SKAKEL IN GROOT MIRAKEL

Julie 21, 2015 in Uncategorized

Êrens in 1986 merk P.W. Botha moedeloos op: “Doktor, weet jy wat? Ek dink ons moet hardegat wees. As ons ondergaan, gaan ons hardegat onder.” Nie nodig gewees nie, skryf spioenbaas Niël Barnard in sy pakkende relaas oor die Groot Mirakel – die vreedsame oorgang tot ‘n ANC-regering in 1994 – in “Geheime Revolusie – Memoires van ‘n spioenbaas”.

“Daar was ‘n ander, veel beter opsie,” bevind Barnard tereg ter aanvang van sy boeiende maar nogal omstrede boek. Dié opsie was natuurlik: Praat met die ANC. In soveel woorde: Praat met Nelson Mandela.

Met Nelson Mandela het Barnard self op 25 Mei 1988 begin praat toe hy gevangene 46664 – toe nog in ‘n blou tronkoorpak – in die Pollsmoor-gevangenis besoek het; die eerste van byna 50 meesleurende, grootliks geheime gesprekke.

P.W. Botha het ‘n jaar en ‘n paar maande later, op 5 Julie 1989, gevolg, grootliks danksy Barnard se oorreding. Botha het die ANC-leier – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik in Tuynhuys ontvang.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel – sewe jaar voor Barnard se gesprek in Pollsmoor, agt jaar voor Botha s’n in Tuynhuys, en amper ‘n dekade voordat die aanstaande president en internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se oproep het Botha destyds met afgryse laat sidder. Dit is nie bekend watter reaksie sy opspraakwekkende woorde in die kollektiewe veiligheidgeledere, by Nasionale Intelligensie en by Barnard self uitgelok het nie. Hierdie baanbrekende moment uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom word, dalk om verstaanbare redes, deur Barnard verswyg.

As kollega van Vosloo wat self in 1981 deur sy uitspraak ietwat onkant gevang is, het ek by die lees van die Barnardboek opnuut gewonder: Hoe sou die geskiedenis dalk verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare vir Suid-Afrika nie dalk daardeur gewen word nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante teenwoordig was. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

‘n Gedugte arsenaal wette het bestaan wat die Regering van die dag as’t ware as ideologiese koevoete wou gebruik om hierdie bewoë Afrikaland om te buig tot iets anders as wat die hy in die wieg gelê was om te wees. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal, in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om sulke ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.

Die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, is rondborstig onder die loep geneem. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld het pront verklaar: Skrap die Groepsgebiedewet dadelik! Ook dit het Tuynhuys in ‘n kruithuis omskep.

Toe die gehate Paswette in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menige wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is.
Oor groepregte in ‘n nuwe, demokratiese bestel het die koerante nuut en inklusief begin dink. Die Burger (redakteur: Wiets Beukes) het hierin ‘n leidende rol gespeel. Vir “magsdeling” wat lank ‘n taboewoord vir Nasionaliste was, het my eie koerant, Die Volksblad, om bestaansreg in die politieke woordeskat gepleit – reeds in 1984, lank voordat enige minister die gelaaide begrip oor stywe lippe sou neem.

Met die weermag en polisie is gereeld in die gerig getree oor magsmisbruik, versmorende wette en hardhandigheid wat nie die toets van lig kon deurstaan nie. ‘n Sensitiewe kwessie was die weermag se voortgesette konkelry met die rebellebeweging Renamo nadat die verdrag van Nkomati met Frelimo gesluit is. Koerante se vrae en vermanings is onboetvaardig begroet: “Julle doen die vyand se werk vir hulle.”

Insigte wat in hoofartikels en politieke rubrieke uitgespreek is, het nie net tot spanning met Tuynhuys en ander leidsliede gelei nie. Dit het ook op grondvlak enorme verwydering gebring van Afrikaners wat wou vasskop – en diesulkes was onheilspellend volop. Mense vergeet met watter rasseskrede die Konserwatiewe Party by die stembus gegroei het totdat dit in Mei 1987 die Progressiewe Federale Party as amptelike opposisie onttroon het.

Met ver-regse elemente in die kerk, kultuurkringe en die politiek is, in koerantkolomme sonder aansiens des persoons, energiek en vreesloos gestoei. Die konflik was vurig, gelaai met dreigemente wat soms werklik in geweld oorgegaan het.

