Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

TWEE TAMAAIES IN TANDEM

April 25, 2017 in Uncategorized

Vorstelik in Tafelbaai.

‘n Bruidegom loer nie met ‘n begeerlike oog vir ‘n ander meisie nie.

Jy voel half skuldig, of jy so ‘n nare, ontroue vent is, as jy van die dek van die sierlike vakansieskip die MSC Sinfonia aaneen foto’s van ‘n ander skip neem.

Maar as daardie ander skip nou die Queen Elizabeth is …

Dit was inderdaad: die nimlike nuweling in die Cunard-stal, twaalf dekke hoog en stralend van dieselfde klas en styl as Cunard se vlagskip die Queen Mary. Die Sinfonia en die Queen het op Donderdag 20 April feitlik in tandem na Walvis gevaar.

Ek en Tokkie wou nog altyd met die “nuwe” Sinfonia gaan kennis maak nadat ‘n nuwe middelstuk twee jaar gelede ingevoeg is: meer kajuite, groter speelplek, uitgebreide kuier-ruimtes. Verlede naweek het ons kans gekom.

Uit Bloemfontein het kollega Sarel Venter, ‘n skeepsentoesias soos min, laat weet dat die weelderige Queen Elizabeth, saam in die Kaapse hawe sal wees.

Al van die M1-snelweg af het ons die twee reuse van die oseaan agter mekaar in die hawe sien lê: die wit Sinfonia voor en die donkerblou Queen agter – saam amper 600 meter magistrale skip wat hoog bo die res uittroon. Eersgenoemde is een dek hoër en dra 500 meer passasiers. Laasgenoemde is egter ‘n groter, langer, ruimer en luukser skip. Op sy dekke is die balkonkajuite ingeryg (die Queen het ook ‘n groter bemanning).

Die ideaal sou wees om die twee tamaaie skepe saam op ‘n foto te kry – ‘n geleentheid wat hom seker min voordoen. So ‘n treffer-foto sou egter net uit ‘n hoë gebou of van die seekant moontlik wees. Ek het nêrens een gesien nie.

Toe ons die middag vaar, het die son mooi op die stuurboordkant van die Queen geval. Van Deventer se kamera het bly klik.

Kort na die Sinfonia het die Queen ook hard gefluit en die waters begin klief – dieselfde bestemming: Walvis. Teen nege-uur die Vrydagoggend het Tokkie op dek 8 aan die agterstewe geroep: Hier’s die Queen! Newelagtig het die pragskip aan bakboord begin nader kom. Van Deventer se kamera het weer geklik.

Queen kom verby.

Van nege tot een het die twee skepe teen sowat 30 knope feitlik in tandem gevaar. Die Queen het bly inhaal – treetjie vir treetjie, het dit gelyk. Teen eenuur is die pragskip by die Sinfonia se boeg verby. Die kamera het bly klik.

Met ons aankoms in Walvisbaai was die Queen reeds vasgemeer: ‘n vorstelike prentjie in die helder Namibiaanse oggendlug. Namate die Sinfonia haar by haar staanplek inwoel, het van haar agterstewe ‘n al hoe groter stuk van die Queen sigbaar geword. Die kamera is in die kajuit gaan haal.

Hoe Walvisbaai (en Swakopmund) se infrastruktuur die invloei van amper 5 000 passasiers – 2 600 van die Sinfonia en 2 000 van die Queen – sou hanteer, was ‘n vraag. In die Kaap het die swaar oggendverkeer op die M1 twee dae tevore sleg vasgeval. Maar hoede af vir die Namibiërs. Die tandem-besoek van die twee groot skepe is hanteer of dit die normaalste ding is.

Weer sou ‘n foto van die twee saam die eerste prys wees, maar weer het so ‘n kans hom nie aangebied nie. Nie van naderby nie, in elk geval. Die Queen was om die draai van die Sinfonia as’t ware. Eers van die strandmeer se kant af, met flaminke in die voorgrond, kon jy die twee saam inkry … amper onherkenbare stippeltjies op die horison, helaas.

Walvisbaai.

Maar laat Saterdagmiddag is die Sinfonia eerste weg, verby die Queen in al haar glorie. In die wit kielsog van ons uitvarende skip het die Queen weer ‘n stippeltjie geword, al hoe kleiner en kleiner. Die Queen sou kort daarna vertrek op haar volgende skof van 4 000 km na Mindelo (São Vicente).

Toe die beeld van die Queen te klein word, het ek my Canon in sy sak teruggesit. Die onverwagte bonus van die spesiale foto-ekspedisie was verby. Die tyd het aangebreek om die aansienlike bekoorlikhede van die Sinfonia onbelemmerd te geniet.

DRIE MAAL IS “SKEEPSREG”!

April 24, 2017 in Uncategorized

Drie maal is skeepsreg. So lui die spreekwoord. Wel, ek en Tokkie het nou drie maal goue bruilof gevier.

Wat die begrip “skeepsreg” in die spreekwoord ookal beduie; ons kan gewis nou daarop aanspraak maak, glo ek.

Die eerste viering was ietwat prematuur. Op 26 Maart 2016 al het ons tent opgeslaan op die gras voor ons huis hier in Melkbos.

Ons goue bruilof op 31 Desember was een van die drie bakens in 2016 wat gevier is. (Die ander was my 75ste op 3 Januarie en Tokkie se 70ste op 15 Maart).

Die “tent van samekoms”, het Johan van Wyk ons tent genoem.

Op die groot dag self, oujaarsdag, het ons ‘n speenvarkie op die tafel gehad. Die Claassensgesin was hier vir die ongewone ete. ‘n Gedenkwaardige oomblik was toe Chistopher (7) se oog die eerste keer op die brosgebraaide varkie val. “‘n Wolf!” het hy dit uitgekreet.

Maar fees nommer drie – die “skeepsreg”-ene.

Wel, dit was ten minste op ‘n skip: te wete op die MSC Sinfonia op pad na Walvisbaai. Op Vrydag 21 April – 13 maande ná ons drie-baken-fees in die tent van samekoms.

