ek daaraan. terug. Die nimlike Cornelissen was toe nog ‘n jong verslaggewer by Beeld. Hy het by die tronkdeure omgedraai oor sy weiering om ‘n polisieverklaring af te lê. Hy is gedagvaar nadat Peter Mokaba sy gewraakte slagspreuk “Kill the farmer, kill the Boer” op ‘n vergadering in Johannesburg herhaal het.

Cornelissen se berig et die polisie op hom laat toesak om ‘n verdere verklaring te kry. Sy standpunt was ten enemale suiwer: Daar is my berig vir almal om te lees, ek het niks by te voeg nie. Beeld het hom gesteun. Die uwe was toe hoof van koerante van Naspers en midde-in die stryd. My steun was volomondig by Beeld en Andries Cornelissen.

Die omstrede artikel 205 van die Strafproseswet is doerie tyd nogal kwistig teen persmense ingespan om inligting uit hulle te wurg. Dit is die bepaling wat ook teen Cornelissen ingespan is. Toe hy weier om ‘n verklaring af te lê, is hy summier hof toe gesleep. Landdroste J.F. Zeelie en R.G. le Roux het hom skuldig bevind en ‘n jaar tronkstraf opgelê.

Namens Cornelissen is by die Hooggeregshof appèl angeteken teen landdroste Zeelie en le Roux, die Minister van Justisie en die Prokureur- generaal van die Witwatersrand.

Cornelissen is uiteindelik deur die appèluitspraak van tronkstraf gered ná ‘n openbare storm waarin die belangrikste politieke partye, waaronder die NP en die ANC, hul teenkanting teen die howe se stoomroller-optrede teen koerante op rekord geplaas het. So is die openbare mening soos nog nooit nie gesensiteer oor drakoniese maatreëls wat die taakvervulling van koerante belemmer, en selfs joernaliste se lewens op die spel kon plaas deurdat hulle in bepaalde omstandighede as agente van die wetstoepassers gebrandmerk kon word.

Mnr. Cornelissen het reeds deur sy berig te skryf en dit te laat publiseer, meer as enigiemand anders gedoen om die aangeleentheid te openbaar en dit só onder die aandag van die Polisie en die aanklaer te bring, het regter M.J. Stegmann bevind.

.’Verder wou hy nie betrokke raak nie. Sy vryheid onder die reg, en sy reg op privaatheid, laat hom natuurlik toe om daardie houding aan te neem. ”

‘n “Verfrissende uitspraak”, het ek dit in ‘n verklaring genoem. Dis op Google. “Die jong mnr. Cornelissen het lank met ‘n swaard oor die kop geleef. Dié verfrissende uitspraak maak die stryd wat in goeie geloof teen sy skuldigbevinding en vonnis aangeknoop is, egter dubbel en dwars die moeite werd. Saam met die swaard oor mnr. Cornelissen is ‘n sware juk op joernaliste en koerante verwyder. ”

Oor Conelissen het ek al gehoor dat hy nie altyd gediend is met “öu toppies” se menings oor alles en nog wat nie. Hoop darem dat hy oor hierdie “ou toppie” se steun in daardie opspraakwekkende saak goeie herinneringe het.

(Naskrif: In die Weekly Mail is my aanhaling as een van die aanhalings van die jaar uitgesonder. Dra by tot my behae.”

HAAI, ONS IS 100!

Desember 22, 2014 in Uncategorized

Volksbladmense by die Heemstede-okkasie.  Wiets Beukes, Willie Kühn en Andreij Horn het te laat opgedaag.

Volksbladmense by die Heemstede-okkasie. Van links is Tobie Wiese, Gert Coetzee, Henriette Loubser, Hennie van Deventer, Johan van Wyk en Chris Moolman.   Wiets Beukes, Willie Kühn en Andreij Horn het te laat opgedaag vir die foto.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ouma Marietjie is ter ruste skuins voor 99 en Bianca Lucas, buurdogter,  het vanjaar matriek geskryf.  Ek onthou hoe Bianca as 5-jarige in ‘n vlinderagtige partytjierok vroeg opgedaag het vir Ouma se 90ste verjaardag.  “Dit is my eerste 90ste verjaardag,” het sy vrolik verklaar.

