MOENIE SO MORS NIE!

Mei 25, 2017 in Uncategorized

Kinders, moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink. So het ons in die dae van my jonkheid gesing. Party het ondeund bygevoeg: Die oumense gooi dit by (in hul brandewyn of hul whiskey).

Die woorde van die tradisionele volkswysie (verwerk deur die Bloemfonteiner M. Casaleggio) is op die oomblik buitengewoon relevant. In die Wes-Kaap behoort elke radiostasie dit elke dag uit te blaker: ‘n Wakkerskud-klingel as’t ware.

Dis natuurlik nie net kinders wat nie in die water moet mors nie. Jongmense, grootmense, oumense eweneens. Die ondenkbare is by ons aan’t gebeur: as dit nie binne 60 dae goed reën nie, gaan ons krane net ‘n laaste drup en ‘n laaste ruk gee … dan kurkdroog staan.

Watertenks sal dan vir ons moet water aanry, word gesê. Van waar af? Niemand weet eintlik nie. Seker maar al die private boorgate annekseer, meen ‘n vriend. Ek weet darem nie of boorgate die katjies deur die water gaan kry nie. Ons eie is ook maar boomskraap.

By “Piet le Roux se plaas” (waarvan ons ook in daardie liedjie sing)? Ai. waar’s daai plaas met die baie reserwes!

Ons moet almal in Vadersnaam ophou om water te mors. Maar my betoog is eintlik oor kinders.

Twee opgeskote meisiekinders speel nou die aand in die Birkenhead-winkelkompleks op Melkbos se badkamer. Hulle draai die krane oop, tap die wasbakke vol en pluk dan weer die proppe uit dat die kosbare water gor-gor in die pyp verdwyn.

Mev. Van D spreek hulle skerp aan. Die twee laat spaander by die deur uit. Later sien ons hulle buite in die gang doelloos ronddwaal. Geen ouer in sig nie. ‘n Gryse moedeloosheid dreig om jou te oorval.

Ek plaas ‘n stukkie op Facebook en Evelyn Visagie reageer dadelik met ‘n skok-mededeling. Daai’s nog niks, sê sy. Weet jy wat by skole aangaan? Kinders druk proppe van toiletpapier in elke wasbak en draai dan die krane groot oop. In die oggend is die skool omtrent onder water.

Dalk is hul houding ook maar soos dié van ‘n lummel wat oorkant ‘n vriendin hier op Melkbos woon. Hy steur hom skynbaar aan geen waterbeperking nie. Die vriendin vat hom aan. Uit die hoogte moet sy hoor: “My pa het geld. Hy kan betaal”!

Dis nou èèrs om van moedeloos te raak.

Laas het ek gewaag dat kinders sommer al in die laerskool meer van seks en kondome leer as van die verantwoordelike benutting van skaars en waardevolle hulpbronne. Nie almal het gedink my opmerking is heeltemal geregverdig nie.

Ek herhaal dit vandag hier met klem en beklemming. Ons waardes, mense. Ons waardes ….

“FELISITASIES”

Mei 16, 2017 in Uncategorized

Kleurryke koor.

Jannie Zaaiman, sy vrou, Marina en twee van hul kinders was vroeg in die nuwe millennium in ‘n kapingsdrama. Hulle het wonder bo wonder skotvry daarvan afgekom. Die egpaar doen toe ‘n lofwaardige ding – verhard nie hul harte in veroordeling nie, maar besluit om iets vir die gemeenskap te doen. Hul ideaal word om jongmense van die strate af te hou sodat hulle nie in misdaad verval nie.

Op 24 Julie 2003 stig hulle ‘n koor, die Mzansi-jeugkoor; en veertien jaar later kry daardie koor – ná ‘n triomfantlike Britse toer begin April vanjaar in Londen by die gehoor van 3 500 in die beroemde Royal Albert Hall ‘n spontane staande ovasie.

Dit is ‘n riem-onder-die-hart-storie wat in enige omstandighede ‘n mens se aandag sou trek. Vir my is daar ‘n bykomende faktor: die van Zaaiman. Jannie Zaaiman is die seun van mnr. Stephanus Fortunatus (Bart) Zaaiman wat aan die begin van my joernalistieke loopbaan by Die Volksblad in die jare 60 ‘n mentor was.

Die latere redakteur was daardie tyd assistent-redakteur en het ‘n sleutelrol ook in nuushantering gespeel. Met sy gevreesde rooi pen kon hy vrot skryfsels behoorlik aan flarde skeur. Van hom het ek enkele “bloutjies” van minder voortreflike berigte teruggekry wat soos klein Bloedriviertjies gelyk het. Het dan maar oes gevoel. (Al ons berigte is op deurslagpapier getik. Die een kopie is na die nuusredakteur en die ander na die strenge assistent met die hoë standaarde.)

