MELBOS SE EIE DICK

Februarie 10, 2017 in Uncategorized

16427332_10155707008390190_8107047182674896866_n

Jare lank het jy van die straat af vir Dick Turpin in sy motorhuis op die hoek van Pelican Parade en Seagullstraat, Melkbos, dag in en dag uit sien houtwerk doen. Dit was sy fabriek waar hy sy aftreebesigheid, “Knock on wood”, bedryf het. Dit was ook sy heiligdom. Hier kon die wellewende man met die string skulpies om sy nek en ‘n welige snor sy onblusbare passie vir mooi hout uitleef.

Dick is sewe dae gelede op 3 Februarie, ‘n maand voor sy 80ste verjaardag, aan ‘n slepende longkwaal oorlede. Gister is in die NG kerk Melkbosstrand in Engels en Afrikaans van hom afskeid geneem. Glimlagte by ‘n gedenkdiens is deesdae nie vreemd nie. Om sommer met die intrapslag in die kerk breed te glimlag, het ek by die diens egter die eerste keer ervaar.

Yslik groot tussen die blomme voor die kansel – waar ‘n geraamde foto van die oorledene gewoonlik pryk – het ‘n groot TEREGSTELLINGSKENNISGEWING van Dick Turpin gestaan. Darem nie onse Dick (gedoop Desmond nie), die berugte Richard (Dick) Turpin – die sogenaamde Highwayman – wat op 7 April 1739 in York, Engeland, aan die galg gesterf het weens ‘n misdaadrekord wat wetsgehoorsames na die asem laat snak.

Een storie is dat die ter dood voordeelde, o.m. weens perdediefstal en die moord op ‘n makker, voor sy teregstelling op ‘n oop perdewa deur die trate van York gery en sy bewonderaars gesalueer het. Ná die demonstrasie het hy ‘n uur op die galg verwyl terwyl hy met die laksmanne en toeskouers oor koeitjies en kalfies gesels (nie oor perde nie!). Skielik het hy orent gekom en homself van die leer af gewerp. Binne vyf minute was hy dood.

Dick se Britse genant het ‘n legende geword. Sy lewe is geromantiseer op die silwerdoek, TV-skerm, in gedigte en liedjies. Baie van my generasie sal Alfred Noyes se die lang, epiese gedig “The Highwayman” onthou, met die herhalende refrein: “A highwayman comes riding— Riding—riding— A highwayman comes riding, up to the old inn-door”. Hollywood het in 1951 ‘n gelyknamige rolprent daarvan gemaak. Jimmy Webb se liedjie “The Highwayman” is ook ná n droom oor Turpin en sy makkers gebore.

Onse Dick was ‘n Melkbos-legende uit eie reg. Nie oor pad-rooftogte op niksvermoedende reisigers nie, maar oor sy skitterende vakmanskap en sy passie vir hout. Sou graag wou weet in hoeveel huise erfstukke staan wat met liefde van Dick se draaibank in sy motorhuis-werkwinkel kom. En vir hoeveel glad nie of te min betaal is omdat Dick so ‘n groot hart gehad het.

Die bou van die Koeberg-kernkragsentrale het die knap instrumentmaker (tool and die maker) uit Natal Melkbos gelok. Van die delikaatste masjienwerk by Koeberg was syne. Omdat sy gesin nie dadelik uit Pietermaritzburg kon saamkom nie, het sy een seun, Kelly, by sy vertrek ‘n stringetjie seeskulpies gegee. Kelly het later in ‘n motorfietsongeluk gesterf. Daardie stringetjie skulpe het daarna nooit van Dick se nek gekom nie.

Die man se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het eiehandig vir hom, Gloria, en die seuns ‘n huis gebou. Dit was ‘n liefdestaak waarin hy ses jaar lank sy hart gestort het. Sy inheemse veldtuin was beroemd en sy plate, plate vygies in blom op die sypaadjie altyd ‘n fees vir die oog. Sy motorhuis het hy ingerig as werkwinkel. Daarin het die geur van vars hout altyd gehang. Dick was versot daarop.