Donderdag was ek een van die eerstes by Heemstede op Stellenbosch  vir die stylvolle herdenking van die Pers en die Burger se stigting 100 jaar gelede.  Die okkasie het vir my dieselfde fassinering ingehou as Ouma se gevorderde verjaardag vir die vyfjarige Bianca, skat ek.

Opgewondenheid om na 18 jaar se aftrede weer soveel ou gesigte te sien, het plek gemaak vir oorstelptenis.  Soos kollegas aankom, het ‘n loopbaan van 35 jaar in taferele verbygeflits.  Dit was ek, ‘n jonger Hennie van Deventer, daar in die voorste ry van die fliek terwyl half-vergete tonele hulle afspeel.

Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 met my koffertjie in Bloemfontein aangeryloop kom vir vakansiewerk.  Hy het my die aand die redaksiekantoor gaan wys … en die teleksmasjiene – die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom. Sjoe.

Ek was in ‘n buitekamer in Sewende Laan waar Wiets ook tuisgegaan het. Een van my vroegste herinneringe is die kennismaking op sy draaitafel  met die Largo-gedeelte van Antonin Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie in 1958.  Die simboliek het my eers na jare getref.  Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit .

En wat ‘n wêreld. Watter voorreg was dit nie om daardie wêreld stuk vir stuk te ontdek, om intens daarin te leef en my ten volle daarin uit te leef nie — al het dit soms met stampe en stote en met skades en skandes gepaard gegaan.

Toe ek permanent inval in 1963, het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, gou woonstelmaats geword. In Giel Conradiehof het Tokkie saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie!”

Een aand in die kombuis konfronteer die “vriendinnetjie” Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy – o soete onskuld! – nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:  “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Beeldmense by Heemstede. Salie de Swardt is links,

Beeldmense by Heemstede. Salie de Swardt is links,

By Beeld, van 1974 af,  was ek en Salie de Swardt gou vriende  wat saamgery het kantoor toe. Ons het hard gewerk maar darem nie dag en nag nie – hoewel dit soms so gevoel het. Die moeder van alle partytjies van Beeld se eerste jare het begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton Vosloo sy sekretaresse aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie – Ton, ek, Salie de Swardt en ander wat reeds dood is –  ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis)  en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en wyle Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het  na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was ná ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank geduur …

Die immergroen Danie Krynauw was hoof van Naspers se tydskrifte toe ek in 1992 by die Nasperssentrum instap as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee P.A.’s, Willa (Danie) en Lizette (HvD).

Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié saggeaarde Danie. Mettertyd het ek agtergekom hy was selde verkeerd in sy oordeel oor mense.

Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen M.B.A. was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.

Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur, Boetie van Zyl, se gesig. Ook die skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien, was Donderdag daar.

Voorreg vir my gewees, pionierskollegas, om elkeen van julle – en soveel ander – weer te sien. Grys of krom, in weersiens vergeet jy mos die ouderdom. Klink ‘n glasie!

 

 

OP PAD SAAM MET DIE PERS

November 26, 2014 in Uncategorized

 

Naspers 100 jaar - 'n baie spesiale uitnodiging.

Naspers 100 jaar – ‘n baie spesiale uitnodiging.

Op 18 Desember 1914, in ‘n Victoriaanse huis genaamd Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, het sestien baanbrekers die Nasionale Pers gevorm.

Wat ‘n vooreg om presies een honderd jaar later by die einste plek deel te kan wees van ‘n viering van die trotse maatskappy se ontstaan.  As daar een Desemberuitnodiging is wat ek waarlik troetel, is dit na daardie historiese middagete op Stellenbosch.  Wonder watter das ek sal aansit – in elk geval een van die Pers.