Om 10:00 was daar ‘n kloppie aan die deur van kajuit 8152 op dek 8, die Bach-dek. ‘n Kelner in ‘n wit baadjie. Op die silwer skinkbord in sy hand was ‘n bottel Moët et Chandon, twee sjampanjeglase (vergeet van vonkelwyn!), twee glase met vars lemoensap en ‘n bordjie met ‘n croissante-keur.

Dis MSC se geskenk aan mense wat binne ses maande van hul vaart af goue bruilof gevier het. Nogal nie ‘n geskenk om te versmaai nie. Op die skip se wynlys in sy verskeidenheid sitkamers en kroegies is Moët et Chandon die duurste artikel: 70 dollar ‘n bottel!

Nietemin, ek en Tokkie het die lemoensap en die elegante croissante in die kajuit in ons alleenheid geniet. Die middag is ons met die ysemmer en ons kosbare feesbotteltjie na die Manhattankroeg op dek 5, die Beethovendek.

Die een glasie na die ander word geteug, en dit raak heeltemal ‘n okkasie toe Hermie Zietsman van die Oos-Kaap en sy vriend Charl Joubert langs ons op die bank inskuif terwyl die son begin water trek en twee nooientjies op die verhoog al hoe dromeriger sing.

Die romantiese geleentheid gaan nie ongedokumenteer verby nie. Die mooi foto hierbo van my en Tokkie met ons geskenkglasies vol Moët voor die patryspoort is deur Hermie. Sy aanspraak dat hy ‘n student in die fotografie was, word daarmee bevestig, meen ek.

Later is ons met die laaste bietjie in die bottel eetsaal toe, die Ile Galeone, ook op dek 5.

Die voggies het tot die eerste gereg gehou. Ook maar net. Maar wat ‘n spesiale aand was dit nie vir ons twee nie. Dat ons 50 jaar getroud is, sal ons ná dese nimmer kan vergeet nie.

As iemand ‘n definisie soek vir “skeepsreg” – ‘n botteltjie yskoue “Moët” skemeraand in die Manhattankroeg van die Sinfonia; dis die Van D’s se voorstel met algemene akklamasie uit Penguin Place 11.

Iets WAT-wonders

April 15, 2017 in Uncategorized

Die Claassens-broers danig in hul skik met hul sertifikate.

Die Afrikaanse woordeskat bestaan uit een miljoen woorde waarvan die meerderheid uiteindelik in die omvangryke Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te boek gestel sal wees.

Dis maar net ‘n baie klein-klein druppeltjie aan ‘n enorme emmer, maar my genoegdoening dat ek twee uit ‘n miljoen woorde borg, steek ek nie onder ‘n maatemmer weg nie. Dit staan tot in my CV.

Danksy ‘n stukke flinkdink van Tokkie, my vrou, is die vier kleinkinders ook nou saam in die WAT-bootjie. Elkeen borg ‘n word op haar voorstel. Soos oupa waarde heg aan sy borgsertifikaat, het hulle ook trots hulle s’n in ontvangs geneem.

Jacob en Thomas, die tweeling, borg onderskeidelik “blinkblaar-wag-‘n-bietjie” en “jakkalbessie”, kleinboet Christopher borg “wildevy” en nefie Migael van Deventer borg die woord “spesiaal”. Sal aanstons elkeen se storie vertel.

Oupa se woorde – indien iemand dalk nie weet nie – is “koerant” en “joernalis”. Eersgenoemde borg ek ekslusief. Dis my woord. Myne alleen. Vir die woord “joernalis” kan daar meer borge wees. My borgskap daarvan is nie eksklusief nie. Die woord lê my nietemin na aan die hart. As iemand my vra wat my nering was, twyfel ek nooit vir een oomblik aan my antwoord nie. Ek was ‘n “joernalis”. Kort en klaar.

Die wete dat my verrbintenis van 36 jaar met Naspers se koerante ook in hierdie opsig simbolies verseël is, is ‘n heuglike een.

Vir die verbintenis met die blinkblaar-wag-‘n-bietjie hoef nie ver gesoek te word nie. Op ons boshuis, Tarlehoet, se werf in Sabiepark staan ‘n hele paar wag-‘n-bietjies. By die straatingang staan ‘n opgeskote een. Toe die kinders kleiner was, het Ouma Tokkie hulle altyd deur die skerp dorings laat “vang” wanneer ons verbystap piekniekplek toe.

Dan sê sy vermanend vir die boom: “Nee, boom, ons kan nie nou wag nie; ons gaan nou piekniekplek toe”. Eindelose pret is aan al die kinders verskaf, maar veral aan Jacob. Hy het gekraai van plesier en wou elke keer dat die boom hom eerste “vang”.

Op ons werf is ook jakkalsbessies. En by die Proteahotel by die Krugerhek waar ons altyd “roomys in die boomhuis” gaan eet, is ‘n reuse-meneer. Die rede vir Thomas se borgskap is egter te vinde in ‘n preek van ds. Nelus Niemandt, oud-NG-moderator, in ons Skukuza-gemeentetjie se karaktervolle kerk in die personeeldorp, waar hy op besoek was.

Christopher by die naambord in Wildevylaan.

Die leraar preek daardie Sondag boeiend oor bome en vra vir die lidmate wat hul gunstelingbome is. Thomas se hand is oudergewoonte eerste in die lug: “jakkalsbessie”. (Sy vrymoedigheid en kennis het al R50 vir homself verdien deur in ‘n diens in die NG gemeente Welgemoed blitsvinnig ‘n ralreier as ‘n reier te eien.)

Wildevy is die naam van die straat voor ons huis waar die seuns so graag kuier. Teen die kombuismuur hang ‘n yslike kaart van Sabiepark. Toe Christopher kleiner was, moes Ouma hom telkens op die kombuiskas tel en op die kaart wys waar is Wildevylaan. As hy dit eers op sy radar het, kry hy vinnig-vinnig 154.

Migael – borg van die word “spesiaal”.

