NOMMER TWEE

Oktober 24, 2017 in Uncategorized

Die liewe Vader behoed dit, maar kom ons veronderstel die gevreesde dag zero breek aan in Maart 2018 of selfs vroeër dat die damme dolleeg raak en die krane opdroog. Skakel ons dan maar net oor na winkelwater om te drink, byt vas en druk deur?

Helaas nie. Drinkwater is immers net een faset van ‘n wydvertakte krisis. Spoeltoilette is, by wyse van spreke, nommer twee op die lys. Winkel-oplossings daarvoor koop jy nie van die rak af nie.

As die rioolstelsel staan, dan staan dit met al die onuitspreeklike gevolge van ophoping, verstopping, verstikking, siektes en epidemies. Al gedink aan hoe supermarkte, winkels en sakesenstrums gaan funksioneer as hul toilette agter slot en grendel is? Geen gerief vir werker of klant. Grootskaalse sluiting van deure lyk na die voorland.

Wat die handel raak, raak mos elke liewe aspek van ons hele bestaan. Dink toeriste byvoorbeeld hulle sal maar net ‘n voorraad water kan saamry Kaap toe? Om waar te kom tuisgaan as hotels, gastehuise, familietuistes of eie vakansiehuise se toilette nie kan spoel nie?

Trek die lyn verder. Hoe sal skole kan oopbly as kinders die hele dag moet knyp? Hoe word bejaardes in tehuise versorg of pasiënte in hospitale? Hoe word brande in informele nedersettings geblus?

Klink miskien soos gruweltonele uit ‘n bangmaak-rolprent, maar al die ellendes kan werklikhede word as ‘n wonderwerk nie gebeur nie of noodplanne nie omvattend genoeg is en dringend genoeg deurgejaag word nie.

Trouens, volgens die gerespekteerde dr. Anthony Turton, voorsitter van Gurumanzi en vorige senior uitvoerende beampte by Bidvest SA Water, in ‘n goed nagevorste dokument bestaan heel resente Suid-Afrikaanse presedente van juis sulke “ondenkbaarhede”: In Port Shepstone moes ‘n skool al sy kinders huis toe stuur en ‘n hospitaal ander heenkomes vir sy pasiënte soek weens waternood; in Braamfontein het ‘n toringgebou verlede jaar afgebrand.

‘n Mens sidder om te dink dat ‘n swart dag kan aanbreek dat die Kaap hierdie selfde klippekoupad begin loop … en loop …en loop.

KORREL VIR KORREL

Oktober 20, 2017 in Uncategorized

Ek pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur ek gewandel het. Die mooi uitdrukking kom uit die Soutpanbergse streekblad Die Zoutpansberger in ‘n netjiese resensie deur die redakteur Anton van Zyl van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” – die eerste oor “Laatoes” na my wete

Van Zyl skryf “Laatoes” is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet moet word. Hier volg sy resensie:

Veteraan-joernalis Hennie van Deventer se nuutste boek het pas verskyn en te midde van die dosyne staaltjies, is daar ook ‘n paar vertellinge vanuit die Soutpansberg.

Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood koerantman, is pas deur Naledi Uitgewers vrygestel. Dit is Van Deventer se 18de boek, wat volg op treffers soos Scoops en Skandes (1993), Kronieke van ‘n koerantman (1998), Mayafudi (2005) en Spore in die bos: Swerftog van ‘n olifant (2012).

In Laatoes pluk Van Deventer as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. Die staaltjies is nie noodwendig nuut nie, maar eerder ‘n vars vermengsel met Van Deventer se unieke vertelgeur.

Die boek begin met die hartseer van die dood van die “prins van syfermense”, Eric Wiese. Dié 81-jarige voormalige finansiële direkteur van Naspers is in Augustus vanjaar buite sy huis in Kaapstad vermoor. Dit is een van die persone wat ‘n lang pad saam met Van Deventer in sy joernalistieke loopbaan gestap het.

