ROTS-BALLERINAS

Augustus 5, 2017 in Uncategorized

Die klein klipspringer is nie om dowe neute nie as die ballerina van die rotse bekend. Die bokkie klouter op die punte van sy hoewe se kloutjies rats tussen die klippers rond. Hou dus gerus maar by ‘n rotsagtige heuweltjie stil. Bekyk die wereld rustig deur ‘n verkyker. Iewers sien jy dalk die profiel van die elegante bokkie met sy growwe, swart gespikkelde, bruingrys pels.

Het wel self al in die Krugerwildtuin een gesien wat stil soos ‘n standbeeld op ‘n padpredikant langs die besige H4-1-teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie staan, asook tweetjies in die middel van die H-10 tussen Onder-Sabie en Tshokwane, naby die Nkumbe-uitkykpunt, waar die uitsig van 180 grade ‘n kameelperd onder op die vlaktes van die Laeveld tot ‘n blote stippeltjie reduseer.

By die seldsame “standbeeldjie” naby Onder-Sabie het ek die oggend my voertuig heen en weer gemaneuvreer om die beste hoek vir ‘n foto te kry. Nie verbasend nie, het algou ‘n ander ryding propvol Wildtuinbesoekers langs my ingetrek. Die bestuurder het sy venster laat sak en hoopvol navraag gedoen: “Wat sien jy?”

Toe ek na die beweginglose klipspringertjie op die padpredikantjie beduie, het die man verontwaardig gesnork. Met ‘n “net nog ‘n blerrie bok” deur stywe lippe gepers, is hy haastig weer vort. Aan daardie insident het die boskamp Boulders se klipspringers my pas op ‘n baie spesiale manier herinner.

Boulders is, soos die naam aandui, tussen koppies met stapels rotse gebou. Sy skouspelagtige braaiplek is trouens teenaan ‘n steil rotswand. Klipspringers doen gereeld daarlangs hul rotsballet. Telkens kom die opgewonde uitroep uit daardie koers: “Klipspringer”. Dan gryp jy jou kamera en laat vat braaiplek se kant toe.

Op my eerste besoek het ek tussen die takke van die seringe deur ‘n paar foto’s van klipspingers gekry, en nou weer op die tweede ook, al is die bokkies taamlik skugter en kies hulle vinnig die hasepad as hulle onraad vermoed.

Laatmiddag op ons laaste dag in die salige kamp gebeur egter ‘n verrassende ding. Drie bokkies verlaat hul skuilplek tussen die rotse en kom in ‘n bospaadjie aangestap in die rigting van die dek waarop almal vergader is om ‘n ogie op die bedrywige watergat te hou.

Woerts, spring hulle op ‘n groterige alleenrots waar almal hulle mooi kan sien. Hulle staan in ‘n netjiese formasie met hul koppies na ons kant toe gedraai, amper asof hulle vir ‘n spanfoto poseer.

Toe gee die voorste enetjie, ‘n rammetjie met fyn horinkies, ‘n frisserige sprong. Dit word dadelik duidelik wat sy bestemming is: die natuurlike klip-voëlbadjie teenaan die die gebou, waar die kleurryke dassievoëls en ‘n nimmereindigende stroom blousysies hul dors kom les, saam met die bloustert-akkedissies en ander resident-gediertetjies.

Klipspringers is nie vreeslik afhanklik van water nie, het ek iewers gelees. Hulle sal wel drink as dit beskikbaar is, soos in rotspoeletjies ná reën. In die nomale gang van sake kom hulle egter goed oor die weg met die vog wat hulle uit hul vegetariese dieet van blare, blomme en vrugte verkry. Maar hier het hulle doelbewus kom drink. Geen twyfel daaroor nie.

Moet darem dan dadelik byvoeg: ek verstaan dit nogal as daardie pikante klip-voëlbadjie by Boulders vir ‘n klipspringer lyk soos ‘n rotspoeletjie ná goeie reën. ‘n Verbeeldingryke hand sit agter die ontwerp.

In elk geval, toe ons oë uitvee, is die eerste enetjie by die water, knak die rug en begin met diep teue die helder water geniet. Die ander twee het stragiese posisies op omringende klippe ingeneem, kompleet soos brandwagte. So kry elkeen ‘n beurt.

Toe die drie rustig in gelid wegstap, dag ek by myself: wat ‘n magiese oomblik! Ons begin dadelik bespiegel hoeveel mense al bevoorreg was om so ‘n intieme kykie in die wêreld van die ingogo (Zoeloe) of ngululu (Tsonga) te kry.

Die wellewende Johnson, veteraan-opsigter by die kamp, sê hy is bewus van die periodieke besoekies van klipspringers by die voëlblad. Klaarblyklik gebeur dit egter nie elke dag nie. Ons belewenis was onteenseglik baie besonders en ‘n yslike voorreg.

Op daardie oomblik beleef ek toe weer die insident op die H4-1 by die “standbeeldjie” helder voor my geestesoog. Ek hoor die gepynigde uitroep van “net weer ‘n blerrie bok”; die klank van frustrasie in daardie ongeduldig kêrel se stem.

En ek verwonder my opnuut aan die garde – nogal aansienlik in volume – vir wie selfs net die piets van ‘n leeustert in die verte groter wildtuin-satisfaksie bring as ‘n unieke ervaring met ‘n lieflike diertjie soos ‘n klipspringer. Ohopoho, soos kollega Johan van Wyk, se kommentaar sou wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.