OOR PW, FW, MADIBA EN THABO

Desember 1, 2014 in Uncategorized

2014_11_28LINKS: Die “ampsmotor” in die jagveld – kyk net hoe lekker lag die kwaai P.W. Botha. REGS BO: ‘n Vriendelike handdruk voor die onvriendelikheid.  REGS ONDER:  Kort hierna het die AWB inmarsjeer ….

Uit die een president se hand het ek in die jagveld ‘n skyfie lemoen geëet.  Oor ‘n ‘n tweede was daar amper perde oor ‘n “stout” berig ná ‘n groot aand en ‘n baie spesiale oproep. ‘n Derde laat my onthou van ‘n ontsettende groot nood. ‘n Vierde se besoek het gemaak dat ‘n geel onlustevoertuig op die sypaadjie oorkant my huis parkeer.

Oor elke president van my era het ek, by die politieke herinneringe, ook persoonlike glimlag-herinnering  uit hul ampstyd of daarvoor.   Die onthou-fonteintjie het begin borrel ná plasing van die foto-collage by ‘n vorige inskrywing, en dese en gene se  reaksie daarop.

Die lemoen-episode was op een van die P.W. Botha-jagtogte elke winter in die Suid-Vrystaat wat deur Botha se boesemvriend Boet Troskie aangebied is. Met dodelike skietvernuf het Botha altyd self ‘n paar bokkies platgetrek.  Daar in die Vrystaatse winterveld, alleen agter ‘n miershoop of langs ‘n knetterende kampvuur, omring deur kollegas soos Chris Heunis, Pik Botha, Barend du Plessis, Kobie Coetsee, Pietie du Plessis en Gene Louw, was hy op sy mees ontspanne.

My storie spruit uit ‘n keer toe die omgeboude V8-jagvoertuig van die wellewende Pieter Jacobs van die plaas Zuurfontein, Fauresmith – bekend as die  “ampsmotor” – met sy oes van die dag tot by sy asse in die modder wegsak. Om hom uit te kry, het gevat aan die klein geselskappie wat saam met Botha die veld ingekoers het.

Terwyl ons so swoeg (en onderlangs swets), skil hy rustig ‘n lemoen. Toe ons die gevaarte eindelik uit die amperse moddergraf het, kry elkeen ‘n skyfie in die mond. Myne kry ek met die spitsvondigheid: “Ons maak nou geskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n koerantman uit my hand eet!” Figuurlik uit sy hand geëet, het ek darem nooit!

Van die F.W. de Klerk onthou ek veral die aand van 11 Februarie 1992 – ná die aankondiging van Nelson Mandela se vrylating. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch. Terwyl die Broers die nuus op die TV-skerm volg, wie stap  in?  Die Man van die Oomblik! Broer FW was genooi maar ons het aanvaar dringende sake hou hom weg. Die atmosfeer was skielik tintelend. Net die beste Roodeberg is geskink.

Later word De Klerk ingelig pres. George Bush soek hom. De Klerk bel terug uit die manjifieke plaasopstal se sitkamer met sy swaar geelhoutbalke. Bush nooi hom na die Wit Huis. Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die gasheer, Piet Carinus, met ‘n bree glimlag mee, maar “moenie bekommerd wees nie; my kantoor sal kom regmaak.” Nee, kap Carinus terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking.

Die Sondag besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek noem nie die AB of die plaas se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was. Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag is die vet in die vuur. Die UR is ontsteld. Die president is in die verleentheid gestel. Prof. Peter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek Tuynhuys bel.

Wat ek toe dadelik doen. Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie. Ek hoef ook nie te hê nie. Sjoe – noue ontkoming.

Vrydag 9 Oktober 1997 was ‘n dag wat Naspers nie lig sou vergeet nie. Nelson Mandela het kom saam aansit. In die straat en in die voorportaal was ‘n ontvangs soos nog nie daar gesien is nie. Maar toe volg Die Toespraak. ‘n Driftige een, wat in trant en gesindheid veglustiger was as voorheen

Die Afrikanerdom had, volgens die kwaai President, “baie om oor nederig te wees”.Ons koerante is ook skerp gekap oor, wat Madiba genoem het, ” ‘n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie”.

Terwyl Mandela praat en praat, had hierdie arme drommel sy eie persoonlike nood, aangebring deur ‘n jenewertjie vooraf en een of twee glase wit uit Naspers se voortreflike kelder. Ek was aan ‘n tafel in die verste hoek van die deur af, en intens bewus dat om op te staan en uit te stap vir die vertolking van ‘n protesdaad vatbaar sou wees. Al raad was dus maar vasbyt en bene al hoe stywer gekruis bly sit tot die bittereinde –  wat net betyds aangebreek het!

Ses aar tevore, op Vrydagaand 18 Mei 1991, was Thabo Mbeki, wat Mandela later as president sou opvolg, op my uitnodiging in Bloemfontein. Die geleentheid was ‘n unieke, private byeenkoms met Die Volksblad as gasheer. Die senaatsaal van die universiteit was gepak met leidsliede van die Rosestad: politici, NG-moderator, rektore, president van die Vrystaatse rugby-unie en andere.

Terwyl Mbeki praat, swaai die deure oop, en ‘n peloton verslonste AWB’s, sommige kousloos en met velskoene, marsjeer die saal binne. Hulle soek nie “kaffers” op die kampus nie – nog boonop ‘n “Kommunis”! Na ‘n lang onderbreking en uitgerekte onderhandelinge is hulle uit.

Mbeki sou later by my en Tokkie in Van Schoorstraat kom eet. Genl. Tom Erasmus van die SAP, een van die gaste, was nie gerus nie. Hy laat kom toe van sy manne, wat in geel onlustevoertuie opdaag. Hulle vergesel ons na my huis en parkeer oorkant die straat.

By ‘n buurman, dr. Wim Brummer, was sy seun, Tat, aan ‘t partytjie hou.  “O aarde, die musiek is te hard,” was hul eerste gedagte toe die geel SAP-voertuig opdaag. Die volume is dadelik verstel. Verskeie bure het by die polisiebewakers gaan navraag doen. “Wat gaan dan by die Van Deventers aan?” “Kraai van Niekerk eet daar,” was die antwoord. Hoekom juis Kraai, weet ek nie.

 

1 antwoord op OOR PW, FW, MADIBA EN THABO

  1. Israeli het gesê op Desember 1, 2014

    Veelbewoë tye.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.