‘H HUISIE VIR ‘N STORIE

Maart 30, 2017 in Uncategorized

As ek ‘n skrywer van storieboeke was, sou ons oornagtuiste in die golwende groen heuwels van Mpumalanga op Machadodorp – deesdae bekend as eNtokozweni – gewis iewers in ‘n storie opduik.

Die huisie is ‘n doodgewone plattelandse plekkie met ‘n beskeie, amper armoedige, voorkoms agter ‘n ruwe sementmuur, maar so tipies van ‘n era dat jou kameravinger in elke kamer jeuk.

Van die sierlike plafon tot die breë vloerplanke, vloerlyste en vensterrame van duursame hout – Oregon-den, raai ek – was vanmelewe hoogmode. Die ornate kaggels en ‘n Persiese mat in die sitkamer verleen ‘n waardigheid van weleer.

Van die meubels behoort ‘n kenner in oudhede sy hande te laat vryf. My keuse val op die outydse badkamerkassie, kompleet met wasskottel en lampetbeker. ‘n Riempiesbank en die soliede bedkopstukke van toentertyd behoort ook goeie pryse te haal.

Die eenvoudige voortuin adem dalk selfs des te meer ‘n plattelandse geur, met sy prominente suurlemoenboom, perskebome, druiweprieëltjie en beddings met afrikaners en kappertjies.

Op die stoep het ons forelpastei saam met ‘n wyntjie weggesluk terwyl die volmaan voor ons verrys. Die forelpastei het ons by Milly’s se padstal ‘n entjie voor die dorp gekoop. Moet dit nie mis nie. Wees by die padstal ook op die uitkyk vir Schoemans se growwe mieliemeel uit Delmas.

Die slagspreuk op die sakkie lui: So goed as die beste, beter as die meeste. Met die aanspraak kan ek nie fout vind nie. Dis nou pap daardie!

Die huisie staan langs die Old Mill-hotel. Sy ligging verklaar waarskynlik sy ietwat pretensieuse naam, Moulin Manor. Die struktuur, toerusting en dekor van die “manor” sal nie in elke kieskeurige se smaak val nie. Maar daar is drie slaapkamers – ‘n dubbelbed in een en ses enkelbeddens in die ander twee – en die beddegoed is eersteklas.

Vir my en Tokkie had die Moulin Manor by die aantreklikheid van die tarief boonop ‘n aansteeklike sjarme, al slaap ‘n mens weens die krakende plankvloere en die afwesigheid van ‘n alarm bra lig. Die lemmetjiedraad op van die tuinmure verraai die behoefte aan sekuriteit en die polsende sjebeenmusiek twee strate hoër dra nie by tot ‘n ontspanne gemoed nie.

Die dorpie met die Portugese naam – genoem na ‘n ingenieur wat met die bou van die spoorlyn na Mosambiek gemoeid was – vertoon maar ‘n neerdrukkende beeld van verwaarlosing. Dat al die strate eens geteer was, getuig van beter dae. Nou maak die slaggate hulle amper onbegaanbaar. Maar o, daardie wit NG moederkerk wat vorstelik oor die dorp troon, is steeds ‘n sieraad.

Die Elandsrivier vloei deur die dorp en daar is glo ‘n minerale fontein met buitengewoon helende kragte. Ek het dit nie opgesoek nie. Kan dus niks daaroor rapporteer nie.

Hoekom juis op Machadodorp gaan oorslaap? Moeilike vraag, want ons kon gemaklik verder gery het.

Dalk lok die fontein sekere besoekers. Die natuurskoon met heuwels, damme en wuiwende gras veral na die heerlike reën tot dusver hierdie somer kan ‘n lokmiddel vir ander wees. So ook die lewendige forelbedryf van die kontrei.

Dat die vlugtende Transvaalse volksraad in die Anglo-Boere-oorlog in treinwaens daar ‘n tydelike vesting gevind het, verleen aan die dorp ten minste ‘n historiese karakter.

Maar uiteindeklik was die deurslaggewende rede vir oorslaap op Machadodorp waarskynlik eenvoudig net die ongewoonheid daarvan. Ek wou dit nog altyd doen. Nou het ek.

Nog iets om af te tik op my lysie van slaapplekke met ‘n vreemde bekoring.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.