Van Deventer se oeuvre is egter nie smart nie, en die humor slaan telkens deur in sy beskrywing van mense en selfs die natuur. Sy liefde vir die wildtuin is reeds in verskeie van sy vorige boeke verklaar en in Laatoes kom kuier Sabiepark se luiperd weer. Die humor kom veral uit sy joernalis-dae en sluit ‘n erg amusante hoofstuk oor koerantopskrifte in. Selfs die politiek kom in oënskou, met terugblikke op Hendrik Verwoerd se dood in 1966 en die Soweto opstande tien jaar later.

Nader aan die Soutpansberg is dit egter die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog wat hervertel word. Uit die boeke van plaaslike historikus Charles Leach ontdek hy weer die storie van konstabel Billy Eagle, die Kanadees-gebore polisieman wat in die Soutpansberg gestasioneer was. In September 1908 word hy tussen Messina en Pontdrif deur leeus oorval. Eagle slaag daarin om na ‘n epiese geveg met een van die leeus die dier dood te maak. Sy beserings was egter van so ‘n aard dat hy kort na sy aankoms by Elim hospitaal oorlede is.

Die rolprent Modder en Bloed is in April 2016 uitgereik en vertel die verhaal van die Bushveldt Carbinneers, onder leiding van Henry “Breaker” Morant en sy handperd, Peter Handcock. Van Deventer som die gruweldade wat teen die einde van die oorlog plaasgevind het pragtig op in die vier-bladsy hoofstuk.

Een van die “soetdruiwe” van Laatoes is sekerlik die hoofstuk wat handel oor John Murray, die Hertog van Atholl, wat vir die grootste deel van sy lewe op Haenertsburg in Limpopo gewoon het. Die 12de Hertog van Atholl is natuurlik sy seun, Bruce Murray, wat steeds op Louis Trichardt woon.

Van Deventer se boek is deels nostalgie, deels geskiedenis, maar grotendeels gaan dit oor menswees. Waar die humor deurslaan, is dit telkens met deernis. Dit is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet kan word, sonder dat daar ‘n volgorde voorgeskryf word oor hoe hierdie “laat oes” geniet moet word.

Laatoes is beskikbaar by die meeste boekwinkels. Dit kan ook direk bestel word by Naledi: http://naledi.online

MANNE EN DIE “KWIENS”

Oktober 17, 2017 in Uncategorized

Mej. Wereld van 1990 toring oor die Van Deventers, Hennie en Tokkie.

Dis mos maar van ons mansmense: spog graag oor die mooi meisies wat ons pad gekruis het, en dik meermale nog so ‘n bietjie aan ook. Sing graag, soos Julio Iglesias met sy fluweelstem, van “all the girls I loved before”.

My storie vandag is, helaas,ietwat minder romanties. ‘n Mededeling van oud-Volksbladkollega André Louw uit Riversdal oor sy ontmoeting met ‘n Mej. Wêreld so 50 en ‘n iets jaar gelede jaag my egter geheuebank toe. Ek het immers darem ook ‘n storietjie of twee oor my en die “kwiens”.

Eers André se storie. Hy vertel:

“Peet Simonis (senior verslaggewer) – was my mentor, maar hy het Mej Wêreld van my afgevry.

“Dit was my opdrag direk van Oom Gert Terblanche (nuusredakteur) af om Lesley Langley met haar besoek aan Bloemfontein op te pas. Peet was vrek jaloers en het gesorg dat hy as my senior die ganse tyd ook by is. Uiteindelik het hy haar gevra of hy haar kan soen en n storie daaroor skryf. Sy was heel gewillig en die storie was op die voorblad, as ek reg onthou. ”

My geheue is nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder. Die opskrif by die rubriek was: “Verkeerde vriende het Anneline verlei.” Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa. In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: “To the master of ceremonies, Gina.”

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?

NASKRIF: Kollega Johan van Wyk het ook ‘n herinnering aan Anneline. Sy het as ‘n bloedjong Mej. Wêreld Bloemfontein besoek en hy, ‘n galante heer soos min, het by ‘n Boet troskie-ete met haar gedans. Klaar gewals, sê sy vir hom: “Dankie oom, dit was lekker.”

