BITTER PILLE

Desember 10, 2014 in Uncategorized

Kampioene! Koerante wen die D.P. de Villierstrofee. as beste presteerder in die Pers.   Die Burger wen op sy beurt die Ton Vosloortrofee as beste presteerder in die Koerantegroep.

Kampioene! Koerante wen die D.P. de Villierstrofee. as beste presteerder in die Pers. Die Burger wen op sy beurt die Ton Vosloortrofee as beste presteerder in die Koerantegroep. By my is Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, en Ebbe Dommisse. redakteur van Die Burger

Eerbiedwaardige direkteure soos David (David Sasol) de Villiers, Philip la Grange en Billy van der Merwe sou my sweerlik aan die broek se sitvlak beetgekry en doer van die 18de af by ‘n venster uitgesmyt het!

So dink ek soms by my selwers as ek in my verbeelding ‘n scenario optower waar ek in die jare 90 sou waag om in die direksie aan te kondig ek het nou die resep vir ‘n deurbraak tot die Engelse mark gevind – gee eenvoudig vir die massa wat hulle wil lees. Gee hulle ponies (tabloids)!

Nogal amusant om my die verskillende reaksies aan die tafel in te dink. Veral van Oom David Sasol kry ek ‘n helder prentjie. Hy sou eers sy swaar lyf op sy draaistoel posisioneer om die twakprater beter in sig te kry. Sy hand sou uitskiet uit na die lekkergoedbakkie wat altyd gerieflik byderhand was. Hy sou my afkeurend begluur.

Dan stadig, afgemete sou sy woorde kom: “Voorsitter, meneer Van Deventer sal maar weer moet gaan dink.”

Ja, ‘n Engelse dagblad was bepaald daardie tyd sterk op die agenda. ‘n Persoonlike teleurstelling van my skof as koerantehoof is juis die onvermoë om een op die been te bring.

Die beste resep vir toetrede tot daardie mark is meer as een keer uitgetrap by spesiale dinkskrums van die bestuurskader aan koerantekant. En wat ‘n deksels goeie span was dit nie? Nie om dowe nete nie het Koerante op die bestuurskonferensie van 1996 in Swakop (die sogenaamde Woenstynberaad) die gesogte D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in Naspers verower.

Maar al die sessies met geslote deure van hierdie uithaler-span het dalk kreatiewe planne opgelewer, nooit haalbare begrotings nie. Die laaste een, waar ons dalk die naaste gekom het aan ‘n formule, was in Kommetjie, onthou ek. Vir my was dit ‘n groot terugslag toe die Kommetjieberaad ook eindig sonder dat ons daardie knoop deurgehak kon kry.

Maar ons het natuurlik toe nog net in terme van ‘n formele dagblad soos Beeld, Die Burger of Die Volksblad gedink, nie in terme van ‘n poniekoerant (soos die latere Sun/Son)nie. Nooit!

Die waarheid is natuurlik dat die ponie se waarde as sirkulasiebouer geen geheim is wat Naspers skielik in die nuwe millennium raakgevat het of ontdek het nie. In lande met groter bevolkings – d.w.s. genoeg lesers vir ernstig of populêr/gesaghebbend of sappig – is die ponie ‘n ou bekende pyl in die koerantekoker. In die Naspers-kultuur en –waardestelsel soos ek dit in my tyd gelees en verstaan het, is poniepers egter aan geelpers gelyk gestel.

Dit (en die klas krasse plakkate wat teen pale en bome selfs in die beste buurte opgaan) sou ondenkbaar wees – as ‘t ware die proe aan ‘n verbode vrug.

Die rasionaal dat sulke koerante en plakkate (“Kaalgat dominee sien sy gat”!) meer mense so ver kry om koerante te lees, klink of die doel die middele wil heilig. Sprekende as oud-amptenaar, oud-redakteur en oud-koerantehoof moet ek dit egter van die hart kry dat ek oor veel Pers-prestasies graag spog, maar ongraag in goeie geselskap ‘n verbintenis met die ponies sal erken. Vroeë vaders in hul grafte laat tol? Ek meen so.

‘n Ander bitter pil aan die Engelse front was dat selfs ons poging om net ‘n goeie Engelstalige tuiskoerant in Kaapstad se suidelike voorstede te vestig, eenvoudig nie van die grond kon kom nie. Die advertensiekraantjie het droog gebly. In ‘n stadium is die bekende Engelse joernalis Wessel de Kock (skrywer van A manner of speaking) as redakteur uitprobeer. Hy wou met inhoud egter te hoog vlieg. Uiteindelik was hy gerustreerd, ek gefrustreerd en die direksie gefrustreerd.

‘n Bitter pil (vir my persoonlik) op die politieke vlak was die besluit van 127 “Jong Turke” om teen die wense van Ton Vosloo, van my en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids- en Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling.

Ek het dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Die besluit van die jong kollegas onder aanvoering van Tim du Plessis, Arrie Rossouw en Tobie Wiese om met so ‘n hoogs sigbare openbare protes deur te druk, het ek as ‘n onregverdige skop in die tande van ‘n vorige generasie ervaar – ook in die tande van Ton wat as redakteur ‘n voorloper met verligte denke was. Onthou hoe briesend P.W. Botha was toe hy doerie tyd by Beeld al profeties geskryf het: “Ons sal nog eendag met die ANC moet praat soos mons nou met Swapo praat.”

Instinktief, wou ek die advies van ‘n besoekende Amerikaanse vriend, John Painter, volg om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan. Painter was by my op besoek en het saans gretig oor ‘n glasie pinotage na my rapporte vanuit die Heerengracht oor die rebellie geluister. Ton was ook gekrenk, maar het ‘n koeler kop behou en het aanbeveel dat ons hulle maar laat “stoom afblaas”.

Uiteindelik het wat ek destyds as ‘n “swart dag” ervaar het, op die lange duur geen letsel gelaat nie. Die Pers het in sy verskeidenheid sy pad bly loop en sy rol bly speel. Miskien, miskien tog, was in daardie kollektiewe verset-aksie vrugbare saadjies vir latere ontkieming, en het dit by landgenote groter geloofwaardigheid help win in ‘n tyd toe geloofwaardigheid vir “Afrikaanse” instellings nie altyd maklik verwerf is nie.

Ek skryf dit hier sonder te veel besorgdheid oor moontlike verwyte van agternawysheid of van ‘n terugkrabbeling wat hopeloos te laat uit hierdie oord kom. Soms, net soms, verskuif selfs die hardnekkigste tog wel ietwat van posisie ….

4 antwoorde op BITTER PILLE

  1. Was daar nooit sprake om poniekoerante in swart streekstale te ontwikkel het nie? Of het dit gesneuwel toe ook hul tuislande van hulle weggevat is?

    • @eksiperfeksi – Om die joernaliste te vind – veral redakteurs en senior assistente sou seker bars gegaan het. Ek is bevrees Naspers was nie naby daar nie.

  2. Die Perdeby se angel het skynbaar poniebloed by jou are ingespuit
    (UP1960)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.