Enige goedkeuring uit sy kantoor was, daarenteen, salf vir die gemoed. Een pluimpie wat ek tot vandag onthou was vir ‘n berig – sterk op die voorblad aangebied – van die eerste dag van die skooljaar in 1963 of 1964. Ek loop my daardie oggend vas in ‘n sub-A’tjie wat skool net een kyk gegee en besluit het: dit is nie vir my nie, dankie. Sy boetie in standerd een, met die opdrag uit die ouerhuis om ‘n wakende oog oor die jongste te hou, wou sy vlugtende broer in alleryl agternasit. Toe keer ‘n onderwyser hom by die hek voor. Snot en trane.

Oom Bart se “bloutjie” is deur ‘n bode op my tikmasjien neergesit. “Felisitasies – uitstekende storie”, was in mnr. Z se kenmerkende handskrif met sy rooi pen bo-aan geskryf.

Jannie was daardie tyd in die hoërskool. Ek het hom en die ander Zaaimankinders nie juis goed leer ken nie. Weet net dat hy as student ‘n stapper van faam was op die atletiekbaan en ‘n akademiese loopbaan gevolg het wat tot ‘n vise-rektorskap by die Universiteit van Venda gevorder het. Groot lof is aan hom toegeswaai toe hy onlangs aftree. Sy pa sou trots gewees het op so ‘n voortreflike loopbaan van Zaaiman junior.

Vandag se “felisitasies” uit Melkbos het niks met sy atletiekprestasies of akademiese loopbaan te doen nie; alles met die formidabele voetspoor van die Mzansi-koor, danksy die Zaaimans se se idealisme en toewyding.

Die beginjare was ontsettend moeilik, vertel Jannie. Hulle moes kinders tot drie-uur in die oggend by hul huise in Soweto en elders gaan aflaai – soms in die pikdonker (weens beurtkrag) en in gietende reën. Jannie se motor was soos ‘n voorloper van die hedendaagse taxi – meermale propvol gelaai met tot nege pssasiers op ‘n slag!

Heerlike vrugte op hul arbeid het nie uitgebly nie – soos die bruisende hoogtepunt in die Royal Albert Hall-konsert en die optrede einde verlede jaar in Moskou en St Petersburg – maar ook in die welslae van hul opheffingswerk in vele individuele gevalle.

Een koorlid, ‘n weeskind, sing bv. nou heeltyds in Duitsland. Hy het met ‘n musiekbeurs aan die Noordwes-Universiteit musiek studeer. Daarna is ‘n beurs aan hom toegeken vir twee jaar se opera-studie in Duitsland. ‘n Mens kan dink watter emosionele reünie dit was toe hy en die koor ‘n keer saam by die RMB Starlights Classics op de Vergelegen-wynlandgoed opgetree het.

Van die koorlede kom uit die haglikste omstandighede, soos Annie Lishaba, oorspronklik van Limpopo, wat in die uiterste armoede saam met haar broer in ‘n plakkershut in Soweto gewoon het ná haar moeder se dood. Geld vir kos – of selfs vir ‘n kers om by te studeer – was daar kwalik. Haar skoolwerk het daaronder gely.

Jannie en Marina het haar belofte raakgesien, vir haar beter huisvesting bekom en daarvoor betaal. Hulle het kos op die tafel gesit en haar later ook gehelp om ‘n rybewys te kry. Skielik het haar punte ‘n opwaartse kurwe getoon. Deure het begin oopgaan. Sy het ‘n diploma in sakebestuur verwerf en begin droom van ‘n graad.


April 1980 – HvD neem by Oom Bart Zaaiman oor.

Hul reusebydrae om deur hul koor jongmense so te besiel en die beste uit hulle te haal, gaan meesal onbesonge verby. Jannie en Marina soek ook nie lof of publisiteit nie, droom net hul drome om ‘n musieksentrum in Soweto te bou. ‘n Argiteksfirma is besig om vir hulle planne op risiko op te trek en dan gaan hulle wêreldwyd begin geld soek.Saam met Jannie wonder ek tong in die kies: Sal ‘n Naspers-musieksentrum nie goed lyk in Soweto nie!

(Mnr. Zaaiman – Oom Bart, soos ons hom op ‘n bynaam genoem het – was redakteur van Die Volksblad van 1970 tot 1980. My voorreg gewees om hom op te volg en van 1980 tot 1992 in dieselfde stoel te sit waaraan hy in die vorige dekade soveel waardigheid en gesag verleen het.)

OUPA SE AS

Mei 16, 2017 in Uncategorized

Alle as is níé altyd net verbrande hout nie. Een soort word by krematoriums uit van die goedkoper soorte doodskiste plus hul inhoud herwin, en as laaste wens, by ‘n hartsplek van die bron van die verbrande materiaal gestrooi. Langs die kus, op ’n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank aan die bestemming vir die oorledene salige herinneringe gekleef het.

Onder die ongewone wense wat ek al gehoor het, is die wens ‘n gewese offisier in die SA weermag nogal van die ongewoonste. In sy hart het hy die pantserman gebly wat hy in sy uniformdae was. Geen begrafnis vir hom nie, was sy wens. Hy wil dat sy as uit ‘n tenk gestrooi word by die Pantserskool op Tempe, Bloemfontein. In daardie aarde waarvoor hy so lief was, moet die ander tenks wat heen en weer dreun sy oorskot nog fyner maal en diep-diep in die Vrystaatse stof weg trap.

