Jy blaai in die argief vir 1981.

GEWRAAKTE MEMO

Februarie 8, 2019 in Uncategorized

‘n Ietwat oorgeesdriftige verkiesingsmemorandum van Die Volksblad se politieke redaksie in 1981 maak nou, amper vier dekades later, weer sy buiging op Facebook. Die een of ander verdwaalde gees het dit iewers uitgegrawe en stuur dit rond om sogenaamd die geheime band tussen die Afrikaanse koerante en die DA te ontmasker.

Die relevansie van die dokument vir die huidige politiek ontsnap my werklik. Dit was in 1981 aan die koerant se buitekantore gerig met die oog op die hantering van verkiesingsvergaderings, Die opposisie was nie die ANC, EFF of selfs blanke progressiewes nie, maar ultra-regses onder die vaandel van die Herstigte Nasionale Party. Die Konserwatiewe Party was nog nie eens gestig nie. Die Volksblad was destyds ‘n amptelike spreekbuis van die Nasionale Party (soos altyd tevore) en dit spreek vanself dat hy die party in verkiesings openlik sou steun.

Verspreiding van die memorandum met die oog op die aanstaande verkesing (op 8 Mei) is, wat my betref, ‘n weerspieëing van politieke wardenke van die ergste graad. Ter wille van mense vir wie die politieke konteks van vier dekades gelede ietwat vreemd lyk en nie mooi agter die kap van die byl kan kom nie, gee ek graag aan die hand van my loopbaanboek,”Kroniek van ‘n Koerantman” (1998), agtergrond wat hopelik die stukkie misplaaste opportunisme by ewewigtige mense in die regte perspektief sal stel.

Maak dan kennis met die sage van die verkiesingsmemorandum.

Die gewraakte dokument is op 9 Maart 1981 aan Die Volksblad se buitekantore in Welkom, Kimberley, Kroonstad en Bethelehem gestuur, met riglyne oor rapportering van die verkiesingsveldtog. Dit is onderteken deur Willie Khn, ‘n assistent-redakteur wat later redakteur van Beeld en Huisgenoot geword het.

Die kern daarvan is dat Die Volksblad in daardie verkiesing vierkant agter die NP staan en voluit sal veg om vir hom die grootste moontlike oorwinning oor sy regse opposisie, die HNP, te help behaal.Van die tersaaklike paragrawe is die volgende:

* Dis seker onnodig om te herinner dat Die Volksblad hom met geesdrif vir die saak van die NP beywer en dat geen genade teenoor ander partye betoon moet word nie. Die feit dat die HNP en die NKP (Nasionale Konserwatiewe Party) ook met ‘n Afrikaanse mond spreek, moet redaksielede nie laat dink dat hulle sagkens behandel moet word nie.

* Waar julle voel ‘n Nasionale vergadering het nie veel opgelewer nie, werk gerus ‘n paragraaf of twee by om te seª dit was ‘n geesdriftige vergadering, die verhoog was pragtig versier, ens.

* Wat die HNP, NKP en ander teenpartye betref: ons stel nie belang in seksies en seksies van wat Jaap Marais en kie seª nie … daarom moet julle konsentreer op hul meer skokkende en verregaande uitlatings …

* Feite moet honderd persent korrek wees.

Vier dae nadat dit uitgestuur is, het ‘n jubelende Jaap Marais, met komplimente van ‘n gefrustreerde jong redaksielid, ‘n verskuilde regse wat lid van Aksie Eie Toekoms was, die vonds op Kroonstad aangekondig. Kort daarna was dit landwyd in HNP-hande.

Van doer in die Knersvlakte tot knap by die Zambezi moes HNP-gehore, dikwels onbegrypend, tot vervelens hoor van die verskriklike Volksblad en sy verskriklike redakteur wat die politiek so verknoei. Van kollega Willie se outeurskap is gerieflik vergeet.

Wat die HNP gemeen het ‘n kragtige bom was, het egter gou verflou. Niemand wou juis opgewonde raak nie. Toe kry iemand ‘n blink ingewing: die Engelse pers! Daarna blom weer daardie bose vennootskap van links en regs, om tog net hul gemeenskaplike vyand, die NP, by te kom.

