SO ONTHOU EK HULLE

November 3, 2017 in Uncategorized

Ons subtafel in die vroeë 60’s. Hoofsub is Jaap Steyn. By hom, staan Wiets Beukes. Dan sit ek (wat Jaap opgevolg het) en Willie Kühn.

UIT VOLKSBLAD VAN VRYDAG 3 NOVEMBER:

Oud-­Volksbladders van die afgelope dekades trek op 10 en 11 November in Bloemfontein vir ’ n reünie saam. Die koerant, sy sy mense en hul dinge word ook in herinnering geroep in ’ n nuwe boek deur oud-redakteur HENNIE VAN DEVENTER (1980 – 1992). Uittreksels verskyn hierby.

Bart Zaaiman, redakteur:

In die kantoor van die respektabele Oom Bart Zaaiman, oud-redakteur, is selde indien ooit sterk taal gebruik.

Op Vrydagaand 22 November 1963 het het uit Dallas, Texas, die skokstorie via Associated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy. Ek was op kantoor, en gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om Oom Bart, toe senior assistent-redakteur, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” is al wat hy gesê het, en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.

Die uwe het AP-kopie vertaal: Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Die konserwatiewe Oom Bart het egter afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is soos dit in die koerant gestaan het.

Wiets Beukes, assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger:

Op ‘n nippertjie na 60 jaar gelede het ek, kartonkoffertjie in die hand, in die somervakansie van 1958 van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop om my eerste van vele skofte vakansiewerk te verrig. Op Wiets Beukes, assistent-redakteur, se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis het ek met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak.

Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is: ‘n borrelende, dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld.

Die minsame vrygesel uit Brandfort was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het. Hy het my in sy silwer Borgward Isabella die redaksiekantoor gaan wys. Veral die teleksmasjiene, die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom, was betowerend. Vir my het die koerantman Wiets ‘n lewenslange rolmodel gebly

Johan van Wyk, skrywer van Stop van Myne:

Johan van Wyk het ‘n kwarteeu lank elke dag Stop van Myne geskryf; ‘n asemrowende 6 000 rubrieke of vier miljoen woorde. Die “Oom” het hy homself genoem. “Hoekom dan “Oom”? Van Wyk het ‘n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: “Dankie, oom. Dit was lekker.”

Johan van Wyk se rubrieke was deurspek met tussenwerpsels soos “hef ‘n siegret” of “hef a ding-dong day”. ‘n Keer het hy ‘n vername arts en politikus van die Konserwatiewe Party (KP) aangeraai: “Hef ‘n bedpan”. Dié het dit letterlik vertolk, sterk aanstoot geneem en diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelssprekende regter O. Galgut te oortuig daar word nie ‘n liggaamsfunksie bedoel nie; dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel. Aikôna. Daaraan wou sy edele nie byt nie.

Jan Scholtz, lid van die hoofredaksie:

In ons bostuiste in Sabiepark en op Melkbos is die balatenskap van die vakman-filosoof Jan Scholtz – – ‘n man met ‘n hartstog vir hout – ver van gering.

Op sy eerste besoek aan Sabiepark het jan vir my ‘n kierie uit sy werkwinkel saamgebring: ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat. Die handvatsel is ‘n ‘n gladde, skitterwit vlakvarktand. Van toe af is ek en my kierie in Sabiepark ‘n onskeibare tweemanskap. In my boshuis is ook ‘n sekelboslampie wat van sy vernuf getuig. Jan het vir die lampie sommer ‘n onopvallende weggooistompie uit my stapel braaihout herwin.

Sy skeppings sluit in ‘n koper-naamplaat van Die Volksblad se ou Albert-rolpers in ‘n ronde houtraam (soos ‘n outydse kollektebordjie) gemonteer, ‘n swaar houtknuppel en ‘n netjiese voorsittershamer.

Ek kon nie sy begrafnis bywoon weens Sabiepark se jaarvergadering. Die kierie is egter saam met my. Dit was my persoonlike klein huldebetuiging. Elke tree wat ek daardie naweek gegee het met die kierie was ‘n herinnering aan Jan en sy onsterflike liefde vir hout.

Piet Theron, lid van die hoofredaksie :

Piet Theron, ‘n studentemaat, was in Kollegetehuis op Tukkies bekend as “Piet Pyne” weens ‘n rits rugbybeserings. In 1999 het sy derde seun, Pieta, op skool ‘n knap rugbyspeler, ‘n ernstige epilepsielyer geword weens ‘n verbroude blindedermoperasie. Dit het aan Piet en Petro ‘n nuwe, veel dieper, betekenis aan daardie bynaam opgedwing. ‘n Pad van pyn het op hulle gewag.

