U EIE KEUSE – 65

Oktober 24, 2010 in Sonder kategorie

Ter ere van “U eie keuse” se 65ste verjaardag en in aansluiting by gisteraand se besonderse huldigingsprogram deur die nuwe aanbieder, Willem Pelser, sit ek vandag graag weer hierdie blog op, wat op 27 Mei 2009 hier verskyn het.

Hoop net nie te veel mense het die meesleurende eerste halfuur van Pelser se terugblik gemis weens die SAUK se onbesonne herskedulering van die verjaardag-program om ‘n hoogs vergeetbare promosie-okkasietjie in die Paarl te akkommodeer nie.

My blog van 27/5/2009:

Ligte klassieke musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies. Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.

Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.

In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!

(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young. Deesdae is dit natuurlik Wouter de Wet, wat ook tenniskommentator is. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis).

In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.

Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.

Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.

Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.

Ewenwel, op ‘n dag het ek en Tokkie gaan sit en “ons eie keuse” saamgestel. Hier volg ons lysie “hartsmusiek”, nie in gewildheidsvolgorde nie:

Nonnekoor & Laura se aria uit Casanova (J. Strauss II)–dir. sir Neville Marinner

Mozart se klavierkonsert Nr. 21 in C Majeur (‘Elvira Madigan’) K. 467 Adante

Amazing Grace—Diana Ross

Gebed van ‘n jong meisie—Joseph Cooper

Fa La Nana Bambin—Anna Maria Alberghetti

8de Variasie op ‘n rapsodie van Paganini op ‘n tema van Rachmaninoff

Largo uit Nuwe Wêreldsimfonie (Dvorak)—Stuart Burrows

Bella Figlia dell’amore-kwartet uit Rigoletto (Verdi)

Tsjaikofski se Klavierkonsert Nr. 1 in B Mol Mineur

Non, Je Ne Regrette Rien—Edith Piaf

O Holy Night—George Beverly Shea

Hoe Groot Is U (S.K. Hine) —Rudi Neitz

Marieke—Jacques Brel

Seënbede—Anneli van Rooyen

Barcarolle uit Verhale van Hoffman (Offenbach)—op harp

Jantjie—Tygerberg-kinderkoor

Neuriekoor uit Madama Butterfly (Puccini)

Wals op. 39 nr. 15 van Brahms—Wessel van Wyk

Va pensiero (Slawekoor) uit Nabucco (Verdi)

Stille Nacht—Bielefelder Kinderchor

Die omvang van die lys sal Wouter de Wet seker sy hande in die lug laat gooi. Dis stof vir twee programme. Toemaar, Wouter, dis in elk geval nie vir die radio bedoel nie – sommer net vir ons eie plesier.

Van die historiese, sentimentele en ander redes waarom bepaalde snitte op ons lysie pryk, vertel ek graag in ‘n volgende aflewering

5 antwoorde op U EIE KEUSE – 65

  1. Met vanaand se U eie keuse, weereens knap aangebied deur Willem Pelser, let ek op dat, ongeag hoe minder goed ‘n opname mag wees, hy nooit maar nooit ‘n negatiewe opmerking daaroor sal maak nie. Wat my onmiddellik laat terugdink aan Daniel Kirstein – wat, ek is baie oortuig, die program vir ‘n lang ruk aangebied het. Sy snaakse en stuitige droë opmerkings oor van die opnames het ons as gesin laat skater. Dit moes in die jare 1968 – 1975 iewers gewees het. Ek is SEKER iemand het iewers ‘n glipsie gemaak deur sy naam uit te laat….

    U Eie Keuse bly ‘n wonderlike program….

  2. Ek sal graag saam luister!

  3. Sowaar, het het ook daardie gedagte in my kop??? ( dat Daniel Kirstein ook aanbieder was)
    Mal oor David Whitfield se stem, en veral Angel voices….

  4. Daniel Kirstein was inderdaad een van die mees geliefde en bekwaamste Afrikaanse omroepers. ‘n Mens sou maklik kon glo hy was ook ‘n U Eie Keuse-aanbieder. Op Robert Young se lys van vorige aanbieders ontbreek sy naam egter. Glo darem nie Young sou so ‘n fout begaan nie. Angel Voices – pragtig!

  5. Oor jare heen, veral noudat ek alleen is, loop ek nie graag hierdie program op Saterdagaande mis nie. So het ek die program rondom my suster se kuier vanuit London so gereël dat ons gisteraand ‘n tuisbly aand sou hê, net die twee van ons. Ons het uitgesien na ‘n aand van heerlike musiek ‘U eie keuse’ het dan ook nie teleurgestel nie. Maar, oor die program daarna, kan mens maar die kop wegdraai!

    Nietemin, ek het dit gehad, duidelik was ek verkeerd, dat Daniël Kirstein die program vir baie jare aangebied het. Ek kan glad nie verstaan waar ek dan die pad byster geraak het nie?

    Die lysie wat jy saamgestel het bevat inderdaad ook ‘n hele paar van my gunstelinge. Ek sou net graag ‘Angel Voices’ van David Whitfield daarby wou voeg!

    Mag daar vir ons nog vele aanbiedings van hierdie wonderlike program voorlê!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.