‘N NAWEEK IN BLOEMFONTEIN

November 15, 2017 in Uncategorized


Tokkie en Oom Gert (Herman le Roux se foto).

Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.

Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad. Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.

Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.

By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang. Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is. Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.


Ek en Marlene by “Jan se boom”.

‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander. Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.

Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie. Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag. Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.

Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel. Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71). Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!

Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.
Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg. Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is. Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.

Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie. Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club … Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing. Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.


Tokkie en Meshack.

Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting. Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.

Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het) wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.

“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het. Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.

Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.