1-1-IMGIn 1997 het Dick Turpin se voorreflike vakmanskap deel van ons lewe geword. Die verbintenis het begin toe ‘n droom vir my en Tokkie ná my aftrede bewaarheid is: ‘n eie plekkkie in die bos, langs die Sabierivier en teenaan die Krugerhek van die wildtuin. Ons het Ukuthula in Wildevylaan, Sabiepark, met sy gedugte knoppiesdorings, maroelas en norring ander Bosveldbome einde 1997 ontdek en dadelik daarop verlief geraak. In Maart 1998 het ons ingetrek.

Ukuthula – vrede van binne – was vir ons ‘n mooi naam maar na ons smaak ietwat “uitheems”. Andermansgoed. Ons wou ons plek ‘n eie stempel gee. Die naam Tarlehoet het spontaan opgekom. Dit was die naam wat die eerste eienaar van ons huis in Dan Pienaar, Bloemfontein, die letterskilder Bontie Bonthuys, aan sy plek gegee het. Hy was ‘n noodwester wat versot was op Elisabeth Vermeulen se verhale uit sy kontrei. Tarlehoet was ‘n Boesmankaraktertjie in een van haar boeke.

Die Boesmantjie, knielend met pyl en boog in die hand, is verewig in ‘n gebrandskilderde tekening op ‘n glas-voordeurpaneel, asook op ‘n stuk leiklip by die posbus. Die vreemde naam was op ‘n koperplaatjie bo die voordeur. Bontie wou dit verwyder. Ons wou nie; dit was die huis se naam en klaar.

Begin 1998 het by ons Dick gaan aanklop om vir ons ‘n naambord te maak vir die nuwe “tuiste” wat ons instinktief geweet het so diep in ons harte gaan kruip soos die Bloemfonteinse waar ons twaalf jaar lank en gelukkig gewoon het, van ons terugkeer uit Johannesburg in 1980 tot ons verhuising in 1992 Kaap toe. Só gelukkig dat Tarlehoet gou nie meer vir ons ‘n wildvreemde Boesmantjie was nie. Dit het ‘n spesiale eie betekenis gekry: “Gelukkige tuiste”.

Dit moes ‘n mooi houtbord wees met die naam Tarlehoet, ook die adres: Wildevy 154, en die eienaars: die Van Deventers. Dick het dadelik gesnap wat ons soek en ‘n stuk swarthout iewers in sy oorlaaide fabriek uitgetower.

Dit was ‘n aristokratiese bord wat sy plek 17 jaar lank trots volgestaan het. Die bos-elemente eis egter hul tol. Die son bak ongenadig in daardie geweste. Ondanks gereelde opknapwerk met ‘n kwassie en dies meer het vervanging op die duur onvermydelik geword. Die huidige naambord is ‘n stoere stuk hardekool wat aan twee hardekoolstompe hang. Dankie, Lukas van der Merwe. Dis nie so opvallend nie. Behoort my (dalk selfs ook vir Tokkie) egter gemaklik te oorleef.

Gelukkig kon ‘n stewige stuk van die oorspronklike bord se basishout herwin word. Dit hang nou bo die braai op Tarlehoet se stoep – plus-minus op die plek waar ‘n luiperd Caroline Pols van Nederland twee jaar gelede helder oordag verras het.

Moet bely dat my gedagtes in die kerk ietwat begin begin dwaal het. Na Sabiepark in die verre Mpumalanga; ook na verskeie ander Dick Turpin-skeppings in ons Melkboshuis. In ons woonkamer is drie soliede sier-rakke teen die mure: embuia, swarthout, geelhout. Ons het ook ‘n besonderse juwelekissie in die vorm van ‘n boek van Dick se werkbank op die koffietafel in die sitkamer. Die omslag is kiaat en die bladsye jakaranda.

Dick is die man wat my statige studeerkamerstoel – geskenk by my afskeid van Die Volksblad – herstel het toe ander nie raad wis nie. Hy het kroegstoeltjies se pote vir ons korter gemaak. Hy het houtblokkies gesaag as opvoedkundige speelgoed vir kleinseun Migael van Deventer, wat spesiale uitdagings te bowe moet kom.

