BABANANGO TOT MELKBOS

Desember 31, 2014 in Uncategorized

Vandag, net ‘n asemteugie voor die betreding van my 75ste jaar op Saterdag  3 Januarie 2015, blaai ek die vergeelde bladsye van my eie geskiedenisboek ver-ver terug.

IMG_0003

 

 

 

 

 

 

My ouers was Johannes Cornelius (Seun) van Deventer van Babanango en Maria Petronella (Baby) Visser van Paardeberg (foto bo).    Twee mooi mense gewees!

IMG_0002-001

 

 

 

 

Ná hul huwelik het die jong paartjie hulle op die plaas Middel-in aan die voet van die berg Spês in die wuiwende graslande van die distrik Babanango gevestig (foto bo). Middel-in was deel van die familieplaas Rondspring.

IMG_0004-001

 

 

 

 

 

 

Op 3 Januarie 1941, ‘n dag voor my pa se 30ste verjaardag, is hul oudste (en enigste) seun, Jakob Hendrik, in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee  gebore.  My ma was ‘n bloedjong 21.  Op die foto is die eerste foto van die uwe. Die mannetjie was toe twee maande oud. Sy stootwa lyk na ‘n heel netjiese 1941-model.

IMG-001

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Jakob Hendrik kom van oupa Van Deventer,  hier op die foto saam met ouma, Maria Catherina van den Berg. Oupa Jakob was 30  jaar ouer as pa Seun, nes pa Seun 30 jaar ouer was as ek, en ek 30 jaar ouers is as Johan.   Die grootvader en grootmoeder is in die familiebegraafplaas op die plaas Rondspring begrawe.  Het ‘n klompie jare gelede ‘n pelgrimstog daarheen onderneem.,

IMG-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Buiten vir die foto in die stootwaentjie, het ek ook babafoto’s (bo) waar my pa my vashou (op 4 maande) en waar ek op sy skoot sit langs die huis (op ses maande).   Let daarop dat hy, die jong boer, op albei foto’s baadjies aan het. Ongelukkig had die kleine Van Deventer ‘n kroep borsie, wat toenemend minder lekker geakkordeer het met die klam, mistigheid van die Natalse weer.

hvd0161

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op hul seuntjie se tenger ouderdom van drie moes die Van Deventers op doktersadvies die groen heuwels van Noord-Natal groet  en na Kimberley verhuis. Pa wat nie ander opleiding gehad het nie, het by De Beers werk gekry as sekuriteitsbeampte.  Ons huis was ‘n skakelhuisie in Diagonalstraat (nommer 10) met ‘n peperboom en ‘n kleinhuisie in die agterplaas.  Die foto bo, op die voorstoep, is in 1946 geneem.  Kon nie lank voor pa se skielike dood gewees het nie.

IMG_0009-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op 21 Junie 1946 het pa by die werk siek geword, op sy fiets huis toe gery, soos sy gewoonte was, sy klere netjies opgevou en in die kas weggebêre.  Kort daarna  is hy in sy slaap aan ‘n bloedklont deur die hart oorlede. Hy is begrawe in Kimberley se begraafplaas , blok q, ry 12, graf 7.   Dis die weeskindjie Hennie wat hierbo, netjiese gebaadjie en gedas en pet in die hand, by die grafsteen staan.

Scan10076

 

 

 

 

 

 

Ma Baby en ek was alleen (totdat sy in 1950 met Tony Malan getroud is – so goed vir my soos ‘n eie pa).  Sy het in die Kimberleyse sentrale gaan werk waarheen sy elke dag met haar fiets gery,  My Tant Minnie het my in 1947 die eerste dag skool toe geneem …. ‘n verlore skapie.

 

10685471_1035197449829115_8014127872224826142_n

 

 

 

 

 

 

 

Maar die kleine Hennie het fluks geleer en het, ondanks die borsie, ‘n gesonde man van 74 geword, al 48 jaar gelukkig getroud met Tokkie en al 18 jaar afgetree hier op Melkbos,.  Die Here was vir my goed. Hoe dankbaar moet ‘n mens nie wees nie!

* Tot siens 2014. Glimlagjaar elke leser toegewens.

6 antwoorde op BABANANGO TOT MELKBOS

  1. @hvandeventer

    Mooi 2015 vir jou en jou gesin Hennie.

    Ek het hierdie kort biografie van jou geniet. Ekself delf gereeld in ons ou familie albums rond. Dit gee mens ‘n herwaardering van jou eie identiteit en jou plek hier benede.

    • @CrazyHorse Hoe ouer ek word, des te meer waardeer ek die kleintyd-herinneringe wat in ou kiekies opgesluit is, Frik. Party mense is mos maar sentimenteler as ander. Hoop 20i5 is goed vir jou en jou mense.

  2. tina10 het gesê op Desember 31, 2014

    Hoop jy het ‘n wonderlike nuwe jaar en ‘n heerlike verjaarsdag.

  3. Israeli het gesê op Desember 31, 2014

    Dit was lekker om met jou op hierdie nostalgiese paadjie terug te stap en ek hoop jy sal Saterdag ‘n lekker verjaardag hê en nog baie jare vir jou gesin, familie en vriende gespaar word.

    • @Israeli Dankie – jy’s so ‘n geduldige leser. Laat ‘n mens darem voel jy produseer nie vir niets en niemand nie. Stel die wense op prys.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.