Koerante het in daardie stormagtige dekade ‘n kragtige rol gespeel om die harte en verstande van gewone Suid-Afrikaners vir verstandigheid en realisme te wen, en om terselfdertyd die denke van voetslepers in die regering te probeer swaai. Veral Engelse kommentators, ook in die buiteland, het entoesiasties kennis geneem.

James McClurg, ombudsman van die Cape Times, het byvoorbeeld op 9 Februarie 1990 gevra: “When historians turn their eyes on this era, will they reserve a chapter for the contribution of the verligte Afrikaans press towards change in SA? If not an injustice will be done.“ Wonder wat McClurg sou dink van ‘n Niël Barnard-uitspraak soos die volgende: “Al hoe meer sakelui, kerklikes, akademici en selfs sportlui het sedert die middel tagtigerjare deel van ‘n groeiende koor ten gunste van ‘n politieke skikkingsproses geword.” Hy meld nie die koerante nie.

Dat hervorming-gedrewe koerante met hul omvangryke invloed nie sy lysie kon haal van voorlopers in die gistingsproses nie – sportlui wel! – is dalk te verklaar uit ‘n amper uit die bloute opmerking vroeg in die boek: Dat die pers nie nie een van sy “gunsteling-instellings” is nie. Vooroordeel is al moontlike verklaring.

Spesifiek oor die gesprekke met Mandela, skryf Barnard voorts in dieselfde kwetsende trant: “ ‘n Mens sidder om te dink wat die gevolge kon wees as dit van meet af aan onderworpe was aan die fanfare, bespiegelinge en wolhaarstories wat joernaliste dikwels opdis. Dit sou SA sonder twyfel sy vreedsame revolusie gekos het.”

Elders meld hy dat 80% van intelligensiedienste se inligting uit openbare bronne soos die media kom. Hy spreek die vermoede uit dat lesers seker verras sal wees om dit te verneem. Saam gelees met die verwysing na “bespiegelinge” en “wolhaarstories” sal sy lesers dalk des te meer verras wees oor daardie statistieke!

As spioenbaas is hy tog seker bewus dat daar maar atyd mense en instansies is wat met hul eie politieke agenda “wolhaarstories” probeer verkoop – ook aan koerante. Van sulke smouse is, om ‘n veiligheidsterm te gebruik, “bronne” wat jy nogal vertrou!

‘n Mens sou sy stelling so op sy kop kon omkeer: “ ‘n Mens sidder om te dink wat die gevolge kon wees as koerante hulle nie so ondubbelsinnig teen die dwaasheid, voetslepery, en dubbelpratery in sekere politieke en veiligheidskringe verset het, en nie so toegewyd ‘n ingeligte openbare mening help bou het nie.” Dat dit SA sonder twyfel sy vreedsame revolusie sou gekos het, sal ek nie beweer nie. Dis ‘n kwaai aanspraak. Maar moenie vergeet nie dat die wit kiesers in die finale instansie die vreedsame herskikking in die deurslaggewende referendum van 1992 moes goedkeur. ‘n Nee-stem kon rampspoedige gevolge ingehou het.

Twee koerantuitsprake oor Mandela haal ek graag hier op. Die eerste was in Die Volksblad van 7 Augustus 1987 – vier en ‘n half jaar voor die historiese Sondag. Die koerant het gewaarsku oor die implikasies as so ‘n mitiese simbool in aanhouding sou sterf. Die woord “krisismoment” is gebruik om dood in aanhouding te beskryf. Die tweede was op 18 Julie 1988, Mandela se sewentigste verjaardag, in Beeld. Van Willem Wepener se klinkende oproep om vrylating van die 70-jarige is internasionaal ‘n ophef gemaak.

Beukes het op sy beurt ‘n jaar later, in 1989, in ‘n Dawierubriek in Die Burger oor groepregte geskryf op ‘n wyse waaroor Mandela uiters dankbaar en positief was. Hy het dit as ‘n gesonde vertrekpunt vir vrugbare gesprek beskou en F.W. de Klerk opgewonde daarop attent gemaak. Mandela was ‘n gereelde Burgerleser.

