APTYT RAAK NIE VERSADIG

Augustus 3, 2015 in Uncategorized

Groenrugreier op laagwaterbrug oor Olifants.

Groenrugreier op laagwaterbrug oor Olifants.

Ex Africa semper aliquid novi. Op hierdie baie waar Latynse spreuk het ek my al telkens beroep as ek oor ons bos skryf. Ook uit hierdie geliefde stukkie Afrika kom altyd iets nuuts.

Van ‘n intieme leeutoneel tot ‘n bedrywige swerm lepelaars tot ‘n verkeidenheid klein bokkies het vir nuwe ervarings gesorg toe ons verlede week saam met Jaap en Marlene Duvenage van Pretoria Balule toe is vir die eerste van drie besoeke hierdie wintervakansie.

Die leeus het ons so tien kilometer anderkant Tshokwane gekry op pad Satara toe. Vlak langs die H1 – 4. Twee kraagmanne en ‘n wyfie. Ons het skaars stilgehou toe die een mannetjie sy amoreuse bedoelinge laat blyk.

Die wyfie het nie op haar laat wag nie. Amper binne vatafstand beleef ons toe ‘n slaapkamertoneel soos min. Een foto wys hoe die ou se ruggraat eintlik knoppies trek van inspanning.

In my kop “komponeer” ek toe vinnig die volgende versie: Kraagman, kragman, grootmeneer; kopuleer vlak langs die teer; ná bietjie rus toe soek hy meer; hy doen dit weer…en weer .. en weer.

Van die hoogwaterbrug oor die Olifants het ons die swerm lepelaars lank dopgehou. Blykbaar was op daardie kolletjie ‘n digte lot paddavissies of watergoggas saamgetrek. In die geselskap van ‘n klompie wit reiers het die seldsame watervoëls op daardie buit toegesak met ywer en energie. Dit was net wit vlerke en plat pienkerige snawels wat skep-skep sonder ophou. Wat ‘n gesig. Voorheen het ons lepelaars net een-een of twee-twee waargeneem by onder meer die Sunsetdam.

In die bosse naby Balule het ons die klein bokkie gewaar wat duidelik anders was as ‘n steenbokkie of ‘n duiker. Ongetwyfeld Sharpe se grysbok – die eerste keer dat ons ene doodseker identifiseer. Nog ‘n eerste: die eerste keer dat ons op een reis so ‘n verskeidenheid klein bokkies raakloop: ook steenbokkies, duikers, klipspringers en baie bosbokkies. Almal, buiten die bosbokkies, is net tussen 50 en 60cm hoog. Die bosbokkie is 80cm.

Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

Oor die laagwaterbrug by Balule kon ons die eerste keer in drie jaar kortpad Olifants toe vat. Nogal lank gevat om dit te herstel na die vloedskade van 2012. Olifants net om die draai is die een bonus. Die ander is die wonderlike fotogeleenthede wat die herstelde brug bied. Het ‘n foto van ‘n groenrugreier van die brug af geneem waaroor ek in my noppies is. Het ook die groen oase van Balule met sy groot essenhoute en worsbome oorkant die rivier uit alle hoeke bekiek. En die asemrowende sonsondergange …

Daardie aristokraat van die bokwêreld die swartwitpens het groot opgewondenheid in die Honda-tjie meegebring. Ons het so agt of tien van hulle by die N’watindplofu gekry, naby die die afdraai van die S36 na Nhlanguleni. Tussen die bome en lang gras moes ek fyn korrel vir foto’s. Maar op my kamera is die bewys dat hulle daar was. Dit was nie die eerste keer dat ons hulle in daardie omgewing sien nie. Maar elke keer dat jy ‘n swartwitpens sien, is in my boekie so heerlik opwindend soos die eerste keer.

• ‘n Minder plesierige eerste was die kwaai wind by Balule Vrydagaand. Gelukkig was ons hoenderdye klaar gebraai. Jaap is ‘n meester by die kole. Ons moes egter maar skarrel om ‘n beskutte eetplekkie te vind. Toe ons in die rondawel kom, was die plek vaal van die stof wat uit die grasdak neergedaal het. Die wasbakke in die ablusieblok was bruin gestreep soos ‘n kamoefleerpak. Nietemin – Balule, ons kom weer en weer. Soos daardie leeumannetjie op die N1 s’n is ons aptyt eenvoudig onversadigbaar.

2 antwoorde op APTYT RAAK NIE VERSADIG

  1. Israeli het gesê op Augustus 3, 2015

    Wat ‘n heerlike en belowende spyskaart! Ons kan nie wag om te gaan aansit nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.