Daarvandaan kom dit dat hy altyd in sy rubriek Stop van Myne na homelf verwys het as “oom”.

KAAPSTAD ‘N SPOOKSTAD?

Oktober 12, 2017 in Uncategorized

Het die tyd nie aangebreek om toeriste te ontmoedig om Kaap toe te kom nie? Kan konferensies en sportbyeenkomste maar onbelemmerd voortgaan? Kan mense vir hul plesier in skitter-swembaddens bly plas?

Lees vanoggend se hoofberig in Die Burger. Dr. Roger Parsons spel die werklikhede van die waternood uit op ‘n wyse wat ‘n mens koue rillings gee. Die krisis is op ons en die ondenkbare van droë waterkrane geen hersenskim nie.

Hoe billik is dit om in sulke slegte omstandighede. net belastingbetalers voor die loop van ‘n geweer te plaas oor teikens wat klaarblyklik nie met die huidige stadsbevolking en -leefwyse haalbaar is nie, al word in die meeste huise die minimum water gebruik?

Reeds op 16 Januarie – nege maande gelede – het ek in ‘n brief in Die Burger versigtig sulke vrae begin stel. Ek is as alarmis afgemaak en oor die vingers getik vir my onkunde oor die reuse-omvang van besoekers se bydrae tot die Kaap se ekonomie. Vrywel niks is gedoen nie buiten om verlangend na die wolke te staar.

Maar as die Kaap GEEN water meer het nie, watter ekonomie bly dan oor om te beskerm? Ons sal oor die langer termyn moet dink. Dringend. Anders word Kaapstad gou-gou Spookstad.

HIer is die skakel na my brief van 16 Januarie: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kaap-moet-gou-ekstra-water-kry-20170115.

Die brief het verskyn onder die opskrif: Kaap moet gou ekstra water kry. Hier is die volledige brief:

Tien miljoen passasiers stroom in 2016 deur Kaapstad Internasionaal se hekke, en die betrokke Wes-Kaapse minister jubel saam dat die lughawe Kaapstad “een van die mees verwelkomende bestemmings in die wereld maak” (DB, 12 Januarie). Toeriste sak ook Desember/Januarie op die stad toe per skip, trein en motor. Spesiale promosies word van stapel laat loop om die stad aan toeriste te “verkoop”. Konferensiegangers word kliphard wereldwyd gewerf.

Ook nie almal wat deur die poorte kom, kom net kyk, geniet en gee weer pad nie. Bevolkingstatistieke ken net een rigting. Dis boontoe. Huiskopers uit ander provinsies trap eiendomsagente se drumpels deur. Informele nedersettings spring op soos padddastoele. Skole bars uit hul nate. Nuwe skole, vervangende skole, ekstra klaskamers en mobiele klaskamers word aangekondig. Nog 15 nuwe skole word in die volgende drie jaar beloof.

Terselfdertyd daal damvlakke onheilspellend. Waterteikens word, helaas, nie gehaal nie. En die arme belastingbetalers? Hulle is die sondebokke. Op openbare TV word hulle gekastei weens hul “gebrek aan samewerking”, gedreig met hoër boetes en aangemoedig om op bure te spioeneer.

Dit is mos nie billik nie. Is hulle dan die enigste verbruikers? Hoeveel toeriste gebruik herwinde badwater om hul toilette te spoel? Hoeveel tel ooit ‘n emmer op, klim saam in die bad of gebruik ‘n handdoek maar ‘n week lank om water te spaar?

Ek soek nie ‘n lang lesing oor die ekonomiese voordele wat toerisme vir die stad inhou nie. Niemand is immers so dwaas nie om te pleit: Hou asseblief tog die toeriste en die nuwe intrekkers weg.

Maar almal weet mos Kaapstad is wat vars water betref, ‘n brandarmstad. Die Moederstad kan nie sy brood aan albei kante gebotter wil he nie. Hy kan nie joelende wereldstad wees, die tienduisende besoekers juigend om die hals val, en dan oor hul waterbehoefte soos ‘n volstruis kop in die sand druk nie. Hy kan nie kop bo water probeer hou deur maar net die inwoners se krane stywer toe te draai nie. Stadsvaders kan nie maar net bly hoop dat die liewe Vader tog sal voorsien nie.