My vraag is: Kan dit wees dat koerante met hul konstante bydraes onvoldoende solidariteit met Barnard se geheime pogings getoon het om in sy oë die status van betroubare bondgenote en waardevolle deel van sy ondersteuningsbasis te verwerf?

Daarmee skiet ek nie die boek af, soos sommige ander kritici nie. “Geheime revolusie” – veral die tweede helfte – bied ‘n haas weergalose weergawe van die “geheime revolusie” agter die skerms. Die driehoeks-dinamiek van Barnard–Botha-Mandela word insiggewend belig, met al die verborge drama en intriges.

Vanselfsprekend kan die leser egter nie die boek los maak van al die vurige kole uit sovele oorde nie. Onwillekeurig soek jy leidrade oor die hoe, wat en waar van die wye ontsteltenis. Vir wat dit werd is: My indruk hieroor is dat Barnard die slagoffer was van ‘n aanslag wat verreweg nie in elke opsig verdiend en regverdig was nie.

In ‘n sekere sin het ek wel verstaan hoekom soveel gramskap oorgeborrel het. Die Groot Mirakel had immers ook vele ander (openbare en verborge) skakels as die een wat Barnard intiem meegemaak het en beklemtoon. Klaarblyklik het verteenwoordigers van party ander skakels dieselfde gevoel gekry as ek oor die hantering van die koeranteskakel: Dat dit bra afwysend en sonder erkenning afgemaak word.

Dié dat soveel van ons ongenooid saampraat: As ‘t ware by ‘n soort “fees van die ongenooide” resensente kom aansit.

Tot sy krediet wil ek graag daaraan erkenning gee dat Niël Barnard nooit ongeneë was nie om oor die Mandelasage die deur op meer as net ‘n skrefie oop te trek vir senior joernaliste wat hy genoeg vertrou het. Ons had vrugbare en openhartige gesprekke. Ek onthou veral ‘n gesellige Sondagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg, nogal met die veelseggende naam “Spyglas Hill”.

As gevolg van sulke toeligting verstout ek my om te beweer dat ons Naspersers nogal goed ingelig was – beter as van P.W. se kabinetskollegas wat later in stomme verbasing gereageer het.

Ek skuld die skrywer ‘n persoonlike dankwoordjie vir die wenk dat Botha se sekretaris, Ters Ehlers, met ‘n gewone mik-en-drukkie foto’s by die geheime ontmoeting met Mandela in Tuynhuys geneem het. Dit het tot ‘n wêreldscoop vir Die Volksblad gelei. Hy het by ‘n ander geleentheid byna tien getikte bladsye notas van ‘n gesprek met Mandela aan my beskikbaar gestel. Kon aan die hand daarvan ‘n redelik in-die-kol-Willemrubriek skryf.

En, ja, sal ek maar die sluier lig oor Barnard se betrokkenheid by ‘n abortiewe Roelf Meyer-poging om die uwe in 1992 as Sekretaris van Inligting te werf?

Barnard en politieke beriggewer wyle Alf Ries was hartlike vriende. In sy boek is ‘n foto wat hul ontspanne verhouding mooi illustreer. Kyk net hoe genoeglik kuier hulle saam op ‘n gesamentlike verjaardagparty op die SAL Matroosberg saam met die president en sy vrou.

Alf het graag vertel van ‘n ete in Barnard se kantoor in die H.F. Verwoerdgebou . Twee kelners dra silwer skottels in. Die deksel word gelig en twee fris krewe lê en wag. Ries is in ‘n sielestryd. Sal hy saam eet en hoop op die beste? Sal hy sy gasheer oor sy akute allergie vir skulpvis inlig? Ries kies die weg van eerlikheid en openheid. Sonder om doekies om te draai, deel hy sy probleem mee. Doodreg, verseker Barnard hom. Hy skakel en praat gedemp oor die telefoon. Later kom ‘n kelner met …. twee hamburgers.

Openheid en eerlikheid. Nie doekies omdraai nie. Dit is gesonde joernalistieke beginsels. Hopelik word dit deur hierdie kommentaar weerspieël.

(Die artikel verskyn vandag in Volksblad.)

2 antwoorde op SKAKEL IN GROOT MIRAKEL

  1. Israeli het gesê op Julie 21, 2015

    Hoor, hoor!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.