OP TOKKIE SE SPORE

November 18, 2017 in Uncategorized

Hertzogstraat 5.

Amper so warm soos op 31 Desember 1966, ons troudag. So het Bultfontein Sondag 12 November vir ons gevoel. Ons het op Tokkie se spore gaan loop.

Eerste stop op die dorp was dan ook Hertzogstraat 5, jarelange tuiste oorkant die kerk van Tokkie, haar ouer broer, Fanie, en hul legendariese weduwee-ma vir wie almal lief was, “Tannie Marietjie”. In daardie huisie het Tokkie by lamplig of ‘n kers in ‘n emaljeblaker geleer vir matriek in 1963. Die voorhuisie is oorheers deur haar klavier: ‘n Zimmerman. Daarop was sy ‘n klein virtuoos.

By die draad-voorhekkie van die huisie wat intussen taamlik verslete geraak het, het ek Tokkie afgeneem. Dis die hekkie waardeur sy, ‘n brose 20 jaar oud, op haar troudag na die troukar, ‘n boer se Mercedes, gestap het – trourok versigtig opgelig dat die wit soom nie in die rooi Vrystaatse stof sleep nie. Die voordeur van die huis is intussen verskuif.

In die agterplaas, naby die agterdeur, staan ‘n sering wat ek goed onthou. Onder die boom, wat in die vyf dekades sedertdien mooi lyf gekry het, het ons op die voooraand van die bevestiging in die eg braaivleis en waatlemoen geëet. Fanie was die voorslag-braaier. Ná ete het ons vroeg gaan inkruip – ek in die spaarkamer van die buurtannie.

Kerktrappies.

Ons tweede besoekpunt was die kerk oorkant die straat waar die band 51 jaar gelede deur my neef, ds. Bertus du Plessis, gesmee is. Hy is later APK toe. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n stewige siersteengebou met ‘n hoë toring. As aflos-orrelis was Tokkie dikwels in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Ek het my vrou afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het.

Op die parkeerterrein was Sondag teen 12:00 net soveel, dalk selfs meer, motors as op daardie snikhete oujaarsdag by die troue van die Bloemfonteinse koerantman met een van Bultfontein se geliefde dogters. Die rede vir die baie motors het ons verneem by ‘n lidmaat wat in sy bakkie iets kom haal het. Dit was die gereelde gemeente-ete. Op die spyskaart was vis. Die Bultfonteiner – wat vir “Tannie Marietjie”onthou – het net geglimlag toe die Kapenaar met die CA-nommer hom vra hoekom dan nie liewer skaapvleis as vis nie.

Pa se graf.

Oorkant die kerk is die ou begraafplaas. Die plek is pas geskoffel maar lyk nogtans taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak. Sonder te veel moeite spoor Tokkie haar vroeg gestorwe pa, Kotie, se graf op. Dis hy wat haar die bynaam Tokkelossie gegee het, omdat sy so ‘n kortetjie was. Die granietsteen staan genadiglik nog stewig. Op die graf het ‘n jarelange vriendin, eintlik ‘n soort semi-sussie, Pepsi (Drienie) Maritz, ‘n mooi steentjie na die dood van “Tannie Marietjie” op die verre Melkbos op ‘n bed van wit klippies laat aanbring. Pepsi se ouers was boere, en sy het maar so saam met Tokkie in Hertzogstraat 5 grootgeword. Die steentjie is ‘n replika van die een op die nissie by die NG kerk Melkbos.

Ek neem Tokkie by die graf af sodat ‘n mens op albei stene die name kan lees. Daarna gaan soek ons na haar oupa en ouma Van Wyk se grafte. Van haar ouma Van Wyk het sy die naam Susara gekry: Gesina (wat van die Roux’s af kom) Susara. Ouma Roux is begrawe in die “nuwe” begraafplaas aan die Bloemfonteinpad. Om langs daardie besige pad te gaan rus, was ‘n gedagte wat skoonma niks aangestaan het nie!

Die skool.

Tokkie word voorts afgeneem by die groot naambord van die Hoërskool Bultfontein, wat in 1881 gestig is. So lees ek op die bord. In haar tyd was die skool ‘n klipgebou. Van die klipmure steek net hier en daar ‘n stukkie uit tussen die siersteenstrukture wat later bygevoeg is. In die saal, waar Tokkie ‘n geesdriftige volkspeler was – veral versot op die “galop”- het destyds kosbare skilderye gehang, o.m. van Pierneef en Maggie Laubser. Die saal se deur het sommer dag en nag oopgestaan. Ander tye gewees!

Wat opval, is die netjiese skool- en sportterrein. Ek sien nie die plate duwweltjies wat, volgens oorlewering, daarvoor verantwoordelik was dat Fanie so vinnig kon hardloop nie. Hy was die SA onder-19-kampioen in die 440. Die dorp het dalk aan ander fronte agteruitgegaan – van die state is die ene liederlike slaggate – maar die skool bly ‘n sieraad waarop die gemeenskap trots is. Die boere steek hand uit die mou en hand in die beursie om dit so te hou.

Saam met Pepsi (Drienie).

Ons laaste besoek van die kort kuiertjie is by Pepsi se huis in Stofbergstraat teenaan die Ooskerk. Die dorp het minstens drie groot kerke: twee NG en een Gereformeerd. Pepsi het pas afskeid geneem van matriekmaats wat 50 jaar gelede saam met haar in matriek was. Dit was hul reünienaweek. ‘n Bonus van die reünie vir ons is die bordjie heerlike eetgoed wat saam met die koffie voorgesit word.

Die vrou is op haar stukke. Die kwinkslae rol oor haar lippe en haar gul lag weerklink kort-kort. Danksy haar stories – o.m. oor hoe haar tone in ‘n Duitse jacuzzi aan ‘n Duitser se broek gehaak het – groet ons Bultfontein op ‘n vrolike noot; dalk vir oulaas.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.