Jy blaai in die argief vir balule.

DRIE DROOMKAMPE

Julie 21, 2017 in Uncategorized

Boulders tussen die rotskoppies.

Die drie wildtuinkampe wat van almal dalk die heel diepste in my hart gekruip het, is die natuurskone Olifants, sy buur-boskampie aan die Olifantsrivier, Balule, en die knusse private kampie Boulders, versteek tusen rotskoppies, naby Mopanie.

Om die drie spesiale liefdes in een kort wildtuinkuiertjie in te pas, klink amper te goed om waar te wees. Dit is presies die droom wat einde aanstaande week vir die VanD’s bewaarheid word.

Ons slaap Donderdagaand in Olifants, nogal in ‘n hut met daardie hemelse arendsnes-vallei-uitsig wat net hierdie kamp aan sy uitverkorenes bied, dan twee aande in Boulders en twee in Balule. Hoogtepunt op hoogtepunt, soos sappige vlesies aan ‘n sosatiestokkie ingeryg.

Olifants het ‘n amper mistieke magnetisme – iets in die lug wat jou opkikker, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuiskoms wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante ry.

Die uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?”

Maar daardie aanspraak is darem nie honderd persent juis nie. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra ook hul deel by om verslaafdes telkens terug te lok.

Die Olifantsrivier se water is soet. Daaroor is ons dit met die olifante eens. Albei keer maar altyd terug – ons na die kamp doer bo op ‘n steil heuwel om sielsaligheid te vind, en die grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.

Uitsig op die Olifantsrivier.

Boulders waarheen ons op dag twee op pad is, is nog sowat 75 km noordwaarts, dieper mopanieveld in.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (vyf uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en ‘n enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies. Die bekroonde kamp op pale het waarlik ‘n eie karakter. Ek gee hom sommer ses sterre.

Die braaiplek teen ‘n natuurlike muur van ruwe rotse, die bedrywige watergat en die meesleurende stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding hier sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie. Met ons kennismaking in 2015 was vier klipspringers deurgaans in die klippe aan’t klouter. Die lewendige voëllewe sluit kleurryke dassievoëls en blou sysies in. In skeure in die rotse gaan muskejaatkatjies tuis.

Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt. ‘n Grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat ‘n kleintjie kom steur het.

Maar die buffelfees! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die onvergeetlikste hoogtepunt gesorg. ‘n Trop van minstens 80 het rustig uit die bosse gekom en later tot amper teenaan die kamp gewei. Toe skrik hulle eensklaps en storm oor die klippe. Dit het gedruis. Twee uur later was hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting.

In die lig van die amperse volmaan het ek en Tokkie op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die struktuur geparkeer was.

Boulders se bosveld-vreedsaamheid is amper oorweldigend. Des te meer wanneer die vlamme van die kampvuur die lug begin inklim en ‘n ronde rooi maan tussen die bome verskyn. Onbeskryflik.

Kuier by Balule. Nommer ses is in die agtergrond.

Met Balule, die oorspronklike Olifantskamp by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, het ons in 2011 kennis gemaak. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf (van net ses) in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n lank gekoesterde wens.

Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe plek. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak.

Teenaan die kamp druis die rivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand.

Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die lae grasdak. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.

Elke winter het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis daarna op my inisiatief vyf jaar lank– en een keer ook ses ou Volksbladkollegas – na Balule opgeruk om ou bande te verstewig.

Elkeen van die vyf Kollegesaamtrekke was die okkasie vir drie dae se groot ure om yslike vure; van herinneringe opdiep, slimstories vertel en koningskos geniet. Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand is die glasies gelig en die Kollegelied tradisioneel uit volle bors om die gloeiende kole in die braaidrom aangehef. “Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam…”

Vanjaar het die Kollegespan om logistiese redes na Orpen verskuif – self ‘n eersteklas-kamp wat dadelik ‘n houvas op ‘n mens kry. Maar die Baluleherinneringe is heilig. Oor ‘n week sit ek daar by my vuurtjie met my wyntjie en diep hulle weer een vir een op. Dink net.

Junie 15, 2017 in Uncategorized

Kollegemanne aan’t kuier.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was behoorlik asof al die maanhare van die kontrei op die Balulekampie aan die Olifantsrivier toesak vir ‘n magtige klimaks om ‘n era af te sluit.

