ALMAL SE OUPA

Mei 20, 2013 in Uncategorized

 Ek  is almal se oupa, ek is almal se pêl.  ‘n Mens hoor mos daardie rooi konsertina so  huil, huil, huil, as jy kyk na daardie mooi foto op die omslag van Johan van Wyk se trefferboek, So was dit.  

 Die oom met die kruisbande, hoed, velskoene en toegeknoopte hemp kon almal se oupa gewees het …. dis te sê as jy ‘n Weskus-oupa gehad het wat hoed gedra het en kon konsertina speel. Ene Elaine het dadelik in ‘n e-pos gewonder of dit nie dalk HAAR oupa op die omslag is nie.  Hy het hoed gedra en konsertina gespeel.  

 Ek het terug ge-e-pos:  “Op die omslag is Oom Theunis van Zyl, tuie-en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus. As hy jou oupa was, laat weet asseblief. Johan van Wyk sal graag daarvan hoor.”

 Maar nee, dit is toe ongelukkig nie Elaine se oupa nie, selfs al lyk dit so baie na hom, al was hy ook ‘n Weskusser en al het hy ook swepe gevleg. Haar oupa was Piet Brand van die plaas Brakkuil, net duskant Dwarskersbos.

 Maar die ou wêreld is klein, Toe Elaine rondvra, kom sy agter haar ma weet van Oom Theunis. Sy het self ‘n paar goedjies te vertel gehad oor “Vloorvlei” soos hulle Verlorenvlei glo genoem het – soos dat Oupa Brand  gewoonlik sy tome na ‘n Oom Van Zyl van “Vloorvlei” gebring het vir herstelwerk.

 Elaine het ‘n fototjie van haarself (toe 5 jaar oud) en Oupa Piet tussen haar foto’s gekry en aangestuur. Oupa Piet is links, en Oupa Theunis, soos hy op die boek verskyn, regs. Elaine sal bly soek en stuur as sy een van hom kry met sy hoed en sy konsertina,  belowe sy. 

 Dit sal egter ‘n rukkie moet wag, want Elaine se ma is pas Australië toe. Haar goedjies word geberg  totdat  sy oor drie maande terugkom. Hou dus hierdie ruimte geduldig dop.  

 Naskrif:   Raai wat was in Elainse ma se handbagasie.  ‘n Eksemplaar van So was dit, natuurlik. Elaine het dit gou op die lughawe vir haar gekoop vir leesstof op die lang vlug. Sommer op die vierde blad sou sy kon lees van Oom Theunis, wat in 1960 deur Johan self afgeneem is op besoek aan sy lappie grond, Muishoek.

 Oom Theunis het sy eenvoudige maar onafhanklike boereleefwyse soos volg aan Johan beskryf:

 “As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit die in die vlei waar die springers en harders boer; as ek wil vleis hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant.  Daar is my trapvloer en perdemeul, hier is my melkstal.  My meubels maak ek met ‘n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self.  In my voorhuis staan ‘n wireless en hier onder is ‘n phone.  In my tuiekasmer staan my houtbaadjie (doodkis) en daar onder die bome lê my kerkhof.  Ekskuld niemand niks.”

7 antwoorde op ALMAL SE OUPA

  1. ek is ‘n kleinseun van oupa Theunis Van Zyl

  2. Jammer daar is min sulke mense wat niemand niks skuld nie…

  3. Spartel het gesê op Mei 21, 2013

    Ek dink met waardering en verlange terug aan my oorlede pa – die oupa van my sewe kleinkinders en nog tien ander – wat oor ‘n paar dae 100 jaar oud sou wees. Oorlede 20 jaar gelede en begrawe op die dag wat hy 80 sou word.

  4. ek-myself het gesê op Mei 21, 2013

    Ek ken mos vir almal, ek is almal se pel…. la, la ,lalalalaaaa!

Los ’n antwoord vir Johan Engelbrecht. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.