Migael het nie so ‘n konneksie met ‘n boomnaam nie. Vir kinders met spesiale uitdagings speel bome en hul name nie juis ‘n groot rol in hul lewens nie. Ek vra toe vir sy ma, Mariza, om ‘n woord te kies. Sy het nie lank geaarsel nie.
Haar voorstel is nie om dowe neuter nie. Dit is natuurlik nie net geïnspireer deur haar seun se spesiale uitdagings nie, maar ook deur Migael self en haar belewenis van hom. Een van sy eerste boekies was deur Max Lucado met die titel “Jy is spesiaal”.

Op daardie noot: hoe spesiaal is dit nie vir hierdie oupa nie dat sy vier kleinseuns ook nou elk ‘n word in die WAT borg. Die WAT is ‘n bewonderenswaardige onderneming en hul bydrae is in hul oupa se oë nogal iets WAT-wonders.

Vier van ons spannetjie se woorde – “blinkblaar-wag-‘n-bietjie, “jakkalsbessie”, “joernalis en “koerant” – is reeds gepubliseer in die eerste veertien dele wat alfabeties van A tot Skooier strek. “Spesiaal” kom binnekort aan die beurt. Heelwat later eers “wildevy”. Maar nou-ja, Christopher is die jongste. Hy moet maar sy beurt afwag.

WEDEROM, PROF. CHRIS!

April 13, 2017 in Uncategorized

Christopher, Thomas en Jacob in prof. Chris se kantoor. Links staan die gids, Trace Adamo.

Geen Standard & Poor kan hierdie “status” van Suid-Afrika afgradeer nie en geen All Black- rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie. Op ekonomiese gebied moet Suid-Afrika koes vir al die “rommel”. Op die rugbyveld word die Bokke maar sleg opgefrommel. Maar op mediese gebied kan ons steeds die bors ver uitstoot.

Met prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting amper 50 jaar gelede het hierdie ou landjie die ganse wêreld getroef. Daardie mirakel bly ‘n skynende lig vir Suid-Afrika, sy medici en sy voortreflike gesondheidsdienste.

‘n Besoek aan die “Hart-van-Kaapstad-museum” in die sierlike Groote Schuurhospitaal met sy swaar houtdeure en deftige koloniale ontwerp laat die hoogdrama van die nag van 2/3 Desember 1967 herleef.

Die toer van twee uur begin in die kamer waarheen die noodlottig beseerde Denise Darvall gebring is nadat sy saam met haar moeder naby die hospitaal in die straat omgery is. Dit eindig in die twee buur-teaters waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, haar hart met haarfyne sinchronisasie verwyder het, en die beroemde hartdokter self die hart onmiddellik in Louis Washkansky se borskas oorgeplant het.

In die teater.

Om die operasietafels staan die teaterspanne in hul uniforms om die bed of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien, ‘n geskenk van die Amerikaanse universiteit waar Barnard st Ph.D in twee jaar verwerf het pleks van die gewone ses. Die ontvanger van die hart se naam en besonderhede staan groot op ‘n swartbord geskryf – nes daardie epogmakende nag. Alles lyk spookagtig werklik.

Die horlosie teen die muur in die Charles Saint-teater staan op twee minute voor ses die Sondagoggend. Dit is die oomblik toe Washkansky se nuwe hart ná ‘n derde skok vanself begin klop het. Vir ‘n oomblik was almal stomgeslaan, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Die volgende oomblik het Christiaan Neetling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, die verwondering van almal verwoord: “God, dit gaan werk!”

Die geleide toer sluit in ‘n treffende huldeblyk aan die Darvalls in die herskepte slaapkamer van Denise met die outydse meubels, asook haar geliefkoosde langspeelplate op een bed uitgestal – sy was lief vir operamusiek – en ‘n gunstelingpop uit haar kinderdae op die ander. In die herstelproses het ‘n poppemaker glo groot geskrik toe twee swart inktrane onverwags uit daardie pop se glasoë biggel. Maar ek gaan nie daardie storie verklap nie …

In ‘n “laboratorium”, wat besoek word, lê die model van ‘n hond met ‘n oop borskas op die operasietafel oopgespalk. Hier is die ingewikkelde tegnieke oor jare op 50 honde verfyn.

In prof. Barnard se kantoor sit ‘n beeld van die beroemde man in die snyerspak agter die lessenaar, telefoon in die hand – so uitgeknip hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.

In die kamer waar die 54-jarige Washkansky 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het, loer sy een voet onder die laken uit. ‘n Slapband van Louis Lamour lê oop op die beddeken. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste sterk bly klop.

By Die Burger se voorblad van daardie dag.

Die museum se mure is versier met honderde foto’s, geraamde koerantvoorblaaie en briewe van lof en kritiek, ook van kinders. ‘n Mens mis die mure vol internasionale eerbewyse wat te sien is in die Chris Barnardmuseum op sy geboortedorp Beaufort-Wes (waar hy ook begrawe is). Al oplossing is om albei te besoek!

Omtrent geen aspek van die eerste hartoorplanting word nie aangeraak nie. Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte, Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die genot van sy nuwe roem, sy liefde vir mooi vroue en sy eensame dood in Ciprus, Griekeland, op 2 September 2001 weens ‘n akute asma-aanval.

Sy ken haar storie en kan op haar voete dink. In ons groep is bv. ‘n Poolse egpaar. Vir hulle het sy die storie van die narkotiseur dr. J. Ozinsky, ‘n landgenoot. Wanneer prof. Chris se berugte humeur uitbars, het Ozinsky eenvoudig gemaak of hy hom nie verstaan nie. Die twee het uitstekend klaargekom.

Die kleinkinders was geboei deur haar aanbieding van stof wat hulle basies reeds op skool geleer het, maar sonder die emosie, Trace se entoesiasme en haar onverbloemde trots as mede-Suid-Afrikaner van die hart-pionier. Ek ag haar hoog, in dieselfde klas as top-gidse wat ek op internasionale reise teëgekom het – o.m. op die eiland Malta.

Aan die stuk mediese geskiedenis het ek my eie herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad in Bloemfontein toe die byna ongelooflike storie hom begin ontvou in kopie deur hoofverslaggewer Harry Shaw wat van ons susterskoerant Die Burger bly instroom het. ‘n Geraamde voorblad van Die Burger van daardie dag hang teen die muur.

