EER VIR MADIBA

Julie 8, 2013 in Uncategorized

Met die verstaanbare verkorting van my Mandelabrief (gister in Rapport) – ‘n gat is so groot en nie groter nie – het twee aspekte in die slag gebly.

Met hernoeming van die NKP sal sommer ook gesorg word (hopelik) dat ons geliefde wildtuin mooi opgepas word, het ek betoog.

Verder het ek in aansluiting by John Tungay ook weer as alternatiewe op die tafel gesit die hernoeming van Cathkin Peak (sy voorstel) of sommer die hele Drakensberg (my voorstel) na Madiba.  

‘n Idee waaraan ek ongelukkig te laat gedink het, is om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).

 Onthou, Johannesburg Internasionaal heet reeds O.R. Tambo. Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.

 Hier is my volledige brief, soos aan Rapport aangebied:  

 Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees? Amper 11 jaar gelede, in Augustus 2002, het ek  in ‘n brief in “Rapport” hardop gewonder of ‘n groter en unieker eer vir dié internasionale ikoon moontlik is as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-Vryheidspark.

 ‘n Vriend het voorgestel dat ek van daardie knipsel ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word”.  Hy was een van bloedmin wat instemming betuig het. Uit verskeie oorde is my brief as moedswillig, onbekook of selfs verraad bestempel.

 In Maart 2011 het John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoor, met die gedagte gekom dat Cathkin Peak Madiba se naam kry. Ook sy plan is met skrale geesdrif begroet.

 As reuse-beelde van voorste Amerikaanse presidente teen Mount Rushmore uitgekapkanword, kwalifiseer die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie seker vir ‘n groter eer as net sy gesig op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra.

 Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.    

 Mag ek maar weer in hierdie kolom die naam van die Wildtuin, Tungay se voorstel oor Cathkin Peak of, in aansluiting,  selfs die naam van die hele Drakensberg-reeks as aansporing vir ernstige nadenke op die tafel sit?

 Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels.  Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebindingkanwees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word.  Die Krugerhek kan mos die Krugerhek bly en Coert Steynberg se reuse-beeld, wat wel al in ‘n stadium in ‘n politieke maalstroom was,  kan as erkenning vir die versiendheid van die stigter bly staan waar dit is. Vir altyd.

 Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers,  in ‘n spogtoestand gehou word?

8 antwoorde op EER VIR MADIBA

  1. Die probleem is net dat elke dorp een of ander straat na Nelson Mandela vernoem

    So gaan daar menige Nelson Mandela strate in die land wees

  2. pbroere het gesê op Julie 8, 2013

    Sjoe, dis ‘n mondvol. Dit sal wees soos om Moremi of Savuti of Nogorongoro of Yellowstone nuwe name te gee? Dis amper om ‘n handelsmerk te verander?

    • Uit Melkbos het gesê op Julie 9, 2013

      Stem saam. Dis sou ‘n reusesprong wees. Niks fout met die bestaande handelsmerk nie. Maar is Mandela nie universeel SA se bekendste, sterkste handelsmerk nie?

  3. vega het gesê op Julie 8, 2013

    Stem! (Ons gaan Vrydag Kruger Park Lodge toe, hoe lyk die weer daar?)

  4. perdebytjie het gesê op Julie 8, 2013

    Soos Shakespeare gese het:”What’s in a name?”Honderd jaar later word iemand anders weer vereer en Kruger en Mandela se name is net hersinskimme.
    Weet iemand wie was Cathkin?Niksseggend vir vandag se mense.Drakensberge is egter ‘n mooi woord,wat die berge beskryf en dit sal jammer wees om dit te verander.

  5. Bruggie het gesê op Julie 8, 2013

    Goeie voorstelle

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.