Ontwikkeling van bykomende varswaterbronne was lankal meer as noodsaaklik. Hoe langer hierdie dringende prioriteit uitgestel word, des te groter die onreg wat teenoor belastingbetalers gepleeg word, en potensieel afgrysliker die dreigende waterkrisis wat Kaapstad onverbiddelik vierkant in in die oë staar.

Lees ook hierdie veelseggende kommentaar van Adriaan van der Wart op Facebook:

“Dit slaan my dronk dat plaaslike inwoners van só ‘n drooggeteisterde stad heftig water probeer spaar maar vakansiegangers in karavaanstaanplekke, woonstelle en hotelle gebruik soveel soos hulle wil. Jare gelede tydens ‘n droogte het vakansiegangers Mosselbaai se skrapse watervoorraad byna tydens hul vakansie opgebruik.”

ODE AAN BUFFELSBAAI

Oktober 11, 2017 in Uncategorized

Die VanD’s op Buffelsbaai – ‘n herbesoek.

Buffelsbaai is ongetwyfeld die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken. Die Van Deventers het op die stukkie hemel op aarde naby Knysna van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer salige vakansies gehou.

Met welbehae dink ek terug aan die wonderlike plek: die yslike preekstoelrots vlak voor Kop-bo-Water wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van die voordeur, die skilderagtige Lilliput-straatjies, die talmende reuk van see en renosterbossie, en die strandkafee waarheen kindertjies alleen kon stap om vir hulle roomys of vir pa ‘n koerant te gaan koop.

Die foto hierby is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Müller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het.

Vanoggend lees ek in ‘n begrafniskennisgewing in Die Burger die baas van Kop-bo-Water is dood. Dit voer die gedagtes ver terug: tot ons eerste kennismaking. Dit was voor elektrisiteit daardie idilliese kusdorpie bereik het. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Marisa, ons jongste, was nog nie gebore nie. Johan was in doeke. Marisa is nou die ma van drie groot seuns, die oudste twee, Jacob en Thomas, 13 jaar oud en die jongste, Christopher 8. Ouboet Johan is veertig taamlik ver al verby. Hy is die pa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Migael.

Op letterlike honderde Buffelsbaaifoto’s van luilekker uurtjies op die strand, speel saam met die kinders in die poeletjies, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, aanrollende branders en stormsee kan jy die kinders sien uitrank tot jong mense… en die jong egpaar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Net regs van Kop-bo-Water is die donkergeel huis Kammarus, waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand. Ons het ook vir Kammarus lief geraak.

Daardie twee strandhuise het ons soos ons eie gekoester. Hulle lê steeds diep in ons harte.
In “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in ‘n hooftuk, “Hemel aarde” is ‘n ode aan Buffelsbaai – spesifiek aan ons twee hartsplekke teenaan die branders met die wydse uitsigte na die weste waar die son gereeld saans in in ‘n flambojante skouspel van kleur verdwyn. Hoe wens ek nie dat Bethel Müller daarin kon lees hoe lief ons vir sy huis was nie. Maar hy het darem geweet.

Ek groet Kop-bo-Water se baas, met die herinneringe van hoe hy sy das en boordjie as professor in die teologie op Stellenbosch vakansies verruil het vir ‘n pap hoedjie op die kop, kaalvoete en die aardse bestaan van ‘n man van die see.

Ek onthou hom as ‘n klouteraar in die rotse, ‘n gedurige timmerman by sy huis en ‘n visterman wat namiddag met sy stokke afsuiker strand toe om iets vir die braairooster te probeer uithaal.
Ek onthou hom ook Sondae op die kansel van Buffelsbaai se kerkie waar hy seker meer as enigiemand anders die Woord gebring het.

