BOSHUIS SE MURE

Augustus 26, 2016 in Uncategorized

Woonkamer-muur.

Woonkamer-muur.

Teen die mure van ons boshuis, Tarlehoet, hang 504 foto’s. Die feit word vermeld met die komplimente van kleinseun Thomas Claassens (12), ‘n ontluikende statistikus van formaat.

Thomas het van vertrek tot vertrek geloop en elke liewe foto opgeskryf. Ook die op die stoep. Groot werk gewees: Oral, in elke denbare vertrek, is rame, en in een raam is nie minder nie as 75 klein foto’tjies.

In ‘n boshuis verwag ‘n mens dierefoto’s. Natuurlik. Diere is hier inderdaad die oorheersende tema. Van die VanD’s se gedenkwaardigste oomblikke in ons 17 jaar in Sabiepark is op een van my drie opeenvolgende Canons verewig. Veral foto’s van luiperds en olifante wemel. Leeus en buffels is ook taamlik getalryk.

Een foto pryk op twee plekke. Die onbeskroomde luiperd wat Caroline Pols op ons stoep afgeneem het, hang op die stoep self – dis dan haar boudoir! – en as deel van ‘n collage in die woonkamer. ‘n Luiperd op jou stoep! Wie in die wye wêreld het nog so ‘n foto?

My eie luiperd in Apiesdoringlaan is dalk minder eksklusief; nie minder elegant en indrukwekkend nie. Studentemaat Piet Henning van Louis Trichardt het dit beskryf as “dalk jou mooiste dierefoto”. Die luiperd met haar vlakvarkprooi in ‘n jong jakkalsbessie in Maroelastraat is self nie te versmaai nie.

Op ‘n reeks foto’s het dogter Marisa op haar verjaardag op 5 Julie 2005 ‘n leeuvangs by die piekniekplek grafies afgeneem – kort voor die begin van Sabiepark se jaarvergadering. Jy sien net stof, lywe (leeus en rooibokkies) en bloedbekke (leeus).

Olifante sorg gereeld vir opwinding. Vanselfsprekend ook vir vele foto’s. Om op 22 Augustus 2008 op Sabiepark se “brug” te wees toe troppe olifante en buffels saam die Sabie oorsteek, was baie spesiaal. Het wonderlike foto’s van waar die voorpunt van die olifante en die agterhoede van die buffels oorvleuel. ‘n Buffelstormloop deur die Sabie was ook voortreflike fotomateriaal.

Talle foto’s is van en rondom Tarlehoet se stoep geneem: Koedoes wat die voëls se pitjies steel; sebras, wildbeeste en vlakvarke by die watergat; hiënas wat rondsluip; nagapies wat kom piesangskyfies inprop; ’n kameelperd-kopulasie; Witnek, die duiker wat net gryser en gryser geword het; ‘n bosnagaap wat haar kleintjie kom wys; ‘n slang wat ‘n akkedissie verorber…

Skoonseun Brent se uitsonderlike foto’s van ‘n kameelperdgeboorte hang teen dieselfde muur.

‘n Wildtuinfoto’s van ‘n klompie leeus op die teerpad net binne die Krugerhek is ‘n aangename herinnering aan ‘n goeie ou Sabieparkmaat, wyle Dawie Strydom. Dawie en Annatjie was op pad dokter toe to hulle op die leeus afkom. Minute na hul SMS was ons op die toneel.

‘n Leeufoto van ‘n mamma op die rivierpad (S3) met ‘n klein-klein welpie in haar bek en tweetjies wat klaend agterna tou, was op Facebook nogal ‘n sensasie. ‘n Ander Facebook-gunsteling was my olifant by die welkombord by Krugerhek. (Het ook een van ‘n renoster saam met Oom Paul se beeld.)

