MET SLAP PAP IN ‘N WIP

Februarie 5, 2019 in Uncategorized

As ek die uitgewer van die omstrede boek Die seuns van Bird Island reg verstaan het, is dit geskryf en gepubliseer in die hoop dat dit tot die eerste behoorlike ondersoek na die nare bewerings sal lei.

Allerlei ondersoeke is wel aangekondig. Die Stigting vir Menseregte, die forensiese kenner dr. David Klatzow, ‘n private speurder en, les bes, die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming het ingespring, laasgenoemde reeds op 6 September 2018 op inisiatief van Tafelberg- uitgewers.

Die Bird Island-bohaai oor ‘n beweerde pedofielnetwerk op kabinetsvlak het presies ses maande gelede losgebars. Dit is seker nie onbillik nie om teen nou terugvoering van daardie ondersoekers te vra. Watter “nuwe onthullings” of waterdigte getuienis teen ministers wie se name deur die modder gesleep is, is oopgekrap? Hoeveel geloofwaardige slagoffers is “opgespoor”? Hoekom is alles aan daardie front so doodstil nadat, na bewering, “baie nuwe inligting” in die polisie se hande geplaas is?

Terwyl eenvoudige vrae soos bogenoemde onbeantwoord bly, bly die geldigheid van die boek sterk te bevraagteken. Dan kan ‘n mens net raai wat die raaiselagtige beweegredes vir publikasie van soveel ongetoetste fluisterstories was en waarom dit in die media as heilige waarheid opgevysel is.

Een prikkelende teorie is dat ons met ‘n venynige stukkie feministiese wraak op sterk manlike figure van die verlede te make het. Maar wat van die heer Minnie se onheuglike rol dan? Ander wonder weer of dit net ‘n oorywerige agteroorbuiging van ‘n misplaaste drang tot politieke korrektheid was.

Vir my lyk dit ná ses maande al hoe meer of ‘n gerespekteerde uitgewer, gerekende resensente en media van aansien in ‘n kollektiewe aanval van aansteeklike nagblindheid hul standaarde so verslap het dat hulle deur kwaadwilliges met eie agendas met slap pap in ‘n wip gevang is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.