Op Stellenbosch word Vrydag vir hom ‘n dankdiens gehou voordat ‘n private verassing plaasvind. Ek wonder of sy as na sy geliefde Buffelsbaai toe sal gaan en dalk by die rotse voor Kop-bo-water ‘n tuiste gaan vind terwyl die seemeeu om die roubeklaers krys en duik.

As Buffelsbaai ‘n vlag het, behoort dit nou halfstok te hang oor die verlies van een van sy groot seuns.

TYD VIR VONKELWYN

Oktober 9, 2017 in Uncategorized

20 Jaar gelede: Ton Vosloo oorhandig die Phil Webermedalje aan my.

Met 2017 volstoom afdraande na die einde toe, tref dit my nogal hoeveel mooi dinge in my lewe vanjaar herdenkings belewe. Kan gerus ‘n bottel goeie Cap Classic vir ‘n vierinkie op die ys sit.

Einde 1997, 20 jaar gelede, het ek nie net die laaste keer in my lewe my kantoordeur in die Naspers-sentrum agter my toegetrek nie, maar het ek en Tokkie ook na Melkbos verhuis – geïnspireerde skuif. Nog ‘n hoogtepunt: by Naspers is ek met sy hoogste eerbewys, die Phil Webermedalje, bekroon vir my “nalatenskap in elke fase van my loopbaan”.

My skool, die Hoër Volkskool, Potchefstroom, het my ook in 1997 by die herdenking van sy 75ste verjaardag met sy eerste spesiale erepenning vir oud-leerlinge vereer. Ek was voorsitter van die Drukmediavereniging van Suid-Afrika. Ons oudste seun, Johan, is getroud met Mariza.

In 1987, 30 jaar gelede, was nie een enkele spitspunt nie. Tog ‘n goeie jaar vir my gewees. Was op my gelukkigste – gesond, geseënd, gevestig as redakteur van Die Volksblad. Ook ‘n lojale Bloemfonteiner met goeie vriende en kollegas. Vreugde geput uit my diens in die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond.

Ek ontvang Volkies se erepenning van Blackie Swart, skoolhoof.

In 1977, 40 jaar gelede, het ek met genoegdoening my sertifikaat ontvang aan die einde van my jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteuit in Cambridge, Massachusetts – dalk die lekkerste, sorgvryste jaar van my lewe.

1 Januarie 1967, 50 jaar gelede, was die eerste dag van my en Tokkie se huwelik van amper 51 jaar. Ons is op 31 Desember 1966 getroud.

Einde 1957, 60 jaar gelede, het ek op ‘n “brose” 16 matriek op Volkies agter die blad gesit. Het darem al geskeer.

In 1947, 70 jaar gelede, is ek as haasbek-sesjarige die eerste keer skool toe: die Diamantveld-laerskool in Kimberley.

Met die groot rol van 7’s in my lewe seker nie snaaks nie dat ek op my volgende verjaardag, op 3 Januarie 2018, 77 sal wees.

Naskrif: Natuurlik is 2017 die jaar van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Uitgewer: Naledi. Prys: R190. Hy is al taamlik wyd in boekwinkels op die rak.

OUPA VOOR PAALTJIES

Oktober 3, 2017 in Uncategorized

Neville, Daan en HvD met ons pette.

“Hier het Oupa krieket gespeel.” Die brokkie was veral bedoel vir die ore van die 13-jarige tweeling Thomas en Jacob Claassens, aan die vooraand van ‘n driedaagse kriekettoer na Knsyna. Dit is geuiter terwyl die Kaapse Rooi Bus op sy mini-Skiereiland-toer verby Fernwood in Nuweland skommel. Met die detail het Oupa die seuns nie opgesaal nie. Dit hou hy vir sy bloglesers.

Fernwood was die bedrywige parlementêre sportterrein toe die uwe in 1964 en 1965 in die persgalery van die volksraad parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was. Onder die eike in die skadu van Tafelberg was heelparty tennisbane (Connie Mulder was op Saterdagmiddae een van die knap raketswaaiers) en, natuurlik, die skilderagtigste krieketveld wat ek ken.