Elke winter sedert 2012, vyf jaar lank, het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis na die ruskampie van die wildtuin opgeruk om ou bande te verstewig. Elkeen van die vyf Balulekuiers was die okkasie vir drie dae se groot ure en dik plesiere om yslike vure; van herinneringe opdiep uit die laat jare 50 en die beginjare 60; stories vertel onder die lowerryke Laeveldbome en by die kampvuur; koningskos maak en hiënas uit die bos kuier.

Vanjaar skuif die Kollege-saamtrek na Orpen.

Balule V se laaste aand was verstaanbaar ietwat nostalgies. Daardie grootse finalé van die konings van die bos het die gordyn op dié gewigtige geleentheid dramaties laat sak. Ironies genoeg, het vegtende hiënas ons eerste nag in Julie 2012 ‘n dawerende voorspel opgelewer. Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie van die vyf jaar was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Selfs die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre. Ook die kikvorse het ophou kik vir die Kollegelied wat tussen die braai van die wors en die tjops rondom die gloeiende kole in die braaidrom uit volle bors onder die Laeveldse naghemel aangehef is: Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam …

Die ses Kollegemanne van weleer – almal tussen 75 en 80 maar met harte wat nog bons vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Sondag 25 Junie begin ‘n nuwe hoofstuk op Orpen. Agt Kollegemanne van daardie era daar trek saam: Vos Grey, Cas Jacobs, Pierre le Roux, Manie Steyn, Proppie Goosen Johan Bekker, Willie Paulsen en die uwe – en ons gades natuurlik. ie Bekkers en die Paulsens maak vanjaar hul buiging. Hoop hulle het die stamina …

Natuurlik sal Aan het oewer van de Schelftzee by ons nuwe tuiste ook opklink. Ek glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk.

Trouens, ‘n blink idee het reeds vorm aangeneem. Hou maar die ruimte dop.

BRULLENDE KLIMAKS

Augustus 30, 2016 in Uncategorized

Einde van 'n era. Laaste Balulespanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey,  Hennie en Tokkie van Deventer.

Einde van ‘n era. Laaste Balulespanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was asof die maanhare van die kontrei op Balule toesak vir ‘n magtige klimaks.

Dit was Woensdagaand 24 Augustus 2013. Balule V – ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier – het gekom en gegaan. Dit was ook die einde van ‘n era.

Sedert 2012 het ‘n sesstuks Kollegemanne van die die 58’s en 59’s elke winter vir drie nagte Balule toe gekom. In 2017 verskuif ons na ‘n plek met elektrisiteit en onderdak as ‘n skielike storm ons weer sou tref. Die donker het vir party eenvoudig te donker geword, en die sandstorm die eerste aand van die 2016-saamtrek het meer as net die aandete verinneweer.

Die Engelse praat van ‘n “sense of occasion”. Daardie finale van die konings van die bos het presies so ‘n “sense of occasion” openbaar. Wat ‘n gewigtige geleentheid was dit nie. Ironies genoeg, het hiënas ons eerste nag in Julie 2012 op hul beurt ‘n dawerende voorspel opgelewer, wat nie maklik geëwenaar sal word nie.

Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Magtige kampvure was een van Balule se handelsmerke. Piet Henning het met bakkievragte sekelbos uit die Soutpansberg gekom. Ek het die Honda se sitplekke platgeslaan en uit Sabiepark hardehoutstompe aangery: rooibos, knoppiesdoring en nog wat.

Langs die vure is die keurigste kos berei, soos Cas en Nella Jacobsse tradisionele fillet en sampioensous. Koningskos is ook in potjies berei. Potbrood is gebak soos net ‘n boervrou soos Magdaleen Grey kan. Vanjaar is Magdaleen se brood selfs “op reis” geneem. Die klimaatskontrole in Vos se Isuzu is aangeskakel en op die regte temperatuur gestel om die deeg perfek te laat rys.

Uit Balule se rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het aand vir aand die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself. Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.
Nog ‘n handelmerk was die stories, slimmighede, anekdotes en kwinksklae uit ons studentejare van amper ses dekades gelede. Ons bure anderkant die draad – kampeerders en wilde diere – moet seker baie gewonder het wat die kieriekommando soveel plesier gee. Veral Pierre le Roux vergeet nie ‘n goeie storie nie, en vertel dit elke jaar met nuwe entoesiasme!