My kollega het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur, sonder enige ervaring, Pieta se sweisonderneming volledig oor te neem. Vir die oud-joernalis – self ‘n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde uitdaging. Maar nood leer bid. Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Ben van Rensburg, bekroonde motorskrywer:

In die skitterende span subredakteurs by Volksblad in die 1960’s was Ben van Rensburg die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van die ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy het onversetlik ‘n taalpuris gebly.

Een bynaam “Bennie Driepond”, het uit sy studentedae op Maties gekom. Tydgenote het hom so uniek soos ‘n driepondnoot geag. ‘n Ander was “Ben Wieletjies”. Dit verklap sy versotheid op motors. Hy het ‘n versameling speelmotortjies besit wat ‘n klein fortuin werd moet wees. In die 1960’s al het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie.


Fred Schnetler, bekroonde motorskrywer en lid van die hoofredaksie
:

Klein Fred Schnetler het verslaaf geraak aan motors nadat sy ouers hom vir sy vyfde verjaardag in 1939 ‘n stel van 12 Tootsietoy-modelkarretjies gegee het. Sy obsessie is gevoed deur ‘n onblusbare leeslus. Hy het ‘n ekspert oor veteraanmotors geword en onder meer ‘n deftige swart 1971 Packard met witwalwiele, sy gunstelingkar, gerestoureer.

Die oorsprong van Fred se liefde vir musiek is moeiliker naspeurbaar. y Hy het tydgenote gedurig verstom het met alles wat hy weet, van Beethoven tot Presley. Vriende het tot kort voor sy dood elk nog van hom op spesiale verjaardae ‘n uitsonderlike geskenk gekry: ‘n CD met musiek van sy of haar geboortejaar. Ek het vir my 70ste verjaarsdag in 2011 ene gekry met 1941 se onvergeetlike musiek wat te midde van al die troostelose ellende in die Tweede Wêreldoorlog geskep is. Dit is ‘n kleinood.

Pirow Bekker, hoofsubredakteur:

Pirow Bekker, oud-hoofsubredakteur, is in my oë die outeur van die beste koerantegedig in Afrikaans. Die tema van “Peins oor ‘n plakkaat is die daaglikse plakkaatskrywery in die kantoor van die senior assistent-redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman wat later lank redakteur was). Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig lees.

Oom Bart is nie maklik tevrede gestel nie. Hy had allerlei voorwaardes oor wat mag en nie mag nie, hoewel hy tog ‘n slag wou waag met die korter woord “dienders” vir polisiemanne. Hy is daaroor deur sy ondergeskiktes geveto.

Oor fatsoenlikheid was hy die hoofwagter op die mure. ‘n Reël waaroor Oom Bart onverbiddelik was maar wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilder ponies nie: “Bly asseblief net bo die nael / op ons bladsy een …” Íets soos “kaalgat dominee” (op ‘n Son-plakkaat) sou hom stuipe gee.

Alf Ries, politieke beriggewer:

Vir Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het Alf Ries in my tyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg. Die onverwagte verkiesing van ‘n nuwe NP-leier in die plek van PW Botha het in groot geheimhouding plaasgevind.

Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig van FW de Klerk se troonbestyging losgewikkel en daardie middag was dit die voorblad vol. Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Wynand Mouton, koerantverkoper:

Aan Wynand Mouton, rekor van die UV, dink ek graag as semi-“kollega” omdat sy eerste inkomste by Die Volksblad verdien is. Hy was een van die kranigste koerantverkopers. “Nantie se hoek” voor Cuthberts in Bloemfontein se Maitlandstraat was by almal bekend. Geen indringer sou dit daar waag nie.

Miskien is dit weens ‘n band wat in sy era koerantverkopertjie gesmee is, dat hy ‘n vriend van die koerant gebly het toe hy in die top-pos was. Dit kon nie altyd maklik gewees het nie, want die onbesonne streep in elke generasie se studente sorg soms vir sappige nuus. Miskien is dit ook as koerantverkopertjie dat hierdie onpretensieuse mens sy nederigheid geleer het.

As ek oor myself ietsie sou bysit, sou dit die volgende wees:

In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies. Een is vernuftige voetwerk. Só vernuftig dat ek ná 35 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kon sê: Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ‘n raaisel. Nie dat daar nie ʼn paar near misses was nie!

ʼn Moerige setteryvoorman het ʼn moersleutel teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig. By Beeld moes wyle Johan Parreira, ‘n bokser, een nag lyfwag speel: teen ʼn bladplakker met ʼn skerp mes in sy hand en moord in sy hart.

Later, in my redakteursdae, glo ek dat PW Botha my ná ‘n verbale aanslag graag fisiek te lyf sou wou gaan oor ‘n verwaanderige ope brief op die voorblad. My ongewaardeerde raad aan hom was dat ‘n afgetredene sy mond oor die politiek moet hou. Gelukkig het 800 km se telefoondraad Bloemfontein en George geskei!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.