Sommige voorkeurbestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuur­lik. ‘n Motorfiets-entoesias, begeer niks anders vir sy as nie as dat dit uit ’n valhelm in die Karoo geskud word terwyl die Harley-David­sons, BMW’s en Gold Wings volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing “There goes my everything”.

’n Aardse wens van ’n Vrystaatse boer was dat sy as in sy beeskraal gestrooi word. Hy was vir sy Afrikanerbeeste liewer as vir enigiets anders. ’n Kaapse oubaas wou doodgewoon van sy voorstoep na sy ag­terplaas verskuif word, tussen die beendere van sy honde, wat ten minste lojaal aan hom was.

Die Kruger-wildtuin is ‘n prima-bestemming. So gewild soos die wildtuin as winter-vakansiebestemmking is, so gewild is dit blykbaar as laaste rusplek. By Lake Panic, gewilde voëlskuiling naby Skukuza, het iemand enkele jare gelede op die houtblad uitgekerf: “What I saw here you could not even imagine.” In daardie selfde hoekie het ek en my vrou, Tokkie, nogal ‘n vreemde verrassing beleef. Noem dit ‘n “verrassing ná die verassing”.

‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer waar die kissie leeggemaak is. Die riete se blare was wit van die as.
‘n Ander bos-entoesias se laaste wens was glo om in die vlamme van ‘n vleisbraaivuurtjie in die boskampie Balule, langs die Olifantsrivier, naby Olifantskamp, op te gaan. Sy mense het dit gerade geag om daardie aand liefs ‘n potjie te maak as om die gewone tjoppie en wors op die kole te gooi.

Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ’n oud-kollega gebeur: Oupa se as moet op Blouberg­strand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar, in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ’n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.

Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry daarop die sombere taak. Maar hy trap op ’n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek Oupa se laaste oorblyfsels met ’n slap bogie tot net voor sy tone.

’n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die verga­derde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ’n meisietjie met twee bokstertjies en ’n wit rokkie met bytjies en blommetjies op die voor­pant plassend die hasepad.

“Tjips,” skree sy, “Oupa is op ons!”

O TOG, ‘N HOELA-HEUP!

Mei 11, 2017 in Uncategorized

Pas op vir daai heupies, Shakira!

Vanoggend in my eie bed op Melkbos wakker geword. Tokkie het vir my koffie en Die Burger gebring.

Niks ongewoon aan die roetine nie. Buiten dat ek oorgehaal was om in ‘n waaksaal in die Panorama Medi-Clinic wakker te word (kateter en al) ná ‘n tweede heupvervanging (hierdie keer my linkerheup). Hoe ek die mes vrygespring het, is ‘n lang en waarskynlik vervelige storie. Laat my net vlugtig verduidelik:

Om voor te begin: die pyn in die bobeen was regtig akuut. My eie diagnose was sonder ‘n sweempie twyfel: heup is kapoet. Toe boelie ek die ortopeed se dames in sy afwesigheid om alles gereed te kry vir ‘n vinnige operasie: magtigingsnommer, X-strale, plek op die teaterlys, die lot.

Toe hy die plate Maandag deurkyk, bemerk ek in sy oë die boodskap. My diagnose was dalk nie so suiwer nie. Toe hy die seer been die kant toe begin druk en daardie kant begin toe stoot, breek op die strenge arts se gelaat ‘n glimlag deur. Die mes is nie nodig nie!

Sy eie diagnose klink ook maar rof: “bursitis trochanterica”. Agter die groot woord verskuil, is egter goeie nuus. Die heupgewrig is nie verweer soos die regter-een voorheen nie. Dis ‘n kussinkie wat verskriklik ontsteek is. ‘n Redelik algemene toestand. Die behandeling behels pilletjies en dalk later ‘n kortisoon-inspuiting.

Natuurlik is ek ietwat verleë oor my oorhaastige leke-diagnose en premature voorspooksels. Maar die koffie uit ons eie kombuis het darem vanoggend vorentoe gesmaak, hoor!

Ewenwel. In dr. Jan van Elfen se naslaanboek “Dokter in die Huis” het ek toe oor bursitis gaan nalees . Kom in die skitterende mediese boek nogal heelwat te wete wat my gebrekkige kennis oor skete en kwale verryk.

Ek lees bursitis van die skouer word soms “gooiskouer” genoem. Hoekom? Dit kom algemeen by spies- en diskusgooiers voor. (Genadiglik was gewigstoot op skool my enigste veldnommer).

Bursitis oor die patella (die knieskyf) word “huishulpsknie” genoem. Oorspronklike naam maar oeps! Kom seker uit die dae van vloerpolitoer in ronde blikke.Ek onthou hoe huishulpe die blokkies in ons huis op Klerksdorp nog op die knieë spieëlblink moes vryf. Sou daardie konnotasie in die moderne tyd aanvaarbvaar wees? Of bespeur ek dalk ‘n rassistiese geurtjie?