‘n Persoonlike herinnering is hoe ek en Tokkie die eerste jare in Skukuza gaan tou staan het om Balule se ses rondawels vir die saamtrekke te bekom. Ons moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Die ondeunde Proppie kon nie self kom nie. Vanjaar was hy op sy pos.
Om die feeswyn uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

In 2017 is ons bestemming Orpen. Natuurlik sal “Aan het oewer van de Schelftzee” opklink. Glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk. Trouens, ek dink ‘n blink idee begin so stadigaan ontkiem…

SIEN JY DAARDIE KOLLEGEMAN?

September 1, 2015 in Uncategorized

1-1-60-IMG_3225-001Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Die plek? Die primitiewe boskampie Balule aan die Olifantsrivier, naby die Olifantskamp in die KNP. Die geleentheid: die vierde jaarlikse saamtrek van ‘n span 70-plussers wat in die jare rondom 1960 saam aangesit het vir die Kollegekos wat deur onder andere die wellewende Piet April in die eetsaal bedien is.

Vanjaar se saamtrek was spesiaal so op die vooraand van die “Republiek van Kollegetehuis” se eeufees later die maand op die Tukkiekampus. Daarop is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.
Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Proppie sou ook vanjaar Balule toe kom, maar ongelukkig moes Lettie ‘n rugoperasie ondergaan.

Die 25 jaar wat verloop het, het nie almal van ons ewe goed behandel nie, maar vir die wyn was dit net wins. Niks fout met die “neus” nie – en pure fluweel op die verhemelte.

Om dit uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

 

Vos Grey en HvD met die bottel "medisyne" uit George.

Vos Grey en HvD met die bottel “medisyne” uit George.

Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand is die glasies gelig en die Kollegelied uit volle bors rondom Pierre se gloeiende kole in die braaidrom aangehef. Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam ….

In die donkerte kon ‘n mens nie die trane op die oues se wange raaksien nie – darem ook nie op die amptelike foto’s van die okkasie wat Tokkie uit alle hoeke geneem het nie. Die foto is hierbo. Van links is Piet Henning van Louis Trichardt, Manie Steyn van Krugersdorp, Vos Grey van Ermelo, HvD van Melkbos, Pierre le Roux van Mosselbaai en Cas Jacobs van Centurion.

Dit was drie dae van enorme vure, groot ure en dik plesiere. Van die koningskos het ingesluit Cas Jacobs se fynproewersfilet met sampioensous en Nella se keurige bratkartoffeln, beetslaai en wat nog, afgerond met flambéperskes en vla. Benewens die stompe uit Sabiepark in HvD se Honda, het Piet Henning ’n kartdondoos vol sskelbos en ander braaihout uit die Soutpansberg gebring. In daardie doos was sweerlik voorheen minstens ‘n hangkas.

Enorme vure, dik plesiere.

Enorme vure, dik plesiere.

Soos die seekoeie tot eerbiedige stilswye gesing is, het die kosmakery op die oop vure die respekte van die kontrei se hi-enas afgedwing. Veral die bedrywigheid met Vos en Magdaleen se beesstertpot en potbrood op die kole het die gulsige diere skynbaar allemintig geïnteresseer. Nie minder nie as drie het in ‘n stadium teenaan die kampdraad saamgedrom om die aktiwiteite te betrag.
Wonder of Clover se direksie weet hoe bekwaam hul oud-voorsitter met ‘n graaf die kole kan rondskuif vir ‘n beesstertpotjie en potbrood a la Magdaleen.

Wat is in daai nyslike pot?

Wat is in daai nyslike pot?

Daardie yslike pot – ‘n nommer agt as ek nie mistas nie – het ‘n simbool van die Balulespan se onderskeie fiksheidsgrade geword. Dit vat sterk manne om dit te dra. Hierdie keer was dit Vos en Cas wat die spiere laat bult het. Almal het hulle bewonder.
Vir 2016 – ja, natuurlik sal daar dan ‘n Balule V wees – het die twee kieriemanne, Manie Steyn en die uwe, stilletjies ‘n verbintenis aangegaan. Dan dra hulle hom!

KOERANT VAN ‘N KUIER

Augustus 29, 2015 in Uncategorized

Die Therons, Van D's, Marlene Scholtz, Le Roux's, Venters en Marais's.