Ek dink ons het self ‘n skitterende voorblad gehad in die verre Bloemfontein. Sou dit sonder skroom vir die museum aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Chris Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die versie lui eenvoudig:

Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, prof. Chris!

ALTYD IETS NUUTS UIT DIE BOS

April 6, 2017 in Uncategorized

Beelde van Maartvakansie: Tande-meneer by Tarlehoet, volwasse mierleeu en feesmaal naby Skukuza-gholfklub.

Ons luiperds het nou name: Mandleve en Shlarulini. Mandleve is ‘n dominante mannetjie in die Sabi-Sand en Shlarulini is sy wyfie. Die twee het Sabiepark ge-annekseer as deel van hul gebied en kom nou enige tyd van die dag of nag op inspeksie in hul “kolonie”.

Groter versigtigheid is deesdae die wagwoord, veral as jy gaan stap. Selfs Tokkie het haar laat oortuig om sekere roetes liefs te vermy en my Jan Scholtz-kierie op haar alleenwandelinge saam te vat.

Drie vlakvark-wesies is altyd op ‘n bondeltjie naby die kantoor. Dat hulle so moederloos groot word, herinner jou telkens aan die konstante luiperd-gevaar vir mens en dier.

Enigste eie roofdier-ervaring van die somervakansietjie in Sabiepark was egter met ‘n “roofdier” van ‘n heel ander aard: gelukkig net met een van die sogenaamde “Vyf Kleintjies”: die mierleeu.

Voorheen het ek die mierleeu net as die larwe geken wat met sy plat, vet lyf in sy tregtervormige putjie in die sand skuil, ander insekte met sy twee lang kake gryp en blitsvinnig die grond intrek. Nou het ek ook met die volwasse lepelvlerkie-mierleeu kennis gemaak.

Elke aand het ‘n paar by die stoeplig kom rondfladder. Die volwasse knaap lyk soos ‘n naaldekoker of waterjuffer met ‘n lang, skraal lyf en vier lang rafgfyne netvlerke. Hy is maar lomp en vlieg baie swak en rukkerig. Die deurskynende vlerke met jul kolpatrone verleen egter aan die insek ‘n sekere elegansie.

‘n Nuwe voëlgeroep (vir my altans, nie vir Tokkie nie) het die bekende eentonige doe-doe-doe-deuntjie van die groenvlerkduifie onderbreek. Dit is die harde, helder gefluit van die baardwipstert.

Die baardwipstert se roep bestaan uit ‘n reeks strelende frases wat elk drie of vier keer herhaal word, met heelwat variasie. Sommige frases styg in ‘n crescendo. Newman beskryf dit in Tokkie se veel gebruikte voëlboek meesterlik soos volg: “piee piee terr triee .. tsjieroee tsjieroee tsjieroee …. wietsjoee wietsjoee wietsjoee … tirroee tirroee tirroee … piee piee piee piee … tsjoe-iet tsjoe-iet tsjoe-iet.”

‘n Aand of twee voordat ons weg is, het ons die bekende duet van gevlekte ooruile duidelik in die nagstilte gehoor. Die mannetjie se diep “whoeee” word deur die wyfie se sagter “hoe” beantwoord (met of sonder vraagteken – ek weet nie. )

Naguiltjies se pragtige sang het amper elke nag opgeklink; uiters welkom nadat hulle ‘n ruk lank doodstil was.

Op die werf, tussen die aalwyne by die seuns se badjie, staan nou ‘n klein paddaboompie. Dis ‘n geskenk van broer Cules-hulle. Hoop die boompie oorleef en begin kort voor lank die groterige leeragtige vrugte lewer waar die ryp geel pulp deur mense, ape, bobbejane, renosters, neushoringvoëls en witoorhoutkappers geëet word. Laat ons ook hoop die vrugte lok eerder voeëls as ape en bobbejane!

Hoeveel rosyntjiebosse – reuserosyntjie, vaalrosyntjie, witrosyntjie en ritse ander gwerias van onbekende identiteit – op Tarlehoet voorkom, is onbekend. Dit sou ‘n reusetaak wees om te tel. Een ding weet ek: ná goeie reën in Januarie tot Maart is daar hope meer as voorheen. Oral beur ‘n nuwe rosyntjiebos of kruisbos boontoe.

Nog ‘n nuwigheid is natuurlik die stories wat na vore begin kom oor al die beroemde besoekers wat die Williams-Jonese na 250 saamgebring het: J.K. Rowling, Roger Moore en selfs dalk prinses Diana (vorige blog).

Wat elke keer ‘n somerbesoek kroon, is natuurlik die swembadjie. In daardie verfrissende water het ek en Tokkie die drie weke geboer, sonder wroeging oor die waterskaarste in die Kaap. Jy hoor dan die Sabie in jou ore druis!

Die geswem eerste ding elke oggend en laaste ding elke aand – so saam-saam met twee waterskilpadjies in die watergat – het ons selfs die pyn van die eerste dag se batterykrisis laat vergeet. Die ses nuwes en die nuwe reguleerdertjie werk in elk geval kookwater. Moet ook teen daardie koste (amper R15 000)!

Ompaadjie na Tshokwane.

Wat die Wildtuin betref, was dit ‘n openbaring om van die ompaadjie af die enorme skeur in die aarde gade te slaan weens die Mantimahledam wat weggespoel het halfpad tussen Skukuza en Tshokwane. Naby die Skukuza-gholfklub het leeus ‘n groot kameelperd platgetrek. Ons het hulle nie daar betrap nie. Vier hiënas het egter behoedsaam uit die bos gekom op soek na ‘n laaste peuselhappie. Een oggend het ‘n troppie wildehonde ons by die Paul Krugerhek ingewag.

Tussen die ruie gras en bosse was dit egter nie die maklikste ding om diere raak te sien nie. Maar wie gee oor diere om as die manjifieke veld self die oog so streel?

(Hierbo verwys ek na die Jan Scholtz-kierie. Dis ‘n pragstuk van kiaat met ‘n swierige vlakvarktand. By Tarlehoet was die vakansie ‘n beer met selfs nog indrukwekkender tande. Jan se hande sou gejeuk het!)

