Jy blaai in die argief vir allister coetzee.

OM WEER TE WEN

Oktober 9, 2016 in Uncategorized

Die verstommendste woorde ná die rugbyramp in Durban het uit die mond van die hoofafrigter gekom.

Mnr. Allister Coetzee het kans gesien om op TV voor die verslae Suid-Afrikaanse rugbypubliek te staan en te verklaar: Teen 22 -15 was ons nog in die wedstryd.

Wat beteken “in die wedstryd”? Seker niks anders nie as dat ons nog ‘n in kans gestaan het om te wen. Kon die Bokke nog die knoop deurhak?

As ‘n mens in isolasie en met oogklappe aan na net die telbord kyk, sou jy dit miskien kon beweer. Twee strafskoppe en ‘n vinnige skepdoel van Steyn dalk ….

As jy ontledend na daarde telbord sou kyk, sou dit egter al klaar vir jou ‘n ander storie vertel. Die All Blacks had vier drieë; die Bokke drie skamele strafskoppe. Die All Black-losskakel Beauden Barrett het keer op keer misgekorrel. Die telling moes toe al minstens 34 -15 gewees het.

Die waarheid is veel pynliker. Dit is dat die telbord vir die Bokke in daardie stadium uiters vleiend was, eintlik misleidend.

Die stomme Adriaan Strauss se manne was toe al uit op hul voete. Die All Blacks was die span met al die balbesit en al die gebiedsvoordeel. Hulle het al die aanvalswerk gedoen. As hulle die bal het, het hulle verder daarmee gevorder as die sukkelende Bokke. Hulle het meer inisiatief openbaar. Hulle het beter verdedig. Hulle het die losbal beheer.

Die rondborstige Nic Mallett het die statistieke rustyd op Supersport afgerammel. Dit was die materiaal waarvan loesings gemaak word. Vir diegene wat vergeet of nie gehoor het nie: gaan lees Louis de Villiers vandag in Rapport.
Die droewige verhaal van skrikwekkende statistieke word ook in sy berig vertel.

Nee, mnr. Coetzee, die Bokke was in daardie stadium nie meer “ïn die wedstryd” nie. Hulle was toe al “baie uit die wedstryd”.

Wat hierdie lekewaarnemer kwel, is veral die denke wat daardie woorde weerspieël. Die benadering is duidelik: Bly op die telbord binne bereik tot elke prys. Probeer die ander span net in toom hou.

‘n Wenbenadering sou wees om self die punte te probeer opstapel om voor te kom. Dit doen jy helaas nie deur net sekuur pale toe te te skop nie. Dit verg dat jy oor die doellyn kom; die verdedigingslinie oopvlek. Dit verg weer konstruktiewe spel. Om dinge te doen op volle vaart. Met verrassingsaanvalle vorendag te kom. Fases op te stel.

Geeneen van die dinge doen die Bokke nie. Kan hulle of kan hulle nie? Ek dink nogal hulle kan. Daar is baie talent in daardie span. Die ongeluk is dat hulle nie afgerig word om dit te doen nie. Dit is eenvoudig nie in die “wedstrydplan” wat op die tekenbord uitgewerk word eerder as deur instink op die veld bepaal word nie.

Moenie “terug na die tekenbord nie”. Speel op die veld volgens jul instink. Dit is my beskeie advies uit Melkbos.

RUGBYREDDER?

Desember 8, 2015 in Uncategorized

Ek is maar net ‘n verwarde 74-jarige (amper-amper 75) rugbyliefhebber van Melkbos. Dalk kan mnr. Thelo Wakefield of een van die ander wyses vir my klarigheid bring.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe Allister Coetzee afgerig het, en gereeld op sy mooi, beskaafde manier moes verduidelik hoekom sy span dan verloor wanneer hulle moes gewen het.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe besluit is dat vir ‘n beter toekoms vir WP-rugby liefs ‘n ander afrigter aangestel moet word. Die stomme Coetzee was skielik in die buitenste duisternis. Die kavalieragtige huursoldaat Eddie Jones het met wapperende mantel en swaard in die lug sy buiging gemaak.

Prins Eddie se verblyf op Nuweland was, helaas, van korte duur – korter as die spreekwoordelike ou vrou se dans.

Eddie Jones is verlede tyd by die WP. Nou is Heyneke Meyer ook verlede tyd by die Springbokke, Opvolgers word naarstig gesoek.

Mnr. Wakefield self is kliphard op soek op TV en in koerantkolomme. Maar nee, hy soek nie vir ‘n opvolger vir Jones op sy tuisbasis nie. Dit is die groter nasionale toneel wat die rugbybaas se alleraandag geniet.

Hy weet wie is die man wat in Meyer se skoene moet stap, verkondig hy ingenome. Dis Coetzee natuurlik. Allister se tyd het aangebreek. Hy moet kom red en sommer die hele land agter hom verenig.

Kom weer.

* As Coetzee sulke buitengewone kwaliteite het, waarom o waarom het die WP dan nie met opwindende, verbeeldingryke wenrugby alles voor hom platgeloop nie?
* As Coetzee inderdaad so ‘n blink blink ster is aan die nasionale rugbyfirmament, waarom o waarom het die WP hom deur sy vingers laat glip?
* As hy skielik in Japan daardie deurslaggewende kwaliteite ontwikkel het, kan ons nie van daardie Japanse doepa invoer vir al ons ander afrigters ook nie? Of moet jy minstens ‘n maand of twee Kobe se water gaan drink?

Thelo, help. Die oom verstaan nou dolus eventualis mooi. Hy sukkel regtig om te verstaan hoe die vurk in die hef steek dat iemand wat nie by die WP die mas kon opkom nie, hom skielik as die ridder op die wit perd in SA rugby gaan ontpop.

As die vrae irrelevant is, vergewe tog maar. Oumense beland hulleself soms in onnodige doolhowe met te veel vrae oor vandag se dinge, wat dikwels bo hul vuurmaakplek is.