My eie amper 74 jaar – ek betree op 3 Januarie my 75 ste jaar –  is intiem met Naspers verweef. Dis een van die hoekstene van my lewe, soos my vrou, Tokkie; die kinders, Johan en Marisa; my kerk, die NG Kerk; my alma maters, Volkies en Tukkies; my politieke tuiste, die Nasionale Party (tot sy ontbinding); my bank, Volkskas (wat later deur Absa opgeslurp is); my geliefde bosplek, Sabiepark; my stad vir 24 jaar, Bloemfontein, en die Automobiel-Assosiasie (het ‘n 55-jaar-veteraanplakker in die BMW se ruit).

Die foto’s teen my studeerkamermure is bewys daarvan. Dit is Persfoto’s wat oorheers.  My formele loopbaan van 36 jaar by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –is agter glas heel volledig gedokumenteer.

Waar het dit begin?  Wel, begin Januarie 1963 – meer as 50 jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap.  Eintlik kom die verbintenis al langer.

As beurshouer dra ek van 1958 af ‘n Naspers-hoed.  Maar in werklikheid  was al ‘n Volksbladman voordat ek in 1947 sub A toe is – het die koerant plat op my maag voor my oupa se leunstoel in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, gretig deurgeblaai. Met die eeste verskyning van die vrouetydskrif Sarie Marais (nou net Sarie), op 6 Julie 1949, het ek op ‘n doktersbesoek saam met familie een vir ses pennies op straat in Bloemfontein vir my ma gekoop. Dit is een van ‘n hoop ou koerante en tydskrifte wat ek bewaar.

In die 36 jaar as amptenaar van die Pers het ek heelparty historiese momente beleef.  Toe die knoppie gedruk word vir die eerste uitgawe van Beeld was ek, die eerste nuusredakteur van daardie koerant,  by die rolpers in Doornfontein.  Toe die eerste Die Beeld (Sondagblad voor Rapport) verskyn, was ek een van die Bloemfonteinse subsredakteurs wat Saterdagaande uitgehelp het.  By Die Volksblad was ek as redakteur betrokke by die oorskakeling na volkleur en na ‘n oggendkoerant. Gemeenskapskoerante soos Ons Stad is deur my gestig.  Met die koop van City Press en die vervanging van Oosterlig met Die Burger (Oos-Kaap) was ek uitvoerende hoof: koerante van Naspers (nie van Media24, soos soms verkeerdelik beweer word nie – Media24 het toe nog nie bestaan  nie!)

Die verbintenis strek ook al ver verby die einde van my formele loopbaan.  Einde 1997 het ek my kantoordeur as Uitvoerende hoof: koerante van Naspers vir oulaas in die Perssentrum aan die Heerengracht agter my toegetrek. In my aftrede, van einde 1997 af tot nou, het ek egter steeds Nasperser in my bloed gebly.  Ek lees Media24-publikasies sewe dae van die week, skryf af en toe ‘n resensie of ‘n briefie vir publikasie en stuur nog soms ‘n nuuswenkie na die koerante of tydskrifte toe.

Ons praat van ‘n persoonlike verbintenis met die Pers van heelwat meer as die helfte van sy eerste eeu

Onder meer in twee boeke met ‘n outobiografiese strekking, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003), asook in my Ineg-dokumenteversameling (PV 677) en in die eeufeesboek ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop van my eie biografiese besonderhede opgeteken.  Dit is ‘n pad wat ek nie weer hier wil bewandel nie.

‘n Boel herinneringe wel egter op. Daaraan sal ek kwaai moet sif want ek is hoegenaamd nie van plan om weer my hand aan ‘n boek te waag nie.  Lesers van HvD se blog sal die skrywer egter vergewe as hy in nostalgiese oomblikke ‘n paar van die herinneringe lukraak gaan ophaal in die volgende paar blogs wat in hierdie ruimte opduik.