Terug na Van Elfen. Bursitis oor die uitsteeksel van die tibia (skeenbeen) word “predikantsknie” genoem en die oor die elmboog “kroeg-elmboog” of “studente-elmboog”, lees ek. Eersgenoemde is klaarblyklik ‘n stigteliker vorm van die aandoening; een wat selfs as aanbeveling vir die lyer kan dien. Laasgenoemde kan jou op sy beurt in bepaalde omstandighede nogal in die verleentheid stel.

Haas my dus om te meld dat, ondanks heelwat oefening, my elmboog nog een honderd persent funksioneer.

Heeltyd wonder ek: wat sou ‘n mens my soort “bursitis” noem – die “bursitis trocanterica” of, pleinweg, sommer bursitis van die heup? Die vergange era van die hoela-hoep kom by my op. Dalk ‘n “hoela-heup”? Hou nogal van die alliterasie.

‘n Byderwetser naam sou seker te vinde wees in die buikdansgier wat die wêreld so beet het. Lees bv. op ‘n Nederlandse Googleblad: “Hierdie liefhebberij van sterren is een internationale hype geworden. En waarom ook niet? Buikdansen is geweldige lichaamsbeweging en is een kunst die iedereen kan beoefenen en zelfs, als je tijd en geduld hebt, perfectioneren.”

‘n “Shakira-heup” dalk, n.a.v.die groot eksponent van hierdie vreemde aktiwiteit?

Een kyk na ‘n Shakira-video is genoeg om ‘n mens te oortuig van die toepaslikheid van die naam. Hoe hou jou trochanterica dit as jy jou heupies so woel, wikkel en skarnier? Nee, Shakira en haar dansgenote moet ongetwyfeld die laaste een bursitis-kandidate wees.

Daar en dan besluit: geen buikdans vir my nie. Een “hoela-heup” in ‘n leeftyd is vir Van Deventer meer as genoeg. Sien nie kans vir ‘n “Shakiraheup” boonop nie!

KOERANT-KAPELAAN

Mei 9, 2017 in Uncategorized

Ds. Johan Lombaard by my 50ste in Van Schoorstraat,. Bloemfontein. In die glase is … water!<

Die kapelaan van die Volksblad – so het ek in die jare 80 die wellewende leraar met die permanente glimlag, die flink humorsin en die mooi gemoduleerde stem gedoop.

Ds. Johan Lombaard, wat Donderdagnag op ‘n geseënde 89 jaar oorlede is, was ‘n man van wie jy dadelik gehou het. Hy het ewe onmiddellik jou respek afgedwing. Hy was ‘n jarelange medewerker van Die Volksblad, eers as skrywer van Saterdag…-hoofartikels en later (na prof. Pieter Potgieter, moderator van die algemene sinode) as skrywer van die oordenking, Die Stille Uur.

Die foto van ds. Johan Lombaard is by my 50ste verjaardag by ons huis in Van Schoorstraat, Bloemfontein, geneem. In die glasies is …. water!

Sy “kapelaan”-srtatus het hy ook om ‘n ander rede verwerf,. Hy was vir hierdie redakteur ‘n altyd beskikbare bron van wysheid oor ingewikkelde eties-morele of kerkkwessies, en altyd gewillig om in huweliksintriges van jonger kollegas konstruktief in te gryp.

Dit was ‘n voorreg om hom en Estelle as vriende te kon reken en tradisioneel op 26 Desember, op haar verjaardag, onder die groot boom in hul tuin saam te kuier. Hy het die Van Deventers die spesiale guns gedoen om ons dogter, Marisa, en Brent Claassens by Oude Libertas in die Kaap in die huwelik kom bevestig, en ons Kaapse vriende kon nie uitgepraat raak oor die innemende dominee uit Bloemfontein nie.

Ds. Johan was moderator van die Vrystaatse sinode van die NG kerk. Na sy aftrede was hy, soos verskeie ander dominees, ‘n suksesvolle eiendomsagent.

* Die beroep van eiendomsagent moet die een of ander bekoring vir afgetredenes inhou. Drie vriende uit die jare 80 in Bloemfontein het na lang loopbane in ander beroepe as eiendomagente presteer. Twee was predikante, nogal moderators: prof. Pieter en ds. Johan. Die derde was Andre Ebersohn, onderwysleier en Sukovs-baas. Bekendes se vroue wat as eiendomsagente gaan werk het, sluit in Ema Strydom (Steve Strydom se vrou) en Sanmarie Cronje (Hansie se ma).

NET HIER BYT ONS VAS!

Mei 7, 2017 in Uncategorized

Op Melkbos se stoep – 20 jaar gelede.

“Van die stoep, oor my grasperk, oor die sand, in die see. En dit ‘n skrale 30 km van die hartjie van Kaapstad. Ek het nooit geweet ‘n doodgewone mens kan soveel plesier hê nie.”

