FEES VAN VLEISVRETERS

Augustus 2, 2018 in Uncategorized

Vleis groei nie terug aan kaalgevrete bene nie. Met die harde werklikheid maak hiënas klaarblyklik maar moeilik vrede.

In Maart is ‘n kameelperd op ons motorpad dood – ouderdom of dalk ‘n slangbyt. Sy beendere lê tussen die tamboties gesaai. Tot aan die einde van die vakansie het hiënas steeds hoopvol kom kyk of daar nie weer iets te aas is nie.

‘n Ontdekking ‘n week of wat gelede is dat ook kameelperde nog in lewe graag besoek bring – nie as ‘n hulde-ritueel nie, maar om die oorblyfsels van hul bloedverwant te kou. Lekker magnesium in daardie bleek beendere opgesluit, aldus die kenners.

Die vleisfees in Maart moet iets ysliks gewees het. Buiten die kaal bene het die sparretjie-heinings om die lapa’s daarvan getuig. Knaagmerke was oral. Een hekkie is total verinneweer. Blykbaar gemeen die paaltjies kan nuttig as tandestokkies ingespan word, reken Tokkie.

Die kleur en tekstuur van dammetjie se water verklap dat dit waarskynlik as yskas moes dien. Die sluipende lywe wat die lig van die “gorilla” aktiveer, dien ter stawing.

Drie nagte by Boulders was ‘n heuglike hoogtepunt. Twee klipspringer-parades, groot olifanttroppe wat vier, vyf keer ‘n dag besoek bring, buffels soos tampans om die watergat en, les bes, twee resident-muskeljaatkatjies by die braai het die kameras laat oortyd werk.

Vier klipspringers woon in die rotskoppies om die kamp. Twee keer het hulle hul tuiste verlaat en in ‘n ry in die natuurlike voëlbadjie vlakvoor ons oë kom drink.

Orpen2 was selwers weer ‘n heerlikheid, Maar die Kollegemanne is nou almal hier rondom 80. Op die oomblik heers nog onsekerheid of die tradisie ‘n 8ste jaar sal kan beleef.

By Tarlehoet was die bloukuifloeries amper nog aktiewer as die hiënas. Hulle het kom smul aan die reuserosyntjies, kom drink uit die watergat (ook in die kinders se plastiekdammetjie) en kom bad in die voëlbad. Mooier foto’s van die pragvoels is nog nie hier geneem nie. Gekroonde neushorings, tarentale, fisante was goed verteenwoordig in die reënboognasie van die gevleueldes.

Njalas het meermale hier rondgestap en ook uit die watergat gedrink. By die piekniekplek het ‘n kameelperd en rooibokkies ons verras deur by die olfante se plek in die Sabierivier te kom drink.

Ons peetkind Jaco van Wyk en die tweeling, Bernard en SJ, kon die paddas in die watergat identifiseer en het telkens een gaan uithaal vir ‘n fotosessie.

Die hoeveelste Sabieparkvakansie was dit? Moet al in die omgewing van 50 wees. Vyftig of nie vyftig nie – weer eens het die tyd hopeloos te vinnig gevlieg.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.