IN SY HART GEWOND

Oktober 13, 2014 in Uncategorized

Kuier op Melkbos in 1995. Gross is naasregs, langs Tokkie. Ander kollegas op die foto is George Boshoff, Andrew Marais, Salie de Swardt en Ben van Rensburg. -

Kuier op Melkbos in 1995. Gross is naasregs, langs Tokkie. Ander kollegas op die foto is George Boshoff, Andrew Marais, Salie de Swardt en Ben van Rensburg. –

Plat op die vloer omring deur molshopies papiere met ‘n duisternis syfertjies in talryke kolomme. Hoeveel keer het ek Gross (Johannes Grosskopf) in die uitdagende beginjare van die nuut gestigte dagblad Beeld nie in die redakteurskantoor so aangetref nie?

Die toegewyde redakteur kon eenvoudig nie glo hoe die nuwe koerant se sirkulasie so vasval nie. Al was dit nie sy werk nie, het hy dag vir dag, Peter Stuyvesant in die hand en met ‘n frons op die hoë voorkop gekeep, die syfers gefynkam. Hy was oortuig iewers in daardie kolommetjies moes die geheim van mislukking versteek wees.

Deels was Gross op die regte spoor. Beeld se eie bemarkingspoging was nie juis die toonbeeld van doeltreffendheid nie, moet ‘n mens toegee. Die oplossing was egter nie net in verbeeldingryker bemarking nie. Ook nie in redaksionele kwaliteit nie. Verreweg nie. Die kritieke faktor, sonder enige twyfel, was die lustige knoeiery met sirkulasiesyfers by die mededinger, Die Transvaler. Pakke Transvalers is middernagtelik reguit van die rolpers na verlate mynskagte aangery ten einde ‘n spook-sirkulasie in stand te hou, is later onthul.

Met die 86-jarige Gross se dood op Stellenboch stu die bitterheid oor die skaamtelose bedrog, wat as “Syferfontein” bekend was, weer in ‘n mens op. Elke liewe redaksielid van Beeld is daardeur pynlik getref. Ons was bitterlik lief vir ons koerant en het ons harte in elke uitgawe gestort. Elkeen, ook ek, het meermale hand in eie boesem gesteek oor ons eie bydraes – of dit gebrekkig was. Niemand is egter dieper in die hart gewond as Johannes Grosskopf nie.

Hy was die een wat van Beeld se eerste dag, 16 September 1974, af maar die spit moes afbyt. Die hoofredakteur, Schalk Pienaar, een van die grotes in die Afrikaanse persgeskiedenis, se vlerke was toe reeds weens ‘n aftakelende siekte geknip. Uiteindelik, ná al die inspanning, het Gross, gestroop van sy redakteurskap, as die Pers se verteenwoordiger in Washington beland. Hy is die sondebok gemaak vir die vernedering en verliese wat die Nasionale Pers in Johannesburg op die lyf geloop het.

Toe die volle sak patats oor Perskor se konkelwerk in 1980 uitgeskud word en Die Transvaler stert tussen die bene die aftog blaas, was die feesvieringe by die hele Nasionale Pers groot. Gross moes dit maar van ver dophou. Die soet smaak van die triomf was hom nie beskore nie – al is dit inderdaad reeds in sy tyd behaal.

Met “Mnr. Grosskopf” het ek in die 60’s in Bloemfontein kennis gemaak in ‘n vlugtige skof daar voordat hy met die stigting van die Sondagkoerant Die Beeld in 1965 Rand toe is. ‘n Heilige respek vir sy skerp intellek het dadelik ontwikkel. Aan die voete van hierdie Gamaliël uit die Kaap het ek ‘n ongesonde neiging tot mooiskrywery vinnig afgeskud. Op verskeie rondreise agter dr. H.F. Verwoerd aan – van Vryburg tot Klerksdorp – het hy my politieke verslaggewing help slyp.

In April 1974 het ons twee die voorhoede gevorm van die Beeld-intog in Johannesburg. Die jong nuusredakteur uit Bloemfontein het saam met sy redakteur in die Old Arcadegebou in Markstraat, Johannesburg, ingetrek. Ons moes ‘n redaksie kry, strategie uitwerk en ‘n duisternis ander voorbereidsels tref. Dit was ‘n opwindende taak, wat ook naweke by die Grosskopf-huis in Linden oor ‘n glasie rooiwyn of twee voortgesit is.