Die Therons, Van D’s, Cora Marais, Marlene Scholtz, Paul Marais, die  Le Roux’s en Venters.

Smeer die rolperse vet. Vele koerante kan spruit uit die saamtrek van Volksblad-veterane in Augustus 2015 in Sabiepark en in die intieme boskamp Balule in die KNP. Sy halfmaan van ses rondawels was net nommerpas vir ons.

Van ons ken mekaar al amper 60 jaar Die paar dae saam het ‘n vloedgolf heerlike herinneringe ontsluit van dekades saam in Bloemfontein en by ons geliefde koerant. Vele nuwe stories uit ons latere lewes is ook vertel – nie almal lughartig nie. Ons het behoorlik aan mekaar se lippe gehang.

Van die hoofredaksie van die 80’s was teenwoordig: die uwe en Tokkie, Paul Marais en Cora uit Centurion, Herman le Roux en Rina uit Johannesburg, Piet Theron en Petro asook Sarel Venter en Liesbeth uit Bloemfontein. Jan Scholtz sou ook uit Bloemfontein kom. Hy is helaas, weke tevore oorlede. Maar Marlene het haar man se skoene vierkant kom volstaan.

Met kuier, kampvure en koningskos het die spannetjie 70-plussers behoorlik feesgevier. Die voorslagvroue het heerlike geregte uit die baie basiese kampkombuisie opgetower. Die flukse Cora Marais altyd op die voorpunt, hetsy by die skink, opskep of skottelgoed was.

Piet Theron het hom, soos altyd, onderskei by die oop vuur. Die man kan braai. Die kruisskyf wat die Therons uit Wesselsbron samgebring het, was prima. Vergeet ook nie die gebottelde heerlikhede uit Curielaan 65 se tuin nie. Petro het altyd net nog ‘n bottel te voorskyn gebring: appelkooskonfyt, ingemaakte perskes, groenbone, beet en wat nog. Rina le Roux se beesstertpotjie was ‘n treffer. Liesbeth Venter het ons met roosterkoek en Vrystaatse groenmielies verras. Die deeg is die middag vars geknie.

Herman le Roux, ons begeesterde voëltjie-entoesias, het ‘n stapeltjie gedugte plakboeke saamgebring. Dit was die oorsprong van vele onthou-jy-nog’s. Sy wenfoto van Balule was toe nie van ‘n geveerde nie, maar van een van die kontrei se bedrywige hiënas.

Daar is baie gelag. Spitsvondighede het gevlieg. Een van die gades het na die spelling van die woord kleinood verneem: d of t. ‘n Klein noot (met ‘n t) is bv. ‘n tienrandnoot, het iemand laat val. ‘n Klein nood (met ‘n d) kan lol as dit ‘n groot nood word, het Paul Marais, steeds vlymskerp, dadelik laat hoor.

Aandoenlike oomblikke, Marlene oorhandig Jan se skinkbord aan HvD en T.

Aandoenlike oomblikke, Marlene oorhandig Jan se skinkbord aan HvD en T.

Daar was ook aandoenlike oomblikke. Op inisiatief van Sarel Venter is Jan se lewe met persoonlike anekdotes om die kampvuur oor die kleurryke Boesmanlander gevier. Die nimlike Sarel het vir ons ‘n kosbare boekie saamgebring wat aan sy ma behoort het: Die Transvaalse Laeveld, kamee van ‘n kontrei. Dit het in 1975 verskyn onder redakteurskap van Chris Barnard, begaafde Laevelder wat in 1960 saam met my in Afrikaans III op Tukkies was. Die eksemplaar het ná vele omswerwinge ‘n dankbare tuiste in Tarlehoet se boekrak gevind.

Aan die begin van die kuier is ‘n prag-skinkbord op Tarlehoet se stoep deur Marlene Scholtz namens die groep aan my en TvD oorhandig. Sakdoeke is uitgehaal om trane af te vee terwyl Marlene aan die woord was. Dit was Jan se laaste stuk houtwerk- so puik soos altyd. Marlene het ‘n kunstige skinkbordlappie van kant en katoen bygedra.

