TOE SOEN EK DAAI SKYFIE

Maart 1, 2017 in Uncategorized

‘n Klassieke geval van die derde keer gelukkig; tegelyk ‘n neerdrukkende ervaring van die abortiewe eerste twee kere se groot gesukkel. Ter sprake is die geskiedenis van my lisensieskyfie vir my bosmotor, die 1999-Honda CR-V, wat uit sentiment steeds die registrasienommer CY 7755 dra.

Kom ons begin by die gelukkige einde – toe die vriendelike dame agter die glasafskorting in Atlantis die nuwe skyfie met ‘n breë glimlag orent hou. Vasbyt is uiteindelik bekroon. Eureka!

Dit was op Maandag 27 Januarie, ‘n volle twee en ‘n half maande nadat ‘n tjek van R543,00 op 16 Desember 2016 hoopvol aan die Stad Kaapstad se Voertuig-afdeling gepos is.

Waar daardie tjek ‘n laaste rusplek gevind het, weet niemand. Al wat ek weet is dat dit die Stad Kaapstad nie bereik het nie. As dit die regte bestemming wel bereik het, het dit in ‘n snippermandjie beland.

Nietemin, toe dit begin Februarie word sonder boe of ba uit daardie oord begin ek ongemaklik raak. ‘n Oproep na 086 010 3089 bevestig my vrese: die tjek is spoorloos.

Omdat CY 7755 van 8 Maart in Gauteng, Noordwes en Mpumalanga gaan rondry – waar die metro-valke ‘n reputasie vir buitengewone onverbiddelikheid het – kies ek die “vinnige” aanlyn-opsie. Op 10 Februarie word ontvangs van die betaling per e-pos erken.

Die voortgeskrewe tydperk van agt dae verloop – niks. Na 10 dae skakel ek weer 086 010 3089. Hou bitter lank aan. ‘n Meisie deel die slegte nuus mee: my geld is daar maar die lisensie is nog nie uitgereik nie. Het ek al die e-pos ontvang wat die fica-dokumente aanvra?

My moed sak in my skoene. Nog geen e-pos in dier voege ontvang nie, moet ek rapporteer. Ek verduidelik my penarie met die besoek aan Gauteng wat steeds nader kruip en my ongeneentheid vir die las van ‘n boetekaartjie op my voorruit om elke hoek en draai. Sy belowe om met ‘n opsigter te praat.

Toe ek die sesde keer skakel, lig ‘n hulpvaardige jong man my in: die agterstand met die verwerking van aanlynaansoeke is geweldig. Hulle trek nog by Januarie. Al wat hy kan adviseer: gaan staan maar in die tou by ‘n lisensiekantoor.

Wag nog twee dae – dalk beskaam die hoop tog nie – maar elke 24 uur tik ‘n dag op die kalender verby. Besluit op Maandag 20 Februarie: doen wat jy moet doen. Milnerton is berug vir lang toue. Maar wat anders?

Nog ‘n ontnugtering: die plek is oorstroom, nie deur mense nie maar deur water. ‘n Waterpyp het gebars. Kantoor is onbepaald gesluit.

Ek doen elke dag navraag: Dinsdag, Woensdag. Donderdag, Vrydag. Selle storie.

Op Maandag 27 Februarie bel ek taamlik desperaat. Nee, Milnerton is nog toe. Hulle werk daaraan. Watter alternatiewe doen hy aan die hand? Somerset-Wes, kom dit ná ‘n rukkie se oorweging.

Somerset-Wes, grote Griet! Dis 100 kilometer van hier. Twee uur se ry in kwaai verkeer. Kry ‘n kaart, sis ek deur dun lippe.

Hy kry die kaart. Brackenfell, waag hy hoopvol. Nee. Bellville? Nee. Durbanville? Nee. Al wat dan oorbly, is Atlantis. Ek hoor die man se geduld is so op soos myne.

Om 11:45 stap ek by die geboutjie in Atlantis in met my lang storie en dik spul dokumente. Die ontvangs is vriendelik en die diens flink. Gaan nie se hoe lank dit gevat het nie, want netnou word Atlantis deur Kapenaars van oral en elke windrigting oorval. Sal darem verklap: was betyds by die huis vir middagete.

Verstaan julle nou dat ek daardie skyfie gesoen het met die drif van ‘n skoolseun wat pas die plesier van daardie romantiese aktiwiteit ontdek het?!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.