AS SON DOOIERUS VAT …

Januarie 10, 2019 in Uncategorized

Jacob met sy byl.

Of ons ou mense weer ‘n somervakansie in Sabiepark sal aandurf, weet ek nie. By al die vreugdes – drie keer se heerlike reën, donderstorms in die verte, die geil groen van die veld; die blomme aan die katjiepiering, die haak-en-steek en andere; die sambokpeule; die paddakore; voëlgesang; die oes aan nuwe bokkies; oggendkoffie op die stoep; ons swembadjie, en wat nog – tap die hitte op die werklik warm en bedompige dae maar baie uit ‘n bejaarde lyf.

Daardie skroeiende dae is minder as die algemene persepsie; dalk net vyf of ses in ‘n vakansie van drie weke. Ander dae in Desember/Januarie is woon warm, matig of selfs koel ná die reën. Op minstens een dag was Tokkie in ‘n langbroek en met ‘n langmou-bloese. Sowaar. Nietemin: wanneer die son dooierus vat, begin sterk manne wonder …

Thomas met sy boek.

Ek skryf hier dus bitter-soet; ietwat morbied oor die verbygaande aard van sekere dinge; maar ook intens dankbaar vir die genot wat minstens 15 somervakansies sedert ons kennimaking met Tarlehoet in 1998 my en Tokkie besorg het, ondanks die voorspooksels van verbaasde vriende wat nie kon glo ‘n mens doen sulke dinge doelbewus en vir jou plesier nie. Asof die “Kaapse dokter” in Desember, Januarie so’n aantreklike alternatiewe opsie is! Maar in die Kaap is darem lugversorging. Dit tel vir punte.

As dit dan ons laaste somervakansie hier was, was die voorreg om dit saam met die Claassens-span van Welgemoed deur te bring, vir ons van betekenis. Met hulle is van kleintyd af oor die jare ‘n paar sakke sout in Sabiepark saam opgeëet.

Christopher (wat nou 10 word) het saam met Oupa en Ouma op 12 Desember aangekom. Sy kuier was die langste. Jacob en Thomas (14) het vyf dae later op Maandag 17 Desember op hul eie opgedaag. Om alleen te vlieg (waarvoor jy 14 jaar oud moet wees) en daarna met die City Bug van OR Tambo tot op Nelspruit te kom, was ‘n geskenk van ons. Brent en Marisa se huurkar het Saterdag 22 Desember by Tarlehoet ingeswaai. Hulle het ook tot op OR Tambo gevlieg. Hulle is Saterdagoggend 5 Januarie vroeg-vroeg weg.

Die kinders is tradisioneel by Tarlehoet se naambordjie afgeneem. Die kleintjies van destyds, op waggelbeentjies en in doeke, toring bo die naambord uit. Hulle is lenige jong mans wat kan langsteelbyl swaai, vure pak, braai, dik boeke verslind, ‘n stewige arm bied om Oupa uit die swembad te help klim, spykers slaan, skerpioene jag, raad gee en toekomsdrome droom.

Thomas het ‘n enorme leeslus. Hy slurp die spanningverhale van die Amerikaner Clive Cussler op (“The guy I read” – Tom Clancey.) Thomas het die vakansie oor die 1 000 bladsye (!) uit Cussler se pen verslind. Ek sien Thomas in my verbeelding hier op die stoep, verdiep in sy dik boek. Jacob kap vuurmaakhout dat die flenters spat – hoeveel stompe hardekool het hy nie gekloof nie! – werskaf met die kamera, maak stukkende ligte heel en is vol planne oor die lewe in die bos. My prentjie van hom is met die byl oor die skouer of die kamera in die hand. Christopher knoop met almal geselsies aan en steel harte met sy opgeruimde geaardheid. Hy was ook die woelwater in die swembad – ons moes later gaan medisyne soek vir sy seer ore! Ek sien (en hoor) hom vroeg tot laat duik en plas, of doenig by die vuur.

Christopher by sy vuur.

Al drie is fluks en verrig graag allerlei takies rakende die kosmakery. Hulle was geesdrigtige braai-assistente vir pa Brent, help graag vir Ouma en mamma Marisa in die kombuis met die een en die ander (Jacob maak ‘n smullekker pepermint-yskastert), en is meesters as dit kom by die dek van tafels met ‘n “bostema”. Wie se beurt dit is om te dek, was gereeld ‘n debatspunt. Thomas se kreatwiteit kom oor jare. Hy het duidelik sy broers aangesteek.

Die braavleis-aroma om Tarlehoet se lapa is soms virdie hiënas net te veel om te weerstaan. Verskeie paaltjies van die paaltjieheining en van Ouma se sonkragligies het in een aanslag in die slag gebly. Jacob was natuurlik aan die voorpunt met die opmetings en dinge. Al drie het Brent gretig help saag en hamer kap. Die heining is weer eksieperfeksie.

Die laaste paar dae van die somervakansie was Tarlehoet stil en leeg onder Jacob, Thomas en Christopher se ywer, humor, bedagsaamheid en slimstories. By Johan Lawson het elk ‘n deurlugtige Franse Frelon=knipmes present gekry omdat hulle “sulke voorbeeldige bos-seuns” is. Oupa het nie messe om uit te deel nie, maar hy ondersteun van harte die sentiment wat agter die geskenk sit.

Dankie, julle drie, vir prysenswaardige bydraes tot die somervakansie van 2018/2019.

Heerlike reen: 20/12/18 (17 mm), 3/1/19 (64 mm) en 8/1/19 (34 mm).

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.