EIE BLOEDFAMILIE

Oktober 4, 2016 in Uncategorized

14479771_1242718322446294_7274609475859366385_n

Nooit gedink as ek kaartjies vir ‘n familiebyeenkoms begin pos dat een gerig sal wees aan Rolene Strauss (Roelien, soos ek haar geken het) nie. Natuurlik sal ouma Elsie van Bloemfontein ook genooi word. Oupa Johann is ongelukkig al geruime tyd langboompies toe.

Die verrassende nuus van bloedverwantskap met die pragtige jong vrou kom uit die deskundigste bron moontlik: die staamboom-towenaar Theo Verwey wat lyne kan trek doer uit Koning Dawid se dae uit (ja waarlik, dis waarheen my eie paadjie terugloop). Daar is nie ‘n Springbokrugbyspeler nie, of Theo kan vir jou sy stamboom woerts-warts op die tafel sit.

Gereeld kom daar sulke verrassings van Theo. Soos gister se nuus oor die familieband met die vorige Mej. Wêreld. Pa Hennie het as’t ware voor ons grootgeword in Bloemfontein, want sy ouers, Johann en Elsie, was jarelange bure oorkant die straat. Ons het oor en weer gekuier, onbewus van die raakpunte in ons onderskeie stambome. Dalk ook maar goed so.

Wat my beter laat voel dat Johann ‘n verre neef is, is ‘n toneeltjie wat hom op ‘n keer in ons kombuis in Genl. Van Schoorstraat afgespeel het. Johann het nie ‘n geleentheid laat verbygaan nie om my in kleur en geur daarvan te vertel.

Tokkie het flou voor die stoof neergesyg. Die verskrikte kinders het gan hulp soek. Naaste voordeur was die van die Strausse, en Johann – ‘n akademikus – was gelukkig tuis. Hy het, soos dit ‘n goeie buurman. betaam, geen oomblik geaarsel nie. Toe Tokkie se oë oopfladder, was dit in buurman Johann se arms.

Gister se geselse rondom die Rolene-konneskei het ook ander familie aan die lig gebring vir wie ek graag kaartjies sal pos: die voorste skrywer Etienne van Heerden, gerekende jonger koerantekollega Tim du Plessis, asook die Springbokslot Moaner van Heerden en sy seun, Wickus, ook ‘n rugbyspeler van formaat.

Wonder, nes Tim, waar die gemeenskaplike geen vandaan kom wat ons twee plus-minus op dieselfde paadjie by die koerante laat beland het.

In my geval moet ons die liefde vir skryf dalk by A.G. Visser gaan soek. ‘n Spesiale dankie, Theo, vir die onthulling van daardie verwantskap. Via oupa Hercules Visser en ma, Maria Petronella (Baby) Visser het hopelik iets van die “Sanger van die Suikerbosrand” se liefde vir woorde aan my afgesmeer.

Oor dié verbintenis loop die uwe buitengewoon breëbors. Op skool het hy hom verbeel hy is ‘n A.G. Visser Merk II. Hope gediggies oor die liefde, die natuur en so het uit my skoolpen gevloei. Die jaarblad was vol daarvan.
Een begin so: Vanaand is ‘n aand van verlange / dit spreek uit die andwind se lied / dit spreek uit ‘n wolklose hemel / waar ‘n eensame ster nog verskiet ….

Vir die res, is ek bevrees, sal julle tantieme moet betaal!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.