OP DIEREPAAIE

Julie 18, 2016 in Uncategorized

Kinders se leeus.

Kinders se leeus.

Luiperd by die piekniekplek. Die nuus trek soos ‘n veldbrand deur Sabiepark. Skielik wemel dit van eienaars en gaste met kameras en verkykers.

Tot op datum het ons hierdie vakansie drie keer luiperds in die omgewing van ons eie “Leopard Rock” by die piekniekplek gesien. Opwinding nommer een aan die dierefront in die kinders se vakansie was (moontlik) die verskyning van sommere twee luiperds op een slag daar langs die Sabierivier.

Die twee het ‘n ver ent grasieus voor ons verbygestap. Rooibokkies wat op pad was rivier toe, het haastig laat spaander. Soos ‘n rooi gordyn, aldus Tokkie. Die foto van die groot mannetjie op my kamera is danksy Jacob se fermer hand en skerper oog as sy oupa s’n. Die wyfie het deurgaans op die agtergrond gebly. Ons het haar egter ook mooi gesien. Die seuns was in vervoering.

Die eerste een het die dag van die algemene jaarvergadering in die tradisionele markiestent van die oorkant van die rivier in die yl sonnetjie die petalje lê en dophou. Dalk het die reuk van die tradisionele braaivleis, pap en sjeba die ou se aptyt aangewakker.

By piekniekplek.

By piekniekplek.

Die woord “moontlik” tussen hakies voor die nommer-een-etiket is omdat daardie eer dalk in die seuns se boekie aan hul 20 leeus by die N’waswitshaka-watergat behoort. Pragtige foto’s opgelewer: leeus wat in ‘n ry hul dors les.

Dit was die eerste naweek van hul vakansie met hul pa, Brent, hier op ‘n verrassingsbesoek. Oupa en ouma is die oggend nie saam wildtuin toe nie. Toe mis ons ‘n leeu-waarneming van die eerste water. Later, nadat die Claassense reeds weg was, was daar glo ‘n dosyn of wat leeus by en naby die piekniekplek. Die Van Deventers was weer nie op die regte tyd op die regte plek nie.

In die bittere-bittere droogte ry ‘n mens ver ente sonder om veel te sien. Oor olifante, renosters en buffels kan ons egter nie kla nie. Die ou grotes was volop. Naby Afsaal het ons ‘n keer nege renosters by ‘n watergat raakgeloop – die meeste in al die jare. Op pad na die Phabeni was die veld een oggend skielik swart van die buffels – ‘n trop van honderde der honderde.

Renosters bondel by die water.

Renosters bondel by die water.

Die lelikste gesig van die droogte is ongetwyfeld aasvoëls wat mekaar verdring op ‘n kaal karkas. Sulke neerdrukkende toneeltjies is ongelukkig taamlik algemeen op ‘n reis deur die sentrale Krugerwildtuin. Di wit skelette van diere wat dit nie gemaak het nie, le versprei tussen die yl bossies op die kaalgevrete veld.

Veral die arme seekoeie leef swaar. ‘n Mens se hart gaan uit na die ou grotes as julle hang-skouer ver van hul waterwoning sien ronddwaal op soek na ‘n grassie.

Ook vir voëls is die kos minnerig. Ons het ‘n familiegroepie bromvoëls raakgeloop wat met buitengewone verbetenheid ‘n boomstam takel. Iets het klaarblyklik daarin geskuil wat ‘n lekker middaghappie kon word: ‘n sappige slangetjie of ander reptiel, vingerlek-lekker kuikens of voëleietjies, ‘n kolonie goggas of selfs ‘n klein soogdiertjie. Hulle wou daardie begeerlikheid met alle geweld uitkry – eers deur hul snawels diep in die gat af te boor, en toe dit nie werk nie die stam met hul snawels aan te val dat jy net been teen hout hoor klap so tussen die luidrugtige ge-oemf, -oemf deur.

Laat dit maar hoe droog wees – en ek oordryf nie hoe erg dit is nie – maar ‘n wandeling in Sabiepark is nog altyd sielsverkwikkend, al is dit net vir daardie sierlike patrone wat die takke van die bome aan weerskante teen die blou-blou hemel afets. Die piekniekplek is ondanks alles steeds ‘n lushof. Dit word deur Organ voortreflik versorg. Al is die rivier ver van bruisend bly elke besoek ‘n plesier.

Ek is spyt ons het nie meer kere met die kinders daarheen gestap nie. Vasberade om dit vorentoe gereelder te doen!

Tarlehoet se watergatjie het tot op datum, vreemd genoeg, nie veel aftrek gekry nie. Die sebras en wildebeeste – gewoonlik gretige besoekers – slof verby na die voerplekke toe. Hulle drink seker elders. Bobbejane en gebande muishondjies kom wel Tarlehoet se water geniet.
Die nagapies het nie teleur gestel nie. Hoe kon hulle as die seuns soveel moeite doen om die piesang so netjies in kreatiewe patrone vir hulle uit te pak?

‘n Geheiminnige besoeker is die kalant wat Saterdag sy vel van sowat een meter tussen die klinkerbakstene van Tarlehoet se buitemuur by die woonkamer gelaat het – stertjie wapperende in die ligte windjie. Seuns sou sekerlik opgewonde gereageer het.

Bo skryf ek van die seuns se boekie. Thomas het werklik ‘n boekie waarin hy waarnemings getrou opteken. Hy spog al met jare se statistieke en kan in ‘n japtrap vir jou vertel hoeveel diere jy op watter dag op watter roete gesien het.

Christopher het hom ontpop as geesdriftige fotograaf. Boetie Jacob se kamera is na hom aangegee. Hy neem BAIE foto’s en is gedurig besig mt kyk weers. Sy grootste probleem was batterye. Wens ek het statistieke gehou van hoeveel keer op sy kamera se skerm die boodskap geflits is: Change the batteries.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.