VREEMDE NUWE STOEL

Desember 9, 2014 in Uncategorized

 

Goeie kontak met die nuwe leidsliede.

Goeie kontak met die nuwe leidsliede.

Van 1992 tot 1997 het ek swaar gedra aan die gewigtige titel: uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers. My direkte verantwoordelik was die portefeulje dagblaaie en streekkoerante. Ook City Press wat later toegevoeg is, en uiteindelik Rapport toe Naspers volle bestuursbeheer gekry het.

Ek is tot vandag toe onseker of ek ewe tuis in die bestuursomgewing as in die redaksionele omgewing was. Die ervaring op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht het tog wel my lewe verryk, hoewel dit my ook nederigheid geleer het.

Die eerste keer toe ek bv. Johannesburg toe is om die “nuwe” kuiken in my nes, Rapport, amptelik te besoek, was die redakteur Izak de Villiers “te besig” om my te woord te staan. Die verleë bestuurder, Jorrie Jordaan, moes die kastaiings uit die vuur krap. Na Die Burger se redakteurskonferensie het ek van Ebbe Dommisse wel ‘n ope uitnodiging gehad, maar ek het ook gou agtergekom: Mnr. Van D. jy is van buite. Hier praat jy net as jy direk aangespreek word.

Die dekade 90 het geskitter aan vele hoogtepunte. Die verkryging van ‘n vastrapplek in die swart lesersmark met City Press, asook verskeie tydskrifte, teken ek as hoogtepunte aan. Die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs toring ook uit. Enorme waarde is ontsluit. “Waardelose” sertifikate in kluise het oornag stewiger bankbalanse en selfs welvaart beteken.

Sal ek die opwinding vergeet om op die vloer van die Johannesburgse Effektebeurs te kon staan toe die klok lui en die verhandeling in Naspers begin? Daardie middag op die Boeing Kaap toe het ek, Salie de Swardt en Andrew Marais die heildronke ingeryg.

Gesondheid. Salie, Ton en HvD klink 'n glasie op die vloer van die Johannseburgse Beurs.

Gesondheid. Salie, Ton en HvD klink ‘n glasie op die vloer van die Johannseburgse Beurs.

Vir “my” koerante was die 90’s ‘n goue era.  Danksy soliede produkte en hul onbeskaamde Afrikaansheid het hulle lesers se harte opnuut bly gemaak. By my afskeid, op 19 Februarie 1998, het Ton Vosloo hom daaroor soos volg uitgelaat: Hierdie tydperk …. van ons koerante sal in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai.”

Die Ton Vosloo-era word in my oordeel by uitstek deur die eienskappe gesonde verstand, realisme, visie en leierskap versinnebeeld. Dit was ‘n belewenis om op elke terrein mee te maak hoe “baas Ton” met een meesterskuif op die ander die Pers monumentaal uitbou. As ‘n lid van sy bestuurspan, kan ek net verwondering oordra oor hoe hy, soos min ander, veranderinge geantisipeer het en gewoeker het om daarvoor voor te berei, onder meer deur die uitbouing van diversiteit en die klem op kwaliteit op elke terrein.

Daardie ander merkwaardige Pers-kolos, Piet Cillié, het die kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik: “Wanneer die resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan ná ‘n verpletterende sege by die stembus: “I think we did rather well.” Oor Ton Vosloo sou ek in daardie eufemistiese idioom vrymoedig wou verklaar: “I think he did rather well!”

Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met positiewe beriggewing, meen ek. Feit is dat ons ook op bestuursvlak uit ons pad gegaan het om na die nuwe leidsliede uit te reik. Goeie kontak is met die here Mandela,  Mbeki en andere bewerkstellig. Teen die vroeë 90’s al is ook ingesien is dat op die mediatoneel veranderinge moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.

‘n Reeks koerante is onder die Vision-banier op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegsê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism en aan joernalistiekdepartemente van Stellenbosch en Rhodes, asook aan technikons, om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.

