Klimaatsverandering, vigs en heilige koeie in die algemeen

Maan 1 Mar 2010, 12:48        (1) 0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik

’n Uitstekende artikel deur Leopold Scholtz oor the rise and fall of the climate change empire (nie sy formulering nie!) het Saterdag in Die Burger verskyn. Dit blyk, merk hy op, dat van die fondamente waarop die hele klimaatsverandering-diskoers berus, van klei is en nou in duie stort – soms omdat dit nie op grondige wetenskaplike navorsing berus nie, en soms weens doodgewone bedrog deur navorsers. Hy verwys ook na sielkundige navorsing wat al gedoen is om te verklaar hoekom mense – ook wetenskaplikes – so moeilik oorreed kan word om van gekoesterde standpunte af te sien, die getuienis ten spyt.

 

Nog ’n geldige punt wat Scholtz maak, is dat die gangbare ontledings van die (reeds wankelrige) gegewens oor klimaatsverandering uit die staanspoor reeds denkende wenkbroue moes laat lig het, want hoe realisties is dit in elk geval om akkurate langtermynvoorspellings oor toekomstige veranderings in die globale klimaat te maak as weerkundiges nie eens aanstaande week se weerstoestande in Koekenaap vreeslik akkuraat kan voorspel nie? Tog het baie min mense vrae gestel, en dié wat dit wel gewaag het, is deur sowel die wetenskaplike gemeenskap as die media veroordeel en as onverantwoordelike afwykendes gebrandmerk.

 

Intussen het Rian Malan se Resident Alien onlangs verskyn (klik hier vir Gawie Botma, en hier vir Robert Brand, se bespreking van die boek). Twee artikels daarin, “The Body Count” en “Among the Aids Fanatics”, gaan oor die mistastings en gekonkel met vigs-statistieke. Toe hy deur die Rolling Stone Magazine (RSM) gevra is om oor oudpres. (toe nog president) Thabo Mbeki se afwykende beskouings oor vigs te skryf, het Malan dit aanvanklik benader as ’n geleentheid om Mbeki goed by te kom, maar toe hy die saak ondersoek, ontdek hy tot sy verbasing dat die syfers wat allerweë aanvaar is, onmoontlik akkuraat kan wees. RSM het destyds nie kans gesien om Malan se artikel net so te plaas nie – te omstrede – maar intussen het die wind in ’n ander rigting begin waai. Net gisteraand sê ’n gesiene plaaslike viroloog vir my dat Malan al die tyd reg was, en liggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie verkeerd.

 

Die interessante is dat, net soos in die geval van klimaatsverandering, dit eintlik nie vir ’n onbevange ondersoeker moeilik moes gewees het om lankal te sien dat Malan reg is nie. Die gegewens wat hy ter ondersteuning van sy standpunt voorgehou het, was eenvoudig oorweldigend. Tog is hy so uitgelag en veroordeel dat die see hom nie meer skoon kon was nie, tot so ’n punt dat dit sy persoonlike lewe ontwrig het. Nogmaals ’n geval van ’n hardkoppige onwilligheid tussen selfs die topkenners op ’n sekere terrein om hoegenaamd die moontlikheid te oorweeg dat hulle op ’n verkeerde spoor kan wees. Ja, in baie gevalle korrigeer die wetenskap homself mettertyd, maar soms vat dit darem baie langer as wat nodig is!

 

Daar is ook vigs-“afwykendes” wat baie fundamenteler kritiese vrae oor die heersende teoretiese verstaan van vigs stel. Van hulle is bekroonde wetenskaplikes en kenners op hul veld, selfs Nobelpryswenners. Of hulle in die toekoms, soos Malan, gevindikeer sal word, weet ek nie – ek maak nie voorspellings oor die klimaat óf oor wat wetenskaplikes in die toekoms gaan doen nie! – maar een ding lyk vir my duidelik: Dis nie ’n gesonde situasie wanneer mense wat heersende beskouings bevraagteken tot ketters verklaar en na die buitenste duisternis van die wetenskaplike wêreld verban word nie. Die wetenskap is nie ’n soort magiese middel wat vanself werk nie; dit werk net selfkorrigerend vir sover die beoefenaars daarvan hulle aan goeie wetenskaplike praktyk hou, en soos Karl Popper lank gelede al aangetoon het: die wetenskap maak vordering deurdat wetenskaplikes bestaande teorieë onophoudelik verkeerd probeer bewys. Wie “afwykende” sienings teen elke prys wil beveg, is geen vriend van die wetenskap nie.

 

Net vir die duidelikheid: Ek ontken nie dat koolstof-emmisie en besoedeling in die algemeen afgeskaal moet word, of selfs dat dit vroeër of later die klimaat kan affekteer, nie. Wie my daarvan verdink, moet maar weer lees wat ek hierbo skryf. Net so ontken ek nie dat mense wat met vigs gediagnoseer is ernstige gesondheidsprobleme in die gesig staar, of dat hulle van goeie mediese sorg voorsien moet word, nie.

 

Hoor net hoe verklaar ek my ortodoksie ...

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Onderwerpe:  klimaatsverandering   climate change   vigs   aids   leopold scholtz   rian malan   statistiek   statistics   rolling stone magazine   karl popper  

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

Gerrit Brand

Geslag: Male Send Message Stuur Boodskap
Stad: Cape Town Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: South Africa Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 30291
Kommentaar: 2051
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 30 intekenaar(s)

Kentekens

Onlangs Opgedateer

abrham abrham Adage Adage tronkie tronkie
Girl, Inter... Tishke mense? Antoinette Ervaringe, ... Papeslaai

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec