ON-VERGEETLIKE FANIE

Januarie 24, 2017 in Uncategorized

1-IMG_0002

My swaer Fanie van Wyk wat vandag ‘n jaar dood is, het ek by sy gedenkdiens tipeer as:

Vinnige Fanie: In matriek op Bultfontein in die laat 50’s was swaer Fanie van Wyk junior SA kampioen in die 440.

Vergooi Fanie: ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was.

Versamel-Fanie: Fanie was versot op sy boeke, veral oor die Anglo-Boere-oorlog, sy bonsais, sy skilderye, sy seëls, sy wyn, sy plate, sy knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Vrolike Fanie – Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur.

Stand-Vastige Fanie: Sy geloof was rotsvas. Sy kernbegrip van die evangelie was eenvouidg: Jesus het MY lief; Jesus het vir MY sondes aan die kruis gesterf; Jesus kom weer om MY te kom haal. In sy Bybelstudiekring, vir familie en vriende en vir vele ander was sy verduideliking van hierdie waarheid rigtinggewend en inspirerend.

Voorslag-Fanie: Ná sy pa, Kotie, se vroeë dood was Fanie in Hertzogstraat, Bultfontein, die man in die weduwee Marietjie van Wyk se huis. Haar regterhand. Een van sy rits take was om elke dag die koei in die meent te gaan haal en te melk.

Versigtige Fanie: Hy het hoogtes en allerlei ander gevare liefs vermy. Sy hande was sopnat gesweet op ‘n rit om Chapmanspiek.

Gevatte Fanie: Sy kinders het bv. gekla hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop was sy raak antwoord: As hy die bobbejaan hoor boggem, weet hy mos hy’s daar. Wie kan stry?

Vindingryke Fanie. Op ‘n dag moes hy ‘n span “bandiete” (gevangenes) op sy dak oppas terwyl hulle verf. Toe raak die verf op. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery.

Vurige Fanie: Een nuk was dat hy nogal uitermate opgewonde kon raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moes jy koes. Vra maar die tuinman, arme drommel, wat op ‘n Saterdagmiddag sy besproeiing stukkend gespit het.

Vlymskerp Fanie: Toe ek op sy sterbed praat van groet, was sy lakonieke kommentaar: “Groet? Waar gaan julle dan heen?”

Na ‘n jaar: Hoe mis ons nie al hierdie Fanies nie.

Hy was in terugskoue die On-Vergeetlike Fanie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.