Het gisteraand weer daardie kosbare skinkbord van ons so gekyk. Dit is baie, baie spesiaal. In Tarlehoet (die Van D’s se boshuis in Sabiepark) is nou die skinkbord, ‘n kunstige kierie met ‘n vlakvarktand en ‘n sierlike sekelboslampie wat van hierdie vakman-filosoof se liefde vir hout getuig. Jan het vir die lampie ‘n stompie uit my braaihout herwin.

Ek voel half skuldig dat ek my kollegas so geboelie het om so ver te ry, nie almal in die maklikste omstandighede nie. Sabiepark en Balule is egter ware hartsplekke van die Van Deventers. Dit is waar ons graag na al die jare weer saam met die sout-van-die-aarde-kollegas en –vriende wou kuier. Selfsugtig dalk, maar nou-ja ….

Ons is van harte dankbaar teenoor elkeen wat die lang pad hierheen gevat het. Wat ‘n onvergeetlike, verrykende oudag-ervaring was dit nie.

HOOG IN DIE ALPE

Oktober 19, 2014 in Uncategorized

didierKry uit die bloute hierdie sjarmante foto van ons Franse Balulevriende hoog in die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, Die Franse gesin het in Augustus in daardie primitiewe boskampie naby Olifants in die KNP oornag vriende geword met wie adresse uitgeruil is.

Hulle is Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7).

Hoe sal ek  vergeet van die pikante génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het? Hulle het dit self in die einste Alpe naby hul tuiste gepluk op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het.

Lees ook my blog van 3 September.

Hennie van Deventer se Blog » PLAISIR D’GENEPI, ENS

hennievandeventer.com/hvdblog/?p=6092

    • CachedSep 3, 2014 – Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.

HOOG IN ALPE

Augustus 27, 2014 in Uncategorized

Didier,Emilie Myrtille et Mélisse Charvet is terug in Frankryk en stuur hierdie pragfoto van die kruieplant génépi wat hoog in die westelike Alpe groei, en sulke pikante likeur maak, soos die wat ons in Balule laataand saam met hulle geniet het terwyl die hienas om die heining kaperjol. Het daarvan vertel in my 1-2013.08.22 019vorige inskrywing.

PLAISIR D’GENEPI

Augustus 25, 2014 in Uncategorized

1-IMG_3062Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet (foto bo) waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.

Die sjarmante Franse gesinnetjie aan tafel saam met die Van Deventers en Van Rensburgs (Philip en Nancé) van Sabiepark was ewe verfrissend as die geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).

Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Hulle is Didier Charvet, sy sjarmante vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7). Vir die génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.

In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies, soos die lank afgewagte besoek deur ou Bloemfonteinse vriende, Andrew en Christine Murray, die naweek. In my boskar is ook ‘n CD met vrolike Franse kabaretmusiek. Didier is voor die clavier. Hy takel die klawers met vernuf en entoesiasme. Op die omslag is ‘n afbeelding van ‘n Hadu, ‘n mitologiese Alpynse bok met een been langer as die ander. Dis glo om beter te kan vastrap teen die steiltes!

Die brekfis met vars vrugteslaai, spek en roereier was die enigste floue teenprestasie wat ons kon aanbied. Darem gelyk of veral die vrugte goed afgaan by Myrtille en Melisse. Die twee het ‘n wederkerige bederfie verdien. Die vorige aand het hull eons bederf. Onder die skouspelagtige sterrefirmament, terwyl die hiënas buitengewoon luidrugtig om Balule se grensdraad kaperjol, het hulle, bo en behalwe al die ander gebare van welwillendheid, in hul soet kinderstemmetjies vir die Suid-Afrikaners gesing: Bambali, bamba, soli bali bamba, bambali, bambayé, yé ouvana souli bayé, ouana souli bayé, ouana souli bayé… Klink soos ‘n Zoeloe-wiegeliedjie in Frans.

1-IMG_3059Die reis na Suid-Afrika het sy oorsprong in Myrtille se geboorte tien jaar gelede. Die ondernemende jong ouers het terstond besluit   as sy tien word, moet die gesin dit herdenk met ‘n reis wat sy nooit sal vergeet nie. Australië is oorweeg maar verwerp weens sy gebrekkige dierelewe. Ook ander lande in Afrika was op die tafel. Die goedkoop rand het die deurslag gegee.