Daar het ek dié fyn gesin werklik leer ken en waardeer: Santie, ‘n knap joernalis uit eie reg, Ernst, Annemarie, Riël en Hein, die jongste. Ek het my verwonder aan die openheid en hoë vlak van gesprekvoering tussen ouers en kinders – iets wat ek nie geken het nie.

Ná ons intrek in die hartjie van die winter in die lelike, onvoltooide Beeldgebou oorkant Ellispark se tennisbane het Gross hom uit die staanspoor onderskei as ‘n metodiese raakvat-vakman wat hom oral en op elke terrein deeglik laat geld het. Hy het aan sy span hoë eise gestel. Uit bewondering en geneentheid teenoor die kaptein is die uitdaging begeesterd aanvaar.

Sy latere hoofartikels en rubrieke was helder, skerpsinnig en rigtinggewend. Sy sin vir nuus en vir die kreatiewe aanbieding daarvan was suiwer. Een van sy gebruike as redakteur was om ‘n beknopte oorsig oor die vorige dag se koerant vir die redaksie te gee: welke berigte goed hanteer is, waar bykomende aspekte uitgelig kon word, waarmee mededingers Beeld geklop het, welke stories beter aangebied kon word en waarom hy so dink. Vir my was daardie daaglikse dosis pluimpies en kritiek uit die redakteur se kantoor so waardevol dat ek dit later, sonder erkenning, ook deel van my eie arsenaal gemaak het.

Die woorde “sonder erkenning” spook by my, ook om ‘n ander, diepliggender, rede. ‘n Terugkerende kwelvraag is of Gross selfs net naastenby die eer gekry het wat hom toekom vir sy enorme rol in Beeld se langsame vestigingstryd. Nou, by sy dood, knaag die vraag opnuut en met mening.

Deels kan die verloop van sake natuurlik op Perskor se brood gesmeer word, maar ook net deels. Ongelukkig bestaan ook rede tot selfondersoek by kollegas soos ekself wat in hul vorming as joernaliste, en mense, soveel uit die geniale mentor se hand ontvang het. Maar ons, wat het ons op ons beurt gedoen om ons verskuldigde dankbaarheid te betoon?

LIEWE OU PIET

Februarie 12, 2013 in Uncategorized

Liewe ou Piet ….. Dit was die opskrif van die hoofartikeltjie in ‘n spesiale Piet Gouws-uitgawe van Beeld se personeelkoerant, Beeld-Intro, met die ou  vriend se vroeë aftrede in September 1998 weens swak gesondheid.  Liewe ou Piet …. só sal sy kollegs hierdie kleurryke joernalis van die ou garde in deernis onthou. Hy was  Piet ……

 * Die skynbaar sorgelose ou met die skewe, goedige en lakonieke glimlag en ‘n hart van goud;

 * Die “bok vir sports”, die lekker kuierkameraad, die geesvanger en spanbouer; 

 * Die “vrek gawe ou” wat jou om sy pinkie kon draai – een van sy redakteurs se woorde;

 * Die vasbyter wat met Job se geduld die soms harde slae van die lewe verduur het;

 * Die ou op die speldedieet wat letterlik duisende van dié skerp stukkies staal opgekou of tussen sy vingers verfrommel het;

 Hy was ook die Piet wat agter sy kasuele, amperse laisez faire-fasade geseënd was met ‘n vlymskerpe verstand, ‘n werksetiek soos min en hope, hope kreatiwiteit – eienskappe wat in die joernalistiek vir hom interessante, uitdagende deure laat oopgaan het, en in sy latere lewe van hom ‘n waardevolle steunpilaar van Patricia de Lille gemaak het toe sy nog die OD gelei het.

Hy was die ou wat by sy afsterwe van base, sy portuurgoep en mense wat onder hom gewerk het, gloeiende getuigskrifte soos die volgende gekry het:

 * Hy was die beste nuusredakteur waarvoor jy kon vra; wat ‘n wonderlike verhouding met sy redaksie en ‘n goeie nuussin gehad het, en altyd kalm,  ordentlik en regverdig was. 

