ROEPMAN GE-‘COPY’ EN – ‘PASTE’

Mei 25, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Om “Roepman” van Jan van Tonder te lees, is iets waarby ek met sy verskyning om die een of ander rede nooit uitgekom het nie. Die ophef oor die rolprent het die lus aangewakker. Die naweek op Kleinmond haal my vriend Chris van Rensburg, wat self uit ‘n spoorweg-agtergrond kom, “Roepman” uit sy boekrak. Ek lees en lees, elke los minuutjie, en net voor ons ry, is ek deur die boek.

 

Dinsdag is ek en Tokkie toe fliek toe – ‘n dagreis te perd, want “Roepman” wys mos nie oral nie. Ster-Kinekor skeep Afrikaans maar sleg af, tensy dit Leon Schuster is wie se aardse humor teaters vol pak.

 

Nietemin, nou het ek “Roepman” die boek en “Roepman” die fliek albei agter die belt. Baie mense raak opgewonde oor die fliek, selfs Leon van Nierop wie se oordeel ek respekteer. Ek verkies verreweg die boek.

 

Aan die een kant wonder ek of ek die fliek sou verstaan het as ek nie die boek gelees het nie. Aan die ander kant het die fliek in meer as een opsig nie aan my verwagtinge voldoen nie.

 

Versigtig nou, Van Deventer. Nadat ek laas my onbehae oor “Liefling” uitgespreek het, moes ek kwaai koes. Ek is verwyt dat ek niks goeds in ‘n Afrikaanse produk wil sien nie. Nou’s ek alweer disrespekvol. Maar dis regtig nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse fliek is nie; dis omdat “Roepman” nie konsekwent ‘n uitstekende rolprent is, soos sommige aansprake lui nie.

 

Die verwikkelde dinamiek van kruisverhoudinge in daardie kleurryke gemeenskappie in die spoorwegbuurt van Durban se Bluff val in die boek boeiend oop. Op die skerm gaan veel daarvan verlore. Ek kry die indruk van iemand wat met die boek gaan sit en insidente met ‘n viltpen gemerk het. Toe word die los fragmentjies gelas – ‘n tipiese “copy and paste”-oefening van die rekenaar-era.

 

Maar o wee, uiteindelik bly toe te veel insidente oor vir een fliek. Die skêr kom uit. Wat snippermandjie toe gaan, is plek-plek uiters wesenlike hegtingselemente, en die gevolg is ‘n sware verlies aan strukturele eenheid … en geloofwaardigheid. Sekere oorgange raak eenvoudig net te kunsmatig en stokkerig. Meermale kry jy die indruk: nou word ek net te erg met die lepel gevoer.

 

Toneeltjies wat vir effek ingevoeg word – byvoorbeeld Ouma agter op die motorfiets op pad kerk toe – is pure plastiek. Trouens, die hele Ouma-karakter word ‘n karikatuur, wat groot ongemak vir die kyker veroorsaak. Timus se pa, Abraham, word daarteenoor in al sy rigiditeit as mens van vlees en bloed uitgebeeld. Ook die karakter Joon, die “Roepman”, word beter raakgevat. Punte vir die draaiboekskrywers!

 

Met oordrewe melodramaties musiek en te veel, te veel “mooi” stemmingstonele trap die vervaardigers en regisseur in ‘n ou-ou slaggat – Emil Nofal gereïnkarneer! Die uitbundige danstoneel in die die water van die gebarste pyp onder die teerstraat is in die boek geloofwaardig, in die rolprent ‘n ongelukkige stuk choreografie wat aan die absurde grens.

 

Genoeg. Liewe mense, ek wil beklemtoon dis nie omdat “Roepman” ‘n Afrikaanse prent is dat die uwe krities is nie. Dis omdat die weergawe op die groot skerm nie reg laat geskied aan die boek nie. In elke taal is so iets ‘n teleurstelling. Al is “Roepman” stukke beter as “Liefling”, is die aanspraak op internasionale standaard ietwat ooroptmisties, vrees ek.

 

Naskrif: Dis seker maar ‘n kleinigheid, maar synde uit die koerantwêreld kan die uwe nie van sy irritasie ontkom as met koerante allerhande vermybare foute insluip nie. Dr. H.F. Verwoerd is op Dinsdag 6 September 1966 in die Volksraad vermoor. “Roepman” gebruik die Sondagkoerant Dagbreek om die moord in sy hoofberig aan te kondig. Ai tog, teen Sondag was die moord self ou nuus. Weet die vervaardigers nie dat nuus ‘n bederfbaarder produk as ‘n ryp piesang is nie?  Ek weet in Durban was geen eie Afrikaanse dagblad nie, maar hulle kon maar liewer die Verwoerdmoord op die voorblad geplaas het van ‘n fiktiewe koerant soos “Die Basuin” of so iets.

5 antwoorde op ROEPMAN GE-‘COPY’ EN – ‘PASTE’

  1. hvandeventer het gesê op Mei 25, 2011

    Sal graag hoor wat jy dink. Wat die Dagbreek-ding betref: ek het nou maar die nuk om puntenerig te wees oor absolute korrektheid – feite is heilig!

  2. hvandeventer het gesê op Mei 25, 2011

    Maryke, my oordeel is die van iemand wat die boek gelees en die fliek gesien het, alles binne 60 uur. Miskien was dit ‘n oordosis. In elk geval: ek aanvaar oordele is subjektief; ander mense kan totaal anders oordeel as ekself. Darem bly jy het ook die gevoel dat te hard probeer is om “gevoel” te skep. En die Engelse lied! Ek behoort dit nie te vergeet het nie!

  3. hvandeventer het gesê op Mei 25, 2011

    Die begrafnis was die Saterdag (10 September 1966). Dit was dus die Sondagkoerante se groot storie. Die Beeld het die Sondag verskyn met ‘n bylae oor die vyf dae wat SA geruk het. Dit was ‘n treffende stuk joernalistiek.

  4. Berwick het gesê op Mei 25, 2011

    As hulle die Dagbreek-hoofberig net ‘n opvolg-angle kon gegee het.
    Wanneer was die begrafnis destyds?

  5. maryke-anne het gesê op Mei 25, 2011

    Ek het die fliek baie geniet. My enigste kritiek wat ek kan gee is dat die fliek bietjie stadig beweeg het. Hulle kon meer van die storie gewys het en minder ‘gevoel’ probeer skep het.
    Ek kan nou nie uitspreek oor die koerant wat gebruik is nie, dit het nie saak gemaak nie. Die feit is dat dit in die koerant was. Ek sal seker nooit ‘n resensent kan wees nie, want sulke klein goedjies val my nie op nie. Ek dink ook hulle kon veel eerder vir Laurika ‘n Afrikaanse liedjie laat sing het. Die engels was vir my onvanpas.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.