MET STORM GEGROET

Januarie 9, 2020 in Uncategorized

So ‘n stormagtige verwelkoming het ons in twee dekades nie in die Laeveld beleef nie: die donker hemel wat as’ t ware soos ‘n stuk lap oopskeur en die water in emmers laat neerstort.

Dit gebeur toe ons Sondag van OR Tambo af per bus in Nelspruit opdaag.  Johan moet ons daar kom haal met die Honda.  Min weet ons watter stryd hy voer om die taak te kom verrig. Hy ontdek iets aan die Honda waarvan ek nog nooit in my 79 jaar gehoor het nie. Weens ‘n fout in die bedrading – skynbaar – stroom die warm lug oral in sodra jy die ligte aanskakel.  Ja, Gevolg?  Die ruite wasem terstond toe.  Gelukkig kry Johan ‘n handdoek in die kar, maar maklik was dit nie: om met die een hand die kar in die pad en die ander die voorruit darem effens deursigtig te hou.

Hoe lank die storm aangehou het, weet ek nie. Nelspruit se strate was omtrent riviere. Ek was in die gietende reën skoon verdwaal – het in ’n stadium geglo ons is op pad terug Witbank toe! In, elk geval, ek en Tokkie het plekke geruil. Sy is tot  beheer van die handdoek gepromoveer –‘n deksels uitdagende taak. By Tarlehoet het ‘n ongeduldige Migael gewag. Hy soek Oupa en Ouma dadelik – maar dadelik in die swembad! Die aand het die ribbetjie op die kole gesis.  Geen teken van reën nie.

Die tipiese Laevelde donderstorm volg op ‘n taamlik onstuimige ontwrigting van die Van Deventers (juniors) se Kersmaal op Tarlehoet se stoep. Johan, Mariza, Migael en Kenny (M se onderwyser/versorger) was onthuts toe ‘n meneer met onheilspellende geel strepe skielik uit die stoep se grasdak plons terwyl hulle vir middagete aansit. ‘n Takslang (ook bekend as voelslang) – ‘n dodelike slang waarvoor geen teengif nog ontdek is nie, was my langafstand-identifikasie.

Slang se kind het later tussen die houte in die braaiplek verdwyn. Toe Sabiepark se slangvangers sy avontuurtjie kom kortknip, ontdek hulle ‘n maat. Twee slange aan ‘n Kerstafel. Laat ‘n mens nogal ril. Nie elke dag se ding nie. Nog ‘n ongenooide besoeker was ‘n veldlikkewaan op die motorafdak.

Vir wat dit werd is, was my identifikasie heel uit die kol. “Oom Hennie, dis ‘n skadelose westelike geelpenssandslang,“ het Lorinda  Steenkamp   van hoër op in Wildevy laat weet. Sy is ‘n kenner. Ekskuus oor my ‘ligte mistykie’

Pluspunte so op die Kersdag was die span VanD se eerste sien van die park se nuwe swartwitpense. Op hyl lysie is o.m ook .’n luiperd in die wildtuin,  olifante, buffels en seekoeie by die piekniekplek, wildebeeste, bloukuifloeries by Tarlehoet en  nagapies. Minder aangenaam was dit om ‘n wildebesie met ‘n gebreekte been raak te loop.  Hy moes uitgesit word, soos een met ‘n gebreekte nek ‘n paar dae tevore. Waarskynlik hiëna se werk.  Laasgenoemde is egter net gehoor. Nooit gesien nie

Ek en Tokkie soek die swartwitpense – nuwe statussimbool van Sabiepark – nog vergeefs. Wat ons aangenaam verras het. is die vordering met rasseskrede van ons troetel-appelblaarboompie agter die huis. Hy het maar lank gesukkel. Ook die aartappelbos wat die uwe in ‘n stadium as dood gesertifiseer het, is in groen getooi. Om nie te praat van al die rosyntjiebosse wat langs die swembad opgeskiet het nie.

Ons hoor aaneen die Piet-my-vrou. Die bosveldsvisvanger is vreemd stil. Saans is die paddas bra luidrugtig. Die hiena bly roep maar kruip weg.

‘n Onafgehandelde taak wat soos ‘n aflosstokkie van die een span VanD aan die ander span VanD aangegee is, is die dophou van die kragstelsel se kodeliggies wat die stand van die batterye verraai.  Dié openbaar sedert opgradering om ‘n elektriese yskas (groot aanwins!) te kan aanskaf, nogal ‘n wispelturigheid. Die vrees is gedurig aanwesig dat die spulletjie ‘n Eskom op ons kan trek.  Sal later rapporteer of ons die kwale – soos die Honda se lugversorger s’n – kon uitsorteer.

En die swembadjie? Natuurlik ‘n fees in die Laeveldse somerhitte. Oupa en Ouma het hulle heel gewillig deur Migael laat opkommandeer om saam die water te kom geniet.  Net dankbaar hy is hier weg sonder ‘n paar tande minus.  Soos hy vreesloos van die een muurtjie na die ander spring, het Oupa elke keer laat ys vir ‘n smesj.

Oor Ouma se beroemde  “renostermelk” het ek al vantevore met lof hier geskryf. In die drankkabinet is met komplimnte van die VanD’s nou ‘n professionele weergawe: ‘n Royal Rhino African- roomlikeur. Kom nogal in ‘n houer op ‘n haar soos ‘n renosterhoring.  Ons brand om te proe. Vanaand is dalk die aand!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.