ONS BEROEMDSTE GAS

April 2, 2017 in Uncategorized

Het Lady Diana ooit in Sabiepark gekuier?

Het die Britse “prinses van harte” in haar fleur hier wakker geword met die klokhelder roep van die visarend wat bo die gedruis van die Sabierivier opklink? Het sy by een van die die rustige piekniekplek se uitkykpunte die olifante se waterkaskenades gadegeslaan? Het sy gaan slaap onder die uitgestrekte melkweg na ‘n aand langs die kampvuur?

As sy het, is dit een van Sabiepark se groot geheime van wie bittermin weet. Selfs hierdie veteraan-Sabieparker het pas die eerste keer die fluistering gehoor.

Tog lyk dit die waarheid kan wees; dat prinses Diana inderdaad ‘n gas by die Sabiepark- “royalty” van ‘n vorige generasie, die Williams-Jonese van 250, was. Die nuwe eienaar vaan 250, ds. Theo Danzfuss, het die storie personlik uit – verskoon maar die koeranttaal, asseblief! – meer as een “betroubare bron” verneem. .

Lady Diana se Sabiepark-kuier of –kuiers het ter sprake gekom na ‘n onlangse Facebook-inskrywing uit my pen. Wie sou die beroemdste mens wees wat nog sy/haar voete in Sabiepark gesit het, het ek daarin gevra. Op my vraag het ek soos volg geantwoord:

My eie sienswyse was altyd: Mimi Coertse (gewese eggenote van stigterslid Werner Ackerman wat eerste die moontlikhede van Sabiepark as private natuurreservaat raakgsien het). Haar stem het selfs hier opgeklink wanneer die eerste eienaars gesellig saamgekuier het in die stkamer (wat nou een vleuel van die kantoorgebou vorm).

Wel, dit was my sienswyse tot Dinsdag 21 Maart, Mensregtedag.

Hoor toe by Jimmy Pressly van Sanparke niemand minder nie as J.K. Rowling van Harry Potterfaam was al in lewende lywe in Sabiepark as gas van mnr. Williams-Jones wat ‘n groot gees in die Engelse rolprentbedryf was. Sy was glo lief om langs die rivier te sit.

Ook Roger Moore, gewese 007, het as gas by 250 Sabieparkstof op sy skoene gekry.

Die hoë besoeke was glo hoogs incognito. Jimmy dra kennis want hy is by geleentheid deur hul gashere versoek om ‘n spesiale nagrit te reël. Was ongelukkig nie vir hom moontlik nie.

( ‘n Mens kan dink hoe teleurgesteld Jimmy junior was (eintlik steeds is, aldus sy pa.). Hy het ‘n stapel Harry Potterboeke besit. Daardie handtekening was vir hom goud werd.)

In die kommentare op my inskrywing skryf Ferdie Danzfusse, seun van ds. Theo, toe: “Ek weet nie of dit waar is nie, maar die gerug is dat Prinses Diana ook een van sy gaste was…”

Gerugte soos hierdie sal nou tiekie die bos wees, het ek en Tokkie taamlik sinies teenoor mekaar opgemerk.

Maar was ons dalk te sinies?

Saterdagoggend stop ds. Theo langs my en Tokkie in Wildevylaan. Ons gesels oor sy huis, die vorige eienaars en die gaste wat hulle uit Engeland saamgebring het. Hoor toe uit sy mond inligting oor die Diana-konneksie wat my weer laat dink.

Eers was dit die oordragprokureur, self ‘n Sabieparkeienaar, wat by die nuwe eienaar wou weet: Ken jy die geskiedenis van daardie huis?

Toe keer ‘n vorige parkhoof van Sabiepark hom by die piekniekplek voor met dieselfde vraag. Daarna ‘n dame in die Sabiepark-kantoor.

Almal vertel hom toe van die beroemde gas, wat glo ‘n niggie van Williams-Jones was. Hy was die die besturende direkteur van ‘n rolprentmaatkappy in Engeland. Vandaar die gaste soos J.K. Rowling en Roger Moore.

Nou is ek en Tokkie genooi vir koffie. Dan was ons ook al daar, merk sy lakoniek op.

‘H HUISIE VIR ‘N STORIE

Maart 30, 2017 in Uncategorized

As ek ‘n skrywer van storieboeke was, sou ons oornagtuiste in die golwende groen heuwels van Mpumalanga op Machadodorp – deesdae bekend as eNtokozweni – gewis iewers in ‘n storie opduik.

Die huisie is ‘n doodgewone plattelandse plekkie met ‘n beskeie, amper armoedige, voorkoms agter ‘n ruwe sementmuur, maar so tipies van ‘n era dat jou kameravinger in elke kamer jeuk.

Van die sierlike plafon tot die breë vloerplanke, vloerlyste en vensterrame van duursame hout – Oregon-den, raai ek – was vanmelewe hoogmode. Die ornate kaggels en ‘n Persiese mat in die sitkamer verleen ‘n waardigheid van weleer.

Van die meubels behoort ‘n kenner in oudhede sy hande te laat vryf. My keuse val op die outydse badkamerkassie, kompleet met wasskottel en lampetbeker. ‘n Riempiesbank en die soliede bedkopstukke van toentertyd behoort ook goeie pryse te haal.

Die eenvoudige voortuin adem dalk selfs des te meer ‘n plattelandse geur, met sy prominente suurlemoenboom, perskebome, druiweprieëltjie en beddings met afrikaners en kappertjies.

Op die stoep het ons forelpastei saam met ‘n wyntjie weggesluk terwyl die volmaan voor ons verrys. Die forelpastei het ons by Milly’s se padstal ‘n entjie voor die dorp gekoop. Moet dit nie mis nie. Wees by die padstal ook op die uitkyk vir Schoemans se growwe mieliemeel uit Delmas.

Die slagspreuk op die sakkie lui: So goed as die beste, beter as die meeste. Met die aanspraak kan ek nie fout vind nie. Dis nou pap daardie!