En Vrye Weekblad dan? Die uwe bevind hom in die geledere van ‘n geslag koerantredakteurs wat in die woorde van Max du Preez o.m. sou geglo het dat sy koerant “te loslittig en te ver verwyder van die gewone Afrikaner” was om werklik impak te maak. Vrye Weekblad het ons hoofstroom-dagblaaie graag gekoggel. Desondanks het Naspers uit sy pad gegaan om die blad uit sy finansiële gemors te probeer red.

Op my inisiatief is in die finale oorlewingstryd ‘n senior oud-amptenaar van Naspers, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om te help. Die Pers het al die koste gedra en hom boonop ‘n salaris betaal. Sy pogings kon die finale gordyn nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.

Toe ek die Pers se hulp enkele gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie.

Die begin van die glorieryke Koos Bekker-era het rofweg saamgeval met my eie uittrede, wat onder meer aangevoor is deur die besef van nuwe tegnologiese eise waarvoor ek my kwalik as goed toegerus beskou het. Hoe omvattend en vinnige radikale verandering in die totale korporatiewe identiteit sou intree, kon ek toe nie raai nie, hoewel Bekker, soos natuurlik sy goeie reg was, dadelik begin het om sy stempel simbolies en struktureel af te druk.

Simbolies, het hy dadelik voor begin stap in ‘n nuwe era van dasloosheid en deur die bank vir almal net “Koos” geword, net nie mnr. Bekker nie, asseblief. (Ludwig Visser, voorheen van Die Burger, onthou daaroor ‘n snaaksigheid. By die Pers was destyds ‘n bruin motorbestuurder met die van Prins. Jong bodes het met die nodige agting na hom verwys as “Meneer Prins”. Eendag staan Ludwig in die voorportaal en hoor een vir die ander vra of hy weet waarheen “Meneer Prins” is. Die ander antwoord: “Hy het vir Koos in die stad gaan haal!”)

Struktureel, het “Koos” eerstens sy kleim afgepen met sy verwerping van die oorspronklike ontwerp vir die Aucklandparkse Persssentrum (onder leiding van ‘n komitee waarvan die uwe die voorsitter was), die haastige aftakeling van die ou kantooropset van die besturende direkteur en die vestiging van ‘n nuwe binnekring rondom hom. Bepaalde senior amptenare is van die 18de verdieping af verskuiwe om vir nuwe gesigte plek te maak

Die uwe het tot siens gesê voordat die winde van verandering hom kon tref. Anders as wat sommige vermoed het, was by my werklikheid geen suurheid of bitterheid nie. Trouens, ek beskou my tot vandag as trotse Nasperser in murg en been.

* In die volgende blog skryf ek oor ‘n paar teleurstellings vir my in my nuwe stoel in die Kaap.

2 antwoorde op VREEMDE NUWE STOEL

  1. Interessant – wat Max du Preez se dinge betref : hoe die hande wat voed se vingers steeds onverskrokke afgebyt word.

    Shame, en nou skinder ek bietjie hier op jou blog . Max is maar een van vele ‘Ja-stemmers’ wat tans erg galbraak oor wat op hede aan die gang is in hierdie plaaslike sosiopolitieke ondermaanse ( asof dit wat tans aan’t gebeure is nie voorspel kon word nie ) en seker ook net so erg te velde sal trek as die Sjinese, as nuwe groot moontheid, ALMAL van ons hier in slawerny sal kom dompel .

    Die Max du Preez’s is ‘n uitgelese groepie van uhuru-meelopers wat altyd teen die “establishment” sal skel , MAAR NOOIT ENIGE HAALBARE ALTERNATIEF VOOR TE STEL HET NIE – dobberend en al skreeuend met gebalde vuiste spoel hulle maar saam waar die stroom hulle sal vat.

    • @Eksieperfeksi In ‘n sekere sin is ek maar self ook in daardie bootjie. Het in my koerant sterk gedruk vir geregtigheid vir almal. Het nie kon raai geregtigheid vir die eie gaan binne 20 jaar van demokrasie so ‘n mishandelde slagoffer van ons destydse idealisme word nie. Moet darem ter eie regverdiging byvoeg: selfs die soort “verligtheid” wat my en ander redakteurs van die 80’s aangedryf het, was vir Max en sy maters te min, te laat. In sy oë was ons voetslepers en struikelblokke.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.