Die verborgenheid van verbondenheid

September 6, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)

 

 

As God bestaan, betoog die Switserse teoloog Ingolf Dalferth in Becoming Present, kan daar nie ‘n iets wees waarmee God niks te doen het nie. Een implikasie daarvan is dat ons onder enige omstandighede met God te doen het. Gelowiges kan na momente verwys waaruit God se ware karakter blyk. Dit kan egter nie beteken dat God by ander gebeure onbetrokke is nie – al wil baie ervarings dit suggereer.

Hieroor tree Dalferth met die hervormer Martin Luther in gesprek: oor die Deus Absconditus, God se verborgenheid. Luther word soms só verstaan dat, volgens hom, God ook nog ander kante, in stryd met die openbaring, het. Dalferth reken egter dis ‘n misverstand. Die verborge God is nie volgens Luther ‘n God vol teenstrydighede nie. Deur die openbaring weet ons hoe God is, en juis omdat ons dit weet, is daar soveel ervarings en gebeure wat vir ons verborge, abscondita, is. As ons nie geweet het hoe God is nie, dan was niks in stryd daarmee nie!

Net mense wat in ‘n aanwesige God glo, kan dié God se áfwesigheid ervaar, meen Dalferth. Só sing Sonny Terry and Brownie McGhee ook:

 

God and man played hide-and-go-seek.

God told man, “Now man, don’t you peek.”

Man counted to ten, and then looked around.

But God was nowhere, nowhere to be found.”

 

Die Psalms praat ook só. Die bekendste is Psalm 22, ook omdat Jesus dit aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.”

 

As God oral is (alomteenwoordig), en van alles bewus (alwetend), kan sulke versugtinge en noodkrete gehoor word. Maar is God ook almagtig?

 

Dalferth meen dit kan nie anders nie. As alles uit noodsaak bestaan het, was daar geen sprake van nie. Daarom was die antieke filosoof Aristoteles se “God” ‘n onbewuste, afwesige oorsprong sonder bedoelings of handeling, sodat die vraag na God se mag nie eens ter sprake kon kom nie. As die werklikheid egter geskep is, sodat die Skepper bý alles is en ván alles weet (soos Jode, Christene en Moslems bely), dan kan niks bestaan, en niks daarin moontlik wees, as God dit nie moontlik máák nie.

 

Dit beteken nie dat alles wat gebeur God se goedkeuring wegdra nie, maar wel dat die moontlikheid daarvan aan God te danke is. Solank mense ‘n mate van vryheid het, en in ‘n relatief-reëlmatige wêreld leef, kan hulle dinge teen God se wil doen, maar dié vryheid kan net bestaan omdat God dit wil. Alles is van God afhanklik, danksy God moontlik en aan God te danke.

 

Dat ons waarnemings en ervarings só dikwels daarmee in stryd is, is net nog ? dimensie van die Deus Absconditus, God se verborgenheid: Hoe en hoekom kan dit wees soos gelowiges bely, terwyl dit só dikwels anders lyk? Net soos juis mense wat glo dat God teenwoordig is, teen die afwesigheid kan protesteer, kan slegs mense wat in die almag van God glo, teen die skynbare magteloosheid beswaar aanteken: “Kom tog, Here! Toon u mag, o God! (Ps.10:12)” As God in sekere situasies magteloos was, daar niks aan kón doen nie, sou só ‘n uitroep geen betekenis hê nie.

 

Om God, indien God bestaan, se alomteenwoordigheid, alwetendheid en almag te erken, skryf Dalferth, is egter nie genoeg nie. Dit is nou al dikwels genoem dat juis dié eienskappe van God gelowiges laat vra: Waarom dan die skynbare afwesigheid, onkunde of magteloosheid? In alle eerlikheid moet egter toegegee word dat sulke vrae eintlik net opkom omdat nog iets oor God geglo word, naamlik dat ons met ‘n God van liefde te doen het. Immers, as God nie omgegee het nie, was daar geen rede om ‘n teenstelling te sien tussen God se teenwoordigheid, kennis en mag enersyds, en die lyding in ons wêreld andersyds nie.

 

Juis omdat bely word dat God onvoorwaardelik liefhet (Luther se kernpunt), kom God se verborgenheid aan die orde – ‘n verborgenheid waarmee God self, in Christus, as mens aan die kruis gekonfronteer is, en waardeur die Gees só verrassend mense op die diepte van God se liefde laat vertrou.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

2 antwoorde op Die verborgenheid van verbondenheid

  1. “…Dat ons waarnemings en ervarings só dikwels daarmee in stryd is, is net nog ‘n dimensie van die Deus Absconditus, God se verborgenheid…”

    Dit maak ooglopend nie saak hóé teenstrydig die getuienis is nie, gló sal hulle bly gló.

    En in die afwesigheid van getuienis, word allerlei eienskappe aan die Opperwese toegeskryf. Soos bv God se onvoorwaardelike liefde.

    Ek kan ten minste my tuindwergie sien. En sy naam is Kaspaas.

  2. God kannie eens ‘n weeluis red nie…niemand kannie, en niemand mag nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.