Die huisie staan langs die Old Mill-hotel. Sy ligging verklaar waarskynlik sy ietwat pretensieuse naam, Moulin Manor. Die struktuur, toerusting en dekor van die “manor” sal nie in elke kieskeurige se smaak val nie. Maar daar is drie slaapkamers – ‘n dubbelbed in een en ses enkelbeddens in die ander twee – en die beddegoed is eersteklas.

Vir my en Tokkie had die Moulin Manor by die aantreklikheid van die tarief boonop ‘n aansteeklike sjarme, al slaap ‘n mens weens die krakende plankvloere en die afwesigheid van ‘n alarm bra lig. Die lemmetjiedraad op van die tuinmure verraai die behoefte aan sekuriteit en die polsende sjebeenmusiek twee strate hoër dra nie by tot ‘n ontspanne gemoed nie.

Die dorpie met die Portugese naam – genoem na ‘n ingenieur wat met die bou van die spoorlyn na Mosambiek gemoeid was – vertoon maar ‘n neerdrukkende beeld van verwaarlosing. Dat al die strate eens geteer was, getuig van beter dae. Nou maak die slaggate hulle amper onbegaanbaar. Maar o, daardie wit NG moederkerk wat vorstelik oor die dorp troon, is steeds ‘n sieraad.

Die Elandsrivier vloei deur die dorp en daar is glo ‘n minerale fontein met buitengewoon helende kragte. Ek het dit nie opgesoek nie. Kan dus niks daaroor rapporteer nie.

Hoekom juis op Machadodorp gaan oorslaap? Moeilike vraag, want ons kon gemaklik verder gery het.

Dalk lok die fontein sekere besoekers. Die natuurskoon met heuwels, damme en wuiwende gras veral na die heerlike reën tot dusver hierdie somer kan ‘n lokmiddel vir ander wees. So ook die lewendige forelbedryf van die kontrei.

Dat die vlugtende Transvaalse volksraad in die Anglo-Boere-oorlog in treinwaens daar ‘n tydelike vesting gevind het, verleen aan die dorp ten minste ‘n historiese karakter.

Maar uiteindeklik was die deurslaggewende rede vir oorslaap op Machadodorp waarskynlik eenvoudig net die ongewoonheid daarvan. Ek wou dit nog altyd doen. Nou het ek.

Nog iets om af te tik op my lysie van slaapplekke met ‘n vreemde bekoring.

“KOOS SE GEBOU”

Maart 24, 2017 in Uncategorized

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by "Koos se gebou" op "Hennie se grond".

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by “Koos se gebou” op “Hennie se grond”.

By my afskeid van Naspers amper 20 jaar gelede het Ton Vosloo, uitvoerende voorsitter, “opdrag gegee” dat ek na die inwyding van die Perssentrum / Mediasentrum in Aucklandpark genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie.

Die laaste twee dekades brand ek van nuuskierigheid oor daardie gebou waarvan ek in ‘n sekere sin die vergete vader is. Ek het die grond uitgekies; dit maak dit as’t ware “my plek”, al onthou niemand dit nie.

Die opdrag het in 1997 van Ton na my gekom: soek vir ons grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het Jan Malherbe, noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Ons het intensief gesoek.

Die middag toe Jan en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, ten einde laaste vir my die perseel gaan wys (‘n hoek van die ou Johannesburgse buiteklub) was ek in die wolke. My woorde was: “As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop.”

As Naspers se hoof van koerante was ek geruime tyd ten nouste betrokke by die projek. In ‘n stadium moes ek sterk walgooi. Die nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlike stuk grond verkoop.

Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos by Die Volksblad) – waarmee ek in beginsel dit van harte eens was. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.

Die gebou self het eweneens ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman Krige toegeken.

By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp teen die einde van 1997 het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en aan die verkeerde adres gerig.

Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. Darem nie oor hierdie besigheid nie!

Die ontwerp van die gebou is daarna teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou oprig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.

Oor hoe “Koos se gebou” op “my grond” lyk, het ek baie gewonder. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.

In Desember 2016 het ek begin voorbrand maak om tog wel te gaan kyk. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Buiten vir my nuuskierigheid oor die gebou was ek darem self ook ‘n Beeldman.

Van 1974 tot 1977 was ek die eerste nuusredakteur, en daarna assistent- en senior assistent-redakteur. In 1980 het ek redakteur van Die Volksblad geword. In 1982 is die redakteurkap van Beeld my aangebied. ‘n Terugverhuising na Johanesburg was uit ‘n logistieke hoek egter nie vir my haalbaar of wenslik nie. Maar albei die koerante is na aan my hart.

Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging kort na my boodskappie aan Barnard Beukman op pad was. Op Donderdag 9 Maart het ek toe die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en my Randse gasheer, kollega Herman le Roux, uitgerol.

Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete. Oral is foto’s geneem.

Die ou gebou in Millerstraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie modern nuweling is in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke hedendaagse gerief.

Indrukwekkend maar so stil.

Indrukwekkend maar so stil.

Dit tref net dat die gange en kantore so stil en leeg is. Jy mis die geroesemoes van die koerant soos jy dit geken het. Die gebrek aan mense, stemme, geluide en aktiwiteit is nogal neerdrukkend. Die boodskap is maar net nog ‘n teken: in die medialandskap van vandag raak die gedrukte koerant ‘n al hoe kleiner spikkeltjie.

Die geheelindruk van “Koos se gebou” is, ondanks al die natuurlike lig, byna somber.

Hierdie gryse veteraan is nietemin in sy noppies dat hy uiteindelik die knoop deurgehak het om weer ‘n voet op daardie boomryke stuk aarde te sit wat in 1998 op sy aanbeveling van die Johannesburgse buiteklub aangeskaf is.

“Hennie se grond” was ‘n goeie koop.

VOLBLOED-VOLKIE VIR ALTYD

Maart 22, 2017 in Uncategorized

Formeel, voor Volkies (plus drie "jong" onnies uit ons era).

Formeel, voor Volkies (plus drie “jong” onnies uit ons era).

As ek die Volkiematrieks van 60 jaar gelede moes evalueer vir ‘n rapport, sou ek oor die simbool vir beweeglikheid (noem dit ons “ars mobilitas”) twyfel. Party is verrassend hups. Ander kamoefleer dit doelgerig, maar loop bra moeisaam.

