GASTE MET GEITE

Desember 7, 2015 in Uncategorized

Die "odd couple" na 20 jaar in hul maroenbaadjies op Melkbos.

Die “odd couple” na 20 jaar met hul Harvardwapens op Melkbos.

Van die hartlikste betuigings van waardering vir betoonde gasvryheid in ons besoekersboek kom van gaste wie se besoeke nou nie, om dit sag te stel, heeltemal sonder komplikasie was nie.

Het voorheen my ingenomendheid vermeld oor die diversiteit van gaste wat oor ons drumpel is, asook die wye reeks belangegroepe en eras wat hulle verteenwoordig: skool, universiteit, koerant, Pers, Bloemfontein, Melkbos… Van my mede-Niemans van die jaar 1976/77 by Harvard verskyn twee se name: John Painter in 1997 en Cassandra Tate in 2015. Albei was buitengewone kuiers wat bepaalde eise gestel het. Painter se kos- en drankvoorkeure was vreemd. Cassandra kon weer politiek praat dat jy op die vlug wil slaan.

Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Laat my egter erken: Jy kry tog siniese koerantmense – soos skelm prokureurs. Die naam John Painter duik eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal. Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie. Die titel van sy memoires is betekenisvol: “If your mother says she loves you, check it out!”

Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77. Painter is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken. Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel. Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het.

Toe hy 20 jaar later vir my op Melkbos kom kuier, het hy ‘n pad deur my rooiwyn gedrink (hy is gek na pinotage), en TvD se gesonde ontbyt-aanbod van graankosse en vrugte met ‘n swaai van die gesonde arm as “shit” afgemaak. Vyfster-hotelontbyte het meer in sy smaak geval.

Painter wat van Oregon aan die weskus kom, het die gereelde sneeu van die ooskus se winter destyds in Cambridge MA met dieselfde onvleiende woord beskryf.

Hy het my die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan op die Jong Turke wat voor die WVK gaan bieg het. “Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie. Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.” Verleë ekke is druipstert agterna.

HvD en Casandra op Blouberg se strand.

HvD en Casandra op Blouberg se strand.

Cassandra Tate en haar man, Glen Drosendahl, is ook Amerikaanse weskussers. Hulle woon in Seattle in die staat Washington. Van die Niemanjaar onthou ek goed hoe sy aan die begin by my kom kniel en haar voorgestel het as “just a little girl from Idaho.” Sy wou weet of hier regtig leeus in ons strate rondloop. In 1976. Njannies. Intussen het sy ‘n Ph. D verwerf, uiters gesofistikeerd geraak en ‘n ongesond-oordrewe belangstelling in rassepolitiek ontwikkel.

Voor haar koms het sy geskryf: “South Africa: I’m coming to you soon. Going to look at your night skies, drink your wine, climb that Table Mountain, cheer for the rugby team that my old friend Hennie Van Deventer cheers for, walk in the footsteps of some of your heroes, learn more about that spirit of Ubuntu, try to understand how far you’ve come (like my own country) and how far you have to go (ditto).”

Ek glo sy kon die meeste aftik. Het wel vir die Bulle geskreeu, maar ongelukkig die middag toe die WP hulle goed afgeransel het. Waarin sy uitgemunt het, was om oor ‘n wyntjie te probeer “understand how far you’ve come and how far you have to go.” Toe maak ek nog die fout om haar nie net die skoonheid van die Kaap te wys nie, maar ook van sy plakkerskampe. Ek moes bontstaan met die verduidelikings.

Agterna het Glen darem namens die twee verslag gedoen: “South Africa has come a long way since the end of apartheid. It still faces many challenges, including power outages (“load shedding”), government corruption and waves of immigrants from other African nations, leading to xenophobic violence. The people we met were eager to talk about the problems, their views coming from a wide range of perspectives. Progress is slow but sure. It was a privilege to be there, a true Rainbow Nation with beautiful land and beautiful people.”

Weet nie of ek na die toets waardeur ek so meedoënloos gesit is, die vriendelike uitnodiging na Seattle wil oorweeg nie. Painter het op sy beurt my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet. Dink ek moet dit ook maar liefs van die hand wys.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.