So het ek die tydskrif “Sarie” geantwoord toe dié vir my vir ‘n artikel oor Melkbos in sy uitgawe van 31 Desember 1997 oor die mooi kusdorpie se bekoring vra. Ons het ‘n rukkie tevore uit Welgemoed na Melkbos getrek as ‘n “proeflopie” vir my aftrede.

Dit vat-vat nou aan twee dekades later. Baie water het al in die Atlantiese oseaan voor ons huis geloop. Van die stoep tot in die see is nie meer so ‘n maklike storie nie. In die twee dekades het ek en Tokkie egter al liewer geraak vir ons aftreeplek. Penguin Place 11 het ons tuiste en ons toevlug geword. Ons woon nou al langer hier as in enige ander huis. Ons is verknog aan die plek.

Maar onvermydelik duik die kruispad die een of ander tyd op: Wanneer moet jy na ‘n kleiner plekkie in ‘n aftreeoord met voldoende mediese versorging? Watter oord, waar?

Party van ons vriende het daardie paadjie met grasie, gemaklik, suksesvol en selfs dankbaar geloop. My vriend Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton, is een wat gesukkel het. Ek het die swaar in sy oë gesien en in sy stem gehoor. Danie moes dit boonop alleen doen. Esbe, met wie hy 54 jaar getroud was, het hom ses maande tevore ontval.

Op 25 Augustus 2011 het ek geskryf oor hoe die moeisame oppakkery aan sy emosies vat: “Hy beleef dit ekstra swaar, want in sy huis is ‘n duisternis versamelaarstukke, skilderye, foto’s, sertifikate, boeke, tydskrifte en wat nog van enorme sentimentele en historiese waarde. Hy en sy vrou van langer as ‘n halfeeu het dit byeengebring. Die huis is ‘n ‘museum van hul lewe’ wat hy nou tot niet moet maak.. ”

‘n Museum van ‘n mens se lewe raak jou huis inderdaad. Ook ons s’n.

Genadiglik is Tokkie aan my sy. Die element van alleen-wees is dus afwesig. Maar met Danie se stryd kan ek in verskeie opsigte wel tog identifiseer.

Ons twee praat al geruime tyd. Gister is ons op ‘n eerste intensiewe ekspedisie na ‘n moontlike nuwe blyplek. Ons het gaan kyk na ‘n groot nuwe ontwikkeling teen die hang van die Tygerberg met ‘n mooi uitsig op Tafelberg en die Kaap. Ek kan my verbeel hoe die liggies in die aande soos klein diamantjies vonkel van die terrasse van die indrukwekkende klubhuis af, waarvan ‘n kunstenaarsvoorstelling teen die muur hang.

Ons kyk na planne en afwerkings en pryse; weeg groottes en opsies teen mekaar op; verneem van die bemarkers hoe begeerlik en ideaal alles gaan wees; hoe veilig; hoe gerieflik; veral hoe gereed om in ‘n oomblik van nood daar te wees wanneer die stygende jare die of daardie ernstige tol eis.

Ons mooi sonsondergange.

Terwyl die voorlegging duur, probeer ek my gedagtes fokus op vriende wat daardie oorgang met al welslae volvoer het, en hoe positief hulle oor hul nuwe lewenswyse is. My dekselse gedagtes is egter moedswillig; hulle verkies om ongemaklik na ons geliefde Melkbos te bly dwaal. Na die mooi van sy sonsondergange wat ons van ons voorstoep beleef, sy knusse kleindorpse atmosfeer. Ons vriende hier …

Ritse spesiale herinneringe spoel deur my: die tweeling (wat nou 13 is) se eerste verjaardagparty op die gras voor ons huis; ons eie kinders, Johan en Marisa, se huwelike uit Penguin Place 11 uit; my 60ste verjaardag; ons drie-baken-fees op 26 Maart verlede jaar toe ons ‘n lewenslange droom verwesenlik het. Ons het groot markeetent op die gras opgeslaan en met die branders in ons ore sommer so saam-saam my 75ste, Tokkie se 70ste en ons goue bruilof gevier.

Hoe raak ‘n mens sommer so weer gewoond aan ‘n vreemde plek in ‘n vreemde omgewing, sonder die warmte van jare lank se deel wees van jou lewe soos lekker paar skoene? Die vraag laat my skielik ys.

‘n Lastige stemmetjie opper al hoe meer sulke vrae.

In my gedagtes begin ek bestemmings soek vir hartsdinge oral in die huis: trofees, boeke, foto’s, foto-albums, allerlei soeweniers van allerlei aard uit ‘n vol lewe en loopbaan. Ek meet in my geestesoog ons meubels wat dalk in die nuwe, veel kleiner ruimte sal pas, en daardie wat onmoontlik nie sal pas nie. Laasgenoemde is ‘n onheilspellende klomp.