Hoe dit gekom het, kan ek om die dood nie onthou nie, maar skaars het ek in die persgalery aangeland of ek bevind my saam met twee persgalery-kollegas in die parlementêre span vir ‘n wedstryd op Fernwood. Ons span het ook op plekke soos Groot Drakenstein by die Paarl wedstryde gespeel, maar meesal op Fernwood.

My kollegas was Daan Eksteen en Neville Krige van die SAUK. Parlementariërs in die span was o.a. sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, Ossie-Newton Thompson, LV vir Pinelands, wat later treurig in ‘n vliegongeluk omgekom het en Vause Raw van Durban. John Wiley, latere NP-minister maar toe nog LPR van die VP vir Simonstad, was een van die sterre.

Mense soos sir Div, Ossie Thompson en (meen ek) ook John Wiley het op Oxford of Cambridge in Engeland krieket gespeel. Van hulle was nie meer vandag se kinders nie. Ondanks hul jare was hulle dorings voor die paaltjies.

Die drie persgalerymanne was dalk veral vir ons flinke veldwerk in die span ingesluit.’n Keer het ek my so ingespan om ‘n vangskoot op die diepbygrens raak te vat (ek het!) dat my hemp se agterpant van bo tot onder oopgeskeur het. Ek was ook lief om te duik om vier te probeer afsny.

As aanvangskolwer teen Simonstad het ek wel hier ‘n hoogste loopbaantelling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie! My naam was daardie aand in die Cape Argus Late Sport – die eerste en enigste keer dat ek die sportblaaie van die dagbladpers gehaal het. Vir die grootste deel van my “marathon”-beurt was sir Div my kolfmaat; Groot Div en Klein Div het ons spanmaats ons genoem. Vermoed ons ooreenkomstige snorre het in die naamgeëry nogal ‘n rol gespeel.

Neville was, benewens goeie veldwerker, darem ook ‘n bruikbare snelbouler en Daan ‘n veelsydige speler wat stadige bybreke geboul het.

Middagetes onder die eike met topwyne om die keurigste kouevleis en slaaie mee af te sluk, was gedenkwaardig.

Selfs onvergeetliker as die tyd op die veld of voor die paaltjies was om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike en in die karaktervolle klubhuis politici soos sir Div beter te leer ken; nie net as gedugte kolfvennoot nie, maar as fyn mens en galante gasheer.

‘n Man uit een stuk gewees, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter. Toe kies die Nasionaliste Marais Viljoen. O wel.

Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en die wellewende twee SAUK-kollegas, Neville en Daan (albei al saliger), elk met ‘n krieketpet op. Dit is nie sommerso-pette nie; wel pette van die parlementêre krieketspan, net sonder die wapen van die parlement. Om dit te dra, was ons mediamanne nie beskore nie.

Die pette is oorhandig deur die kaptein van die span, Ossie Newton-Thompson, op ‘n “amptelike” plegtigheid in die parlementêre kroeg. Dit was nogal ‘n grootse gevoel om dit op te sit. Skat ek, Neville en Daan was dalk die enigste drie mediamense wat die eer ooit te beurt geval het. Die pet hang na meer as 50 jaar nog in die woonkamer op Melkbos op ‘n spesiale plekkie.

EK WAS DAAR!

September 19, 2017 in Uncategorized

In my boek “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedoodkoerantman” hou ek my lyf onder meer rugbyskrywer – Herman le Roux en Frikkie van Rensburg skuif op!

Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel, vertel ek in ‘n hoofstuk oor Murrayfield en daarna.

Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se score, place en drop op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig, was ek natuurlik een van die voetstampende juigendes op Ellispark.

Ek hou my lyf ook boksskrywer – vertel van smaaklike onderhoude met ons twee bul-swaargewigte van die 70’s, Gerrie “(Seer handjies”) Coetzee en Kallie (“Bek van Boomstraat”) Knoetze. My bokservarings is egter van beperkter omvang as my rugby-ervarings. Net een swaargewig-boksgeveg bygewoon: op Loftus: Gerrie teen “Big John” Tate van Amerika.