Gelukkig vir laasgenoemde was ons 60-fees op Saterdag 11 Maart 2017 by ons alma mater op Potchefstroom oorwegend op plat aarde. Met te veel trappe klim, sou dit kon lol. Kollektiewe prestasie? Tog wel ‘n soliede slaagsyfer.

Die prestasiekurwe beur opwaarts wanneer dit by hartsake kom. Van al die soete herinneringe was dit veral daardie met ‘n romantiese inslag wat selfs die verlepste oë vrolik laat vonkel het (noem dit die “ars romantica”). In die algemeen word ‘n “cum laude” hier toegeken.

In een geval is ‘n “summa cum laude” aangewese. Johan (Blommetjie) Viljoen het vir Wena (Louw) de Kock met wie hy in standerds sewe, agt en nege gekys was, ‘n pakkie kaartjies en briefies saamgebring waarin sy in die dae van hul jonkheid haar hart uitgestort het. Johan se jong vrou, Erika, is gelukkig ‘n geduldige eggenote met ‘n goeie humorsin.

Informeel, voor Jack Pauw.

Informeel, voor Jack Pauw.

Piet en Hettie (du Toit) Otto het ‘n matriekliefde verteenwoordig wat tot ‘n huwelik geblom het – trouens tot sommer twee huwelike! Die twee was geskei. Toe mis hulle mekaar te veel en trou weer. ‘n Tweede skoolkys wat ‘n huwelik geword het, was diê van Koos en Ina (van der Westhuizen) van Niekerk. Hul name pryk op die muur van herinnering wat helaas al op 25 (uit 81) staan. Dit moet waarskynlik meer name bevat. ‘n Klomp matriekmaats is onopspoorbaar.
Twee flinke vryersklonge van weleer, Anton Lombard en die uwe, het voor flitsende kameras hul gades, Leonie en Tokkie, terstond omhels agter ‘n pilaar by Oom Frans de Klerk se biologielaboratorium, nou die personeelkamer. Destyds moes ons Blommetjie en Wol Steyn betaal om foto’s van ons soenery te neem. Ses dekades later het dit ons niks gekos nie.

En, boeta, toe die klomp die skoolsaal instap, moes jy die feesgangers soos bye sien afpyl op die hoekies onder die galery waar amoreuses in 1957 fliekaande handjies vasgehou het en so. Gaudeamus igitur ….

Hoekom al die Latyn hierbo: die “ars mobilitas” (kuns van beweeglikheid), “ars romantica” (kuns van die romantiek), “cum laude” (met lof) en “summa cum laude” (met die hoogste lof)? Om ‘n uitstekende rede. Die skrywer hiervan is naamlik een van ‘n vyftal wat van 1954 saam in die Latynklas gesit het. Soos by vorige reűnies was die vyf weer voltallig teenwoordig. Die ander vier is Willem Hartzenberg (duxleerling), Ferdinand Preller, Koot Bosman en Giel de Swardt.

Sestien klasmaats het opgedaag (party was te broos om te kom – of te kort getroud met ‘n nuwe lewensmaat, soos Santjie Conradie!) Dat die Latynklas vir amper 33.3 % van die opkoms gesorg het, verdien dus gewis ‘n lourierkransie en ‘n “Laureatus”-balkie om te dra onder die lapelknopie wat ons elkeen ontvang het: 100% Volbloed-Volkie. Dit verdien ook vermelding in hierdie blog.

Ander statistieke: dertien van die 16 teenwoordiges was seuns (amper ‘n rugbyspan), twee van die drie meisies weduwees, Wena en Bettie (Kilian) Fourie), een ‘n oupagrootjie, David (Dok) Malan en drie Oud-Wilgenhoffers uit Matieland, die here Hartzenberg, Preller en Van Aardt du Preez. Almal het die wonderlikste kleinkinders – natuurlik!

Die ou bande is vinnig heg gesmee. ‘n Toer deur die skool en koshuise het plek-plek sleg vasgeval. Die arme gidse moes meeding met die lus vir gesels. Tot hul eer was hulle tot die einde prysenswaardig lankmoedig – so ook die spyseniers wat die (heerlike) kos moes warm hou.

Wat almal verheug het, is hoe goed “ons skool” opgepas is. Nuwighede val op soos ‘n gedenktuin vir ontslape onderwysers, ‘n ouditorium waar Oom Stompie Steyn se wetenskaplaboratorium was, en heinings waar voorheen nie heinings was nie; een tot om die onderste slaapkamervensters by die meisieskoshuis Ons Hoop waar by geleentheid nagtelike drukkies gaan uitdeel is.

Maar selfs na 60 jaar (60 jaar!) voel jy dadelik weer tuis in die vertroude omgewing. Jy beleef ‘n skielike terugkeer van bruisende energie. Die lus pak jou amper om uitgelate saam op te draf op die netjiese sportvelde waar juis ‘n groot skoletoernooi aan die gang was.

Middagete was in Jack Pauw se eetsaal. Die vertrek lyk deftiger as die een waar ek en mnr. Jack Slabbert mekaar sleg misverstaan het. Kon hom nie oortuig nie van my standpunt dat ‘n krawat mos ewe goed is as ‘n das (wat aandetes verpligtend was).

Wat baie spesiaal was, is om te kon aansit op dieselfde plek waar ek in 1957 tafelhoof was – en ‘n gewilde een nogal omdat ek my porsie botter om die beurt met die ander tafelgenote gedeel het. Het toe al my brood droog verkies. Ja, botter was destyds ‘n kosbaarheid en die spyskaart heelwat minder aptytlik as vir hierdie spesiale ete.

Jy roep die bakke stampmielies en hopies geel pampoen in herinnering terwyl die kelners tussen die opgetofte tafels beweeg met die wittetjies en die rooi. Jy onthou ook die konstante aanbod van “mystery balls” (ons naam vir frikadelle uit die Jack Pauw-kombuis).