Ek en Tokkie is nie blind vir die mooi voor ons oë van die moderne oord wat verrys nie. Ons vestig mekaar se aandag op alles wat skitterblink van byderwetsheid: “Mooi badkamer, nè; oulike kombuisie, netjiese kaste, aantreklike vloere.” Ons is ontvanklik vir die skildering van ‘n ontspanne lewenstyl met minder kwellinge oor dinge wat by die bestaande tuiste kan skeefloop, breek of verstop raak.

Penguin 11 – net hier byt ons vas!

Nuwe kwellings duik egter ook op: die Spartaansheid dat baddens in die oord totentaal ontbreek – “te gevaarlik vir oumense”; die onvermydelikheid dat een motor sal moet waai (Tokkie se rooi Mercedes?); die komplikasie dat die oop staanplekke vir die jou wiele nie eens ‘n muur bied om ‘n tang teen te hang of ‘n hoekie vir jou braaigereedskap nie.

Ons ry in aanvanklike stilte terug Melkbos toe. Toets-toets mekaar later versigtig. Konsensus daal heel gou. Die kollektiewe insig in die Van Deventervoertuig is kort en kragtig: Aikona, nie vir ons nie. Ons bly liewer net waar ons is, wat buitendien ook heelwat bekostigbaarder uitwerk.

Die risiko’s van die ouderdom sal nie weg gaan nie. Hulle word helaas meer saam met die meer word van die jare. Dit besef ons terdeë. Laat ons egter maar die uitdagings pak soos hulle kom. Solank ons kan uithou.

VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN

April 28, 2017 in Uncategorized

Die enorme koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure se dogters.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).

Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.

Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.

Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.


Kunsmarkkonsert.

Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.

Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.

Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.

‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!

Skilderye langs die visdam.

Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.

Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.

Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.

Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.

Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.

In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.

“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.

* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!

TWEE TAMAAIES IN TANDEM

April 25, 2017 in Uncategorized

Vorstelik in Tafelbaai.

‘n Bruidegom loer nie met ‘n begeerlike oog vir ‘n ander meisie nie.

Jy voel half skuldig, of jy so ‘n nare, ontroue vent is, as jy van die dek van die sierlike vakansieskip die MSC Sinfonia aaneen foto’s van ‘n ander skip neem.

Maar as daardie ander skip nou die Queen Elizabeth is …

Dit was inderdaad: die nimlike nuweling in die Cunard-stal, twaalf dekke hoog en stralend van dieselfde klas en styl as Cunard se vlagskip die Queen Mary. Die Sinfonia en die Queen het op Donderdag 20 April feitlik in tandem na Walvis gevaar.

Ek en Tokkie wou nog altyd met die “nuwe” Sinfonia gaan kennis maak nadat ‘n nuwe middelstuk twee jaar gelede ingevoeg is: meer kajuite, groter speelplek, uitgebreide kuier-ruimtes. Verlede naweek het ons kans gekom.

Uit Bloemfontein het kollega Sarel Venter, ‘n skeepsentoesias soos min, laat weet dat die weelderige Queen Elizabeth, saam in die Kaapse hawe sal wees.

Al van die M1-snelweg af het ons die twee reuse van die oseaan agter mekaar in die hawe sien lê: die wit Sinfonia voor en die donkerblou Queen agter – saam amper 600 meter magistrale skip wat hoog bo die res uittroon. Eersgenoemde is een dek hoër en dra 500 meer passasiers. Laasgenoemde is egter ‘n groter, langer, ruimer en luukser skip. Op sy dekke is die balkonkajuite ingeryg (die Queen het ook ‘n groter bemanning).

Die ideaal sou wees om die twee tamaaie skepe saam op ‘n foto te kry – ‘n geleentheid wat hom seker min voordoen. So ‘n treffer-foto sou egter net uit ‘n hoë gebou of van die seekant moontlik wees. Ek het nêrens een gesien nie.

Toe ons die middag vaar, het die son mooi op die stuurboordkant van die Queen geval. Van Deventer se kamera het bly klik.

Kort na die Sinfonia het die Queen ook hard gefluit en die waters begin klief – dieselfde bestemming: Walvis. Teen nege-uur die Vrydagoggend het Tokkie op dek 8 aan die agterstewe geroep: Hier’s die Queen! Newelagtig het die pragskip aan bakboord begin nader kom. Van Deventer se kamera het weer geklik.

Queen kom verby.

Van nege tot een het die twee skepe teen sowat 30 knope feitlik in tandem gevaar. Die Queen het bly inhaal – treetjie vir treetjie, het dit gelyk. Teen eenuur is die pragskip by die Sinfonia se boeg verby. Die kamera het bly klik.

Met ons aankoms in Walvisbaai was die Queen reeds vasgemeer: ‘n vorstelike prentjie in die helder Namibiaanse oggendlug. Namate die Sinfonia haar by haar staanplek inwoel, het van haar agterstewe ‘n al hoe groter stuk van die Queen sigbaar geword. Die kamera is in die kajuit gaan haal.