Op 10 April het die “skoknuus” op die voorblaaie gebars: van die Friend in Bloemfontein tot die saliger Rand Daily Mail. Die Cape Times was so opgewonde dat ‘n eerbare koerant so skandalig kan raak, hy skryf sommer drie hoofartikels in ‘n ry — sonder om ooit die kardinale feit te vermeld dat uitdruklik opdrag gegee is: “Alle feite moet honderd persent korrek wees.”
Teen die tweede hoofartikel het ‘n oproep uit die Kaap gekom: adv. Lang David de Villiers, Besturende Direkteur. “Môre Hendrik. Wat gaan dan aan?” Met sy kenmerkende laggie wat niemand wat hom ken in sulke omstandighede met geamuseerdheid sou verwar nie.

Ek het probeer gerus stel. Ons voel ons is in beheer. Maar die volgende dag word hy in die Engelse pers aangehaal: “Ek gaan nie vir julle sê wat ek vir Die Volksblad gaan sê nie.” Min twyfel is gelaat oor sy afkeuring! Ek was vies en gekrenk.
Prof. Piet Cillie, Voorsitter, was op sy beurt so suiwer soos altyd. “Dis Die Volksblad se eie saak.”

Dae lank moes ons die skynheiligheid in die Engelse pers verduur: hoe ons dan opdragte gee “to slant the news” en “to embroider on the truth”, terwyl almal wat skielik vir ons wil kruisig, ewe geesdriftig veg vir die PFP.

Die Cape Times, wat berug was vir van die skeefste politieke beriggewing in die land en wat sonder gewetenswroeging belangrike beleidsverklarings van die Regering totaal geiëgnoreer het, het sover gegaan om die NP vir ‘n advertensie te laat betaal, en dit toe mooitjies met Prog-kommentaar op die voorblad plat te slaan. Hoe eties kan ‘n mens nie wees nie!

Juis daardie misbruik lei tot ‘n meesterskuif. Ons besluit om die memorandum volledig te publiseer. Ons doen daarby ‘n dapper ding: ons vra prof. Mias de Klerk, ‘n behoudende Vrystaatse teoloog, later die geestelike vader van regses in daardie provinsie, om die hele stuk vir publikasie uit die oogpunt van die Christelike etiek te beoordeel.

In ‘n merkwaardige dokument — waaraan regses gestik het, maar wat deur die ganse Prog-pers op ‘n skouspelagtige skaal geiëgnoreer is — het De Klerk bevind dat wel in die stuk — “net soos dit in die optrede van ander politieke partywerkers en joernaliste weerspieel word” — sekere “minder gelukkige sinsnedes” voorkom.

Hy bevind egter onder meer ook:

* In die memorandum staan niks wat nie eie is aan die verkiesingspraktyke wat deur alle politieke partye en hul koerante hier te lande asook in ander demokratiese lande gevolg word nie;

* Wanneer die etiek ter hand geneem word, moet ook “gekyk word of die hande wat dit hanteer, skoon is”;

* Om die swakhede van ‘n partybeleid of die bontpratery en politieke oneerlikheid van ‘n kandidaat onder die soeklig te plaas, kan nie in ‘n verkiesingstryd sonder meer as oneties en ongeregverdig beskryf word nie, en

* As die verband van die geskrewe stuk nie eerbiedig word nie, sou ‘n mens… maklik tot “oneerlike politieke buiksprekery kan kom”.

‘n Veroordeling van die veroordelaars! Ek kon “Oom Mias” gerus soen!

Was daardie memorandum vir openbare konsumpsie bedoel, kon dit inderdaad versigtiger geformuleer gewees het. Laat my dit nou maar hier erken. Maar dit was nie so bedoel nie. ‘n Kommunikasie tussen kollegas was al wat dit was — en ‘n goeie begrip het tog net ‘n halwe woord nodig. Dat dit onderskep is en daarmee na die HNP gehardloop is, herinner my nogal aan sekere gebruike vandag om alles wat intern bedoel was, met slimfone aan die groot klok te hang!