Oor wat alles uit daardie kombuis opgedis is, het ons een aand oproerig geraak en op die B-veld gestaak. ‘n Ander keer was daar konsternasie oor ‘n minder verhewe tafelgebed van ‘n onnutsige Jack Pauwer: “Here, vergewe die hande wat die kos voorberei het.” Toe Koot so mooi vir ons bid, kon ek ‘n glimlag oor oor daardie koswessies nie verhelp nie.

Regtig buitengewoon deftig is die nuwe koshuisbadkamers. In ons tyd was dit Spartaans. Nou is dit net teëls, glas en spieëls waar jy kyk. Als skitterblink. Veral die herboude Blok A (nou Blok C) lyk ná twee jaar gelede se brand plek-plek soos ‘n hotel. Die slaapkamertjies het gedoriewaar deure (pleks van gordyntjies wat enige oomblik oopgepluk kon word), en die matrasse is drie keer so dik soos ons klapperhaar-modelle van weleer.

Ek gaan soek die kamer wat ek en Wiekie Moolman in matriek gedeel het, en raak weemoedig. Ons vriendskap kon selfs ons verliefdheid op een meisie verduur. Nou is my ou maat een van die afwesiges weens ouderdomsverwante gesondheidsredes.

Die Sondag ry ek verby die statige NG Moederkerk naby die stasie, waar ek in my matriekjaar ook die “Boerematriek” afgelê het (ek was toe 16). Ons leraar was ds. Bey Naude, later so ‘n bekende nasionale figuur. Ek ry verby ‘n “rank” van Girls High-meisies op pad na die Engelse kerk, en onthou toe die Volkiemeisies netso in uniforme gelid op pad kerk toe, ry op ry in hul wit rokkies en met wit hoede op hul koppe.

‘n Verlangende hartseer-gevoel wou-wou weer my hart binnekruip. Maar oorheeresend was die gevoel van dankbaarheid. Oor die voorreg om juis in daardie tyd ‘n “volbloed-Volkie” te kon wees, met daardie maats, daardie onderwysers … ja, selfs daardie Jack Pauw-kos.

Die woorde van die skoollied het ek op pad na Johannesburg saggies bly prewel: “En hier het ons ‘n skool gebou, die Volkskool by die Mooirivier. Al swerf ons ook die lewe in, ‘n brokkie van ons hart bly hier!”

EREWAG VAN MOEDER NATUUR

Maart 16, 2017 in Uncategorized

IMG_5162 - Copy

Ons ry onder blareboë deur verby ‘n erewag van bome wat fier in gelid staan in hul seremoniële groen uniforms, kraakvars en blink gepoets, asof ‘n hoë indoena op besoek kom.

Ons plus-minus 50ste besoek aan Sabiepark begin op ‘n heuglike noot. Waar in Augustus 2016 niks was nie, staan wuiwende grasvelde. Waar woestyn was, bewe wit pluime in die wind.

IMG_5166

Die groen is amper oorweldigend – en opnuut die klinkklare bewys van die wondermag van reën. Die droogte van 2016 is stadig gebreek, met 5mm in Oktober en 67 in November. In Desember is 80 mm ontvang, in Januarie ‘n heerlike 203 en in Februarie 102. Vir Maart staan ons op 30mm.

Die dankbare veld het dramaties gereageer. Op die syfer-riool, gewoonlik maar kaal en dor, raak die klein diertjies weg in die welige gras. In die digte struike skuil die bosbokkies byna onsigbaar, tensy ‘n oortjie roer.

Van die winter se olifantskade, neweproduk van die droogte, is feitlik niks meer te sien nie. Die wonde is deur blareverbande bedek. Die raasblare wat op Tarlehoet se werf omgestoot is op soek na kos, bereik al weer ‘n skotige hoogte, hoewel in hul nuwe gedaante meer digte bos as boom.

Van die watergatjie steek net ‘n stukkie uit. Dis boordensvol – nie nodig om die kraan oop te draai nie. Die blou swembadseil hang uier as of dit wil skeur onder die gewig van die water. Die kinders se dammetjie verdwyn in die lang gras.

IMG_5177

Die impalalalies teenaan die stoepie spog met groter, blinker blare as ooit, die aangeplante aartappelbosie wat nog altyd maar sukkel, lyk goed op koers en die strategiese aalwyne met hul stekelrige, vlesige blare beur soos klein monumentjies bo die gras uit.

Siyt op die stoep en jy hoef nie eens die ore te spits nie; van die Sabierivier se kant kom ‘n ononderbroke behoorlike gedruis van sterk waters.

Die eerste nag gewaar ons in die maanlig in die veld deur die kamervenster ‘n spierwit kol, soos sneeu. Vroegoggend is Tokkie uit om te gaan ondersoek instel. Dis ‘n digte stuk gras met ‘n witter saad as die res. Ook in die skemer staan dit sterk uit.

In Maart 1998 het ons Sabieparkers geword. Op 15 Maart daardie jaar het Tokkie haar 52ste verjaardag hier gevier. Vriend en kollega Herman le Roux het in ons gasteboek geskryf: Die bobbejane het in die sitkamer baljaar en Tokkie het met volmaan verjaar.

Gelukkig was op 15 Maart 2017, haar 71ste, geen bobbejane in sig nie. Die volmaan was nie meer heeltemal vol nie. Maar ‘n fees was dit weer eens met eers ‘n ontbyt saam met vriende by die Skukuza-gholfbaan en die aand die onoorteflike wors van Boet en Jan van Witrivier op die kole, growwe mielielmeelpap uit Delmas, ‘n koue wyntjie uit die Kaap en ‘n heerlike geplas in die swembadjie onder die Melkweg en omring deur die bos.

Vir wie moet ons bedank vir die skitterskoon water in die swembadjie ? In hierdie geval nie moeder natuur nie maar moeder Tokkie. My vrou ken die kuns met chloor.

Oor Tokkie se “verjaardaggeskenk” praat ons liewer nie. Dis ‘n dure. Ná 19 jaar het ons sonkragstelsel die gees gegee. ‘n Nuwe reguleerder en nuwe batterynes was nodig.

“Tokkie se batterye”, noem ons die nuwes. Mag dit vir my vrou van 50 jaar nog veel lig gee.