Hoe Walvisbaai (en Swakopmund) se infrastruktuur die invloei van amper 5 000 passasiers – 2 600 van die Sinfonia en 2 000 van die Queen – sou hanteer, was ‘n vraag. In die Kaap het die swaar oggendverkeer op die M1 twee dae tevore sleg vasgeval. Maar hoede af vir die Namibiërs. Die tandem-besoek van die twee groot skepe is hanteer of dit die normaalste ding is.

Weer sou ‘n foto van die twee saam die eerste prys wees, maar weer het so ‘n kans hom nie aangebied nie. Nie van naderby nie, in elk geval. Die Queen was om die draai van die Sinfonia as’t ware. Eers van die strandmeer se kant af, met flaminke in die voorgrond, kon jy die twee saam inkry … amper onherkenbare stippeltjies op die horison, helaas.

Walvisbaai.

Maar laat Saterdagmiddag is die Sinfonia eerste weg, verby die Queen in al haar glorie. In die wit kielsog van ons uitvarende skip het die Queen weer ‘n stippeltjie geword, al hoe kleiner en kleiner. Die Queen sou kort daarna vertrek op haar volgende skof van 4 000 km na Mindelo (São Vicente).

Toe die beeld van die Queen te klein word, het ek my Canon in sy sak teruggesit. Die onverwagte bonus van die spesiale foto-ekspedisie was verby. Die tyd het aangebreek om die aansienlike bekoorlikhede van die Sinfonia onbelemmerd te geniet.

DRIE MAAL IS “SKEEPSREG”!

April 24, 2017 in Uncategorized

Drie maal is skeepsreg. So lui die spreekwoord. Wel, ek en Tokkie het nou drie maal goue bruilof gevier.

Wat die begrip “skeepsreg” in die spreekwoord ookal beduie; ons kan gewis nou daarop aanspraak maak, glo ek.

Die eerste viering was ietwat prematuur. Op 26 Maart 2016 al het ons tent opgeslaan op die gras voor ons huis hier in Melkbos.

Ons goue bruilof op 31 Desember was een van die drie bakens in 2016 wat gevier is. (Die ander was my 75ste op 3 Januarie en Tokkie se 70ste op 15 Maart).

Die “tent van samekoms”, het Johan van Wyk ons tent genoem.

Op die groot dag self, oujaarsdag, het ons ‘n speenvarkie op die tafel gehad. Die Claassensgesin was hier vir die ongewone ete. ‘n Gedenkwaardige oomblik was toe Chistopher (7) se oog die eerste keer op die brosgebraaide varkie val. “‘n Wolf!” het hy dit uitgekreet.

Maar fees nommer drie – die “skeepsreg”-ene.

Wel, dit was ten minste op ‘n skip: te wete op die MSC Sinfonia op pad na Walvisbaai. Op Vrydag 21 April – 13 maande ná ons drie-baken-fees in die tent van samekoms.

Om 10:00 was daar ‘n kloppie aan die deur van kajuit 8152 op dek 8, die Bach-dek. ‘n Kelner in ‘n wit baadjie. Op die silwer skinkbord in sy hand was ‘n bottel Moët et Chandon, twee sjampanjeglase (vergeet van vonkelwyn!), twee glase met vars lemoensap en ‘n bordjie met ‘n croissante-keur.

Dis MSC se geskenk aan mense wat binne ses maande van hul vaart af goue bruilof gevier het. Nogal nie ‘n geskenk om te versmaai nie. Op die skip se wynlys in sy verskeidenheid sitkamers en kroegies is Moët et Chandon die duurste artikel: 70 dollar ‘n bottel!

Nietemin, ek en Tokkie het die lemoensap en die elegante croissante in die kajuit in ons alleenheid geniet. Die middag is ons met die ysemmer en ons kosbare feesbotteltjie na die Manhattankroeg op dek 5, die Beethovendek.

Die een glasie na die ander word geteug, en dit raak heeltemal ‘n okkasie toe Hermie Zietsman van die Oos-Kaap en sy vriend Charl Joubert langs ons op die bank inskuif terwyl die son begin water trek en twee nooientjies op die verhoog al hoe dromeriger sing.

Die romantiese geleentheid gaan nie ongedokumenteer verby nie. Die mooi foto hierbo van my en Tokkie met ons geskenkglasies vol Moët voor die patryspoort is deur Hermie. Sy aanspraak dat hy ‘n student in die fotografie was, word daarmee bevestig, meen ek.

Later is ons met die laaste bietjie in die bottel eetsaal toe, die Ile Galeone, ook op dek 5.

Die voggies het tot die eerste gereg gehou. Ook maar net. Maar wat ‘n spesiale aand was dit nie vir ons twee nie. Dat ons 50 jaar getroud is, sal ons ná dese nimmer kan vergeet nie.

As iemand ‘n definisie soek vir “skeepsreg” – ‘n botteltjie yskoue “Moët” skemeraand in die Manhattankroeg van die Sinfonia; dis die Van D’s se voorstel met algemene akklamasie uit Penguin Place 11.

Iets WAT-wonders

April 15, 2017 in Uncategorized

Die Claassens-broers danig in hul skik met hul sertifikate.