 * Sy manier van menswees het jou laat voel dat die wêreld n vriendelike plek is met goeie mense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel.

 * Hard werk of hard speel, PG was altyd in die voorste geledere;

‘* Hy het die aarde verlaat sonder een vyand. 

 Veral van ‘n nuusredakteur is dit merkwaardig, het een van die huidige generasie opgemerk. Sprekende as ‘n nuusredakteur van die oudste ou gardekanek haar woorde van harte beaam.

 Ironies genoeg, het ook goeie ou Piet – soos baie ander goeie ouens voor hom – periodiek deur diep waters gegaan. Dink maar aan Job. Hoeveel keer Piet in en uit klinieke en die hospitaal was, het niemand seker van boek gehou nie. Hy sou ongetwyfeld kwalifiseer vir ‘n pensioen as Hospitaal-veteraan.  As jy besorg navraag doen, is jy deur sy gelatenheid getref. 

 Piet, Pieter, Petrus, Pieta of Pietie Gouws was ‘n plaasseun wat hoofseun en atletiekkaptein op Excelsior geword het. Sy rekord van 4:43 … “of daar rond” … vir die myl het 12 jaar gestaan.  Dit was natuurlik voor sy kennismaking met  “smoukies” en ander lang, koue verversings met ‘n swart etiket.

 Via Kovsies het hy begin 1966 by Die Volksblad kom inval.  Met sy goedige glimlag en aweregse wyshede het die jong verslaggewer gou kollegas se harte gesteel. Ewe gou het ons agtergekom hy is ‘n gebore joernalis.  Binne ‘n jaar was hy Wes-Transvaalse verteenwoordiger. Toe Beeld in 1974 gestig word, het ek hom dadelik gekies as een van die Gideonsbendetjie van ses of so wat saam met my die Vaalrivier oorgesteek het.

 By Beeld was hy aanvanklik die nuusredakteur se “linker- en regterhand” met as primêre taak om opgemorste stories “reg te dokter”. Hy was gou een van die “manne”, ‘n bouer van spangees sonder weerga.  Hy was ‘n organiseerder van die beroemde/berugte “natstene” van destyds.

 Hy is eerlank “ontplooi” na die Wes-Randse kantoor. Later was hy o.m. nuusredakteur van ‘n wenspan in Pretoria, nuusredakteur in Johannesburg, lid van die hoofredaksie, administratiewe redakteur, bylaeredakteur, promosieredakteur, brieweredakteur, selfs sakeredakteur  – ‘n pos wat hom nie soos ‘n handskoen gepas het nie, raai ek.  Nietemin: By Beeld het hy diep, onuitwisbare spore getrap.

 Ná aftrede het hy en Esta Kaap toe gekom en in Muizenberg ‘n gastehuis begin.  Hier het Piet trek begin kry vir die politiek.  Hy het hom by die OD aangesluit en was, soos ek verstaan, ‘n eerbiedwaardige, hardwerkende stadsraadslid. Toe die OD met die DA saamsmelt, het dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. ‘n Hoofstuk het in Piet se lewe aangebreek waaraan hy, om weer ‘n Bybelwoord te gebruik, nie veel behae kon gehad het nie.  Ek glo hy het in hierdie tyd nostalgies teruggedink aan sy Beeldjare wat hoogtepuntjare was.

 Dis my storie. As die indruk kon ontstaan het dat ek Piet as ‘n engeltjie skilder wat nog net vlerkies moes kry, het ek dalk so ietwat oordryf. Joernaliste doen dit mos maar, glo die publiek. Piet, regskape joernalis wat hy was, sou self die eerste wees wat keer: Hokaai, nou begrawe julle die verkeerde man!  Maar niks, niks kan iets daarvan wegneem nie dat ons hom almal met ‘n eie skewe, goedige en lakonieke glimlaggie sal onthou as liewe ou Piet.