Vroeg in 1979 het Gerrie Leon Sprinks in Monaco met ’n tegniese uitklophou verslaan. Verwagtinge was hoog. Maar Tate het ons held op Loftus opgedons.

Oor krieket skryf ek nie in “Laatoes” nie. Wel in Februarie 1970 vyf dae saam met Frikkie van Rensburg langs die die Wanderersveld in Johannesburg gesit toe die Bokke (ja, nog nie Proteas nie) die veelgeroemde Australiërs se neuse met 307 lopies in die derde toets in die grond gevryf het om die reeks te beklink.

Ek onthou wonderlike kolfwerk van Graeme Pollock, Barry Richards en Eddie Barlow. Peter Pollock en Mike Procter se blitsballe was vir die Aussies een te veel.

En atletiek? Een naam staan groot oor my atletiekervarings geskryf: Zola Budd. Hoeveel keer het ek nie die skaam, kaalvoetatleetjie op die Vrystaatstadion wondertye sien opstel in die 80’s nie! Sal darem ook nie vergeet hoe naelloper Sep Serfontein vir Tukkies Dalrymples gewen het nie, o.m. op Coetzenburg.

En ja, ek was in 1952 by die Van Riebeeckfees in Kaapstad op die paviljoen toe meisies soos Nederland se Fannie Blanckers-Koen en ons eie Daphne Hasenjager die baan aan die brand gehôl het.

Voor die radio was my plek nooit leeg as ‘n Suid-Afrikaner boks (kapokgewig Vic Toweel se verowering van die wêreldtitel onder meer) of die Springbokke rugby of krieket speel nie. Selfs vir rofstoei nadergeskuif: Willie Liebenberg teen “Sky High Lee” en daardie snare.

Ai, die nostalgie wil hierdie ou al weer oorweldig.

DIE GEGONS VAN ONHEIL

September 7, 2017 in Uncategorized

Blou Maandag is vir die Van Deventers altyd die dag wanneer hulle tuiskom ná ‘n vakansie. Maak nie saak watter dag van die week dit is nie.

Ervaring het ons al geleer dat iets soos ‘n soomlose tuiskoms eenvoudig nie in ons gesinskultuur bestaan nie. Iets gaan groot fout wees, dit weet ons – televisie, rekenaar, alarm, warmwatertoestel, yskas, vrieskas …

Ons staal ons vooruit en verwag die ergste.

Dinsdagaand keer ons terug ná 75 dae in Sabiepark. Die TV werk, die rekenaar flikker aan, net die alarm skyn ‘n haakplekkie te wees weens te lang afhanklikheid van batterye.

Verligting. Toe begin Tokkie ‘n watertjie tap vir ‘n bad. Toemaar, ons onthou van die waterkrisis. Vir eers bad ons saam, ten tweede maak ons skaars die bodem van die bat nat. Ten derde: kom kyk gerus na die Van D’s se beskeie waterrekenings.

In elk geval, skielik verstyf ons albei. Die gegons word al hoe harder. Klink of die warmwatertoestel dalk gebars het. Tokkie laat vat by die voordeur uit om te kyk of die water by die oorlooppyp uitspuit. Niks. Ons gryp die leer en loer deur die valluik in die gang. Niks.

Ons kyk verward rond.

Dan val my vrou se oog op die oop koffer op die grond langs haar spieëlkas. Klink dan, vreemd genoeg, of die gegrom sy oorsprong tussen die hopies klere in die koffer het.

Sy begin grawe tussen die klere.

Waarlik: die rede vir die onheil kom tevoorskyn in haar hand.

Geen twyfel daaroor nie, want nou raads dit twee keer so hard.

Hoe de ongeluk?

Skynbaar het iets wat in die tas rondgeskuif het in die Boeing se vragruim of op die vervoerband by Kaapstad Internasionaal ‘n knoppie ge-aktiveer.

Die klein dra-radio’tjie is aangeskakel maar nie op ‘n stasie nie!

WINTERVAKANSIE 2017

September 2, 2017 in Uncategorized

Foto van die vakansie. Geneem deur Organ Ongeni.

