Jy blaai in die argief vir adoons.

AL DRA ‘N AAP ‘N GOUE BRIL

Februarie 9, 2019 in Uncategorized

My bydrae in BY, Saterdag-byvoegsel tot Die Burger, vanoggend:

Desembers ly kwik nie aan hoogtevrees in die Laeveld nie. As die son in die hartjie van die somer dooierus vat, is 40 grade plus maklik jou voorland. “Bloedig warm” soos die TV-weermense sê. Dié Saterdagmiddag was nie regtig “bloedig” nie. Net gewoon warm – so 33 tot 35 grade op die termometer teen ‘n dakstut op die stoep van ons boshuisie langs die Kruger-wildtuin.

Vir ‘n trop avontuurlike bobbejaan-indringers was dit egter warm genoeg om, sonder uitnodiging, in die wettige eienaars se bos-swembadjie te kom lafenis soek.

Vroegoggend, toe ons Skukuza toe ry, was die sekelsterte al onheilspellend bedrywignaby die huis. HHHhulle boggom uitdagend. Teen middagete keer ons terug. Die stoep in chaos. Oral lê plasse – swembadwater, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie – onuitkenbaar vermeng. (Die Bolandse wyn was op ys in ‘n groot Coleman). Minstens vyf stoelkussings is in ‘n haglike toestand. Die tropleier – ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier, ‘n mank been en afstootlike geel tande – het hom klaarblyklik soos wafferse veroweraar op my persoonlike swembad-gemakstoel neergevly – ‘n minagtende demonstrasie van baasskap as jy ooit een gesien het. Die kussing is deurweek, hopelik net met swembadwater …

Die troebel kleur van die swembad verklap: wildvreemde lywe het waarskynlik in daardie water baljaar. Die begeerte band in ons binneste om self in te spring. Maar in sulke besoedelde water? Nee, natuurlik sal ons eers moet opruim, en operasie skoonmaak is geen plesierige vooruitsig nie. Geen outomatiese filter of meganiese “kreepy krauley” is vir sulke noodgevalle beskikbaar nie. Eskom se netwerke loop nie daar nie. Ons draai dus maar die badjie se uitlaatkraan oop en tap die swembad dolleeg. Daarna pak ons met besems en borsels die taak voorhande. Die kosbare water vat pad in ‘n koerslose stroompie die veld in.

Amper 24 uur later eers was ons al plassende terug in ons badjie – steeds suur oor die moeite, ongerief en verlies aan koue wyn! Nou boonop met die nuwe kommer oor ‘n dreigende alternatiewe vorm van kees-fese wat moontlik deur die waterkaskenades ingelui is. As jy eers gesta, lệ, proe het, dan raak jy mos meer erg, se die goeie mense van Namakwaland mos (dankie, Johan van Wyk!).

Laat my maar my liefeloosheid jeens daardie spesie bely. Dit verg regtig ‘n buitengewone pakket van deugde om sulke tergende omstandighede lankmoedig te verduur, of selfs ‘n lughartigheidjie daaroor te pleeg as die booswigte jou breekgoed verwoes, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong skaai of ‘n gat deur jou grasdak dolwe, soos, helaas, van tyd tot tyd in ons kontrei gebeur.

Iemand geseën met sulke spesiale lankmoedigheid is Kapous Mouton, oud-onderwysman van Montana, Pretoria, ‘n bosvriend met ‘n huis in dieselfde straat. Sy lankmoedigheid word getoets toe sy peperduur nuwe bifokale eendag spoorloos voete kry. ‘n Deeglike soektog volg oral op elke moontlike en onmoontlike plek. Die bril is skoonveld. Kapous moet maar sy oë skrefies trek en hom in sy verlies berus. Ag nou ja, is sy lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy koerant beter te lees.

Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor sy vrou, Leonora, by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk flits word dadelik ingespan. Al wat die straal optel, is twee dowwe “ogies” – te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis nie glimwurms nie. Dis toe niks anders nie as Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Een van die brilglase het ‘n lelike krap en een neusie is mors-af. Maar Kapous kom daarna self ook weer lekkerder reg met die koerant!

Adoons moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul!

Selfs ‘n Sondagmiddagslapie word nie ontsien nie. Vir David en Christine Serfontein van Randburg het só ‘n skuinslê grimmige gevolge gehad. Vir middagete was ‘n wildspotjie op die kole. Saam met hul gaste, twee egpare van Randburg, is gesellig in die lapa gekuier. Daarna is eenparig gestem om voor enige verdere aktiwiteit eers ‘n uiltjie te gaan knip.

Later word David en Christine wakker. Uit die kombuis kom allerlei belowende klanke. Bedagsame gaste, dag hulle, en draai weer om vir ‘n laaste rukkie se ontspan – verlig oor die berg skottelgoed wat hulle in hul geestesoog sien kleiner en kleiner word. Maar die geluide hou aan en die volume bereik ongewone vlakke. David spring op. Op pad kombuis toe vir ‘n ondersoek ter plaatse loop hy hom in die gang trompop teen ‘n bobbejaanmannetjie vas. Die res van die invalsmag is toe nog in die kombuis – nie besig om skottelgoed te was nie, maar om die chaos ná ‘n heerlike middagete tienvoudig te vererger.

Dis die klas aapstreke wat ‘n mens aapstuipe kan gee! Die Serfonteins en hul gaste moes ure lank swoeg om orde naastenby te herstel. Die stroefheid in die lug is darem deur ‘n bietjie selfspot gebalanseer. Dit kom op die lappe al drie pare is deur die geraas in die kombuis gewek. Al drie kom toe tot dieselfde (foutiewe) gevolgtrekking en ag dit gerade om hulleself eers ‘n rukkie skaars te hou. Selfs uit bobbejaanstreke kan ‘n mens ‘n paar waardevolle lewenslesse leer. Een is om nie lui te wees vir skottelgoedwas nie – veral in die bos