ANDER SOORT STOEPSTORIE

Julie 29, 2016 in Uncategorized

Noem die ou gerus Vuurvreter.

Noem die ou gerus Vuurvreter.

Ons eet by die ronde tafel op die donker voorstoep. Die muurliggie se gloeilampie het die gees gegee en die enigste lig kom van twee outydse lanterns. Tokkie hoor ‘n geritsel en gryp haar flitsie.

Toe sy die lig na regs swaai, sien ons gelyk die ongenooide gas op die stoep. Net vyf meter van ons voor ons slaapkamervenster.

Ons krete stuit hom gelukkig. Hy steek in sy spore vas en swaai druipstert om.
Tokkie staan op en gaan span die ketting by die trappies langs die swembadjie. Dit was meneer se diskrete roete.

Skaars 45 minute is ons op pad bedwaarts. Dieselfde intimiderende figuur verskyn skielik voor die slaapkamer se skuifdeur – en die staan boonop halfpad oop vir vars lug. Weer galm skrikmaak-krete uit twee kele. Weer blaas ons gas sondermeer die aftog.

Kort daarna klink ‘n jammerlike protes uit die omgewing van die watergat op. Lank en aanhoudend. Toe die flitslig op hom val, duik die hiëna agter die takke in en sluip weg.

Al weer Tarlehoet se stoep. Vyftien maande gelede het ‘n luiperd daar kom intrek. Gelukkig in ons afwesigheid. Voorheen het ‘n hiëna al ‘n plassie daar gelos, ‘n kussing geskaai en vroegoggend voor die slaapkamer se skuifdeur kom grynslag terwyl ek op my oggendkoffie wag.

Twee besoeke in 45 minute is egter ook nou weer ‘n ander soort stoepstorie.

Altyd gedink die ketting is voldoende beskerming teen ongewenste indringers. Nou besef ek hoe verkeerd ek was. Hiëna se kind het net sy krom rug nog krommer getrek en hom onder deur gewurm.
Wat nou? Tokkie dink ‘n klokkie aan die ketting is die antwoord. Die vreemde geluid behoort gewis twyfel in ‘n normale hiëna se gemoed te saai. En die stoepsitters betyds te waarsku.

‘n Klokkie by jou voordeur – dit is in elk geval tog maar die beskaafde wyse vir gaste om hulle aan te meld, of hoe?

(Buiten vir die vorige stoep-insidente hier in Sabiepark het ‘n hiëna al aan ons braaivuurtjie kom ruik, het vier van die dierasies in ons watergat rondgeplas blykbaar agter kos aan wat hulle daar kom berg het, en het ‘n ou met ‘n sterk kakebeen in ‘n wilde stoeigeveg met ons asblik gate in die metaal geskeur.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.