Dick Turpin se nalatenskap by die Van Deventers is omvangryk en so duursaam soos sy produkte. Die kwaliteit is onbesproke. Van alles is daardie eerste naambord waarskynlik die naaste aan ons hart. Dit is op dosyne foto’s verewig. Op elke besoek is die kleinkinders by die Dick se “Tarlehoet” afgeneem – vandat hulle in doeke was.

Op 15 Maart 2017, Tokkie se verjaardag, sal ons weer in Sabiepark wees soos op 15 Maart 1998 toe ons van Ukuthula besit geneem het. Ou Bloemfonteinse vriende Herman en Rina le Roux, nou van Johannesburg, was ons eerste gaste. Tokkie het my en Hernan gedruk: Ukuthula moet af. Dick se Tarlehoet moet op.

Die firma Van Deventer en Le Roux is die een só onhandig soos die ander, maar met ‘n hamer, skroewedraaiers en ‘n handboortjie durf ons toe groot projek aan. Om Ukuthula af te kry, is klaar ‘n gesukkel. Toe dit boortyd word, met net die ongerieflike handboortjie tot ons beskikking, wil-wil die twee “skrynwerkers” met die vyf duime aan elke hand net tou opgooi.

Rina probeer simpatiek raad gee. Herman kap egter teë: “Rina, ek doen hierdie werk al die afgelope … halfuur!” En die twee druk dapper deur. Uiteindelik is Dick se Tarlehoet op, vas aan die twee houtpale wat voorheen jare lank vir Ukuthula ‘n vaste anker was. Ons poseer by die nuwe naam vir foto’s: ek en Herman, ek en Tokkie, Rina en Tokkie. Met die draf ‘n vlakvark verby. Rina vat korrel en skiet – ‘n gawe soewenier van ‘n gedenkwaardige dag.

Van Deventer en Le Roux is nie min in ons noppies nie oor ‘n uitdagende taak wat bekwaam uitgevoer is. Die vierstuks kuier die aand in die swembadjie met bier en koffie. “Tokkie het verjaar en ons het in die maanskyn in die swembad baljaar.” So het Herman die geleentheid in ons gasteboek opgesom.

Sentimentele siel wat ek is, ry ek met die Ukuthula-bord in die kattebak die 2 000 kilometer Kaap toe. Ek bel vir die vorige eienaar, die weduwee Jean Smythe, op Vishoek en sê geheimsinnig: “Ek het vir jou iets van Sabiepark saam gebring.” “O Hennie, how nice! Come and have tea.”

‘n Gulle verwelkoming val ons te beurt. Opgewonde wil Jean weet: “What did you bring for me?” Ek haal die swaar stuk hout te voorskyn – en sien ontnugter hoe haar gesig val. “Old Mike (haar oorlede man) isn’t with us anymore,” sê sy. “Use it for firewood.”

Ons het Ukuthula toe nie opgebrand nie, wel die stuk ruwe kiaat mooi laat poleer. Dit is nou ‘n deftige klerehaak in my dogter Marisa-hulle se voorportaal – ook Dick Turpin se handewerk. Vir Tokkie het ek later net gesê: “Ek kom spook by jou as jy dit ooit met Tarlehoet doen. Maak jy dan liewer maar self die vuur!”

(Naskrif: Wat beteken Tarlehoet (Tarlehoek, of selfs Tarentaal, volgens onverskilliges wat nie twee keer kyk nie) nou eintlik? Dit is ongetwyfeld die vraag wat ek in Sabiepark in die 19 jaar van ons verbintenis die meeste moes beantwoord. Toemaar, tot 1980 het ons ook nie geweet nie. Tot enkele jare gelede het ek nog nie eens geweet in watter boek hy figureer nie. Toe hoor ek op Facebook: dis die boek “Towergoud”. Volgende gee Anschen Conradie van Grahamstad my gedorie ‘n eksemplaar present. “Towergoud” staan in my boekrak in Sabiepark. Kom lees van Tarlehoet by Tarlehoet!)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.