In die dieregalery is vier kunswerke deur glasblaser Petro Swart van Melkbos: luiperd, renoster, sebra en rooibok, tesame met hul, spore kunstig en met liefde in die glas verewig. (Die werke het voorheen in die Swarts se eie huis op hul wildplaas by Vaalwater gehang). Het ook ‘n seilafdruk van wildehonde deur Mare Bruwer van Melkbos en ‘n nagapie in die pendoring langs ons stoep deur Johan Coetzer van Oudtshoorn. Onder die almanak-afdrukke wat rame toe is, is vier Zakkie Eloffs.

Die omslae van al my bosboeke – Buurman van die Wildtuin, Spore in die Bos, Duisend Dae langs die Sabie en Mayafudi – is geraam vir Tarlehoet, asook ‘n paar ander, soos Halfpad Hemel Toe (‘n gedenkboek vir my 60ste) en Sabiepark se Foto-album (waarvan ek samesteller was).

‘n Paar ou KWV-advertensies met dieretemas – o.m. sebras wat bondel by ‘n watergat; byskrif: When friends get together for a drink) – hang sy aan sy met my eie foto’s, asook groot kaarte van die Wildtuin en Sabiepark, en humoristiese resepte vir krokodilkerrie en olifantbredie (in die kombuis). Was daar toe ons die huis gekoop het – nes die antieke Coca Cola-skinkbord.

Onder die gevogeltes is die bloukuifloerie, wat ‘n gereelde besoeker aan die rosyntjieboom by ons watergat is, ‘n saalbekooievaar saam met ‘n buffel, ‘n berghaan en ‘n goudsnip met sy weerkaatsing in die water so helder dat die ramer dit aanvanklik onderstebo geraam het.

Mensefoto’s is eweneens talryk. Dit dek nogal ‘n wye spektrum. In die slaapkamer hang tot troufoto’s van my en Tokkie op ‘n nerf na 50 jaar gelede; ook troufoto’s van ons kinders, Johan (met Mariza) en Marisa (met Brent). Daar is gesinsfoto’s uit verskeie eras. Kleinkinders se besoeke deur die jare is deur Oupa ruim verewig. Die spesiale bosdimensie van hul grootword word stap vir stap uitgebeeld.

Tussen die foto’s hang ‘n potloodskets van die uwe deur Sabiepark se resident-wildkunstenaar Abbey, een van die driehekwagte, foto’s van familie en vriende, allerlei Tukkie- en Volksblad-memorabilia, Melkbosfoto’s (dat ons nie vergeet nie!) en enkele sertifikate, soos lidmaatskap van die Klub vir Oud-Bloemfonteiners.

Op ‘n kennisgewingbord is hope foto’s met duimdrukkers vasgepen – selfs van ons kinders in die sneeu in Amerika (1976/77) en op Buffelsbaai se strand. Ook een van Johan op ‘n jagtog saam met P.W. Botha in die 80’s.

Onder die trofees is ‘n sierlike koedoekop. Dit het behoort aan die laaste koedoebul wat swaer Neels Nothnagel geskiet het. Trane het ook oor Neels se wange gerol, soos oor die wange van die koedoe, toe hy hom voorgeneem het: “Nooit weer nie.” ‘n Stel bosbokhorings herinner hoe geniepsig daardie “sagte” bokkie jou kan seermaak. Velle teen mure sluit in twee sebras en twee rooikatte.

‘n Pyle en boog bo die voordeur wek nogal belangstelling. Wel, dis nie sommer so ‘n pyl en boog nie. Kom uit die rolprent The Gods Must be Crazy. Het aan die Boesman Tau (dit was sy naam, meen ek) behoort wat die hoofkarakter was. Rolprentmaker Boet Troskie het dit vir my en Tokkie present gegee.

Wonder wat die jagter Tau se kommentaar sou wees as hy kon sien waar sy pyl en boog nou hang. Al die bok-koppe, velle, dierefoto’s en dies meer sou sy vinger waarskynlik onbedaarlik laat jeuk het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.