TOT SIENS, OU VOLKSBLAD

September 17, 2020 in Uncategorized

Natuurlik bêre ek ‘n laaste uitgawe van Volksblad. Die koerant van 8 Augustus 2020  – opskrifte: “Einde van ‘n era – Die laaste gedrukte uitgawe van Volksblad” – hou ek saam met ander versamelstukke in ‘n verslete aktetas van buffelvel in my studeerkamer.  Die koffertjie self is simbool van ‘n era wat verby is. Dit staan ongebruik daar sedert my aftrede einde 1997.

Oor waar die heel laaste Volksblad beland het, wonder ek. Het iemand op die gesogte eksemplaar beslag gelê om hom as kleinood te bewaar? Gaan hy in ‘n glaskas  teen ‘n muur kom? Is hy doodgewoon in ‘n pakkie saam met ander koerante gebind en by ‘n winkel of kafee vir R10,20 aan ‘n onwetende koper verkoop?  As ek in Bloemfontein was – nie 1 000 kilometer ver op Melkbosstrand nie – sou ek graag my hande op hom wou lê.

Ek sou graag in die drukkery wou wees terwyl die digitale meter van die massiewe litografiese Goss-pers die laaste eksemplare aftel en die werklikheid by al die teenwoordiges insink: “As hy nou stop, dan stop hy.”

Dit sou ‘n somber oomblik gewees het; ‘n oomblik van tasbare stilte en skielike doodsheid – toe die weë skei van die Goss en die koerant waarvoor hy in beter dae spesiaal gekoop is sodat hy sy beeld van “Vaal Boertjie” kon afskud en met moderne volkleur-mededingers in voorkoms saamgesels.

Ek, dosyne huidige en gewese Volksbladders oral oor die land en ‘n menigte verknogte lesers sluk maar swaar aan die einde van die papierkoerant. Nà 116 jaar – hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink? – het die gedrukte Volksblad meteens ‘n gister-ding geword. ‘n Ander toekoms wink. Die era van nuus op die slimfoon, tablet en rekenaarskerm het aangebreek vir baie wat nie daarvoor lus of gereed is nie.

‘n Vriend van baie jare, Andrew Murray, het die teenwoordigheid van gees gehad om nog ‘n element van die slothoofstuk van ons Volksblad soos ons hom geken het, te verewig.  Toe die koerant oudergewoonte vroegoggend in Albrechtstraat, Bloemfontein, deur die hek op sy motorpad beland, is hy gewapen met sy kamera by die voordeur uit.

Op die geplaveide oprit het die klein bondeltjie, netjies opgevou en met ‘n toutjie vasgebind, soos elke ander oggend gewag.  Al verskil: dit was nie net nog ‘n oggend nie.  Dit was die laaste een. Andrew se kamera het geklik. Oomblikke later het ek, aangedaan, die e-pos op my rekenaar oopgemaak.

Die eensaamheid van die klein koerant op die groot motorpad was ‘n neerdrukkende beeld.  “Verlorenheid” sou jy die foto kon noem as jy daarvoor ‘n naam sou soek soos vir ‘n kunswerk.

Ek het die foto op ‘n paar plekke op sosiale media gelaai – tog ironies, die rol van die nuwe tegnologie in die proses om oor oue te rou.  “Bekyk die toneeltjie goed. Dit is iets wat jy nooit weer sal sien nie,” het ek met stygende bewoënheid by die foto geskryf.

Verder: “Die hartseer-toneeltjie het ‘n knop in Andrew se keel en ‘n traan in sy oog gebring, skryf hy. Ook in myne hier op die verre Melkbosstrand”

Nie net vir die redaksie, produksiepan, bemarkers en lesers was die uitgawe van 8 Augustus 2020 ‘n totsiens-koerant nie. Natuurlik ook vir die knape wat vroeg opstaan om die nuus vroegdag by intekenare se hekkie of op die voorstoep te besorg.

Koerantverkopers by verkeersligte in Bloemfontein, Kimberley, Welkom en elders was die oggend vir oulaas op hul pos. Daarna het hulle stil-stil verdwyn, elkeen in sy eie rigting. Nuusplakkate, so lankal ‘n permanente faset van die stedelike landskap, het tegelyk van die lamppale verdwyn en saam met die gedrukte koerant museum toe verhuis. Relieke van ‘n tyd wat verby is.

Plek-plek is daardie laaste oggend by verkooppunte lang trane gestort. Soos by die boeremark. Die rapport wat afleweraars en verkopers met hul vaste klandisie opgebou het, was in baie gevalle ‘n hegte een, en vir sommige was die afskeid soos van eie familie.

“Afskeid is ‘hartseer en aaklig’” was die voorbladopskrif van die gedenkuitgawe wat op Vrydag 7 Augustus verskyn het, en wat vanselfsprekend ook ‘n plek in my aktetas met spesiale memorabilia vind.

Hóé hartseer en hóé aaklig.

Aan die ses oud-redakteurs wat nog in lewe is,  is die geleentheid gebied om in die gedenkuitgawe ‘n afskeidsboodskap te skryf. Myne eindig ek met die woorde: “Laat Heer U seën steeds op hom daal.”

Ryke seën van Bo  – dit is my innige en opregte wens vir Volksblad in sy nuwe digitale gedaante op die Netwerk24-platform.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.