OOR OF MIS?

Mei 28, 2016 in Uncategorized

hvd0014-8

Johan Bekker, die uwe, Hans Kruger en Pierre le Roux op ‘n donkiekar op Ladsymith op ons 1961-rugbytoer.

Rugby was in my tyd in Kollege (1958 -1962) ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis.
Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In Kollege se folklore is daardie antwoord van my as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: Dit was nie ‘n stukkie flinkdink nie. Ek kon op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie! Oor of mis, ons is met die beker huis toe.

hvd0014-3

Proppie Goosen – uithaler-skrumskakel.

Die onvergeetlikste rugbymomente het nie altyd op die veld afgespeel nie. Een was die aand ná ‘n belangrike wedstryd in Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie. Vroue met krullers in die hare en sigarette skuins in die mond kom moedig hul plaaslike helde al gillende aan.

‘n Blondine langs die veld trek een van ons senters, wyle Piet (Gandhi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe. Eers toe hy by die koshuis terugkom, vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak — en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

Die nimlike Piet Gandhi sien ‘n keer nie vir ‘n kritieke Fisikatoets kans nie. Hy doen alles in die boek wat nodig is om so siek soos ‘n hond te lyk: kladpapier onder die tong, oordosis purgeermiddel en wat nog. Toe kommandeer hy die (netjieser) kamer van ‘n buurman op en ontbied ‘n ouerige dokter, wat hom deeglik ondersoek en sonder aarseling ‘n doktersertifikaat uitreik.

So ver so goed. Maar die volgende middag staan die dokter vir ‘n onverwagte opvolgbesoek voor die deur. Hy vind die regmatige eienaar van die bed op die naat van sy rug vir ‘n middagslapie. Voordat dié kon protesteer, is die koorspen in sy mond. Perdfris, is die bevinding. “Jy kan maar opstaan. Die medisyne het gehelp.”

Kan om die dood nie onthou of Piet toe gaan skryf het, en met watter gevolge nie.

* Volgende aan die beurt: Kollege se “Boozeklub”.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.