Hulle het in die Kaap begin en dadelik op Chapmanspiek aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ongeluk beland. Ná die vroeë teenspoed was die reis ‘n fees … robbe by Houtbaai, pikkewyne by Simonstad, walvisse by Hermanus, leeus en olifante in die Wildtuin … Die hoogtepunt? Die walvisse, sê Didier dadelik. Dis die enigste wat jy nie in ‘n dieretuin kan sien nie.

Maar Balule se hiënas het darem ook Didier se Canon laat oortyd werk en die dogters laat rondhôl terwyl hulle uitbundig jil van plesier. Trouens, hierdie ou oom wat die middag nadergestaan het om die skamerige nuwe intrekkers in rondawel 3 in die kamp te verwelkom, het nogal daaroor ‘n teorie. Hy glo een van die redes waarom hy en sy geselskap so op die hande gedra is, was juis daardie aand se “wilde kabaret” langs die grensdraad. Ek het hand en mond belowe die koddige diere sou opdaag, en toe kom hulle in getalle … hulle rol in die sand, karnuffel mekaar speels en lag dat dit dreun tot tot wie weet watter tyd.

‘n Bekoorlike kuiertjie met bekoorlike nuwe vriende uit ‘n verre land op die bekoorlikste plek in die Wildtuin. Ai, hoe bevooreg is ‘n mens nie!

• In Wikipedia kom ek die volgende teë oor génépi: Génépi can be made at home through the simple addition of prepared herbs to vodka or grain alcohol. The chopped, dried wormwood flowers are sold in southwestern Europe in small sachets similar to tea bags. Home-brewing instructions, as well as ingredients, can be found online. For the more adventurous, the flowers and herbs can be harvested in July and August. After drying and chopping, the herbal mass can be enclosed in cheesecloth for steeping. Each Alpine mountaineer has a recipe for génépi, but a generic recipe for a liter would require forty flowers and forty sugar lumps to be added to 40% alcohol by volume.

SALIGE URE BY YSLIKE VURE

Augustus 5, 2013 in Uncategorized

 Balule, hier kom die Kollegemanne weer!

Presies om 07:45 op Donderdag 1 Augustus is die uwe by Skukuza se  besprekingskantoor uit met die kosbare besprekingsnommer in sy hand: Al ses hutte in Balule vir 21, 22 en 23 Julie 2014 in die naam van J.H. van Deventer bespreek.

Balule merk drie wag dus op die ses gryses van die jare 1959 tot 1960 wat so toegewyd aan die nuwe tradisie help bou. Nog ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier.  Opperste saligheid!

Dink darem ek moet die ander vyf bokkers ‘n premie laat betaal. Sonder persoonlike moeite en opoffering kry ‘n mens immers nie meer in Julie in die Wildtuin plek nie; veral nie ‘n plek soos Balule nie … en dan boonop die hele kamp.     

Ek en Tokkie moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.      

Geweldige stres bou by die uitgemergelde aspirant-Wildtuingangers op terwyl almal oral  handewringend sit en wonder of hul missie geslaagd gaan wees – party, sien ek in die koerant, al van die vorige dag af. Skielik droog die geselsery op. Almal hou mekaar dop: Wie gaan vir wie inloop?

Voel soos die wag vir matriekuitslae, merk ‘n mede-tousitter op. Erger, meen ek. Toe het jy plus-minus verwag wat die verloop gaan wees.  Hier is jy totaal in die duister.Bedink dan die vreugde as die dame agter die rekenaar aankondig: I have your reservation number. Dit grens aan ekstase.  

 Ons Kollege-spannetjie is vars terug van ons 2013-saamtrek.  Watter drie dae was dit nie!

 Kom ons begin by die kos wat wat elke aand loshande vir die etiket van meesterlik  kon  kwalifiseer. Laat die TV-koskokkedore maar kom. By die liga van boskokke soos  Nella Jacobs en Moraig Henning kan daardie ou lot vergeet om kers vas te hou.

 Uit die rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het al van vroeg die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself.   Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.    

 Die vleis het van die kole gekom, waar veral Cas Jacobs die kroon van baasbraaier met distinksie dra, met die res van ons entoesiasties in raadgewende hoedanigheid.  