Nog 75 salige dae op ons kerfstok geplaas in Sabiepark hierdie winter. Kan amper sê: soveel dae, soveel hoogtepunte. Elke dag lewer sy vreugdes.

Kom ek probeer die hoogste hoogtepunte identifiseer:

1. Die herbesoek aan Boulders met sy rotskoppies, bedrywige watergat, gedugte buffeltroppe en klipspringertjies. Toe die drie vlakvoor ons houtgerus kom water drink in die klip-voëlbadjie was ‘n magiese oomblik.

Drinktyd vir ‘n klipspringer.

2. Smiddae se gereelde olifantparades by die piekniekplek. Organ Ongeni se foto van die vakansie van my en Tokkie wat in die strelende sagte namiddagson na die olifante sit en kyk, sal altyd hiervan ‘n herinnering bly.

3. Die vreemde gedrag van ‘n impalarammetjie by ‘n dooie makker by Satara. Die spronge met sy voorbene op die dooie lyf van die ander outjie lyk dalk soos aggressie. Maar hoe verklaar jy die verwilderde kyk in die oë, die streling met die neus en die lekkery aan die nek? Dalk ‘n Dawid en Jonathan van die diereryk gewees?

Bokkie se leed?

4. Die ongekende ervaring om binne vyf dae al Vyf Grotes by die piekniekplek te sien, waaronder Vin Diesel, formidabele luiperdmannetjie met die nek van ‘n Springbokstut.

5. Die nagtelike besoek van twee olifante aan Tarlehoet se watergat – die eerste keer dat ek tuis uit die bed spring weens die gekraak van takkies, en met my flits op die groot gedaantes skyn.

6. Die kennismaking met Orpen, karaktervolle wildtuinkampie ten weste van Satara, saam met die span Kollegemanne van die 50’s, boonop met ‘n eie Kollegekoek met Sarge Bourke se afbeelding daarop. Eers was daar Balule 1 tot 5. Nou word die Orpen-tradisie gevestig. In 2018 is daar ‘n Orpen 2. Almal is vuur en vlam.

7. Die ontdekking van die boskamp Talamati en sy verligte watergat waar die olifante gereeld saamdrom. Tokkie lag nou nog as sy aan die klein outjie dink wat sy tyd by die water verspeel het. Toe hy begin hardloop met sy swaaiende slurp en flappende ore, kon jy amper sy hart in sy keel hoor klop!

8. Die reuse-swerms kweleas wat oor die Sabierivier duik en met ‘n suising van vlerke by Tarlehoet uit die bome op die veld neerdaal en weer opstyg. Watter skade hulle dalk veroorsaak het, weet ek nie. Hul kom en gaan was egter telkens skouspelagtig.

Tradisionele foto by die naambord.

9. Natuurlik, natuurlik die kuiertjie van die kleinkinders in die skoolvakansie en die groot vure wat hulle elke aand gestook het. Die babatjies wat in doeke die eerste keer in die bos kom kuier het, is nou drie groot seuns. Die tweeling, Jacob en Thomas, is 13, Christopher is 8. Hulle is drie selfstandige seuns, propvol selfvertroue. Die bosliefde bly brand in hul harte. Daaroor kan ‘n mens nooit dankbaar genoeg wees nie.

Op my kamera is honderde kosbare foto’s: kinders, olifante, buffels, leeus, luiperds, renosters; Sabiepark se resident-najalabul; bosbokkies wat die bloedrooi worsboomblomme by die piekniekplek verorber; die nekke van die nuwe span kameelperde wat bo Sabieparkbome uittroon; troppe, troppe wildebeeste en sebras bokant Satara; hope koedoes; kweleaswerms wat die lug swart kleur.

Van die wintervakansie van 2017 sal die foto’s die albums laat swel.

Een ou sal ek nooit weer afneem nie: Brood, die vlakvarkbeer met die indrukwekkede tande. Hy het ‘n luiperd ten prooi geval.

So stapel die jare op – elk met sy eie dinge.