WEDEROM, PROF. CHRIS!

April 13, 2017 in Uncategorized

Christopher, Thomas en Jacob in prof. Chris se kantoor. Links staan die gids, Trace Adamo.

Geen Standard & Poor kan hierdie “status” van Suid-Afrika afgradeer nie en geen All Black- rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie. Op ekonomiese gebied moet Suid-Afrika koes vir al die “rommel”. Op die rugbyveld word die Bokke maar sleg opgefrommel. Maar op mediese gebied kan ons steeds die bors ver uitstoot.

Met prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting amper 50 jaar gelede het hierdie ou landjie die ganse wêreld getroef. Daardie mirakel bly ‘n skynende lig vir Suid-Afrika, sy medici en sy voortreflike gesondheidsdienste.

‘n Besoek aan die “Hart-van-Kaapstad-museum” in die sierlike Groote Schuurhospitaal met sy swaar houtdeure en deftige koloniale ontwerp laat die hoogdrama van die nag van 2/3 Desember 1967 herleef.

Die toer van twee uur begin in die kamer waarheen die noodlottig beseerde Denise Darvall gebring is nadat sy saam met haar moeder naby die hospitaal in die straat omgery is. Dit eindig in die twee buur-teaters waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, haar hart met haarfyne sinchronisasie verwyder het, en die beroemde hartdokter self die hart onmiddellik in Louis Washkansky se borskas oorgeplant het.

In die teater.

Om die operasietafels staan die teaterspanne in hul uniforms om die bed of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien, ‘n geskenk van die Amerikaanse universiteit waar Barnard st Ph.D in twee jaar verwerf het pleks van die gewone ses. Die ontvanger van die hart se naam en besonderhede staan groot op ‘n swartbord geskryf – nes daardie epogmakende nag. Alles lyk spookagtig werklik.

Die horlosie teen die muur in die Charles Saint-teater staan op twee minute voor ses die Sondagoggend. Dit is die oomblik toe Washkansky se nuwe hart ná ‘n derde skok vanself begin klop het. Vir ‘n oomblik was almal stomgeslaan, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Die volgende oomblik het Christiaan Neetling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, die verwondering van almal verwoord: “God, dit gaan werk!”

Die geleide toer sluit in ‘n treffende huldeblyk aan die Darvalls in die herskepte slaapkamer van Denise met die outydse meubels, asook haar geliefkoosde langspeelplate op een bed uitgestal – sy was lief vir operamusiek – en ‘n gunstelingpop uit haar kinderdae op die ander. In die herstelproses het ‘n poppemaker glo groot geskrik toe twee swart inktrane onverwags uit daardie pop se glasoë biggel. Maar ek gaan nie daardie storie verklap nie …

In ‘n “laboratorium”, wat besoek word, lê die model van ‘n hond met ‘n oop borskas op die operasietafel oopgespalk. Hier is die ingewikkelde tegnieke oor jare op 50 honde verfyn.

In prof. Barnard se kantoor sit ‘n beeld van die beroemde man in die snyerspak agter die lessenaar, telefoon in die hand – so uitgeknip hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.

In die kamer waar die 54-jarige Washkansky 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het, loer sy een voet onder die laken uit. ‘n Slapband van Louis Lamour lê oop op die beddeken. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste sterk bly klop.

By Die Burger se voorblad van daardie dag.

Die museum se mure is versier met honderde foto’s, geraamde koerantvoorblaaie en briewe van lof en kritiek, ook van kinders. ‘n Mens mis die mure vol internasionale eerbewyse wat te sien is in die Chris Barnardmuseum op sy geboortedorp Beaufort-Wes (waar hy ook begrawe is). Al oplossing is om albei te besoek!

Omtrent geen aspek van die eerste hartoorplanting word nie aangeraak nie. Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte, Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die genot van sy nuwe roem, sy liefde vir mooi vroue en sy eensame dood in Ciprus, Griekeland, op 2 September 2001 weens ‘n akute asma-aanval.

Sy ken haar storie en kan op haar voete dink. In ons groep is bv. ‘n Poolse egpaar. Vir hulle het sy die storie van die narkotiseur dr. J. Ozinsky, ‘n landgenoot. Wanneer prof. Chris se berugte humeur uitbars, het Ozinsky eenvoudig gemaak of hy hom nie verstaan nie. Die twee het uitstekend klaargekom.

Die kleinkinders was geboei deur haar aanbieding van stof wat hulle basies reeds op skool geleer het, maar sonder die emosie, Trace se entoesiasme en haar onverbloemde trots as mede-Suid-Afrikaner van die hart-pionier. Ek ag haar hoog, in dieselfde klas as top-gidse wat ek op internasionale reise teëgekom het – o.m. op die eiland Malta.

Aan die stuk mediese geskiedenis het ek my eie herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad in Bloemfontein toe die byna ongelooflike storie hom begin ontvou in kopie deur hoofverslaggewer Harry Shaw wat van ons susterskoerant Die Burger bly instroom het. ‘n Geraamde voorblad van Die Burger van daardie dag hang teen die muur.

Ek dink ons het self ‘n skitterende voorblad gehad in die verre Bloemfontein. Sou dit sonder skroom vir die museum aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Chris Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die versie lui eenvoudig:

Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, prof. Chris!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.