Die Afrikaanse woordeskat bestaan uit een miljoen woorde waarvan die meerderheid uiteindelik in die omvangryke Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te boek gestel sal wees.

Dis maar net ‘n baie klein-klein druppeltjie aan ‘n enorme emmer, maar my genoegdoening dat ek twee uit ‘n miljoen woorde borg, steek ek nie onder ‘n maatemmer weg nie. Dit staan tot in my CV.

Danksy ‘n stukke flinkdink van Tokkie, my vrou, is die vier kleinkinders ook nou saam in die WAT-bootjie. Elkeen borg ‘n word op haar voorstel. Soos oupa waarde heg aan sy borgsertifikaat, het hulle ook trots hulle s’n in ontvangs geneem.

Jacob en Thomas, die tweeling, borg onderskeidelik “blinkblaar-wag-‘n-bietjie” en “jakkalbessie”, kleinboet Christopher borg “wildevy” en nefie Migael van Deventer borg die woord “spesiaal”. Sal aanstons elkeen se storie vertel.

Oupa se woorde – indien iemand dalk nie weet nie – is “koerant” en “joernalis”. Eersgenoemde borg ek ekslusief. Dis my woord. Myne alleen. Vir die woord “joernalis” kan daar meer borge wees. My borgskap daarvan is nie eksklusief nie. Die woord lê my nietemin na aan die hart. As iemand my vra wat my nering was, twyfel ek nooit vir een oomblik aan my antwoord nie. Ek was ‘n “joernalis”. Kort en klaar.

Die wete dat my verrbintenis van 36 jaar met Naspers se koerante ook in hierdie opsig simbolies verseël is, is ‘n heuglike een.

Vir die verbintenis met die blinkblaar-wag-‘n-bietjie hoef nie ver gesoek te word nie. Op ons boshuis, Tarlehoet, se werf in Sabiepark staan ‘n hele paar wag-‘n-bietjies. By die straatingang staan ‘n opgeskote een. Toe die kinders kleiner was, het Ouma Tokkie hulle altyd deur die skerp dorings laat “vang” wanneer ons verbystap piekniekplek toe.

Dan sê sy vermanend vir die boom: “Nee, boom, ons kan nie nou wag nie; ons gaan nou piekniekplek toe”. Eindelose pret is aan al die kinders verskaf, maar veral aan Jacob. Hy het gekraai van plesier en wou elke keer dat die boom hom eerste “vang”.

Op ons werf is ook jakkalsbessies. En by die Proteahotel by die Krugerhek waar ons altyd “roomys in die boomhuis” gaan eet, is ‘n reuse-meneer. Die rede vir Thomas se borgskap is egter te vinde in ‘n preek van ds. Nelus Niemandt, oud-NG-moderator, in ons Skukuza-gemeentetjie se karaktervolle kerk in die personeeldorp, waar hy op besoek was.

Christopher by die naambord in Wildevylaan.

Die leraar preek daardie Sondag boeiend oor bome en vra vir die lidmate wat hul gunstelingbome is. Thomas se hand is oudergewoonte eerste in die lug: “jakkalsbessie”. (Sy vrymoedigheid en kennis het al R50 vir homself verdien deur in ‘n diens in die NG gemeente Welgemoed blitsvinnig ‘n ralreier as ‘n reier te eien.)

Wildevy is die naam van die straat voor ons huis waar die seuns so graag kuier. Teen die kombuismuur hang ‘n yslike kaart van Sabiepark. Toe Christopher kleiner was, moes Ouma hom telkens op die kombuiskas tel en op die kaart wys waar is Wildevylaan. As hy dit eers op sy radar het, kry hy vinnig-vinnig 154.

Migael – borg van die word “spesiaal”.

Migael het nie so ‘n konneksie met ‘n boomnaam nie. Vir kinders met spesiale uitdagings speel bome en hul name nie juis ‘n groot rol in hul lewens nie. Ek vra toe vir sy ma, Mariza, om ‘n woord te kies. Sy het nie lank geaarsel nie.
Haar voorstel is nie om dowe neuter nie. Dit is natuurlik nie net geïnspireer deur haar seun se spesiale uitdagings nie, maar ook deur Migael self en haar belewenis van hom. Een van sy eerste boekies was deur Max Lucado met die titel “Jy is spesiaal”.

Op daardie noot: hoe spesiaal is dit nie vir hierdie oupa nie dat sy vier kleinseuns ook nou elk ‘n word in die WAT borg. Die WAT is ‘n bewonderenswaardige onderneming en hul bydrae is in hul oupa se oë nogal iets WAT-wonders.

Vier van ons spannetjie se woorde – “blinkblaar-wag-‘n-bietjie, “jakkalsbessie”, “joernalis en “koerant” – is reeds gepubliseer in die eerste veertien dele wat alfabeties van A tot Skooier strek. “Spesiaal” kom binnekort aan die beurt. Heelwat later eers “wildevy”. Maar nou-ja, Christopher is die jongste. Hy moet maar sy beurt afwag.