 Oor ons vure sou ‘n mens ekstra welsprekend kon raak. Ek het die Honda se agtersitplekke platgeslaan en ‘n klomp fris stompe uit Sabiepark saamgebring: rooibos, knoppiesdoring en nog wat. Piet Henning het van Louis Trichardt gekom met agter sy Isuzu ‘n Venterwa van die groot soort van hoek tot kant met bondels sekelbos vol gelaai.  Ons kon vuur maak na hartelus – en, boeta,  ons het!

 Pierre le Roux het hom as hoofstoker ontpop, met Manie Steyn en Benito Niemann  ‘n gedugte duo van opstokers om hom steeds tot groter hoogtes aan te moedig. Ad destinatum persequor  

 Van vroeg skemer af was die oewerbos aan die Olifantsrivier elke aand in ‘n gloed gebaai wat die skouspelagtige sonsondergang in die skadu wou stel. Laataand was dit of die son sy kop lig.       

 Daaromheen was die versamelde (en vrymoedige) wysheid van vele dekades. Altesaam 450 opeengestapelde lewensjare net aan die manlike kant!

 Soveel dae, soveel dinge, sê hulle. Natuurlik ook soveel stories en kwinkslae. As lag inderdaad goeie medisyne is, is ons almal na dese perdfris. 

 Na twee Balule’s klink nie elke storie natuurlik meer heeltemal so sprankelvars nie. Maar wat … goed vertel, is enige storie altyd die moeite werd om weer na te luister, of hoe?  Dan het ons tot Julie 2014 in elk geval almal ‘n hele jaar om ons eie versamelinkie weer af te stof en blink te poets sodat Balule se bosse opnuut weer kan dreun.      

BAAS VAN DIE PLAAS

Julie 13, 2013 in Uncategorized

 

Op Woensdag 10 Julie kry ons ‘n oproep van die piekniekplek: Die groot luiperd is hier.  Toe ons daar kom, is die ou al weer tussen die riete in. Maar ons sien hom op die kameraskerms van gelukkiger eienaars: Fors staan hy daar langs die groot wit rots langs die Sabierivier – die baas van die plaas.

Nie sonder rede nie noem Sabieparkers die ou grote deesdae The Boss. Herkenbaar aan sy nekband om sy dik nek, stap hy waar hy wil.  Pragtige foto’s verskyn op die Sabieparkgroep se blad op Facebook van “The Boss” wat in Jakkalsbessielaan op jag is. Op een foto sit hy enkele dae gelede by die straatnaam Rooibos. Dit is by Lukas en Martie van der Merwe se huis. Hulle vermoed hy was onder die dek terwyl die kleinkinders bo gespeel het. 

Ek noem 10 Julie spesifiek omdat dit Marcus Malan, seun van my jongste broer, Cules Malan, se verjaardag is.  Verlede jaar was hy 30.  Die spesiale verjaardag is in Sabiepark gevier. Sal dit nie vergeet nie. Dis in die geheue ingekerf weens die luiperds langs die Sabie.

10 Julie 2012, 10 Julie 2013. Sulke datum-speletjies amuseer hierdie waarnemer vir wat dit werd is, indien enigiets.

 More ry ons Balule toe vir drie dae saam met ‘n span Kollegemanne. Kan net lekker wees. Die eerste maand van die wintervakansie van 2013 – ons 40-en-iets-ste besoek aan Sabiepark – loop ten einde.  Te vinnig, soos altyd. Nog vinniger, soos ‘n mens ouer word.

 Sedert die vorige bulletin het onder meer die eerste duiker in ‘n jaar of langer by die voëlbadjie opgeduik vir ‘n paar slukkies water.  Ongelukkig was my kamera in die motor. Ons wag al lank op ‘n opvolger vir die legendariese Witnek met sy grys lyf en, later, net een horinkie.

 By die piekniekplek was twee keer groot troppe buffels.  Een trop het die Sabie oorgesteek. Tony \Park, Australiese spanningsromanskrywer, het die oortog afgeneem.  Dis ook op die Sabieparkblad.

 Op voëlgebied het ‘n gebande sperwer (glo die volopste!) op ‘n sandbank in die Sabie ons aanvanklik laat kopkrap.     Tokkie het hom van die brug af gewaar – in ‘n vreemde sitposisie.

 By die huis het vyf gekroonde neushorings in die knoppiesdoring by die agterdeur kom verwyl. Geruisloos opgedaag en geruisloos vertrek.

 Glo nie die Kollegemanne se kuietjie sal so geruisloos verloop nie.